Saterdag 25 Oktober 2014

Hoender - Maklik en lekker uit 'n pakkie

Meeste van ons koop soms die klaar gaar hoenders by ons geliefde koswinkel en dan as ons by die huis kom dan vind jy die voëltjie is maar droog en redelik onsmaaklik ... as jy gelukkig is dan proe hy darem na een of ander spesery maar van die hoendersmaak is daar nie veel nie. As jy nie gelukkig is nie dan proe hy sommer na vis.

Sappige hoender uit die oond
Nou weet ek uit ondervinding dat 'n klomp mense sommer dadelik regop gaan spring en begin vertel van die wonderlike hoenders wat hulle by hulle uitverkose hoenderwinkel koop en die lofliedere gaan soms meer as een vers hê.

Wel my ondervinding is dat die klaargaar hoenders oor die algemeen nie lekker is nie en maar net die basiese behoefte aan kos bevredig.


Gelukkig leef ons ook in 'n tyd wat ons groot keuses het van voorafgegeurde en in 'n plastieksak verpakte rou hoenders te kan koop.

Feit is dat as jy mooi oplet dan koop jy baie keer groot winskope met die hoenders ... een rede vir dit is dat die hoenders in massa by die winkels aankom en dis gevries ... volgende begin die winkel die hoenders ontdooi en in verskillende formate aanbied in die yskaste. Nou soos dit maar is, gaan alles nie altyd elke dag verkoop nie en aan die einde van die dag sit die winkel met ontdooide hoenders wat nie eintlik weer gevries kan word nie ... en die winkels enige gewetens het doen hulle dit nie. Ten einde daai hoender nou 'n tweede kans te gee op die rak word dit in allerhande souse gedoop en so met sous en al verpak. Hulle is ook gewoonlik geneigd om die hoenders se prys te laat val om dit meer aantreklik te maak vir die kopers.

So volgende keer as jy by die hoenderrakke staan ... vat so bietjie tyd en kyk na die per kilogram pryse. Jy sal verbaas wees hoe jy soms 'n hoender met sous vir minder kry as die vars hoenders. En onthou net, jy betaal vir die sous ook daai per kilogram prys ... so moenie laat die winkel jou met 'n slappe vang nie en daar is 'n emmer sous met 'n voëltjie wat kan rondswem nie.

Nouja ... jy sien die prys is lekker en jy koop ... ek koop sommer so paar as die prys regtig warm is.

Nou kom die ding ... jy kom by die huis en jy wil die hoender gaarmaak. Ek gaan nou aanneem dat jy die hele hoender wil gaarmaak en nie in stukkies kap nie.

 Jy het heel waarskynlik honderde resepte oor hoe om so heel hoender in die oond te maak en die metodes is legio.

Reg vir die mikrogolf oond
Ek gaan julle nou vertel hoe ek die spesifike hoender doen ... op 'n Man Kos manier en dit beteken die mans kan hulle vrouens lekker bedref sonder baie moeite.

Eerste stap ... ek plaas die hoender in 'n bak waarin hy mooi plat kan lê en dan sny ek reg in die middel van die sakkie so klein gaatjie oop. Ek trek die sakkie dat die gaaitjie in 'n punt opstaan.

Nou in die mikrogolf oond in vir 12 minute ... ek het 'n 1000 watt oond. Die gaaitjie laat die stoom bietjie ontsnap terwyl daai hoendertjie baljaar in die sous.

Sit intussen jou oond op so 210C ... weereens kan dit verskil van oond tot oond maar jy soek die oond lekker warm.

Na die mikrogolf, reg vir die oond
Tweede stap ... sodra die hoender uit die mikrogolf uitkom ... sny ek die sak oop en laat die hoender met sous en al in die bak ingly.

As die oond reg is ... middelste rak ... gaan hy in ... 10 minute.

Derde Stap ... na 10 minute draai ek my oondverstelling nou dat die boonste element alleen aankom en ek bak hom nog so 10 minute ... jy kan grill ook ... wat jy soek is dat die vel so bietjie braai en brand.

Nou uit en stel die horlosie ... laat die hoender so in die bak rus vir 10 minute voor jy hom sny.

Heerlike Hoender
En daar het jy dit nou ... 'n heerlike sappige vars gebakte hoender met baie min moeite en baie min skottelgoed. Geen rede om 'n klaargebakte een nou eers weer warm te maak nie.

Sny of breek in porsies en geniet dit. Let op hoe sag en sappig die borsvleis is ... dit is mos gewoonlik streepsak droog en draderig.

Lekker kook tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.