Wys tans plasings met die etiket Maalvleis. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Maalvleis. Wys alle plasings

Donderdag 10 Augustus 2017

Maalvleis - ManKos Burger Patty

Ek is baie lief vir 'n burger ... hoe dan anders, dis mos vleis en brood en soos almal behoort te weet ... vleis en brood is ManKos.

ManKos Burger
Maar daar is mos 'n hedendaagse ding wat kop uitsteek, maak die burger so hoog soos 'n Sandton Security Muur en pak die hele Woolworths deli rak op die ding ... dis nou as jy dit kan bekostig, anders pak jy maar die SPAR se groenterak op die ding en smoor alles met een of ander Piet se Sous uit 'n bottel.

Die kelner sit my bestelling voor my neer met so teatrale buiging en my oë rek so groot soos pierings ...

"Hoe de hel moet ek die ding nou eet !"

Die stapel is hoër as my bierglas en dan is daar nogal so ewe windmakerig 'n sosatie stok deur die kontrêpsie gesteek om te keer dat die spulletjie nie die hele winkel vol val tydens die trippie van die kombuis af tot by my tafel nie.

Nee wat ... net daar verloor ek al my entoesiasme vir my burger. Poppie loer net so skeef na my kant toe en vermy oogkontak, sy ken my te goed en sy is effens onrustig ... soms gly die brieke op my bek en dan spat dit ... ek kan dinge kwytraak wat baie mense se hare laat rys en terselfdertyd menige aanhoorder laat verstik in sy mondvol kos. Heimlik hoop Poppie dat daar darem genoegsame mense in die omgewing is wat die Heimlich Maneuver ken.

Ek sien haar ongemak raak en delf diep in my selfbeheersings mandjie. Ek vat so lang stadige sluk van my bier en my oë dwaal deur die plek ... orals is dit dieselfde ... die stapels word uitmekaar gehaal en afgepak in meer hanteerbare hopies. Messe en vurke glim en klik in die flou lig en ek los so streep gemompelde kragwoorde ... eintlik sis ek dit meer uit as mompel ... my moer is suur.

'n Hamburger is mos veronderstel om iets te wees wat jy so bietjie platdruk en dan vat jy hom mooi vas in jou twee hande, groet die mense om jou en dan gaan jy in met jou tande. As dit regtig 'n stewige burger is dan rol jy hom so effens om jou tande mooi om hom te kry en dan hap jy. Bekende en verwagte smake van brood, vleis, sous ... en miskien so ietsie groenterig by ... maar dit is dit.

Hierdie ding voor my is heeltemal onmoontlik om met die hand te vat sonder om die bure met stukke te besaai terwyl jy spook om die ding by jou mond in te kry, dit is nou as jy eerstens daarin kon slaag om hom op te tel. So, noodgedwonge maak ek hom maar uitmekaar ... en dan ... daar voor my op die bord lê 'n hoop kos wat lyk soos 'n vraatsige skeppery by Hotel Buffet. Nee wat ... ek spaar myself die soort irritasie en bly weg van die sogenaamde Gourmet Burgers ... op die manier kan Poppie haar vis en slaai geniet sonder om te worry oor die bure, die omgewing en die Handves van Menseregte.

Kyk, as jy my nou regtig befoeterd wil kry dan moet die burger met 'n dagoud broodjie gemaak word ... die oomblik as jy hom optel dan sink jou vingers deur daardie broodjie en die stukke val so tussen jou vingers deur dat teen die tyd wat die ding by jou mond uitkom, loop die sous teen jou arms af en die stukke brood lê om jou bord rond asof 'n hoender daar geskrop het. Ek wonder altyd hoe is dit moontlik vir 'n kok om iets so eenvoudig soos 'n burger, so op te neuk.

Maar nouja, genoeg stories, kom ons maak die patties.

Speserye
Omdat 'n burger basies net uit twee goed bestaan, vleis en brood, is dit baie belangrik dat die twee van goeie gehalte is. In my opinie is dit beter om 'n sagte tipe broodjie te gebruik, jy wil 'n broodjie hê wat die sousies kan opslurp sonder om uitmekaar te breek. Die crispy tipe buns lyk mooi maar 'n sagte brioche tipe bun is beter. Selfs die outydse "Toasted" burger is ook vir my lekker.

Alles in die mengbak
Nou vir die vleis ... ek het in die storie 850gr bees maalvleis gebruik. Vir seker nie "lean mince" nie ... dit werk nie, al hoe dit kan werk is as jy frikkadelle maak. Daar is 'n groot verskil tussen 'n frikkadel en hamburger patty.

Gebruik jou hand
Ek gaan nie in besonderhede beskryf watse speserye en kruie jy moet ingooi nie want dis mos 'n persoonlike smaak ding. Ek gebruik koljander, cumen, ginger, kaneel, swart peper, suiker en sout. Vir vogtigheid sit ek Worcestershire sous en Ina Paarman Bief Ekstrak in.

