Wys tans plasings met die etiket Skons. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Skons. Wys alle plasings

Maandag 23 Julie 2018

Skons - Ouma se skons

Die van julle wat my ken weet sekerlik dat ek baie lief is vir skons. Oor die algemeen is ek redelik verdraagsaam met mense se gebakte goeters en sal nie sommer my bek rek nie ... wel, tensy dit regtig 'n patetiese flop is. Maar ... en dis 'n groot MAAR ... as dit by skons kom is ek vol draadwerk.

ManKos se Ouma se Skons
Die oorgrote meerderheid van die hedendaagse aanbiedinge is meer 'n "biscuit" as 'n skon en ek kan dit nie regtig verdra nie. Skons is in wese so eenvoudige ding om te bak maar so min mense doen die moeite om dit ordentlik te doen.

My ouma Hester se skons is die meetsnoer wat ek toepas en enige poging wat nie by haar standaard kan uitkom nie, is in my oë 'n flop.

Vir bykans 4 jaar het ek gesoek, gebak, geproe en dan maar weer gaan soek vir die geheim van haar skons. My ouma is dood en my ma is dood en ek kannie vra wat die geheim was nie. My familie kan onthou maar niemand weet nie. So is dit dat ek begin dink het dat die skons van Ouma Hester vir ewig verlore is vir my.

En toe so paar weke terug kom ek op 'n resep af ... sommer met die eerste oogopslag het die ding vir my reg gelyk. Laatnag en ek is in die kombuis. Meet en weeg, vryf en meng en bak. 40 minute later lê hulle op die draadrak ... lyk goed ... mooi gerys, mooi tekstuur en heerlike reuk.

Mooi tekstuur
Die eerste toets ... kan jy hom oopbreek dat hy perfek middeldeur breek sonder om 'n mes te gebruik ... wel, ek vat enetjie mooi vas en breek die kop af ... met genoegdoening sien ek hoe hy perfek uitmekaar skeur ... ja skeur. niks van 'n brekery nie. Wel dis een hekkie deur.

Volgende staar ek na die tekstuur ... lyk goed, gladnie koekerig of krummelrig nie. Dis die tweede toets.

Nou mond toe ... dit moenie droog wees nie ... en die een is reg.

Ek kou tydsaam en probeer elke dingetjie raak proe. Die een is goed, die beste van almal wat ek al gedoen het. Met genoegdoening vat ek nog 'n hap en kou terwyl ek vir my koffie maak. Die finale toets is natuurlik nog aan die kom want dis waar feitlik alles wat as skons aangebied word die kol heeltemal mis vir my. Daardie simpel bliksmaak wat die goed in jou mond agterlaat ... en ons almal blameer maar die bakpoeier vir dit ... en ek glo werklik dis dit.

Geen bliksmaak nie ... en ek glimlag breed terwyl ek nog een pleister met botter en so blerts Marmite.

Die een is goed maar hy is nie my ouma se skons nie en ek sak agter my rekenaar in. Hier het ek nou 'n ordentlike basis en dit gaan nou geduld en baie toets vat om by ouma se skons uit te kom. Vir die volgende drie weke werk ek aan die resep en vandag het ek die sesde variasie gebak. Nommer vyf was gister gedoen en hy was baie naby ... vanoggend het ek die finale verstelling gemaak en gebak ... en voorwaar ... ek staan in my ouma se kombuis en sien en proe weer haar skons. Presies soos haar skons, seker nie, maar so naby as wat ek daar aan kan kom.

Ai hoe wens ek dat ek vanoggend vir my ma een of twee kon gee saam met 'n koppie tee.

Nouja ... ek gaan nou die resep met julle deel en anders as gewoonlik gaan ek geen alternatiewe aanbied nie ... maak presies soos die resep of los dit uit.

