Sondag 17 Januarie 2016

Mieliepap - Man Kos Paptert

Kyk as daar nou een ding is wat my die horries gee dan is dit die papterte wat niks anders 'n slopperige paperysel van pap en 'n wye verskeidenheid groentes is nie. Geen tekstuur of vorm nie net 'n paperysel.

Man Kos Paptert
Deel van my eksperimente met die 100% Braaipap meel moes net eenvoudig op 'n paptert uitloop ... en so was dit dan.

Sondagoggend en ons begin praat oor middagete. Dis mos tradisioneel 'n groot etery maar ek het die laaste twee jaar ernstig daarop gefokus om die tradisie van 17 disse op die tafel te verbreek. Dis tydrowend en meer belangrik, dis 'n grootskaalse vermossing van kos. My standpunt is dat mens nie nodig het om meer as drie elemente op 'n bord te sit nie. Sodoende kan jy werklik fokus op smaak en geur in plaas van om jou self mal te maak met 'n onpraktiese verskeidenheid. Op die einde is alles daar maar baie min is van uitstaande smaak en niemand kan dit regtig geniet nie want een lepel van alles laat jou bord lyk asof jy die buurt probeer voed.

Terug by die eintlike storie ... my oog val op die papot van gisteraand en ek lig die deksel ... ek krap die koue pap versigtig los met my tweetand vurk en my kop werk ... ek is nie lus om weer net pap by te maak nie ... ek moet iets anders doen.

Bestandele
En so word die paptert gebore.

Jy gaan benodig ...

2 koppies stywe pap of Putu.
2 Eiers
Melk of room
1 koppie gekapte uie
Meng mooi
1 koppie gekerfde wortels (Sirkels of plat skyfies)

Onthou, alles gaan oor geur, smaak en tekstuur as dit by goeie kos kom. Eerste die uie. Braai dit uit in so bietjie olie of botter ... ek gebruik varkvet. Tydens die braaiproses moet jy die uie lekker geur met peper en braaispeserye. Ek gooi ook rooipeper by. Sodra die uie lekker sag is, skep uit in 'n koppie.

Braai van die uie
Terwyl die uie braai, gooi die wortels in 'n potjie met water en botter en 'n knippie sout. Dit moet vinnig kook, jy wil dit net sag kry. Gooi so eetlepel suiker ook in die water en a stewige klompie witpeper. Sodra die wortels sag is, net sag nie pap nie, skep uit in a koppie ... moenie al die sous in die pot sambring nie, jy soek net die wortels.

Kook van die wortels
Jy is nou besig om die uie en wortels elkeen afsoderlik goed te geur. Dit is als deel van die proses om op die einde a lekker geurige dis te kry. Sorg vir elke element en die eindresultaat sal nie sommer verkeerd wees nie. As jy alles as 'n geheel sien gaan jy maklik opeindig met 'n verwarring van smaak en geur.
Reg vir die oond


Breek nou die eiers in maatbekertjie en klits goed. Gooi melk of room by om 200ml te maak. Ek gebruik a teekoppie, dis 200ml.

Finale produk
Meng nou alles behalwe die wortels mooi in 'n mengbak. Ek gebruik my hande sodat ek kan voel dis nie klonterig nie. Sodra dit glad is gooi die wortels by en meng dit versigtig in, jy wil nie wortels verbrysel nie. Hier kan jy gerus meer smaak byvoeg soos chilli flakes.

Nou het jy 'n mooi mengsel van drie basiese elemente en 'n interresante geur konkoksie. Smeer 180 x 180 oondbak mooi en skep jou mengsel daarin. Nou is hy reg vir die oond.

Jy sien seker ek sit geen tamaties in nie en ek doen dit omdat ek nie met 'n papperysel wil opeindig nie. Jy kan sampioen stukkies en greenpepper bysit as jy wil. Gedroogde cranberries en gekapte gedroogte vye of appelkoos is ook 'n goeie opsie.

Nou in 'n 180 C grade oond vir vir tussen 20 en 30 minute. Jy wil hom bak tot daar so mooi ligbruin korsie gevorm het. Haal uit en laat rus vir so 20 minute voor jy opdien.

Die is genoeg vir 4 tot 6 mense. Die tert sny in mooi skywe en jy kan dit baie maklik as bykos by 'n formele ete bedien. Jy kan 'n pikante sousie ook maak.

Vervang al die sout elemente met soetgoed soos kersies, rosyntjies en bietjie neute. Gooi so eetlepel bruinsuiker by en die word 'n nagereg wat lekker is saam met vla en roomys.

Nou daar is hy ... Man Kos se Paptert.