Dit is basiese speserye om so Noord Afrika smaak in die vleis te sit. Jy kan net eenvoudig al die speserye vervang met jou gunsteling braai speserye. As jy spice mix gebruik kan jy werk met so om en by een en half eetlepels speserye op 850gr maalvleis. Sout en peper na smaak.

Maak seker jy meng goed
GEEN krummels, semels, hawermout, melk, eiers of klapperhare nie. Absoluut geen sogenaamde bindmiddels nie. Een van die kenmerke van 'n goeie burger patty is dat hy verkrummel as jy hom byt, byna soos karringmelk beskuit. As jy hom kan afbyt en 'n klont kou is dit 'n frikkadel.

Ek sit ook gladnie uie of ander groente in nie want dit laat die patty uitmekaarbreek as jy hom braai.

Ek gebruik standaard maalvleis, omtrent so 10 tot 15% vet. Moenie nou frons nie ... dis die vet wat die patty aanmekaar help hou en baie van dit braai uit in die gaarmaak proses.

Dis belangrik dat jy met yskoue maalvleis werk want maalvleis kan maklik 'n broeiplek word vir goeters wat jou kan siek maak.

Druk jou maalvleis effens plat in jou mengbak en strooi en sprinkel alles wat jy wil insit oor dit. Nou moet jy maar liewer nie grillerig wees nie want jy moet die mengsel baie deeglik doen en jou hand is die beste menger. Vat so handvol vleis en speserye en druk dit deur jou vingers. Maak seker jy werk redelik agressief met die mengsel want nie net wil jy vermeng nie, jy wil ook die vet en vleis karnuffel. Die mengsel sal baie gou begin taai voel. Sodra jy kan sien die verspreiding is goed gedoen is dit tyd vir toets.

Toets stukkie
Die TOETS ... hierdie is baie belangrik en moenie jouself mislei en dink jy is reg nie ... ek het sulke klein pannetjies waarin ek eiers bak vir een mens ... maak die pannetjie baie warm en vat 'n balletjie maalvleis, omtrent so groot soos 'n okkerneut, nie te klein nie, en druk hom mooi styf en dan druk jy hom plat. Sit hom in die warm pan sonder vet of olie ... dit hou die smaak suiwer en dit gee jou ook 'n goeie aanduiding van hoe die vet uitbraai. Hierdie is 'n TOETS ... so laat die korsie vorm en draai om. Braai die anderkant ook met 'n lekker kors en skep die TOETSIE uit op jou broodplank. Sny in kwarte en laat staan vir so paar minute om af te koel.

Braai die TOETSIE
Heel eerste wil jy proe vir geur en smaak ... so kou die eerste kwart net soos hy uit die pan uit gekom het. Nou is dit nodig dat jy mooi konsentreer op wat jy proe. As jy wil aanpassings maak, het jy nog drie stukkies waarmee jy kan eksperimenteer. Strooi dit wat jy wil toets oor 'n stukkie en proe. Dis hoe ek my mengsel finaal afrond voor ek ernstig begin patties maak. Soms is nog 'n TOETSIE nodig na die aanpassing ... soms nog twee ... maar doen dit liewer so as wat jy die hele mengsel verbrou. Omdat smake soms baie verskil maak ek ook my patties op 'n gemiddeld en gee elkeen dan die keuse om sy eie patty aan te pas met sout, peper en ander speserye. So as jy vind die algemene smaak profiel is goed ... moenie goed bygooi vir spesifieke persone nie ... laat hulle dit self op hulle bord doen.

Die MAAK van die patties ... hier gebruik ek my skaal. 125gr is 'n baie goeie burger patty porsie en die groot vreters kan maar twee op sy burger sit, moenie die goed te groot maak nie want dan sukkel jy om dit in die middel gaar te kry en moet baie omdraai, en dis waneer jou patty gaan breek. Myne het so tussen 105 en 108gr geweeg klaar gaar. Die regte burger fundis vertel jou dat jy die patty so dun as moontlik moet maak. Ek het dit getoets en verkies dit ook so. Onthou dis 'n burger patty, nie 'n frikkadel nie.

Weeg die porsies af

Ek weeg eers al my porsies uit en plaas dit op 'n plank. Sodra ek klaar die porsies gemaak het sit ek my pan op die stoof en laat hom goed warm word. Medium hoog ... 'n patty se einde is waneer hy kook en nie braai nie. Ek sit een eetlepel varkvet in my pan in die begin en dan is ek klaar want die patties stel genoeg vet vry om almal in gaar te maak.

Maak die balle
Terwyl die pan warm word rol ek nou die balle mooi stewig in my hande en laat rus op die bord. Ek verkies om die balle vir so 15 minute te laat rus sodat die geure mooi kan deur werk.

