Wys tans plasings met die etiket Sop. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Sop. Wys alle plasings

Saterdag 13 Mei 2017

Sop - 'n ManKos Sopstorie

Sop ... so klein woordjie maar met so groot betekenis. Ek het in die maer jare groot geword en sop was 'n baie belangrike deel van ons dieet. My ma het altyd geraap en skraap en die wonderlikste potte sop aanmekaar geslaan. Sop met hart en sop met siel. Geen twee potte het dieselfde gesmaak nie want sy het sop gemaak met wat daar was en dit was dit. Maar ... en dis 'n groot maar ... die basiese maak van die sop het altyd dieselfde paadjie gevolg, die bestandele het gewissel soos daar dinge beskikbaar was.

So begin ek my sop
Vandag gaan ek julle die storie vertel van hoe ek sop maak en as jy die storie mooi volg sal jy nooit weer soek vir 'n sop resep nie. Ek glo sop resepte is daar vir skrywers om hulle boeke vol te kry en gapings toe te maak. Sop maak is soos skottelgoed was ... volg die paadjie, en die goed kom skoon anderkant uit.





Vir my begin elke pot sop met die volgende goeters ...
1. Varkvet
2. Olie
3. Gekapte uie
4. Growwe swart peper
5. Ina Paarman se Sop of Sous Poeiers. Die boepens botteltjies. Ek gebruik gladnie pakkies soppoeiers nie want ek trust die inhoud gladnie. Ina Paarman se goed is ordentlik en jy weet wat jy kry.

Dit is die basiese goed ... ek weet varkvet is deesdae skaars so jy kan dit vervang met een of ander olie van jou keuse. Sonneblom, Grondboontjie, Canola of Olyf ... net waarvan jy hou of wat jy in die huis het. Moet net nie botter nou gebruik nie want botter brand baie maklik aan.

Ek gaan mates gee vir genoeg sop vir twee mense.

Vat nou jou tyd en besluit mooi oor wat jy gaan insit. Ek maak maar die groentelaai in die yskas en die rakkies skoon ... alles wat by hulle pronktyd verby is, is reg vir die sop. Jy kan omtrent alles gebruik, tamaties, wortels, boontjies, ertjies, uie, sampioene, beet ... alles is bruikbaar maar beteuel jouself en kies so twee of drie komponente wat mooi saamwerk. Wortels, uie, boontjies ... dit werk goed. Aartappels, uie, blomkool of kool ... Beet en uie, Uie en sampioene. Die kombinasies is legio maar moenie ALLES in die pot moer nie ... dit werk gewoonlik nie lekker uit nie.

Kies jou twee of drie bestandele en kerf dit op ... ek het sulke staalbakkies waarin ek my goed voorberei, dit help om die porsies mooi te beheer en help ook om seker te maak ek balanseer darem die elemente wat ek gaan gebruik ... een kop kool en een tamatie klink so 50:50 maar dis nie regtig waar nie.

As jy uie in jou sop will laat sprankel dan moet jy twee bakkies uie maak ... een wat fyn in blokkies is vir die basis en een wat grofgekap is vir die sop.

Bacon, russians, cheesegrillers, kaiings, ham, hoender, maalvleis ... alles lekker vleiserigheid maar weereens, nie alles deurmekaar nie.

Vir my storie het ek 'n Russian opgekerf. Een gaar groenmielie se pitte afgestroop en dan my uie.

Begin deur so opgehoopte eetlepel varkvet in 'n lekker swaarboom pot te smelt. Ek gebruik net ysterpotte ... die rede is dat jy die vet kwaai warm gaan maak en vir die eerste gedeelte van die sop maak storie hou ek die hitte baie hoog. Dun potjies gaan aanbrand.

Sit die spices in die warm olie in
Sodra die varkvet gesmelt het gooi ek so een of twee eetlepels olie ook in. As jy nie varkvet gebruik nie vervang dit met so twee tot drie eetlepels olie van jou keuse. Nou gooi ek so teelepel gemaalde swartpeper in die olie. Hier moet jy nou besluit waar jy wil heengaan met die sop ... as jy dit spicey wil maak moet jy nou jou spesery insit ... ek sit 'n lekker masala in of gebruik Robertsons se Chicken Spice of Steak en Chops Spice. Die verskillende braaispeserye wat beskikbaar is, werk ook reg. Die keuse is joune ... onthou net om darem so min of meer in lyn te bly met wat gewoonlik mooi saamwerk. Wildwarm speserye is nie goed as jy mushroom en kaas sop wil maak nie maar dit werk lekker met vleis en groente.