Varkvet in die meel
BESTANDELE:
275g Koekmeel ... ek gebruik Millstone se koekmeel.
1 tsp Koeksoda ... en moenie Bakpoeier gebruik nie.
1 tsp Kremetart
1 tsp Strooi suiker
½ tsp Sout
60g Varkvet ... ek koop myne by ESKORT se winkel.
150gr Dubbelroom Yogurt.
Reg vir die drukker
1 Groot eier
+Eggwash.
METODE
1. Oond op 220°C en smeer 'n bakplaat. Ek gebruik sommer die sproei.
2. Klits die meel, sout, koeksoda, strooisuiker en kremetart goed met 'n whisk. Gebruik 'n groot mengbak.
3. Sit die varkvet in die meel. Ek druk dit so plat as moontlik bo-op die meel voordat ek dit met my vingerpunte begin opbreek in die meel.
Mooi Baksel
4. Klits die eier en yogurt saam en gooi in by die meel mengsel. Nou gebruik ek 'n kombuismes om die meel en yogurt saam te laat meng. Doen dit die heeltyd met sny bewegings. Jy moenie die mengery met jou hande doen nie want dan gaan jy die meelmengsel oorwerk en brood begin maak. Hou aan met die sny bewegings todat alles mooi gemeng is. Druk die deeg nou liggies bymekaar om 'n bal te vorm.
Heerlik met konfyt en room
5. Strooi jou werksblad liggies met meel en druk die deeg ligges plat met jou hande in 'n ovaal van omtrent 25mm dik (so om en by vingerdikte) As jy a 60mm drukker gebruik behoort jy so 6 mooies uit te kry. Maak die oorskiet bymekaar en druk saggies weer in 'n plat sirkel ... onthou, ek noem die weeskinders, hulle gaan nie meer soos die eerstes wees nie. Na die drukkery druk ek die oorskiet sommer in so langwerpige vryhand vorm. Die is belangrik want elke keer as jy die deeg bymekaar maak word die skon minder skon en meer "biscuit".
6. Pak hulle redelik naby aan mekaar op die bakplaat. Ek verf myne met geklitsde eier. Wees versigtig dat jy slegs die koppe verf. As die eier langs die skon afloop gaan hy nie mooi uitrys nie want die eier word vinnig hard en hou die skon vas. Ek hou daarvan om een of ander braaispesey mengel oor te strooi.
Bak nou vir 12 minute in die 220C oond met die rak in die middel.
Haal uit en plaas op a draad rakkie dat dit effe afkoel voor jy wegval.

Daar is hy ... maak dit en kom vertel my wat jy dink.

PS ... As jy meer wil maak, verdubbel maar die resep.

Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.

Vrydag 25 Mei 2018

Skons - Maklike pasteitjies

As daar nou een ding is wat werklik ManKos is, dan is dit 'n pasteitjie. Baie min mans sê nee dankie vir 'n pasteitjie. Soos ek verduidelik het toe ek die basiese Skon storie vertel het, kry die skon ding onder die knie en jy kan baie ander lekker eetgoedjies maak.

ManKos Pasteitjie
Wel vandag maak ons pasteitjies met skon deeg. Die VLU tannies gaan nou natuurlik frons en die Koekedoor mense gaan net hulle koppe skud ... maar nouja ... dis soos ek is ... ek soek die maklike paadjies.

Hierdie twee stories is belangrik as jy die resep wil maak ...

1. Basiese ManKos Skon Deeg
2. Vlenter Vark

Kry jou oond lekker warm ... so 210C ... rakkie in die middel.

Moenie teveel vulsel insit nie
Begin en maak my Basiese Skon mengsel aan. Hierdie keer gaan jy bietjie harder met die deeg werk want jy soek dit nie fluffy nie maar wel bros en bietjie harder. En dit alles kry jy reg deur die deeg so bietjie brei.

Jy het ook een of ander vulsel nodig ... hoender, vis, wors, maalvleis ... ek het my Vlenter Vark gebruik.