Vorm die Patty
Dan gebruik ek 'n kleinbordjie as werk oppervlak, die verdieping gee my 'n goeie merker waarvoor ek mik en laat my toe om die patties redelik eenvormig te kry. Moenie die bal nou met jou handpalm plat druk met mening nie. Gebruik jou toe vingers en druk die bal plat met 'n reeks drukkies. Ek vorm die patty doelbewus dat hy dunner in die middel is as op die rant. Sodra die pattie omtrent so vinger dik is behoort hy die regte grootte te wees vir 'n normale broodjie. Laastens druk ek met my duim 'n duikie in die middel van die pattie. Hierdie is 'n kunsie wat keer dat jou burger so boepensie stoot terwyl hy braai. Sommige burger fundis sit 'n ysblokkie in die duikie terwyl hulle die pattie braai ... ek het dit nog nie gedoen nie maar ek kan die waarde daarin sien as jy regtig groot patties maak.
Braai die patties

Gebruik nou 'n eierspaan om die patty versigtig los te maak van die bordjie af sonder om hom te verongeluk.

Klaar gaar
So gaan hy nou pan toe ... ek braai net twee op 'n slag want as jy die pan vol pak gaan die patties kook en nie braai nie. Sit die pattie in die pan en los hom heeltemal uit vir so 60 to 90 sekondes, afhangende van jou pan hitte behoort daar nou 'n mooi korsie te wees en daar mag ook so bietjie sousies in die holte wees. Ek kyk op die rant van die patty en as ek sien hy het omtrent so halfpad op verkleur, dan draai ek hom versigtig om. Weereens, los hom uit dat die korsie kan vorm.

Ek sit 'n houtbord op die stoof langs die pan en 'n dubbellaag handoekpapier op die plank. Soos ek die patties uithaal sit ek dit op die bord. Dit suig die vetjies op en gee die patty die kans om mooi deur gaar te word. Ek hou van my vleis so net by medium verby. Dit is veral belangrik as jy so bietjie voorraad braai dat jy nie die goed te gaar maak nie want jy gaan dit mos weer later so bietjie warm wil warm maak as jy een wil eet en as jy die goed oorkook nou dan is daardie opvolg ete s'n baie droog.

Wel, daar is dit ... ManKos Burger Patty.

Ek weet dat baie met my gaan verskil oor die ding maar my een kuber vriendin noem my mos Chef OCD en getrou aan my reputasie het ek die ding van Burgers baie deeglik nagevors. Die een ding wat soos 'n paal bo water gestaan het is dat volgens tradisie en volgens die burger fundis, daar kom GEEN bindmiddels in die vleis nie.

As jy wildsvleis maalvleis het ... meng dit met so 30% vark maalvleis. Dit gee die nodige vet om die patty te bind.

Nouja ... dan uiteindelik bou ek my burger ... ek smeer botter op my broodjies, so eetlepel gewone mayonnaise en dan die vleis met 'n lekker skep van my tuisgemaakte koejawel chutney. En dis hoe ek van 'n burger hou ... dis 'n burger, nie 'n buffet tussen buns nie.

As jy die burgers op a rooster wil braai moet die rooster baie fyn sif wees of jy moet a toeknyp rooster gebruik. Moenie die patties met 'n tang probeer hanteer nie want dan gaan hulle beslis breek.


Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.

Maandag 25 Julie 2016

Maalvleis - Kool Frikkadelle

As daar nou een ding is wat waar is, dan is dit dat sekere geregte 'n mens onwillekeurig laat terugdink aan tye lank gelede. Kool Frikkadelle is een van daardie dinge ... dis iets wat stapelkos in ons huis was toe ek baie jonk was. Soos menige ander Afrikaners van daardie tyd, het ons dit nie breed gehad nie en my ma het wonderwerke in die kombuis verrig om kos op die tafel te sit. Hierdie is 'n Man Kos gereg waarvan meeste vrouens ook sal hou en die manne kan dit vir seker self maak.

Kool Frikkadelle
Kool Frikkadelle was een van die luukshede want vleis was skraps en sy het elke stukkie gerek tot by breekpunt. Soos die jare aangestap het, het die kool frikkadelle minder geword en feitlik heeltemal verdwyn.

Weeg die balle af
Soos die jare verbygegaan het was daar momente waar ek na die gereg verlang het maar my ma is dood en ek het geen idee gehad hoe sy dit gedoen het nie. Toe so tydjie terug sit en kyk ek na 'n Homestead Cooking video en die vrou maak iets soortgelyks, ek gaan nie praat oor wat sy ingesit het nie maar sy het mooi verduidelik hoe jy die koolblare moet hanteer. Wel ek ken my pad om en deur 'n pakkie maalvleis so die koolblare hantering het my kop aan die werk gesit. En toe op kouerige Laeveld middag besluit ek dat dit nou die tyd is vir Kool Frikkadelle. Ek het SPAR toe gery en gaan kool soek vir die taak.
Heel koolkop

Kook die blare
Hier volg die proses nou wat ek gevolg het. Eerstens het ek my maalvleis mengsel gemaak vir die frikkadelle en ek het 'n koppie vol gewone BRAN (Semels) by die 900 gram maalvleis gevoeg. Dit verhoed dat die frikkadel toeslaan soos my ma sou gesê het. Nou hier is stukkie advies, maak nou nie saak hoe jy jou frikkadel mengsel voorberei nie, vat 'n klein pannetjie en braai 'n klein pattie van die maalvleismengsel ... proe mooi ... dis baie beter om dit goed te laat smaak voor jy frikkadelle begin maak. Wees ook maar versigtig met sout want die meeste van die spesery mengsels wat beskikbaar is, is reeds goed sout. Ek sit altyd heel laaste die sout in.