Vleis en mielies in
Die smaakprofiel is jou keuse en met oefen sal jy gou uitvind wat werk.
 
Nou vir die koekmeel



Sodra die speserye begin skuim in die olie moet jy die uie ingooi en goed deurmekaar roer. Moenie die pot alleen los nie en roer gereeld. As jy 'n mengsel ingedagte het wat 'n ligkleurige sop moet wees dan moet jy nie die uie laat braai nie ... laat dit net sag en deursigtig word. Vir 'n stewige vleiserige sop braai ek my uie effens.

Die meel is nou gaar
Sodra die uie reg lyk gooi ek my Russians en die mielies in en braai dit so bietjie saam om dit kleur te gee en om daar so smakie by te sit.

Al die vleise wat jy wil gebruik, behalwe hoender of vis kan so uitgebraai word saam met die uie. Hoender en vis droog te maklik uit so dit word opgekap in stukkies en baie na aan die einde ingesit.

Terug by my Russians en mielies ... sodra dit mooi gebraai het kom die volgende stap.

Twee opgehoopte eetlepels koekmeel word nou oor die mengsel gestrooi en dan goed ingeroer. As jy 'n dunner sop wil hê kan jy so bietjie minder meel insit. Roerbraai nou die meel mengsel goed, vir tenminste so minuut tot minuut en 'n half. Die plaat is nogsteeds woes warm en spoedig begin die meel aan die pot bodem vasklou.

Nou kom die stock in en borrel kwaai
Ek roer twee teelepels van Ina Paarman se Chicken Stock in 500ml koue water in ... ja koue water.

Pas die dikte aan met melk
Jou pot lyk nou asof die bodem gaan begin aanbrand ... nou gooi ek die stock mengsel vinnig in daai pot in. Die heel eerste wat jy gaan sien is dat dat dit geweldig gaan borrel en stoom ... skraap nou vinnig elke stukke wat aan die bodem en kante vasklou los met 'n staal lepel. Jy soek elke krummeltjie van die pot los ... dis die smaak daardie.

Laat hom nou stadig prut.
Bly nou daardie mengsel roer en jy sal gou sien dit begin dik word. Dit kan heel moontlik te dik raak maar moenie nou oor dit kwel nie ... daar is maniere om die dikte te beheer en te bestuur. As jy gewone groente soos kool, blomool, aartappels, wortels, beet, uie, pruie, patats en tamate gaan gebruik dan is dit nou die tyd om dit in die pot te gooi. Sekere goed kook langer as ander so sit dit in serie in om die kooktyd in totaal te beheer.

Tot op die stadium het ek nog gladnie aan SOUT geraak nie. Ek proe ook nou nog gladnie want kanse is goed dat dit maar oninterresant gaan proe. Kry jou groentes gaar.

Nou sit ek Worcestershire sous in, so eetlepel, en soja sous ... roer goed en proe ... nou met jy die smaak afrond. Soms is so skoot suurlemoensap goed en a lepel of wat suiker. Laastens sit jy sout by ... as jy kaas gaan insit, wag eers met die sout.

Voorgereg of hoofmaal ... jou keuse
Nou moet jy die dikte aanpas ... ek gebruik, water, melk en room ... soms in kombinasie en soms alleen. Sterk vleiserige groentesop gooi ek water by ... ligte groentes, hoender of vis gebruik ek melk.

Draai nou die plaat na laag toe en laat pruit die pot sop vir so 15 minute met die deksel toe. Skakel die plaat af en laat die pot net so toe staan en rus vir so 10 minute.
 
Enige sop kry net so bietjie styl met 'n lekker skoot room in net voor jy opdien. Dis ook die tyd om jou gerasperde kaas in te roer.

Ek glo jy sal nou met nuwe oë na sopmaak kyk. Volg net die paadjie en dink waarheen jy wil gaan.

Die variasies is eindeloos. Soms sit ek al my groente in 'n oondpan en smeer met olie en speserye en kruie en bak in die oond ... dan gaan dit in die sop sous in. Soms maak ek die blomkool of groente gaar in my stomer in die mikrogolf oond. Blits die helfte en hou die helfte heel. As jy oorskiet rys of stampkoring het kan jy so lepel of wat op die einde in die dop in roer.