Smeer 'n 6 gat groot muffin pan mooi en deel jou deeg in 6 ewegroot porsies. rol die balletjie deeg lekker tussen jou hande druk hom dan plat in 'n sirkel. As jy dit kleiner wil doen kan jy die 12 gat muffin pan gebruik en net die deeg in 12 verdeel.

12 minute in die oond
Sit nou die skyfie in die muffinpan en druk die deeg dun uit. die deeg sal teen die rant opklim tot omtrent amper bo. Doen al ses ... dit vat bietjie tyd. As jy klaar is begin weer by die eerste een en druk weer plat, die deeg begin rys so jy moet dit weer plat druk. Nou skep ek so twee eetlepels vulsel in. Dis baie belangrik dat die vulsel gaar en koud is. Moenie te nat vulsel gebruik nie. En moenie teveel vulsel insit nie.

Laastens sit ek 'n lekker skyf kaas bo-op soos 'n deksel ... strooi bietjie spesery oor en dan in die oond in.

Lekker korsie
Hierdie pasteitjies is gewoonlik reg so tussen 10 en 12 minute. Onthou die skon deeg is baie dun uitgedruk en die vulsel is reeds gaar. Maar moenie met 'n koue oond sukkel nie.

Hou maar 'n ogie op die baksel, dit kan maklik brand. Die deeg is dun en die oond is baie warm.

Hierdie pasteitjies kan jy maklik weer warm maak in die mikrogolf oond sonder dat die deeg taai word.

Hierdie is regte ManKos pasteitjies en enige man behoort dit maklik te kan maak. Die deeg is nie vol nonsens nie en werk maklik. Jy hoef ook nie te stress dat jy dit sal oorwerk nie. As jou vulsel reg is dan behoort die proses jou nie langer as 30 minute van begin tot in die bord te neem nie.


Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.

Maandag 29 Januarie 2018

Skons - Begin by die begin

Daar is duisende der duisende stories oor skons en skons resepte en die meeste van ons ken skons, of ons dink ons ken skons. Ek is baie lief vir skons en het baie gelees en geoefen met skons. Meeste plekke en mense bied vir jou skons aan en dis nie eintlik skons nie, dis meer in lyn met wat die Amerikaners "biscuits" noem. Regte "biscuits" bevat gis waar skons bakpoeier gebruik. Dis egter 'n debat wat ook eindeloos kan wees. Die punt is eenvoudig dit ... regte skons se tekstuur is soos velletjies wat jy kan lostrek en dit word veroorsaak deur die manier waarop jy die vet, ja ek noem dit vet want dit kan botter, margerien of varkvet wees, in die meel inwerk met jou vingers. Dis 'n kuns wat jy slegs bemeester deur dit oor en oor te doen.

Mankos Skons
Hedendaags is daar meer 'n neiging om die skons met alternatiewe te maak soos, olie, eiers of gas vloeistof. Almal bly dit maar skons noem alhoewel dit die tekstuur van "biscuits" het.

Ek gaan nie die tegniese punte verder bespreek nie want dis nie waaroor dit gaan nie. Vir my gaan dit oor die feit dat skons, ja ek gaan dit bly skons noem, iets is wat wat maklik is om te maak en baie bevredigend kan wees. My mision is mos om meer mans te kry om te bak en te kook.

Oor die laaste week of so het ek fotos gepubliseer van baie lekker goetertjies wat ek met skon deeg gemaak het en baie mense soek die resepte. Ek gaan die Melktert, Quiche, Kaasbroodjies en Pizza resepte later doen. Vir nou is dit die belangrikste dat jy jouself teverede stel dat jy kan 'n lekker basiese skon bak. Hierdie resep en metode vat so 30 minute van jy begin tot jy eet.