Mooi toegedraai en in die pot
Nou maak ek die frikkadelle en vir my het ek op 150gram balle besluit ... dis 'n goeie porsie. Daar is 'n goeie rede hoekom ek die goed afweeg ... dit verseker dat almal eweredig gaar word.

Terwyl ek die frikkadelle maak laat kook ek solank 'n groot pot water met sout in. Nou maak ek die koolblare mooi los van mekaar af en as die blaar dik stingels het, stel ek voor jy sny dit uit want die dik stingels gaan verhoed dat jy die blaar mooi kan vorm om die frikkadel.

Klaar gaar
Gooi nou die los blare in die kookwater en sit die dekseel op ... jy moet elke minuut toets of die blare al sag word. Moenie dit teveel kook nie ... jy wil net hê dat die blare kan buig sonder om te breek. Sodra dit begin sag word haal die pot van die stoof af.

Lig die blare nou versigtig uit met 'n tang en pak hulle uit op 'n snyplank of in 'n bakplaat. Dit moet uit die kook water uit want anders gaan dit pap word.

Op die bord ... koningskos
Nou begin die pret, vou elke frikkadel mooi toe, dit kan meer as een blaar neem, afhangend van hoe groot jou koolblare is. As hy mooi toegerol is, druk hom versigtig mooi styf, sodoende pers jy ook die oortollige water uit. Pak die frikkadelle in 'n gepaste oondvaste bak.

Maak nou vir jou genoeg stock aan om die frikkadelle so halflyf te bedek. Ek gebruik Ina Paarman se Vegetable Stock en gooi so twee teelepels Bisto by.

Nou sit jy die deksel op en in die oond teen 160C vir 40 minute.

En daar is dit ... heerlike kool frikkadelle ... 'n dis wat jy maar gerus vir die "fancy" gaste ook kan opskep sonder om skaam te voel. Jy kan jou verbeelding op loop sit met die balle wat jy in die koolblare gaan sit ... hoender, vark, bees, skaap ... mengels van vleis en rys, of koring of selfs mieliepap, gekapte ommelet of roereiers ... raak waaghalsig. Dis 'n goeie plan om baie oorskiet nuttig aan te wend.
Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.

Woensdag 07 Oktober 2015

Potluck - Rek die mince

Deesdae is dit nogal 'n depressiewe ding om te gaan kos koop. Pryse van goed is mal en as jy nie versigtig is nie kan jy baie maklik 'n onsedelike klomp geld spandeer op 'n mandjie wat nie baie vêr gaan kom in jou kombuis nie.

Man Kos is op 'n missie om lekker kos te maak wat bekostigbaar is. So kom dit dan dat ek in die kombuis inloop so teen laatmiddag en ek wonder ... wat gaan ek vanaand op die tafel sit. Dit is iets wat in duisende huise gebeur en my oë dwaal oor die kaste en deur die vrieskas.

Lekker kool en maalvleis
250gr Mince, aartappels, uie, 'n klein kool koppie, blaarslaai en tamaties. Nou moet ek kos maak vir 3 mense. Dis maar 'n klein pakkie mince en beteken so omtrent 80 gram vleis per persoon ... minder as 'n burger pattie by 'n fastfood plek.

Eerste maak ek die slaai en 'n slaaisous van yoghurt, heuning, suurlemoensap en mosterd. Dis 'n lekker dik en geurige sous wat opsigself voedsaam is.

Kap die uie op en sit 'n pot op die stoof. Twee eetlepels varkvet en 'n goeie klompie braaispeserye ... die gaan die basis van my sous word en ek roer die uie totdat dit lekker sag gebraai is. Die vet is lekker warm en borrel en spat. Pasop vir brand.

Ek meng twee teelepels sous poeier in 500ml water in ... ek gebruik Ina Paarman se sous poeier maar jy kan Bisto of iets soortgelyks gebruik. Nou skep ek twee eetlepels meel in die uie en vet in die pot en roer dit goed. Spoedig verdik dit tot 'n pasta, Nou moet jy bly roer en die pasta kans gee om so bietjie uit te braai. Hou die pot lekker warm en roer gereeld sodat dit nie aanbrand nie. As jy nou brand kan jy dit maar wegsmyt en gaan fliek.

Geurig en goedkoop
Dan gooi ek die watermengsel in die pot in ... dis 'n gespat en borrel dat die stoom trek en ek roer dit aanhoudend. Spoedig het die meelpasta mooi opgelos en daar is 'n lekker sous met uie in aan die kook. Moenie die plaat afdraai nie ... laat hy maar warm bly. Nou gooi ek die mince so in die pot sous in en roer. Breek die mince op so fyn as jy kan en laat die pot kook. Die gaan nou regte vaal mince wees. Na so 5 minute is die mince mooi fyn en gaar. Onthou, mince is gewoonlik maar taai vleis en ek kook dit dit altyd goed om lekker sag te word. Gooi nou nog 'n koppie water in die sous want dis nogal dik. Jy wil 'n sous kry wat amper soos room lyk. Roer goed.

