Woensdag 27 Mei 2020

Groente - Spinasie in 'n nuwe baadjie

Haal die stingels uit.
Spinasie ... dis 'n woord wat lelike gedagtes in my laat opkom. As 'n deurtrapte koshuisbrak ken ek spinasie as daardie vaal, waterige gekookte trapsel met uie en aartappels by. Gekook vir ure en skrikwekkend in kleur, geur en aangesig.

Ek is doodseker die meeste van ons het soortgelyke herrinneringe aan spinasie.

Kerf die stingels vir die sous
So tyd gelede het ek vir my 'n Aquaponic stelsel opgerig en Spinasie was een van die gewasse wat ek ingesit het. Teen die tyd dat die Spinasie gereed was vir oes het ek begin uitdeel en verkoop maar het self nie aan die goed geraak nie.

Toe kom die China Virus en ek kyk met nuwe oë na my kokery en etery. Skielik was dit baie belangrik om te eet vir my imuunstelsel en dit het nou meer gegaan oor gesond as oor lekker.

Rou blare in die bord
Laatmiddag staan ek in die kombuis en bekyk die bossie spinasie wat ek gepluk het. Onder geen omstandighede gaan ek dit moertoe kook nie.

Eerste "ontbeen" ek die blare en kry die harde stingels een kant. Toe kerf ek dit op en gebruik dit saam met die gekapte uie in die basis vir my sous. Ek rol die blare op en kerf dit soos fettuccine pasta, sulke linte.

Die finale dis
Ek het oorskiet Steak in die yskas en sny dit in klein blokkies. My sous maak ek lekker soet suur en roer die vleis blokkies by.

Nou sit ek 'n handvol spinasie blare in die diepbord. Volgende skep ek van die sous oor die blare en toe die Vleis en ek het ook groenmielies gestoom.

Die warm sous het die blare lekker laat verwelk en dit was heerlik. Probeer dit gerus as jy weer lekker vars spinasie in die hande kan kry. Ek sal nie maklik ooit weer spinasie in 'n pot gooi en kook nie.

Ek dink ons is soms skrikkerig om iets nuuts te probeer met 'n ding wat ons al vir jare ken en eet.


Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.

Vrydag 20 Maart 2020

Groente - Oyster mushrooms verras my

My jarelange kokery het my blootgestel aan baie dinge wat ek nooit voorheen geëet het nie. Vandag is daar min goed wat ek nie regtig ken nie.

100gr Oyster Mushrooms
Vanoggend kontak my buurvrou, Marlene, my en vertel my dat haar eerste Oyster Mushrooms gereed is vir oes. Nou, ek het die goed al in die winkels gesien maar nog nooit gekoop nie. Sonder aarseling bestel ek vyf pakkies van 100gr.

Ons ontmoet by die teerpad en baie opgewonde vertel sy van die mushrooms en ook hoe hulle dit gisteraand gaar gemaak het. Ek is mal oor Marlene, sy het so borrellende bruisende geaardheid en sy gee my sommer energie deur net na haar te kyk en met haar te gesels.

In die pan met botter en speserye
Ek luister aandagtig na haar kook metode en my kop werk oortyd. Met 'n wuif, want ons mag mos nou nie meer aanmekaar raak nie, is ons uitmekaar. Ek het pas 'n baie harde sessie in die gym voltooi en moet iets eet. Ek besluit terstond dat ek die mushrooms dadelik in die pan gaan gooi.

Eers proe ek een net so rou, net om 'n idee te kry waarmee deel ek. Die tekstuur is onmiddelik opvallend en daar is sterk aardse smaak. Die mushrooms is ook nie so sag en bros soos die goedjies wat ons gewoonlik koop nie, nee, die goed moet jy kou. Ek hou van dit.

5 minute later.
Ek besluit om dit so aards as moontlik te hou. So, plaasbotter in a medium warm pannetjie, een pakkie lyk vir my soos een mooi porsie. Ek pak die mushrooms, bokant onder in die warm botter en laat dit doodstil met rus.