Nog Pap Stories:

Mieliepap - Man Kos en GWK se Braaipap
Mieliepap - Iets wat ons almal ken
Mieliepap - Rof en Grof met Semels
Pap - Plaatkoekies met Houding 
Pap - Krummelpap kan Stylvol wees 
Mieliepap - Laatnag Snaxie 

Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.

Woensdag 13 Januarie 2016

Mieliepap - Man Kos en GWK se Braaipap

Ek het die lofliedere van lekker mieliepap alreeds goed besing en dis opgeteken in van my vorige stories oor mieliepap.

GWK 100% Braaipap
Vir my is mieliepap een van daardie dinge wat my altyd met nostalgie vervul en ek het duidende kinderdae drome oor mieliepap. Ek dink die hedendaagse jeug verstaan nie altyd baie mooi oor hoe arm was baie van ons ouers nie en hulle sien net die dinge soos dit vandag is.

Pure Mieliemeel
Ek onthou baie dae in my kleintyd waar mieliepap die hoofbron van voedsel was op die tafel en enige iets wat bygekom het was pure bederf en groot bonus.

Lekker vir ontbyt
Oor die jare het meel nogal verander en van die sewentigs af was die super fyn mieliemeel aan die orde van die dag. Tydens die groot droogte in die sewentigs het ons weer geel meel gekry en dit was vir my baie lekker. Maar toe word dinge weer beter en die geel meel verdwyn. In die laat tagtigs het ons in Natal die eerste Braaipap op die winkelrakke gesien en dit was fantasties ... lekker grof en semels duidelik sigbaar. In my huis was dit al mieliemeel wat gebruik is en nie net vir braai nie.

'n Mooi pot pap
Ongelukkig het die braaipap met tyd al hoe fyner geword en teen die middel negentigs was die braaipap op die winkelrakke maar redelik fyn en weinig verskil van die gewone fyn mieliemeel. Ek het van tyd tot tyd so hier en daar 'n sakkie growwe meel in die hande gekry in van die kleiner plattelandse dorpies waar daar 'n meule was maar dit was maar met rukke en stote.

So paar jaar terug toe verskyn daar weer 'n toegewyde braaipap op die toneel en hulle adverteer wyd en suid en dryf die produk op Facebook. Ek kry van dit by my SPAR en ek is woes beindruk met die meel. Lekker grof en dit maak heerlike pap. Ek is tevrede en my mieliepap laat my weer breed glimlag. Maar soos met baie produkte het die produk ook deurgeloop onder verwaarloosing, altans hier in die Laeveld en spoedig is dit nie meer by SPAR nie en net so hier en daar by 'n Slaghuis. Dit was terleurstellend vir my en my mieliepap etery het weer afgeplat en aartappels het die hoofrol gespeel in stysel in my kombuis.

Vroeg in Desember 2015 kom ek toe op die produk van GWK af op Facebook - 100% Braaipap. Hulle adverteer dit as 100% Braaipap en dis verkrygbaar in 4 tipes.

1. Lekker Grof
2. Bitter Grof
3. Rof en Grof met Semels
4. Geel Meel

Pap en maalvleis
Die verpakking is in regte egte meelsakkies en is gemerk 5lb ... daar is blykbaar ook 10lb sakkies beskikbaar. Ek doen navraag en na verskeie boodskap verwisselings beland die meel toe hier in my kombuis. Die verpakking laat my sommer dadelik na my ouma verlang en met 'n bree glimlag soek ek die die regte kant uit van die sakkie om die toutjies te laat ontrafel. Ai hoe onthou ek die dae op die plaas waar ek menigmaal gestaan en kyk het hoe my ouma die sakkies met haar krom vingers oopgetrek het. Die garing is versigtig opgerol want in daai dae is byna niks weggegooi nie.

Pap en Hoendervlerkies
Ek het die Rof en Grof met Semels eerste oopgemaak ... en ek staan en kyk na die inhoud. Dis regte egte mieliemeel die en ek vroetel met my vingers in die meel ... daar is baie tekstuur en die semels is duidelik sigbaar ... dit is mos "Man Kos" die dink ek terwyl ek my pappot op die stoof sit.

Pap en Skaapafval
En so begin my ontdekkingsreis in die wonderwêreld van GWK se Mieliemeel. Vir die volgende vier weke het daar byna elke aand 'n pot pap op die stoof gestaan vir aandete. Sels op oukersaand. Ek het al die tipes meel getoets en het slappap, putu en krummelpap gemaak. Ek het elke denkbare metode van pap maak uitgetoets en neergeskryf, hordes fotos geneem en oor en oor getoets. Ek het die mieliemeel werklikwaar deur die meule gedruk in my kombuis.

