Saterdag 02 Maart 2019

Braai - Ou skottel kry nuwe lewe

22 jaar se roes
Hierdie storie het eintlik twee kante ... so laat met die een begin. So tyd gelede het ek kennis gemaak met Mashesha se stofies en 3 aangeskaf wat ek gebruik by die Potjiekos kompetisies. Dis 'n baie lekker stofie as jy eers sy streke ken.

Laaste roes is af
So 3 weke terug staan ek in die stoor en kyk na die stofies en toe onthou ek my pa se Skottelskaar braaipan. Hy het die pan in 1966 gemaak en ek kannie eers begin om te dink hoeveel kilogramme vleis is deur daardie pan nie. Na sy dood het die pan in die garage gebly en tydens my ma se laaste verhuising het ek die pan gekry. Teen die tyd was hy al erg geroes en ek het hom in my stoor gebêre met die goeie voorneme om hom weer te gebruik. Maar die jare het verby gegaan en die roes het maar rustig geknibbel en geknaag.

Mooi gebak met olie
Die Saterdagoggend is ek in 'n snaakse bui en die heimweë lê vlak in my gemoed. My vrou is nie by die huis nie en ek drentel maar in die tuin rond. Met doelgerigte treë stap ek na die skottel toe en dra hom uit in die sonlig in. My genade, die ding is een roeskol. Ek skuif al die negatiewe gedagtes weg en plaas hom op my werksbank. Met 'n gesukkel kry ek die handvatsel los en  toe spook ek vir so dertig minute om die pote los geskroef te kry. Nou is dit net die skottel.

Ek kook hoofsaaklik met gietyster potte en panne so ek het al 'n paar ou potte en panne laat herleef en ek volg maar dieselfde resep. Eerstens skrop ek die pan goed met 'n draadborsel wat aan my boormasjien gekoppel word. Na so 10 minute sien ek blink strepies verskyn en skrop die skottel uit met warm water en seep. Hy is maar nog rooierig maar die erge roes is af. Ek maak die skottel goed warm in my gas braaier en gooi koue water in ... woeste stoom en gestotter en toe dinge kalmeer toe skrop ek hom weer met seep en warm water. Hy lyk sommer stukke beter. Volgend gooi ek koeksoda in die skottel en voeg asyn by. Met elke asyn byvoeging skrop ek die skottel met 'n borsel. So hou ek aan tot die koeksoda nie meer borrel as ek asyn ingooi nie.

En daar braai ek
Laaste skrop met kookwater en seep en toe terug braaier toe. Ek het gelukkig 'n lekker groot braaier en die deksel maak toe met die skottel in. Ek laat hom so bak vir 30 minute. Die gasbraaier/oond gaan op tot 450C en die skottel is hel warm. Toe smeer ek hom baie liggies met sonneblom olie. Ek smeer dit aan met a silikoon kwas. Net liggies. Bak hom weer vir 45 minute ... en toe is hy terug ... opgewek uit die dode.

Met 'n groot glimlag bekyk ek die pan en toe skiet ek in dorp toe ... vanaand word daar Shizanyama gemaak soos in my kinderdae.

Laatmiddag steek ek die Mashesha aan die brand terwyl Poppie my koggel ... vir 'n man wat sedert 1984 net op gas braaiers werk is dit vir haar komies om my te sien vuur maak. Ek sê maar niks en sit die skottel op die vuur. Dis nou die voordeel van die skottel en dit pas die Mashesha goed ... kole is nie nodig nie, net vuur. Ek het die dun stukke Sekelbos wat gewoonlik in die chipper beland uitgehou en in die regte lengtes gesny. Nou kan ek die vuur lekker stook.

Klaar gebraai
Drie eetlepels varkvet in die pan en toe die vleis ... doodgewone kortrib wat lekker vol speserye gegooi is. Niks medium of halfgaar nie ... hulle word lekker crispy gebraai. Terwyl ek die vleis inpak en die geur in my neusgate op warrel dink ek aan my Pa ... wat sou ek wou gee om hom nou hier langs my te kon hê.

Op die einde skuif ek die vleis uit na die kante toe en gooi 'n klomp grofgekapte uie in die dammetjie vet ... speserye en daar gaan hy.
Koningskos

Skemeraand sit ons by die tafel en Poppie vra die seën. Vanaand is ek ekstra dankbaar ... die Here het my goed geseën in my lewe en hierdie eenvoudige ete van vleis, uie en brood met appelkooskonfyt is soos 'n koningsmaal vir my. Met dankbaarheid eet ek aan die kos en dan op die einde trek ek nog so stukke brood deur die vet in die pan en stilweg bedank ek my pa ... 'n man wat selde gekla het en maar altyd dit gedoen het wat gedoen moet word.


Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.