Spoedig begin dit duidelik braai en krimp so effe. Nou strooi ek net Robertson's se Chicken Spice oor. Ek wil nie die smaak van die mushrooms bederf of oorweldig met uie, knoffel en speserye nie. Hou dit basies en aards.

Ek draai die mushrooms om, speserye en rou kant is nou in die botter. Laat dit verkleur en roer dit dan so bietjie, af van die stoof af, minder as 5 minute. Wat my eerste opval is dat daar nie so baie vog uitkom soos met die ronde goedjies nie. Die mushrooms verloor ook nie so baie volume nie. Dis natuurlik hoem dit so lekker tekstuur hou.

Heerlik en smaaklik
Wow, wat 'n wonderlike mondgevoel, bykans soos dungesnyde beesvleis. Ek is mal oor dit, die kan maklik 'n vleis vervanger wees in 'n dis. Nou nie dat ek so onsinnigheid sal wil aanvang nie maar dis egter 'n feit.

Ek smeer 'n snytjie roosterbrood met lekker plaasbotter, sit so knartsie van my Hellfire en Brimstone Chili Tamatiekonfyt op en daar gaan die eerste hap. Wat 'n sensasie.

Nou sal Marlene maar moet wikkel want ek gaan baie van die pakkies gebruik.


Vandag kan ek met alle eerlikheid sê dat ek iets nuuts probeer het en dis fantasties. Natuurlik gaan ek meer met dit doen, Roomsouse met groenpeper, met soet risie konfyt, met kaas maar ek het so idee dat die basies resep elke keer die wenner gaan wees. Die is so vinnig en maklik dat jy dit kan maak as jy skielik in die aand die munchies kry, eerder dit as a sny koek of 'n koeksuster.

Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.

Dinsdag 03 Maart 2020

Gewig - Jou lyf is al wat jy het

Ek het al so paar stories oor diete, gewig en gesondheid geskryf. Die wat my ken weet dat ek baie agterdogtig is teenoor dieet foefies en oor die algemeen vertrou ek op die Grotman om leiding te gee.

Sondag - Gebraaide hoender en aartappel
Gedurende Oktober 2016 het ek 'n wilsbesluit geneem om my leefstyl aan te pas. Ek was lelik oorgewig, het pre-diabeties geraak en het verskeie probleme met my hande, bene, voete en rug gehad. In kort, ek was letterlik in my moer in en het besef dat die kanse skraal is dat ek Kersfees 2016 gaan sien.

Op aanbeveling van my oudste seun het ek vir Eli Fourie gaan sien. 'n Merkwaardige man, hy is 10 jaar ouer as ek en sy hele lewe lank betrokke by die Ligaamsbou bedryf. Wat vir my die belangrikste was is dat hy duidelik ou ligame goed verstaan want hy het self een en is in goeie kondisie.

So begin ek met die kastyding, Maandae, Woensdae en Vrydae. Om te sê dat ek sleg was is heeltemal te sagkens gestel en verskoon maar die kruheid, maar feiete is feite en die feit was dat ek ordentlik gefok was. Oor 'n periode van 15 jaar het ek my ligaam verwaarloos en verniel tot op 'n punt waar hy letterlik begin ingee het.

Maandag - Sampioene, hoender en chili roomsous
Die aanvanklike oefensessies was pure hel en ek het my afgesluit van wat ander mense waar kon neem. Ek het die sessies omgewroeg en heeltyd verskonings gesoek om op te gee. Ek dink Eli het heimlik maar net sy kop geskud en deur die motions gegaan ... Goddank bly as die 55 minute verby was. Ek het my 108.5kg lyf met moeite deur die proses gesleep.

Terselfdertyd het ek begin oplet na wat ek eet en het daadwerklik gewerk aan my porsie beheer en dit afgeskaal na wat mens as ordentlik en genoeg sou kon beskou. Geen tweede skeppies nie en versigtig met die fyngebak.

Omdat die porsies kleiner was het begin fokus op smaak en tekstuur om darem die ete so aangenaam as moontlik te maak alhoewel dit baie minder was.