Nou is dit tyd om die sous te begin proe ... kanse is dat dit nie regtig lekker gaan wees nie maar die geheim is om dit van 'n kant af reg te maak ...

Eerste gooi ek bietjie asyn in en proe ... jy wil die suur net begin proe. Volgende gooi ek suiker in, begin met een teelepel. Proe ... jy wil die soet en die suur proe. Sodra jy dit mooi gebalanseer het dan weet jy die basis is reg ...

Nou kan jy ander speserye insit waarvan jy hou ... maar moenie sout insit nie ... dit kom heel laaste.

Jy kan chutney bysit, Worcestershire sous, soy sauce en chili sous. Dit waarvan jy hou.  So bietjie kerriepoeier is ook lekker.

Laaste toets jy nou vir sout en ek het gevnd dat as ek so teelepel sous vat en dan bietjie sout op dit strooi en proe kry ek 'n goeie idee van wat om te doen. Onthou sout verbreed die smaakprofiel ... dis wat sout doen.

Nou is die sous reg, miskien dalk nie dik genoeg nie maar dis nie 'n probleem nie. Draai die plaat bietjie stadiger en laat prut terwyl ek my aartappels in die mikrogolf gaar stoom ... dit vat so 10 minute.

Terug na die sous toe. Draai die plaat op en kry die sous baie warm ... as dit goed borrel, gooi al die gekerfde kool in, rooer goed en sit die deksel op, skakel die plaat af. Die neem so 5 minute.

Nou skep ek die borde op, breek die aartappels oop en strooi gemaalde swart peper oor en as jy wil, so lekker blêrts botter. Skep die slaaisous oor die slaai.

Die vleis sal nou reg wees. Jy wil nie die kool heeltemal pap gekook hê nie.

Laaste skep ek die vleissous en kool oor die aartappel ... lekker sopperig.

En daar is dit ... geurig, gesond en dit kos nie 'n arm en 'n been nie.


Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.

Saterdag 23 Augustus 2014

Wild - Bielie van 'n wilde Frikkadel

Vandag se storie gaan oor iets wat ny na aan die hart lê ... wildsvleis. Maar vandag gaan ek spesifiek oor maalvleis praat. Ons is gelukkig in die land om so baie wild te kan hê maar dis vir my so verstommend oor hoe min mense regtig wildsvleis eet. Sommiges is sommer neusoptrekkerig as dit by wildsvleis kom.

Danksy al die kookprogramme op televisie en op die radio is daar 'n groot oplewing in die belangstelling van kos voorberei.

Dit is vir my fantasties want mense soos Dine van Zyl, Hetta van Deventer Terblanche, Errieda du Toit en Anel Potgieter grou die ou hartskos resepte uit en sit dit voor ons neer. Wat my meer opgewonde maak is die feit dat dit in Afrikaans gedoen word. In Dine se jongste nuusbrief sê sy ...

"Ek weet jy praat Afrikaans. Ek weet jy praat dit dat die spoeg so spat. Dis reg so, ons taal het ʼn kwylbek klank."

Heerlike Man Kos
Wildsvleis is nie volksvreemd vir ons nie maar baie mense het 'n heeltemal verkeerde idee van hoe dit regtig proe. Iets wat my sommer rooi laat sien is as iemand vra ... "Hoe kry ek die wille smaak uit die vleis uit."

Goeiste mens, dis dan wild, hoe dink jy nou moet die smaak wees ... wil jy dit soos hoender of skaap laat proe ... dan is dit beter gaan koop hoender of skaap en gee die wildsvleis vir my.

Deesdae sien ek by baie winkels dat daar wildsvleis is. Party winkels het baie snitte, snitte wat ons ken uit die bees en skaap etery uit. Dis goed so want dit gee jou dadelik 'n aanduiding van watter rigting om in te slaan met die kokery.

Meeste plekke het maalvleis en die pryse is baie goed in vergelyking met skaap of bees. Iets wat jy moet onthou is dat wildsvleis as 'n reël nogal droog kan wees want daar is nie eintlik vet aan die bokke nie.

So koop ek toe 500 gram wilds maalvleis. Poppie loer my so onderlangs aan en ek kan sien sy is lus om te vra wat my plan met dit is maar sy bly liewer stil. Ok maar goed so want my Poppie is erg agterdogtig as dit by vreemde vleis kom. Sy kan egter maar ontspan, ek het 'n duidelike plan met die maalvleis.

By die huis gekom is dit reguit yskas toe met die bakkie vleis. Dis vroeg en ek wil die dis vir aandete maak.

Vanaand gaan ek 'n vleisbrood maak ... dis maar dieselfde ding soos 'n frikkadel maar die is net een helse groot frikkadel.