Dink net eers mooi oor wat jy wil behaal en volg die pad ... onthou net dat dit nie regtig werk om net wild en wakker goed in die pot te gooi nie.


Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.

Sondag 03 Julie 2016

Sop - Hartskos, Trooskos, Noodkos

Klipsop
So paar dae terug sit ek so paar fotos op van my sopdisse wat ek maak op Facebook en soos tewagte, is daar dadelik navrae vir die resepte. Dit kan ek nie regtig doen nie want sop maak is by my honderd persent instink en baie min mates en gewigte. So kom ek vertel julle my storie met sop en ek is seker baie van julle sal daarna meer avontuurlustig wees as dit by sop kom.

Ek en my Man Kos stories loop baie maal terug op my lewenspad en kyk na die kos wat groot oomblikke in my lewe laat herleef en soms, ja soms vat ek die kronkelpaadjie terug na die werklike swaar tye van my jeug. Soos menige Afrikaners het ek in die tye na die laaste wêreldoorlog groot geword. 'n Tyd wat bekend was vir die algemene armoede wat geheers het maar dit was ook 'n tyd van ongekende groei en bloei in die ekonomie en die wat bereid was om hard te werk is op die einde beloon.

Albei my ouers was bankklerke en dit was 'n werk met min vooruitsigte vir bevordering. My pa het besluit hy gaan myne toe want daar kon hy vinniger bevordering kry. En so is dit dan dat ek begin verstand kry het in 'n harde en brandarm omgewing. My pa moes heel onder begin en dit het ook beteken, baie min geld.

Een ding van die myn "villages" was dat almal het gedeel wat hulle kon en so was dit dan ook met die byna verpligte groentetuine wat elke huis gehad het. In die middae het die vrouens in die dienspad wat tussen elke twee rye huise was, rongekuier en uitgeruil. Op die manier het almal dan ietsie van alles gehad wat nodig was vir aandete.

Roasted Butternut
Nouja noodgedwonge was sop 'n belangrike element in die kosmaak rituele want 'n goeie bord sop het alles in gehad wat nodig was om kinders te laat groei en mans die energie te gee om te kan werk. My ma het 'n basiese groentesop gemaak en het dit Klipsop genoem. Eers baie jare later het ek besef dat dit sinspeel op die gesegde van Bloed uit 'n Klip te tap. Sy het weliswaar kos uit 'n klip getap. Alles wat beskikbaar was het in die pot beland en is gekook totdat dit fyn stukkies was. Omdat wortels nogal volop was is dit dan ook so dat Klipsop 'n kenmerkende oranje kleur gehad het. Daar is ook murgbene ingegooi as dit beskibaar was en die kenmerkende vetdruppels wat bo-op die sop gedryf het was hemels.

Sop is in baie opsigte soos brood bak ... 'n paar basiese goed ... of alles of wat beskikbaar is om 'n spesifieke sop te maak. Belangrikste is WATER ... ja gewone skoon water. Deesdae maak ek my sop in twee fases. Die eerste fase doen ek in my Elektriese AEG stoompot ... as jy nie een het nie gaan dit net langer vat.

Tamatie en uie
Ek maak my groentelaai in die yskas skoon en so ook my groente rakkies. Ek soek alles uit wat lyk asof dit "end of life" se kant toe staan en kap dit op in stukkies en gooi in die stoompot. Aartappels, wortels, blomkool, pampoen, patats ... enige kombinasie. Jy kry ook die Soup Mix pakke groente by die supermark deesdae. Moenie teveel tob oor die kombinasies nie ... dis die lekker van Klipsop ... elke pot het sy eie karakter.

Nou maak ek 1000ml kookwater en vier opgehoopte lepels van Ina Paarman se Stock Poeier ... die boepens plastiese houertjies, aan. Weereens, sy het 'n verskeidenheid van die poeiers en ek gebruik die een wat ek graag as hoofgeur in my sop wil hê. Soms meng ek selfs van die poeiers.

Baie belangrik ... moenie SOUT in jou sop gooi nie ... al die poeiers is redelik sout en die verskillende groentes kan ook 'n groot invloed hê op hoeveel sout jy op die einde gaan benodig.