Dinsdag - Mossels Al Fredo
So worstel ek voort maar kan sien dat dinge verander en by Maart 2017 is my gewig af met 4kg. Meer bekangrik is dat ek kon sien ek begin verander in vorm en my klere raak al hoe losser. Ek het nie veel meer gewig verloor nie maar het daadwerklik sentimeters afgegooi. Duidelik was ek besig om spiermassa te vermeerder en dit het die gewigsverlies uitgekanselleer.

Ek gaan nou nie besonderhede gee van my oefenprogram nie, want dis nie belangrik nie. Wat interresant is, is dat ek begin het met Size 42 broek. By Oktober 2018 is ek vas in die roetine van 3x per week gym toe en my broek staan by los 38. En toe laat Oktober sien ek op 'n TV program hoe 'n Hart spesialis verduidelik wat die rol van oefening is vir gewig verlies. In kort kom dit bloot daarop neer dat jy in die eerste 30 minute van oefen vet verbrand, daarna stop dit en jy brand spiere vir energie. Die Sondag daarna sien ek 'n program waar 'n man praat oor die sogenaamde Wolf dieet. In kort is dit maar bloot net 'n Een Maaltyd per Dag ding.

Woensdag - Hoenderlewer, groenmielies en tamatie
Die eerste week in November 2018 begin ek myself dryf in die gym en druk om my roetine wat normaalweg 55 minute neem, in 30 minute in te druk. Dit het 3 sessies geneem en toe is ek daar. Dit was hel en my lyf het dit gevoel maar ek het dit gemaak.

Ek het terselfdertyd begin om my lyf te leer om net een maal per dag te eet. Dit was woes, party dae wou ek mal word en in die nag het ek gedroom van kos. Ek het gekerfde biltong en gekookte eiers byderhand gehou vir die tye wat ek absoluut gek wou word van die honger. Maar ek het vas gebyt en sterk daarop gefokus om my suiker en stysel inname kwaai af te skaal. In wese maar Banting of Atkins.

Drie weke in en my gestel het aangepas en die peusel ding het kwaai afgeskaal tot by die punt waar ek slegs op gym dae so ietsie tussin in geneem het. Vandag is dit 'n leefwyse vir my en ek doen dit sonder enige werklike konsentrasie. Soms eet ek miskien net twee eiers en 'n stukkie roosterbrood vir aandete en daar gaan ek.

Die beste was dat van November 2018 tot Maart 2019 verloor ek gewig van 104.5kg na 90.5kg toe. Broek size is nou 34, iets wat ek in die laat 80's laas gesien het.

Donderdag - Skaaprib met Appel, peer en wortelslaai
Die afgelope naweek kuier ons by ou vriende in Pretoria en natuurlik kom oefen en dieet ter sprake. Hulle is nie heeltemal so seker oor die een ete per dag ding nie. Gisteraand het ek vir hulle fotos gewys van my voorafgaande 5 maaltye. Ek sit die fotos ook nou hier op. Dit is smaakvolle etes en heeltemal genoeg om my 24 uur aan te dryf.

Wat ek geleer het is dat 'n mens nie jou lyf kan opdonner oor 10 of 15 jaar en dan dit wil regmaak in 90 dae nie. Dit sal nie werk nie. Ek het van Maart 2019 tot nou my gewig so rondom 91kg gehou en kan met gemak aanvaar dat dit gestabiliseer is. As ek sou uitskiet dan trek ek net die belt bietjie styf vir 'n dag of twee en die gewig is weer reg. Maak dit 'n gewoonte om jouself een maal per week te weeg en altyd min of meer op dieselfde tyd. Sodoende kry jy nie verrassings nie.

Ek het 'n lewensfilosie ... If you can measure it, you can manage it.

Kyk na die fotos, ek eet vir seker lekker maar ek eet ook smaaklik. Alle souse is met room en varkvet gemaak. Sekerlik nie wat deur meeste mense as dieetkos gesien word nie maar die Grotman in my hou van dit en kan dit hanteer.

