Sondag 26 Februarie 2017

Melktert - ManKos Melktert to Go

Suid Afrika is tans in 'n greep van melktert malligheid en dis op almal se lippe. Ek self is baie lief vir melktert maar die tradisionele melktert het maar 'n bitter kort raklewe. Sodra die kors eers deur die yskas was dan is die magic weg want enige skilferkors is nie bestand teen die afkoeling nie. Vir my is koue skilferkors een van die onaardigste dinge op aarde om te eet.

Sarel en my Boerekos Takeaways
So klompie jare terug het ek die moed bymekaar geskraap en ingeskryf vir Kokkedoor 3 wat toe nooit gebeur het nie. My vriend Sarel, mag hy in vrede rus, was die een wat my oudisie disse moes verduur. My sakeplan was Boerekos Takeaways en ek het 'n verskeidenhed tradisonele geregte in Takeaway formaat verwerk.

My nagereg aanbieding was Melktert Pakkies ... dit het hoofsaaklik bestaan uit 'n korslose melktert wat in stafies gesny word en dan toegedraai word in 'n pannekoek ... ek het 'n verskeidenheid aanvullings in die pakkie toegedraai ... lemon curd pomelo curd, amandel en karamel, pekan en heuning.

Nouja Kokkedoor 3 het toe nooit gebeur nie en die goedjies het in die argiewe beland. So week terug hits Annelien my aan om in te skryf vir Deeghuys se kometisie en ek stof toe die Melktert Pakkies af en skryf dit in ... was nou nie suksesvol nie maar dit was baie lekker en my "toetsers" was almal gaande oor dit.

Karamel en Amandel
Hoekom is die Melktert Pakkies so sukses ... wel, eerstens het dit 'n uitstekende raklewe, tweedens is dit maklik om te eet ... in kosblikke, in 'n servet of sommer so met die hand uit die bak uit in die yskas en dae later is dit steeds heerlik.

Heerlik en maklik
Ek gaan nou nie hier staan en resepte herhaal nie want daar is duisende melktert resepte beskikbaar en nog meer pannekoek resepte. So al wat jy moet doen is om jou gunsteling melktert korsloos te bak en 'n hoop van jou gunsteling pannekoeke te maak.

Kry 'n pakkie amandel vlokkies en 'n blikkie karamel ... sny die melktert in stafies, smeer karamel by, sprinkel die amandel ... strooi met kaneelsuker, melktert is mos nie eintlik melktert sonder kaneel nie ... vou toe in die pannekoek of rol op en siedaar ... heerlike melktert to Go.

Probeer dit gerus en dalk het jy nou 'n staatmaker vir die kinders of manlief se kosblik. En dit hou maklik 'n week in die yskas ... strooi net vars kaneelsuiker oor vir bietjie kraak.


Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.