Lekker Putu
Die belangrikste ding wat baie vinnig duidelik geword het was die feit dat die grofgraad van die meel verseker die tradisionele maniere van papmaak so bietjie omkrap.

Eerste ding wat gou duidelik geword het is dat die meer stywe pap verseker langer vat om gaar te word as die meel waaraan ek gewoond is.

Superfyn Krummelpap
Tweede ding is dat die meel se growwe aard vereis meer water omdat daar baie meer tekstuur is wat vog trek.

Derde ding wat duidelik was is dat jy sal jou sout moet vermeerder en dit gaan vir my hand aan hand met die feit dat mens meer water moet ingooi.


Krummelpap en lekker sous
Die geel meel was vir my die grootste uitdaging. Die meel is nie grof nie maar helder geel en my eertse poging was 'n redelike flop. Met 'n ergerlike knor onder my snor deur het ek die pap uitgekrap in die emmer in wat vir die voëls gevoer word en my vrou het half geammuseerd gestaan en kyk hoe ek stoom.

"Man moenie so opgewerk raak nie ... dis net pap."
My gunsteling ... die brandsel

Kyk, sy het goed bedoel maar vir my was dit soos 'n rooiwarm yster in my agterstewe in ... ek haat flops ... met ingewikkelde disse is flops gewoonlik redelik naby maar met 'n eenvoudige ding soos pap ... goeie genade ... dis nou 'n "epic fail" soos my oudste sou sê.

Wat was dan fout ... wonder jy seker nou ... wel die pap was taai en daar was verseker te min sout in.

Die tweede poging het ek egter mooi geweet wat loop verkeerd en het my resep en metode ernstig aangepas. Die geel meel soek meer sout en verseker baie langer kooktyd. Normaalweg is my pap reg na so 75 minute ... die geel meel het na twee en half uur eers reg gesmaak vir my. Nou wil ek net byvoeg, my Poppie is nie 'n groot papeter nie en ek was verbaas toe ek sien sy gaan vir 'n tweede porsie van die geel pap en later toe sien ek sy peusel weer daar uit die pot uit.

"Jis maar die is baie lekker pap."

Nouja ... vir my was dit baie lekker maar om die woorde van my vrou te hoor is die grootste kompliment vir die geel meel.

Maak nou regtig nie saak wat die meeste mense sê nie ... pap maak is 'n kuns, ek meen nou, goeie pap. Meeste mense dink pap maak is speletjies en selde word daar ordentlik gemeet en dinge word so op gevoel gedoen. Wel, good luck met daai metode ... ek werk met maatbekers en ek kan keer op keer presies dieselfde resultaat kry.

Om lekker stywe pap of putu te maak gebruik ek 2 koppies meel en 3 en 1/2 to 4 koppies water saam met die GWK Braaipap ... hoe growwer, hoe meer water. Sout is so om en by een teelepel maar die geel meel soek meer sout. Dit lewer genoeg pap vir vier mense. Gebruik groter of kleiner koppies vir die afmeet maar hou die verhouding soos dit is. Sout moet jy aanpas na smaak maar pasop vir te min.

Na baie potte pap is ek nou gemaklik met die GWK Braaipap en my eie persoonlike voorkeur is om een en half koppies van die gekose grofgraad meel te meng met 'n half koppie van die geel meel. Dit is vir my baie lekker en die pap lyk mooi. Ek vervang ook van die water met melk en dit is baie lekker. Ek sit standaard twee eetlepels botter in my pap se water waneer ek dit kook.

Ten slotte ... die GWK Braaipap is van die lekkerste meel wat ek ooit gebruik het vir pap en ek hoop werklik dat die produk wyd en suid beskikbaar gaan word. Die prentjies op die sakkies is kostelik maar ek dink dit gaan verwarring skep by die publiek. Die meel soek 'n sterk handelsmerk om dit te laat uitstaan en om volgelinge getrou te maak.

Doen moeite ... soek vir die meel en jy sal moontlik nooit weer met ander meel tevrede wees nie

Ek hoop die storie laat jou met nuwe oë na mieliepap kyk. Hierdie spesifieke meel het 'n baie lekker tekstuur en 'n baie lekker geur. Tans is dit die beste Braaipap wat ek ken.

Nog Pap Stories:

Mieliepap - Iets wat ons almal ken
Mieliepap - Rof en Grof met Semels
Pap - Plaatkoekies met Houding 
Pap - Krummelpap kan Stylvol wees 
Mieliepap - Laatnag Snaxie 

Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.