Ten slotte, as ek die spiermassa aanwins en beendigtheid vermeerdering in berekening bring dan het ek omtrent so 26kg vet afgegooi. Dis hel baie en dink so daaroor, hoeveel werk moes my hart doen om daardie vet instand te hou, hoeveel stres moes my skelet verduur om daardie vet rond te dra. Dit is net eenvoudig waansin om jou ligaam so te verwoes. Vir myself was dit skokkend om die waarheid in die oë te kyk maar ek is Goddank bly ek het dit gedoen. Ek is vandag gesond, sterk en fiks en op byna 68 jarige ouderdom voel ek beter as wat ek op 48 gevoel het.

So, kyk na jouself sonder emosie en verander as jy langer en gesonder wil lewe. Dis nie maklik nie maar glo my, dis die moeite werd.

Begin iewers en begin klein maar ... BEGIN.

Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.

Saterdag 08 Februarie 2020

Eetplek - Abeega Nelspruit

Abeega Roadhouse
Laat ek eers so bietjie agtergrond gee. Die wat my ken weet dat ek nogal handig is agter die kospotte en daar is min dinge wat ek nie self kan kook, bak of braai nie.

Ek en Poppie het 'n tradisie om Vrydagaande iewers te gaan eet. Ek eet selde enige Steak geregte want ek verouder en braai my eie Steak en is gewoond aan topgehalte. Ek het jare terug die besluit geneem om dit te vermy terwille van die vreugde van die aand en Poppie se senuwees. Alhoewel ek myself as 'n redelike man beskou, kan ek wild die moer in raak as 'n stuk vleis opgedonner  word. So ek vermy dit liewers. So tradisioneel eet ek 'n burger of vis en chips.

Oor die jare het ek gesien hoe kruip die rekening vir Vrydagaande se etery stadig maar seker op en het al by plekke die R800.00 merk oorgesteek. Vir my is dit banaal om so duur te betaal vir twee borde kos.

Heerlike Vis
So tydjie gelede merk ek die nuwe Roadhouse by die Food Lovers Sentrum oorkant Tiger Wheel en Tyre. Maande het gekom en gegaan en elke keer as ek daar verby ry dan dink ek dat ek die plek moet gaan besoek. Na nog 'n R600.00 skok by iLanga besluit ek dat ek nou klaar is met die geldmorsery.

Nou tradisioneel weier ek om 'n eetplek te beskryf alvorens ek nie drie maal daar geëet het nie. Ek doen dit want uit ondervinding weet ek dinge kan skeefloop in 'n kombuis. So ek maak seker van my feite voor ek skryf.

So daag ek en Poppie dan by Abeega op. Die plek is besig en ons kry 'n tafeltjie op die stoep, om die hoek van die toonbank af. Ek is nie meer lus vir in die kar sit en eet nie, het seker te oud geword.

Halwe Hoender en Chips
Die atmosfeer is elektries vir my. Laat my terugdink and my aande in Pretoria in die 70's. Polsende musiek en die gelag van mense ... Doll's House, Vlieënde Piering, Moses en Ray's. Sopperige burgers en chips gebaai in Tamatiesous. Sout bestrooide Russians en Chips met Mayonnaise ... alles pure genot vir 'n jong rakker vol planne.

Ek bestel Vis en Chips en Poppie gaan vir die Halwe Hoender wat op Special is. Ek soek 'n Coke en sy vat koffie. Lekker vir my is dat ek kan in vrede 'n twakkie klap daar op die stoep. Die blou rokie draal deur die lug van 'n windstil Laeveld skemeraand. Karre spaander deur die besige kruising, mense draf oor die pad en Taxis lawaai en stop net waar hulle wil. So klein venstertjie in my Suid Afrika in. Ek drink die atmosfeer in en tik op die tafel op die maat van Heartbreak Hotel.

Lekker Chips
Die kos daag op en ek glimlag breed. Beslis nie wat ek verwag het nie. Poppie se hoender lyk heerlik en geurig en my vis is perfek gebak. Wat my mond laat water is die bordjie chips. Ek het vir super crispy gevra en dis wat ek sien. Poppie vat my hand en ons dank die Here vir die kos ... en toe word dit stil om die tafel. Die kos is heerlik, geurig en smaaklik. Alles wat ek verwag het, eintlik meer.
Einde van die aand kom die rekening en ek glimlag breed. Skraps oor die R200.00 fooitjie ingesluit.