Min skottelgoed
Hierdie resep is grotendeels gebasseer op die "Skons met Olie" resep wat op bladsy 290 van my Kook en Geniet is. Ek stel voor jy volg die een en kry hom onder die knie want al die ander resepte wat hierop gaan volg gaan hierdie resep gebruik vir die basiese skon. Ek het dit self menige maal gedoen en weet uit ondervinding dat dit wat ek julle gaan vertel, werk goed.

Deeg is reg
Die afmeet van die bestandele is belangrik want as die verhoudings nie reg is nie gaan die deeg anders wees. So ek stel voor jy gebruik 'n elektroniese skaal en 'n duidelike afgemerkte maatbeker.

Stel nou jou oond op 210C en sit die rakkie in die middel. Ek gebruik die FAN ASSIST stelling op my oond. As jou oond nie 'n waaier het nie, stel jou oond op 220C.

Dis baie belangrik dat jou oond se temperatuur reg is voor jy die nat bestandele in die meel inmeng. Hoe gouer jy die skons in die oond kry na die meng, hoe beter gaan dit rys.

Bestandele:

In jou mengbak ...
1. 280 gr Meel ... ek het koekmeel en broodmeel gebruik en albei werk goed.
2. 20 ml - 4 teelepels bakpoeier. Moenie oordadig afmeet nie, dit kan jou skons 'n blik smaak gee.
3. 5 ml - 1 teelepel Koeksoda.
4. 2.5 ml - 1/2 teelepel sout.

In 'n 250 ml maatbeker ...
1. 100ml kook olie. Jy kan enige olie gebruik. Ek het al gegeurde olyfolie ook hier gebruik.
2. 1 Eier.
3. Vul nou die beker tot by die 250 ml merk met melk.
4. Een teelepel suurlemoensap of asyn. Die is nodig om te verseker jy aktiveer die Koeksoda.

Variasies ...

1. Soet Skons ->
(i) Voeg 30ml - twee eetlepels suiker by die meel.
(ii) Voeg een eetlepel (15 ml) vlapoeier by die meel.

2. Sout skons ->
(i) Voeg 2.5ml (1/2 teelepel) Paprika in die meel.
(ii) Voeg 5 ml -(1 teelepel) gemengde kruie in die meel.

Jy kan allerhande byvoegings maak en die volgende is 'n paar moontlikhede ...
a. Rosyne, korente of cranberries.
b. Amandels, okkerneut, pekanneut of makadamia.
c. Gerasperde kaas of die vrugtekoek fruit mix.

Al wat belangrik is, is dat jy die byvoegings beperk tot 1 Koppie (250ml).

Jy kan ook vervangings doen.
a. Vervang die melk met yoghurt van jou keuse.
b. Eksperimenteer met verskillende olies.
c. Meng jou meel ... ek het gevind dat so 25% Wholewheat gee 'n lekker skon.

My voorstel is dat jy maar liewers vir eers die byvoegings beperk en net fokus om die deeg mooi te meng en en om dit mooi gebak te kry. Die byvoegings verander die deeg effens en kan jou pootjie. As jy eers kalm en rustig is sonder die tierlantyntjies kan jy mal gaan met die byvoegings en jy sal sommer sien of jy jou baktyd bietjie moet aanpas.

Metode:

Meng jou meel goed met 'n draadklitser (Whisk)
Meng die eier, melk en olie mengsel goed.

Voeg nou al die nat bestandele by die meel. Gebruik 'n gewone tafelmes en begin die meel en vloeistof meng deur die meel met die mes in die vloeistof in te trek. Na so keer of wat sal jy die metode goed snap. Die groot rede vir die mes is dat jy nie die deeg wil brei met jou vingers nie. Jou hande gaan warm word en jy gaan die deeg begin brei soos klei ... dit moet jy verhoed want dit gaan veroorsaak dat jou skons hard kan word soos regte biscuits.

Sodra die deeg mooi klam is regdeur is die mengsel reg.

Nou kom ons by belangrike keuses. Omdat my storie gerig is op mense wat vir die eerste keer gaan skons maak gaan ek die veiligste opsie verduidelik.

