Vrydag 03 Maart 2017

Braai - Shizanyama is iets anders

Vir Suid Afrikaners is BRAAI maar nou net eenmaal so gesog en gewild soos hamburders vir die Amerikaners. "Kom ons Braai" is 'n wekroep wat die volk altyd op aandag laat spring. Ons boere het ons tradisionele braai en dis steak, chops en wors ... soms gooi ons ook 'n sosatie by en as dit regtig sleg gaan dan braai ons 'n hoender ... maar dis nou as dit regtig broekskeur gaan. :)  Ons het selfs 'n Nasionale Braai dag.

Shizanyama op sy lekkerste
Menige van ons het al by die taxi staanplekke verbygegaan en dan sien jy die stukke vleis wat op die kole gebraai word en die mense wat rye staan om 'n stukkie te kry ... dit lyk altyd so lekker maar min van ons boere weet regtig wat dit is wat gebraai word en hoe word dit gedoen.

In 'n vorige lewe van my het ek lodges in die bos gebou en daar het ek eerstehandse kennis opgedoen van hoe die swartes braai ... moet sê, dit was vir my 'n baie goeie ervaring. Hulle braai nie sommer steak of chops nie want dis te duur. Hulle sal wors braai maar die groot liefde is vir "blade steak". Die snit is bekend daarvoor dat hy taai is en ons boere maak wors of stew van die snit. Alhoewel hy taai is, is dit ook so dat dit baie geurig is.

Blade Steak
As jy lus is om iets anders te probeer, lees gerus verder ... miskien vind jy ook uit hoekom Shizanyama so gewild is onder ons swart mede burgers van hierdie land. Vra jou slagter vir Blade Steak en maak seker dit is niks dikker gesny as 'n potlood of sigaret nie ... dis baie belangrik dat dit nie te dik is nie. Soek ook die Blades uit wat 'n lekker stuk vet aan het.

Warm vuur
Ek plaas die steaks in a bak en gooi dit lekker dik met braai speserye. Enige soort waarvan jy hou ... Robertsons het 'n spesiale Schizanyama Mengsel wat goed werk. Moenie snoep wees nie. Dan gooi ek olie oor die vleis en maak seker al die stukkie is goed geolie en gespice. Laat lê dit so in die bak vir 'n uur of wat by kamertemperatuur. Die olie deel is baie belangrik vir die braai.

5 minute later
Blades is dun gesny en jy moenie nou kom voeter met medium rare of so nie ... daar is net twee keuses, mooi gaar of verkool.

Eerste vereiste is dat jou rooster goed warm is, eintlik eenvoudig moer warm, sorry vir die woord maar dis nou soos dit moet wees. Kry al jou ander bykosse reg want die vleis is nie langer as so vyf minute op die vuur nie.

Heerlik
Dis nou waar die olie belangrik is want as jy daai vleis op die rooster sit moet die vlamme spring. Moenie wegloop en 'n dop gaan kry nie want dan is dit verby ... so een minuut per kant en jy soek die stukkies gebrande skroeimerke. Dop om en dieselfde vir die tweede kant ... dit gaan woes op die rooster en maak seker jou tang is lank genoeg, As die tweede kant gedoen is dan dop ek dit nog so een of twee keer om en laat net skroei en dan af terug in 'n bak in en tafel toe. Niks langer as 6 minute op die langste nie. As jy dit "overdone" is die vleis droog.

Tradisionele bykos is pap, niks meer nie ... ek eet vars brood saam met dit. Eet met die hand en laat die vet so om jou mond sit ... blinkbek lekker.


Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.