Maandag 12 Maart 2018

Mieliepap - Korsies met styl

Ons boerenasie is oor die algemeen groot papeters en vir baie van ons is die brandsel byna onweerstaanbaar.

ManKos Papkorsies
Om 'n goeie brandsel in die pot te kry verg so bietjie vaardigheid en baie geduld ... maar as jy dit eers reggekry het dan is dit die groot rede hoekom jy pap maak. Daardie stukkie bros brandsel met suiker, botter, room, kaiings ... net wat jy wil ... die krakende kouery en die die vingers aflekkery ... dis mos ManKos.

Nouja om 'n goeie brandsel te kry is daar so paar punte van belang ...
1. 'n Lekker swaar pot.
2. 'n Goeie skep botter in die kokende water voor jy die meel ingooi.
3. 'n Ordentlike tweetand vurk om die pap mee te roer. Moenie die kors breek as jy roer nie.
4. Baie geduld. 'n Oordentlike kors word op 'n stadige hitte gebou. 90 minute minimum.

Maar nouja vandag se storie gaan oor die maak van die kors sonder om 'n pot pap te maak.

Die resep wat ek gebruik is eenvoudig en ek gebruik Plaasjapie se growwe braaipap meel. As jy gewone meel gebruik moet jy die water so bietjie verminder.

Bestandele:

1/2 koppie growwe pap meel.
1 en 1/2 koppie water.
1/4 teelepel sout.
1 goeie eetlepel botter - Moenie snoep wees met dit nie.

Hierdie mengsel is net genoeg vir die maak van 12 korsies in 'n muffin pan.

Metode:

Na mikrogolf sessies
Meng alles in 'n glas mengbak. Moenie bekommerd wees oor die meel wat nie in die water inmeng nie. Sit nou vir 1 minuut in die mikrogolf oond op hoog. Roer weer met 'n vurk en terug in die mikrogolf oond. Herhaal die proses so 3 of 4 maal. Nou sal jy sien dat jy 'n redelike stewige pasta het. As daar nog vry water in die bak is moet jy maar aanhou met die mikrogolf ding tot dit alles weg is. Die krag van jou oond speel 'n rol en die tipe meel wat jy gebruik.
Verdeel mooi in muffin pan

As jy nie 'n mikrogolf oond het nie, kook die mengsel in a potjie terwyl jy dit die heeltyd roer. Dis belangrik om die pap naby aan gaar te kry voor dit in die oond ingaan.

Skep nou met 'n eetlepel in die gaatjies van 'n muffin pan. Probeer om redelik akkuraat te verdeel want as jy dit oneweredig verdeel gaan party begin brand voor die dikker korsies reg is.

Bak tot goudbruin
Sit nou die pan in 'n 150C oond. Hier sal jy maar moet eksperimenteer want alle oonde is nie dieselfde nie.

Wees maar geduldig ... na sowat 40 minute behoort die korsies te begin kleur wys ... moenie oorhaastig raak nie.

Groot maat
Vanaf sowat 45 minute moet jy maar gereeld kyk en haal maar die korsies uit wat lekker bruin gebak het ... die kans is groot dat almal nie presies gelyk reg gaan wees nie.

As jy groter maat wil doen kan jy die resep verdubbel of meer ... hou die verhoudings reg. Druk dit mooi dun uit in 'n bakpan en sny mooi in blokkies. Ek gebruik a pizza cutter vir dit. Soos met die muffin pan moet jy dit maar mooi dop hou en sodra dit begin mooi kleur kry moet jy die uithaal wat reg is.

Ek het die resep 3x gemaak en die laaste keer het ek te min botter ingesit ... dis 'n fout.

Gebruik die korsies vir byna enige vingerhappie ... soet of sout.

Dit hou goed in 'n lugdigte houer maar smaak nie meer lekker na 'n dag nie.


Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.