Nou die wat my ken weet dat ek nie baie spesifiek oor resepte skryf nie maar eerder oor hoe ek die ding gemaak het. Hierdie is maar weer dieselfde. Jy gaan die vleis geur met speserye waarvan jy hou en wat jy ken.

Man Kos Bielie van 'n wilde Frikkadel:

500 gr Wilds maalvleis
250 gr Hoender Hartjies
250 gr Repies Spek - Streaky Bacon
1 Ui in blokkies gekap.
1 Koppie Gedroogde Cranberries. (Sultanas werk ook)

Basiese Geurmiddels ...

1 Teelepel Gemaalde swartpeper
1 Teelepel Koemein
1 Teelepel Rissie vlokkies
1 Teelepel Robertsons Pimento Allspice
1 Teelepel Robertson Chicken Spice
1 Eetlepel Bruinsuiker
1 Eetlepel Worcestershire Sous

Eerstens moet jy die hartjies deurkyk en as jy van hulle sien wat nog so klossie aartjies aan het, sny dit af en gee vir die hond. Moenie die vet afsny nie want jy het dit nodig, die wildsvleis is baie maer.

Volgende pols die harte so twee of drie keer in jou voedselverwerker. Anders kan jy dit fyn kap met 'n skerp mes. Jy wil dit nie pap maak nie, net fyngekap.

Maalvleis mengsel
Hou jou spek eenkant en gooi al die ander goed saam in 'n mengbak. Nou is nie die tyd om vol fiemies te wees nie. Klim in met jou hande en meng die spulletjie baie goed. Werk dit met jou hande tot jy voel die die mengsel raak taai. Soos jy seker opgemerk het, ek gooi geen brood of eiers in nie, sommige mense noem dit bindmengsel maar ek dink dit is net goed wat jou van geur gaan beroof. As jy die vleis goed gemeng het sal dit mooi bind as jy die frikkadel begin maak.

Jy het ook seker opgelet dat ek geen melding van sout gemaak het nie. Dis doelbewus want baie van die goed wat ingegooi is het sout in.

Doen die toetsie
Nou vir 'n baie belangrike stap ... sit vir jou a klein pannetjie op die stoof en maak hom baie warm. Vat so opgehoopte teelepel vleismengsel en maak 'n balletjie. Druk die balletjie plat en sit in die warm pan. Braai die toetsie nou gaar ... laat bietjie afkoel en proe ... jy moet nou besluit of jy sout wil bysit en of jy van die ander geure moet versterk. Vir die sout gooi ek sout op die toets stukkie en proe of dit beter smaak.

Soms maak ek tot 3 sulke toetsies voor ek die Bielie Frikkadel bou. Dit klink dalk bietjie langdradig maar glo my ... jy wil seker wees die basiese mengsel is reg voor jy voortgaan. Hier is 'n wenk. Sny 'n appel in blokkies en voor jy proe, eet 'n stukkie appel ... maak so elke keer as jy 'n verstelling gedoen het en weer wil proe. Die appel vervars jou mond en laat jou beter proe.

Moenie tamatiesous of chutney in jou mengsel gooi nie want dan gaan jy die mengsel te nat maak.

Bou die Bielie
Vat nou 'n bakplaat en bou jou Bielie Frikkadel op die bakplaat. Druk hom mooi styf en vleg hom toe met die bacon. Ek sit nie die bacon onder die frikkadel in nie.

Nou in die oond ... 180C vir 20 minute en dan af na 160C toe vir nog 20 minute.

Toegevleg in Bacon
Terwyl hy bak maak jy vir jou 'n lekker smeersous ... tamatiesous, Worcestershire sous, bruinsuiker, braai speserye. Meng dit goed en piets hom in die mikrogolf vir so 2 minute.

Haal die Bielie Frikkadel uit die oond en laat rus vir tenminste 15 minute voor jy hom sny.

Nou met 'n lekker skerp getande mes, sny skywe van so 15mm dik ... en siedaar ... Man Kos ... 'n Bielie van 'n Frikkadel wat vrouens ook van hou.

Heerlik en vars
Jy gaan verstom wees oor die tekstuur en daai hartjies se vet maak die vleis lekker sappig. En die beste is, jy kan nog proe dis wildsvleis.

Ek maak net een lekker vars koolslaai saam met die gereg maar jy kan kapokaartappels of rys maak.

Die smeer is lekker oor die vleis. Die volgende dag sny jy dunner skywe en sit dit op toebroodjies.
Kyk die mooi tekstuur

Nouja ... lekker kook tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook bladsy ... Man Kos ... Like hom stukkend as jy wil.





Woensdag 11 Junie 2014

Maalvleis - frikadelle met 'n kaas hartjie vir die kosblik

Heerlik en geurig
Hierdie week is ek op die happies wat mans van hou ... Man Kos Happies ... daai klein goedjies wat jy maak en in die yskas hou en as pappie verby loop, maak oop, pop een in die kies en gaan verby.