In die kar knip ek die veiligheidsgordel vas en kyk vir Poppie ...

"Jis, dit was nou lekker vir my ... hier sal ek weer kom eet." Sy knik net haar kop.

Hamburger en Chips
Een week later en dis weer sulke tyd. Die keer eet ons albei Vis en Chips en weereens so om die R200.00. Op die aand vang die Loadshedding ons. Gelukkig net na die kos op die tafel geplaas word. Die eienaars verseker my dat alhoewel dit ongerieflik is, hanteer hulle die Eskom Fiasko sonder probleme. Al wat in die stof byt is die Pizzas want die oond trek teveel krag vir hulle krag opwekker.

Gisteraand maak ons weer so en Poppie bestel die T-Bone Special en ek vat 'n Burger. Nouja, weereens heerlike kos, die Burger is egter te groot vir my en ek los die helfte van die bun. Poppie se steak is soos wat mens kan verwag van 'n Roadhouse Special. Gladnie 'n helse stuk bees nie maar eerder in die lyn van Shizanyama. Maar dis lekker sag en goed gaar gemaak.

T-Bone en Chips
Nou laat ek opsom. Die musiek kan soms erg hard wees en dis al wat ek gaan sê oor dit. Die atmosfeer is klassieke 70's Roadhouse en die pryse is meer as billik. Ek sal vir seker nog baie daar gaan eet want ek is gemaklik met die pryse en dit wat ons geëet het is was van goeie gehalte.

#ManKos beveel Abeega Roadhouse met 'n oop gemoed aan. As jy in Nelspruit woon en lus is vir 'n lekker ete wat nie die bank gaan breek nie, gaan probeer die plek gerus.


Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.

Vrydag 01 November 2019

Tuin - Ware Tuinslaai

Vandag skryf ek die storie met gemengde gevoelens. Dinge lyk sleg in die land en daar is min hoop dat dit vinnig gaan verander. Tussen die politiek en die droogte gaan ons as verbruikers lelik noustrop trek.

Plantbak by die kombuis
Ek het al verskeie stories geskryf oor die gebruik van goedkoper vleissnitte en ek moedig mense aan om bietjie moeite te doen om gewone disse spesiaal te maak. Dis nie so moeilik nie.



Vandag wil ek gesels oor die klein dingetjies wat jy kan doen om jou lewe bietjie makliker te maak. Bietjie moeite vir lekker eet en sommer ook 'n besparing.

Die waterskaarste knyp ons almal en dis my opinie dat net die gelukkiges kan nog tradisionele tuine onderhou. Die neiging na houers toe is nie net prakties nie maar ook meer hanteerbaar vir mense met 'n besige lewe. Dit waaroor ek hier skryf is dinge wat ek self doen en dus is my stories nie mites nie maar praktiese ervaring.

Kombuis Houer:
Vars uit die tuin
Ek het by my agterdeur genoeg spasie gehad om 'n bak te bou van hout. 2.1m by 800mm en 280mm diep. In hierdie bak saai ek radyse, basil, rocket, tatsoi, pietersielie en kappertjies. Al die plante gee my 'n lekker tuinslaai met etes. Ek plant bv net 12 radyse elke 7 dae en sodoende het ek altyd vars radyse byderhand. Ons is net twee mense so ek rantsoeneer my aanplantings om daarby te pas.

Al die plante wat ek hierbo genoem het groei maklik in houers.

As jy die volgende doen;
3x 200mm potte waarin jy radyse plant. En plant elke week genoeg saadjies sal jy altyd vars radyse hê. Die goed is duur as jy dit koop en is gewoonlik nie meer vars nie. Met die houer trek jy net dit uit wat jy wilgebruik en los die ander. Sodoendehet jy altyd kraakvars radyse.
Kraakvars en gesond

Plant 'n pietersielie plant in 'n potjie en oes elke keer net die hoeveelheid blare wat jy wil gebruik. Jy sal verbaas wees he groot so pietersielie plantjie word.

