Vrydag 25 Mei 2018

Skons - Maklike pasteitjies

As daar nou een ding is wat werklik ManKos is, dan is dit 'n pasteitjie. Baie min mans sĂȘ nee dankie vir 'n pasteitjie. Soos ek verduidelik het toe ek die basiese Skon storie vertel het, kry die skon ding onder die knie en jy kan baie ander lekker eetgoedjies maak.

ManKos Pasteitjie
Wel vandag maak ons pasteitjies met skon deeg. Die VLU tannies gaan nou natuurlik frons en die Koekedoor mense gaan net hulle koppe skud ... maar nouja ... dis soos ek is ... ek soek die maklike paadjies.

Hierdie twee stories is belangrik as jy die resep wil maak ...

1. Basiese ManKos Skon Deeg
2. Vlenter Vark

Kry jou oond lekker warm ... so 210C ... rakkie in die middel.

Moenie teveel vulsel insit nie
Begin en maak my Basiese Skon mengsel aan. Hierdie keer gaan jy bietjie harder met die deeg werk want jy soek dit nie fluffy nie maar wel bros en bietjie harder. En dit alles kry jy reg deur die deeg so bietjie brei.

Jy het ook een of ander vulsel nodig ... hoender, vis, wors, maalvleis ... ek het my Vlenter Vark gebruik.

Smeer 'n 6 gat groot muffin pan mooi en deel jou deeg in 6 ewegroot porsies. rol die balletjie deeg lekker tussen jou hande druk hom dan plat in 'n sirkel. As jy dit kleiner wil doen kan jy die 12 gat muffin pan gebruik en net die deeg in 12 verdeel.

12 minute in die oond
Sit nou die skyfie in die muffinpan en druk die deeg dun uit. die deeg sal teen die rant opklim tot omtrent amper bo. Doen al ses ... dit vat bietjie tyd. As jy klaar is begin weer by die eerste een en druk weer plat, die deeg begin rys so jy moet dit weer plat druk. Nou skep ek so twee eetlepels vulsel in. Dis baie belangrik dat die vulsel gaar en koud is. Moenie te nat vulsel gebruik nie. En moenie teveel vulsel insit nie.

Laastens sit ek 'n lekker skyf kaas bo-op soos 'n deksel ... strooi bietjie spesery oor en dan in die oond in.

Lekker korsie
Hierdie pasteitjies is gewoonlik reg so tussen 10 en 12 minute. Onthou die skon deeg is baie dun uitgedruk en die vulsel is reeds gaar. Maar moenie met 'n koue oond sukkel nie.

Hou maar 'n ogie op die baksel, dit kan maklik brand. Die deeg is dun en die oond is baie warm.

Hierdie pasteitjies kan jy maklik weer warm maak in die mikrogolf oond sonder dat die deeg taai word.

Hierdie is regte ManKos pasteitjies en enige man behoort dit maklik te kan maak. Die deeg is nie vol nonsens nie en werk maklik. Jy hoef ook nie te stress dat jy dit sal oorwerk nie. As jou vulsel reg is dan behoort die proses jou nie langer as 30 minute van begin tot in die bord te neem nie.


Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Thank you for your comment. The comments on this blog are moderated and yours should appear soon.

Greetings
Colyn.