Sit nou jou sopbene, skenkels, hoendernekke, hoendervlerke, boerewors, maalvleis, viskoppe ... wat ook al vleiserigheid jy wil gebruik of wat jy op hande het, in die pot. Gooi die vloeistof oor en laat daai pot sy gang gaan. Ek kook dit so 40 minute in die stoompot maar op die stoof sal jy dit so een en half uur moet laat kook. Hierdie gaan nou sterk indruis teen die moderne siening oor kos gaarmaak maar dit is 'n feit ... hoe langer jy die pot kook hoe beter word daardie sop.

Moenie jou teveel steur aan die kleur of smaak op hierdie stadium nie. Jy wil die maksimum geur uit die groente en vleis kook, onthou dis sop, nie opskep kos nie.

Terloops, skaap maak nie lekker sop nie en so ook nie vark nie. Gerookte vark snitte soos die skenkels is egter die uitsondering.

Sodra die eerste fase ordentlik uitgekook het en alles is pap sag is jy reg vir fase twee. Skep twee koppies van die vloeistof af en hou eenkant. Druk nou die groente fyn met 'n vurk of "masher". Soms gebruik ek nou 'n elektriese ding wat die hele storie in fyn pulp verwerk. Dis 'n "Stick Blender". Dit hang af wat jy wil kry op die einde. As my groente hoofsaaklik aartappel, papmpoen of patats is, dan maak ek dit baie fyn. Anders "mash" ek dit net.

Kap 'n groot ui in stukkies en gebruik 'n lekker diep kastrol. Ek gebruik net ysterpotte so ek kan maar erg vuur maak onder hulle. Ek skep 'n groot eetlepel varkvet in die pot. jy kan olie en botter mengsel gebruik as jy nie varkvet het nie. Ek gooi gemaalde swartpeper en 'n goeie blerts braaispeserye in die olie en laat dit so paar sekondes lekker braai. Gooi nou die uie in en laat lekker uitbraai maar moenie brand nie. Nou skep ek drie eetlepels koekmeel in die vet in en roer die pasta goed. Jy moet dit laat uitkook vir so minuut of wat.

Volgende gooi ek die twee koppies van die sopvloeistof op die braaiende uie en meel mengsel. Wees wakker ... dit gaan 'n sissende storie wees maar jy het dit nodig want nou brand al die aanpaksels in die pot los en los op in die vloeistof. Roer die heeltyd met 'n metaallepel en skraap die pot bodem en kante goed skoon.

Gooi nou die hele sopmengsel in en roer goed en aanhoudend tot die hele pot sterk kook. Draai nou die hitte af na laag en sit die deksel op en laat stadig prut vir so 15 minute.

Vleissop
Nou is dit die tyd om te begin kyk na die smaak. Proe en dink mooi wat jy het. Onthou net ... sout gaan die hele smaak profiel verander, so moenie te gou sout ingooi nie en as jy voel die basiese smaak is min of meer wat jy soek kan jy kalmeer.

Op hierdie stadium gooi ek gewoonlik 'n
goeie eetlepel vol Worcestershire sous by en laat bietje kook en proe weer. As ek 'n sterker vleiserige smaak soek dan gooi ek twee buisies van Ina Paarman se Bees of Hoender ekstrak in.

Die sout smaak behoort nou reg te wees want al die laaste byvoegings is sterk souterig. As dit nog vars proe, sit dan sout in na smaak. Jy kan die deksel van jou pot afhaal terwyl jy kook as jy die sop dikker wil maak. Soms maak ek a mengsel van Maizina en Bisto poeier om die sop te verdik. Onthou net die goed moet ordentlik uitkook anders proe dit nie reg nie.

Nou is die tyd dat jy dinge soos gevriesde ertjies of sampieone kan ingooi want die sop is baie naby aan klaar.

Jy behoort nou a lekker pot sop te hê.

Een variasie wat ek baie doen is om mince en tamatie te gebruik as die hoof bestandeel met minder groente en dan dit baie dik te maak, net so skrams weg van 'n bredie af. Maar weereens, kook daai mince dat dit klap ... so kry jy die geur.

Sop maak is die een ding wat ek uit ondervinding weet, kom elke keer effens anders uit en dis ook nogal vergewensgesind teenoor die kok. Pas net op ... jy kan sop baie maklik te sout maak. As dit sou gebeur, sny 'n groot aartappel in stukke en gooi in die sop en kook vir so 20 minute. Skep die aartappel uit en proe ... as dit nog souterig is, sit weer 'n aartappel in en herhaal.