Dieselfde geld vir Rocket, Basil en Tatsoi.

As jy nie jou eie saailing wil maak nie kan jy die klein sixpak bakkies koop. Plant twee plantjies in 'n potjie en los die res in die bakkie. Dan so week later plant jy weer twee en later weer twee. Sodoende het jy van die kruie vir feitlik die hele seisoen.

Met die plan het jy altyd groenslaai vars uit die tuin vir jou etes en jy hoef nie te koop nie en jy gebruik nie yskas spasie nie.

Ek maak 'n eenvoudige slaaisousie van 1t olyfolie, 1t Suurlemoensap en klits dit goed en roer die blare daardeur. Dan sprinkel ek growwe peper en growwe sout en dis al.

Wortels, beet, aartappels en tamaties is bietjie meer uitdagend. die knolle hou egter lekker lank in die yskas so jy koop teen 'n goeie prys en eet lank.

Tamaties is moeilik want alles in die omgewing wil dit vreet en dan is daar nog ook die irritasie van roes.

Begin iewers en begin klein maar begin.

Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.

Sondag 14 Julie 2019

Hoender - Pootjies met smaak

Kyk, as daar nou 'n ding in die koswêreld is wat die lelik in baie mense kan uitbring, dan is dit afval. Gaan nog verder en onderskei afval in die verskillende soorte afval en sommige mense raak beserk.

Hoenderpote en pap
Hierdie bykans emosionele uitbarstings het my nog altyd gefasineer en amuseer ... hoe kan mense so aanmatigend, voorskriftelik, verontwaardig en beledigend raak oor kos?

My kinderdae was fantasties maar my ouers was brandarm tot omtrent so om en by my tiende verjaarsdag. Daar was menige dae wat my ma moes raap en skraap om ons gesin kos te gee. Daar was nie wye keuses nie en jy moes eet wat op die tafel was. My ma was 'n streng vrou en van kleintyd af het sy my geleer om alle kos met respek te behandel ... "Kos is uit die hand van die Here." het sy met groot deernis gesê en die les is in my brein ingebrand. Tot vandag toe kan ek nie my neus vir kos optrek nie.

Moenie my verkeerd verstaan nie, daar is kos wat ek gladnie van hou nie en daar is kos wat ek gladnie eet nie ... maar ... en dis 'n groot MAAR ... ek probeer alles ten minste een keer voor ek my voorkeur of afkeur maak.

Ek is van mening dat mense wat so uitvaar teen afval, baie bevooregd groot geword het.

Kop, pens, pote, sterte, harte, maag, lewer en niere is die mees bekende afval. Harsings en murg is ook in die afval lysie.

Vandag se storie gaan egter oor pote, en meer spesifiek, hoenderpote. Vir baie van ons mense is dit 'n bekende ding maar vir baie is dit ook grillerig. Maak nou nie saak of dit jou gril nie maar jy kannie regtig uitspraak lewer as jy dit nog nooit geëet het nie. So indien jy avontuurlustig is, gaan soek vir jou 'n pakkie pootjies by jou geliefde Vleiswinkel.

Ek vertel vandag van die pootjies wat ek by Food Lovers Market gekoop het. Die pote is mooi skoon en kan reguit pot toe gaan. Kyk maar rond, iewers sal jy mooi skoon pote kry. Na die eerste kook haal ek die naels af. Dis onsmaaklik en lyk ook nie mooi op die bord nie.

Nou hier gaan ons ... ek kook die pote vir 15 minute in my stoompot met Ina Paarman se Chickenstock en kerrie poeier. Moenie te lank kook nie want dan gaan die pote uitmekaar val. As jy nie 'n stoompot het nie kan jy dit kook vir so uur lank in 'n pot. Na die kokery gaan ek die vloeistof gebruik om my sous te maak.