Meng jou vleis baie goed
Mens kannie by dit verby kom nie ... frikadelle is omtrent altyd 'n wenner en al weet ons dat sommiges wat jy so op die snoep bordjies kry is niks meer as sooibrand bomme nie, eet ons dit maar en hoop elke keer dat jy hierdie keer verkeerd is en dat die ding jou nie in die laatnag gaan kom verwyt nie.

Vannaand gaan ek julle vertel hoe ek myne maak en dis baie lekker. Dis baie belangrik dat jy jou vleis goed meng en jy moet probeer om die balle min of meer dieselfde gewig te hou. As hulle so min of meer dieselfde is dan word hulle ook lekker eweredig gaar.

Ek begin met 1kg maalvleis en ek koop die wat so 10% vet is ... My SPAR merk dit deesdae so en ek verkies dit. Soms meng ek die maalvleis en gebruik 500gr vark en 500gr bees.

Ek spice my maalvleis met bruinsuiker, swart peper, braaivleis speserye, worcester sous en chili flakes.

Meng die vleis baie goed en knyp so teelepel stukkie af en braai dit gou in 'n klein pannetjie. Laat so effe afkoel en toets die smaak. Dis nou nog nie die tyd om sout by te gooi nie. Sit in die yskas.

Uie mengsel
Kap nou uie, rooi soet rissies en pietersielie redelik fyn. Gooi so eetlepel of wat olie in 'n braaipan en sprinkel so bietjie braai speserye in die warm olie. Braai nou die uie mengsel totdat die uie sag is. Skep dit uit die pan uit en laat afkoel tot by kamer temperatuur ... jy wil nie die warm mengsel by jou maalvleis ingooi nie want dit kan ongesond raak.

Kaas hartjie
As die uie mengsel afgekoel is, gooi dit by die maalvleis en meng dit nou baie goed. Ek gooi nou ook 'n  koppie beskuit krummels by die mengsel ... jy kan gewone broodkrummels ingooi as jy nie beskuit krummels het nie.

In muffin pannetjie
Sny nou vir jou 12 blokkies lekker kaas so 1cm by 1cm by 1cm.

Vat nou weer so teelepel stukkie en braai gaar in die pan. Dis nou die finale toets en jy moet nou jou sout reg kry.

Ek gebruik my skaal en weeg so om en by 90gr balle af ... ek druk die vleis plat soos 'n hamburger pattie en sit een stukkie kaas in die middel en vou dit toe. Maak 'n mooi balletjie en sit in a muffin pannetjie. Die mengsel behoort vir jou 12 balletjies te gee.

Reg vir die oond.
Nou verf ek die bokante met 'n soet rissie sous en sit in die oond. 180C vir 20 minute en dan draai ek die temperatuur af na 140 toe vir nog 20 minute.

Haal uit die oond en laat afkoel so in die pan tot by kamer temperatuur. Nou kan jy die frikadelle in die yskas sit.

Heerlike happies vir daai hol kol op die maag en lekker om in 'n kosblik te pak. Ek het dit al gemaak met heelpit mielies in of fyn gekerfde groen boontjies.

Lekker kook tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook bladsy ... Man Kos ... LIKE hom stukkend as jy wil.

Donderdag 22 Mei 2014

Maalvleis - Frikkabolletjies is mos man kos

Hierdie ding van Man Kos is iets wat baie naby aan my hart lê. Man Kos is vir my die soort kos wat manne van hou en wat manne ook graag sal wil kan maak. Maar dis nie waar dit eindig nie ... nee, ek kyk altyd uit vir Man Kos wat vrouens ook van hou. Hoekom ... wel, as die vrouens dit like dan sal hulle dit vir hulle manne maak.

Oor die laaste jaar het my kosmaak deur 'n groot meule gegaan en my kuber vriendin Renette Vosloo het 'n groot rol in dit gespeel. Vandag is ek bereid om te sê dat ek die MOER BY Kok verseker afgeskud het en diep in die kas gebêre het.

Frikkabolletjies
Nou kom ons kyk na die Frikkabolletjies. Hierdie was gedoen om in te pas by my hedendaagse gebruik om net 3 goed op 'n bord te sit ... vleis, stysel en plante.

Om mee te begin moet jy 'n lekker maalvleis mengsel aanmaak ... my SPAR merk deesdae hulle maalvleis soos die Amerikaners en dui die vet persentasie aan ... ek koop die 10% vet maalvleis.

Volgende moet jy jou maalvleis ordentlik spice en geur maar bly weg van enige oormatige souse in die geur proses. Jy soek 'n realtiewe droeë maalvleis mengsel. As jy dit sloppy maak gaan jy die bolletjies verongeluk want dan gaan die sous uitloop en die bolletjies se struktuur verongeluk.

Meng jou maalvleis goed
Moenie grillerig wees nie ... die maalvleis moet baie goed gemeng word. Ek vat so hand vol en maak dan 'n vuis en pers die mengsel tussen my vingers deur. Hou so aan tot jy seker is die mengsel is regtig goed gedoen. Die het nog 'n voordeel en dit is dat dit makliker is om bolletjies of patties te maak sonder om brood en eiers en ander bindmiddels in te gooi. Ek het 'n helse renons in bindmiddels ... ek soek pure vleis.