Moenie melk of room in die kookfase in jou sop sit nie ... sommige groentes kan ensieme afskei wat die suiwel laat skif ... dit doen niks aan die smaak nie maar dit lyk nie lekker nie.

Vir my is elke pot sop 'n nuwe avontuur.

As jy wil room bysit, doen dit net voor jy opskep of liewers, sit in as jy klaar opgeskep het.

Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.

Vrydag 27 Junie 2014

Sop - Alet se butternut sop

Ek is baie lief vir lekker sop en my ma se Klipsop was die lekkerste vir my. Lekker ryk en warm saam met vars brood. As jy die sop so op die brood skep dan smelt die botter so af ... jissim dit is lekker.

Roasted Butternut Sop
Gister sien ek 'n skakel op my Facebook bladsy na Alet van Kokkedoor 2014 se "Roasted Butternut" sop en my mond water sommer. Ek moes dit eenvoudig maak.

Sy doen dit in a video vir Pick & Pay en dis nie so maklik om die resep volledig te kry nie, so ek het die video so paar maal gekyk met pen en papier byderhand en baie replays. Op die einde het ek dit min of meer alles gekry wat nodig is.

Onthou, ek doen nie eintlik resepte nie so vat die een soos hy kom. Ek gaan die taal maar lekker mix sodat almal verstaan waarvan ek praat.

Alet se Roasted Butternut Sop.

Nota - Dis nie presies soos sy dit gedoen het nie maar hier is my weergawe wat ek gemaak het.

500 gr Butternut in blokkies gesny.
2 medium Uie in kwarte en dan weer in blokke gesny.
1 Appel in blokke gesny - haal die pitte uit.
1 Lemoen - Rasper die skil af en druk die sap uit.
Vars Koriander - 1 bossie.

2 Teelepels Curry poeier - Ek het Raja Mild en Spicy gebruik
1 Teelepel Cumen
3. Eetlepels Bruismeel - ek het koekmeel en een teelepel bakpoeier gebruik.
Knertsie Nutmeg
Paar takkies Tiemie - Ek het Lemon Thyme uit my tuin gebruik.

1 Chicken Stock Cube - Ek het een sakkie van Ina Paarman se Chicken stock konsentraat gebruik.
250ml water
375ml Melk

Oond op 220C.

Sprei die pampoen, appel en uie uit op a oondpan. Sprinkel sout en peper oor. Spat ook nat met olie. Ek het Druiwepit olie gebruik. Pak so paar takkies van dieTiemie ook op.

Bak nou in die oond vir 30 minute. Op hierdie stadium sal van die uie en pampoen sulke swart punte kry, dis perfek want mens soek daardie geroosterde smaak. Haal uit die uit.

Meng al jou speserye en meel nou en strooi dit oor die pampoen op die oondpan. Ek het dit sommer met 'n lepel goed gemeng en laat rus.

In 'n groot genoeg kastrol, gooi water, melk, lemoenskil, lemoensap en maak dit warm. Gooi nou die groente stukke en meel mengsel in die melk in. Krap maar die pan goed skoon met die lepel en kry alles in die pot.

Laat nou prut vir so 15 minute.

Haal van die stoof af en met "stick blender" kap die groente lekker fyn.

Nou is die tyd om te toets vir jou smaak. My eerste proe het my laat dink dat iets is dalk bitter en toe onthou ek ... sit sout in as iets bitter proe.

Ek het so handvol koriander blare ingegooi en ook versap. Nou het dit goed geproe maar daar het so ietsie kort gekom ... ek het a eetlepel Worcestershire sous ingegooi. Nog 'n blits en toe is dit reg. Ek het weer op die stoof gesit met die gas op sy laagste en nog 10 minute laat prut.

Laaste het ek die plaat afgesit en so 3 eetlepels room bygeroer.

Ek het van gister se brood  baie dun geny en op 'n bakplaat gepak, bietjie olyfolie oor gespat, chili flakes, Robertson's Gemengde Kruie en Texan Braai Rub. 180C oond vir 20 minute. Die broodjies was kraaklekker en spicy.

Wat 'n heerlike sop en ek was aangenaam verras om die appel ook te kon proe. Hierdie is wenresep vir my.

Lekker kook tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... Like hom stukkend as jy wil.