Nou breek ek die naels af en laat dit so bietjie afkoel in 'n plat bak. Volgende braai ek die pote in varkvet in 'n baie warm pan. Net so 1 minuut aan elke kant, jy wil dit net so bietjie kleur gee. Jy kan dit ook nou op die braaier kleur gee as jy wil.

Nou maak ek 'n lekker dik kerrie en uie sous in die pan waarin ek dit gebraai het. Maak dit maar so sterk soos jy daarvan hou. Onthou die sous gaan die meeste van die geur en smaak dra want die pote self is maar gelatien en vel.

Voor opdiening pak ek die pote in die sous en laat dit so paar minute prut.

Vir my is lekker mieliepap die regte bykos en ek gebruik Plaasjapie se growwe meel.

Dis 'n goedkoop produk die en jy kan dus lekker eksperimenteer. Probeer dit gerus, wie weet ... dit word dalk 'n familie gunsteling.

Vir R34.00 plus twee koppies mieliemeel het vier mense lekker gesmul.


Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.

Saterdag 01 Junie 2019

Garden - The joy of Chickens

During January 2019 I decided to get a few chickens. I have the space and may as well produce some food on it. Being OCD and all it was a project for me and not merely a case of getting a few chickens. My first checkpoint was to decide on which breed I want to keep. After a lot of investigating I settled on the Potchefstroom Koekoek. They are one of the four indigenous species of South Africa and in a project done by the University of Potchefstroom they were shown to be the most hardy of the four with very few ailments. Secondly they were found to be excellent egg producers as well as a great source of meat. Hens will render around 3.4kg of meat and cocks can reach up to 4.5kg.

These facts sealed the deal for me and I embarked on a mission to find the stock. I found a breeder near Brits and he did have stock that was classified as "Point of Lay" hens.

For the next few days I constructed the coop and fenced the orchard in properly. The idea was to allow the chickens to run free as much as possible. The orchard is around 30m x 60m and that is more than enough space for what I had in mind. My son had to evacuate one of his crypto mines and gave me a lot of expanded metal that was used for the security cages. I re purposed this for the coop.

With everything in place I ordered the chickens. Eight hens and one cock. My friend Pierre picked them up during a business trip to Gauteng and the chickens arrived here late the evening of 14 March 2019.

They settled in well and I checked for eggs every day. To me, "point of lay" meant exactly that. However the days turned into weeks and the weeks into months. On the 22nd of April one of the hens died. After thorough investigation it appeared as if some of the cickens developed an upper respiratory infection. I got the right medication and after 6 days of medication they were all fine.

On the 23rd of May the first egg was in the nest. This was a very good experience for me. It was 10 weeks after I got them. So it looks like "point of lay" is merely a ;able and not really a fact. On the 30th of May there were 4 eggs. I think it is safe to assume that 4 of the hens are in production. Hopefully the other 3 will wake u soon.

Currently 20kg of feed lasts 6 weeks. At R115.00 that is not too expensive.

The first moment  appreciation was when I cooked two of the eggs for breakfast. Wow, the yolks were deep yellow, almost orange and the taste was amazing. After eating shop bought eggs for almost 50 years I once again experienced the real taste of a free range egg.

Another big bonus is the way the chickens are cleaning the orchard. We have massive issues with termites and I am glad to say that there is almost no trace of any termite activity in the orchard. Usually we have lots of flies in the orchard when the guavas starts ripening. The little band of peckers are very busy under the trees and there is almost no trace of flies around.

According to my calculations, I should get 36 eggs per week from the 7 hens. That means that we will be fully self-sufficient as far as eggs are concerned and this will trim around R70.00 from the grocery budget. Friends and family is already keen to buy surplus eggs. Not a really big commercial operation but the chickens should pay for their upkeep.

Important to note that these chickens are not deal for a small town yard because the really dig your place up.

Now the surplus lettuce from the aquaponics is fed to the chickens and not going to waste.

I haven't decided yet if I will allow the hens to hatch some eggs or whether I should buy a small incubator. I would like to get the population to a point where  can slaughter one chicken per week. But that is at least two years into the future.

For now I enjoy my breakfast and love watching the chickens operate in the orchard.


Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.