Moenie die mengsel nat maak nie.
Vir my is die volgende stap ook baie belangrik ... maak 'n klein pannetjie warm op die stoof en maak so klein pattie van die mengsel maalvleis ... braai dit en proe of dit reg is voor jy die balletjies begin maak.

Nou kom ons by 'n stap wat ek getrou volg ... en ek weet ook baie gaan dit vreemd vind. Ek weeg my frikkadelle af ... almal moet min of meer dieselfde gewig en groote hê.
Weeg jou vleis porsies

Hoekom ... hoor ek jou vra.

Wel dis wiskunde ... jy wil hê die goedjies moet almal dieselfde tyd gaar wees. Deur dit te weeg gaan jy verseker dat hulle dieselfde gaar gaan word.

Ek maak myne so 100g rou vleis en maak dan 'n lekker stywe bal. Dis goeie porsie vir die wat versigtig eet en 'n honger man vat maar twee.
Vou die deegkombersie mooi oor

Volgende is dit jy en die deeg. Ek het sommer 'n pak SPAR deeg gekoop. Jy kan brooddeeg maak as jy wil.

Werk versigtig dat jy nie die deeg skeur nie
Gooi meel op jou werkplank en dop die deeg op dit uit. Strooi nou meel ook oor die deeg en druk die deeg plat. Moenie rol nie. Werk maar met jou vingers en handpalms en druk dit omtrent so 10 to 15mm dik. Dop die deeg maar gereeld om terwyl jy dit plat maak en strooi genoeg meel sodat jy die deeg maklik kan hanteer sonder dat dit aan jou hande vasklou. Dis belangrik want anders gaan jy baie sukkel om die kombersies te maak. Moenie nou olie of vet aansmeer nie want die varsmeel gaan help om die sousies binne die bolletjies te hou.

Goed geoliede pan
Ek het gevind op so om en by 12mm dik kalmeer die deeg en krimp nie te kwaai terug nie. Nou gebruik en sommer 'n teekoppie en sny 'n sirkel deeg uit.

Maak die degie nou plat deur dit met jou vingers te druk en rek, maar net soos jy a pizza so doen. Jy sal sien dat die rant altyd effens dikker bly. Dis reg so want jy gaan dit benut as jy die kombersie toeknyp.

Mooi blink en styf teen mekaar
Ek sit my frikkadelle op die werksplank en as die degie groot genoeg is dan trek ek hom oor die bolletjie, draai die pakkie om en tel die randjie op en trek na die middel toe. Dis nou wat jy daai dik rand dunner trek. As jy begin toemaak moet jy maar eweredig optrek sodat jy die hele rand rek tot waar jy toeknyp.

Heerlik
Ek olie my pan baie goed met olyfolie ... Woolies het Cooking Olive oil wat ek gebruik.

Sit nou die bolletjie in die pan met die toeknyp kant onder. Nou moet jy die bolletjie mooi verf met olie aan alle kante. Kry iemand anders om hiermee te help want as jy olie aan jou hande kry gaan jy sukkel met die toemaak van die frikkadelle.

Werk maar so vinnig jy kan en pak hulle lekker styf in die pan soos op die fotos gewys.

Jou mikpunt is om die deeg so dun as moontlik om die vleis te kry. Ons gaan annerdag anner goedjies maak waar ons meer deeg soek.

Oond op 210 C ... lekker warm.

Breek versigtig uitmekaar
In die oond in vir 15 tot 20 minute ... jy moet maar kyk wanneer die kleur mooi goudbruin is. Draai nou af na 160 C vir nog so 10 minute.

Haal die pan uit die oond uit. Toets met a spatel ov mes dat die rante nie vasklou nie en dop die baksel uit op a bord.

Jy kan die bolletjies nou versigtig van mekaar aftrek ... ek gebruik 'n mes se punt om vas te druk waar ek sien die buurman se degie wil saamkom.

Nou sit ek 'n ander bord bo-op die omgedoptes en draai die bondel om.
Lekker ete

Maak hulle nou verder los van mekaar. Dit is nie baie moeilik nie want afhangende van hoe goed jy die bolletjies geolie het in die begin, sal hulle maklik loskom.

Dis seker amper onvermydelik dat van die middelstes so bietjie sous gaan lek maar vir my is dit nie 'n probleem nie.

Man Kos
Die warm oond laat die kors vinnig vorm en help om te keer dat daar sous uitloop tydens die gaarmaak proses.

Op die mates wat ek gebruik is so Frikkabol en slaai nogal 'n vullende maaltyd. Ek het so soet-suur tamatiesous wat ek saam met die bolletjie geeet het.

Vanoggend wou my jongste proe hoe die Frikkabol proe en toe het ek hom net vir 30 sekondes in die mikrogolf oond opgewarm.

Hierdie bolletjies maak lekker kosblik en padkos happies.

Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... LIKE hom stukkend as jy kan.