Sprinkel jou werksblad met meel en dop die deeg uit. Gebruik nou jou hande en druk die deeg saggies in 'n reghoek min of meer soos 'n A5 bladsy. Jy wil nie dunner as die dikte van jou hand oor die kneukels gaan nie. Moenie geweldadig wees nie en moenie 'n koekroller gebruik nie. Sagte hande is dit wat nou nodig is. Die olie sal verseker dat die deeg nie aan jou hande klou nie.

Vat nou 'n lekker groot mes en kloof die blok oor sy lengte. Dis baie belangrik dat jy dit mooi netjies doen met 'n druk beweging en nie 'n gesaag nie. Dan deel jy die twee repe in 3. Sodat jy met 6 porsies opeindig. Volgende keer as jy meer vertroud is met die proses dan deel jy dit kleiner. Vir nou wil ons die hoeveelheid beperk sodat jy nie onder druk is nie. Later kan jy eksperimenteer met drukkers en wat meer.

Dis belangrik om daarop te let as jy met ronde drukkers begin werk dat jy die druk net af doen en optel, geen gedraai nie. As jy draai gaan jou skons heel waarskynlik nie rys nie. Nog iets met die ronde skons, elke keer het jy oorskiet en dan moet dit weer bymekaar gemaak word ... dit veroorsaak dat jy die deeg kan oorwerk. Ek sny gewoonlik my rondes en dan maak ek bymekaar en sny vierkante.

Terloops baie mense druk die skons uit met glase of koppies ... dis nie 'n goeie plan nie want die rant van die goed is te stomp en sny nie deur die deug nie, dit pers die deeg saam en jou skons gaan nie mooi rys nie ... dit gaan sulke halfrondes maak, byna soos 'n muffin. As jy ronde skons wil maak, koop die regte drukkers.

Let op die rys op die gesnyde kant
As jy na die foto kyk sal sien hoe mooi rys die skons op die sny kante want dis met 'n baie skerp mes net met een druk gesny.

Lig nou die stukke op met 'n spatel en plaas op 'n bakplaat wat gespuit is met Cook and Spray of iets dergliks. Posisioneer dit min of meer soos jy dit gesny het met so finger spasie tussenin.

Verf nou liggies met 'n geklitsde eier en moenie die eier teen die kante laat afloop nie want dit gaan gou hard word en keer dat jou skon rys.

Ek hou daarvan om 'n braai spesery oor die eier te strooi as ek savoury gaan of kaneelsuiker as ek soet gaan.

My gunstelinge met melk
In die oond in en stel die klokkie vir 10 minute. Onthou dis 'n baie warm oond en afhangende van die dikte van jou skons is dit na so tussen 10 en 14 minute reg. Vir my is 12 minute gewoonlik genoeg.

Terloops, ek hou nie van bleeksiele nie. As dit te donker uitkom vir jou, gaan dan 10C laer op jou temperatuur die volgende keer. Maar moenie te gou uithaal nie want dit gaan nie gaar wees nie.

Sodra dit uit die oond kom los ek dit vir 5 minute op die bakplaat en haal dan af en plaas op 'n draad rakkie. Dis seker die Broodbakker in my maar ek glo daai laaste 5 minute rus is wat die verskil maak.

Heerlik vars en bros
Al wat nou oorbly is om met mening weg te val ... botter, room, konfyt, gerasperde kaas, roomkaas ... net waarvan jy hou. Ek verkies 'n glas yskoue melk saam met myne.

Hierdie basiese resep lewer so 550 gr deeg ... ek noem dit maar net vir die wat soos ek aan OCD lei en alles presies wil doen. A jy wil bolletjies maak en in 'n muffin pan bak sal jy 6 van 90 gr kan maak.

Jy kan die resep sonder moeite presies verdubbel maar halvering gaan 'n probleem gee met die eier.


Bak lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.