Merkies in my lewensboek ... Herfs 2014 maak ek kantoor skoon.

Ek het lank gesit en tob oor die een ... my eerste instink was dat dit seker op my Briekmerke Blog tuis hoort. Maar toe dink ek so ... my kokery het my lewe drasties verander en my 'n nuwe rigting ingestuur en dis die paadjie wat my vandag gemotiveer het om bietjie skoon te maak.

Ek ontdek dingetjies in die skoonmaak proses wat my vêr laat terugdink. Sekere goed neem ek af voor ek dit wegpak. Kanse is goed dat ek die items nooit weer in my lewe in my hande sal neem nie. My lewe lank sukkel ek al met die ding van goettertjies bymekaar maak. Ek sal byvoorbeeld op 'n plek kom en 'n mooi klippie sien ... tel hom op en sit hom in my sak en so beland hy dan hier in my kantoor. Sommer op 'n oop plekkie en dan sal hy daar lê ... geen ander rede as om my te herrinner aan die dag toe ek hom opgetel het.

Vir bykans 10 jaar het ek in 'n klein kantoortjie van 3m by 3m hier op my plasie gewerk. Soms tot 20 ure per dag. Die plekkie was so vol rekenaars en goeters dat ek basies mooi by die deur moes inloop op my stoel gaan sit, omswaai na die werkstafel toe en dit is dit. Niemand kon saam met my daarbinne wees nie.

Vreemd genoeg pla so iets my gladnie want as ek werk is ek heeltemal onbewus van my omgewing en ek hou daarvan om dit wat ek gereeld nodig kry, binne armlengte van my af te hou.

In 2005 het ek die huis se amptelike formele sitkamer laat inrig as kantoor vir my. Ons het die vertrek nooit benut nie want die huis het massiewe groot leef area wat die kombuis, eetkamer en TV/Sitkamer huisves.

Dit was 'n groot ding vir my om skielik in so ruim vertrek te wees. Dit het ek laas in die 80's gehad in my kantoor op Newcastle.

Maar nouja, so oor die jare heen het die plek maar net my ou lewenspatroon gevolg en toe ek nou in Januarie een oggend regtig terugsit en kyk toe besef ek dat ek die plek so geklotter het dat ek basies net die plek agter my rekenaar enigsins kon benut. Hier was nie meer 'n oop plekkie op my lessenaar nie.

Ek het besef dat dit nou te vêr gegaan het. Ek konnie meer my laptop by my lessenaar gebruik nie en as ek wou lees moes ek die boek op my skoot hou. Dit was regtig belaglik om die minste te sê. Eerste stap was om vir my 'n klompie ordentlike stapelbare plastiek kratte te kry.

Maar soos wat dit maar met gaan, dinge by my werk roep my en vereis my aandag. So van Januarie to Mei doen ek net mooi niks aan my kantoor nie. Die kratte staan die plek vol en my vrou hou heeltemal op om my plek af te stof of uit te vee. Ek neem haar werklik nie kwalik nie want mens kon beswaarlik draai of jy stamp teen 'n toring van een of ander aard.

Saterdagoggend het ek die bul by die horings gepak. Spoedig het ek besef dat hierdie 'n onbegonne taak gaan wees sonder 'n "battle plan". So getrou aan my tipiese probleem oplossing denkwyse het ek begin om die goed te sorteer. Ek het die kantoor in sektore verdeel en so sektor vir sektor aangepak.

My lessenaar ...
Teen skemeraand was ek tevrede met my vordering maar vir my vrou het dit gelyk asof ek nêrens kom nie. Sy konnie die doel van my hopies insien nie. 'n Groot taak was om in die een hoek waar ek 'n tweede lessenaar het, die bedrading en kabels uit te sorteer. Op 'n stadium was daar 3 servers, 2 printers, Telkom modem en 'n laptop in daai omgewing. So daar was 'n kraaines van kabels, krag en netwerk.

... na dit.
Tot so 4 jaar terug het ek 'n assistent gehad wat hier gewerk het en na hy weg is, het die tafel net eenvoudig 'n stoorplek geword.

Sondagoggend begin ek die hopies in kratte inpak. Ek gaan nou nie besonderhede gee oor die verdelings nie maar ek maak ook swart sakke vol goed wat moet gaan. 'n Groot probleem vir my is die bokse waarin dinge kom as ek dit koop. Ek gooi die goed net eenvoudig nie weg nie. Wel vandag het heelwat van dit gewaai en verbasend hoeveel ruimte die leë bokse in beslag neem.

Teen die middel van die dag toe lyk dinge heeltemal anders.

Skielik het ek weer ruimte op my tafel en vir die eerste keer in 'n lang tyd kan ek werklik die mooi kersiehout ordentlik sien.

Dis wat jy sou sien ...
As ek nou so na die fotos sit en kyk dan moet ek erken dat dit my nogal sleg laat voel. Ek dink dis maar soos met gewig optel ... jyself besef dit nie want dit gebeur stadig met jou maar vir die mense om jou word dit gou duidelik dat dinge skeef begin loop.

Hierdie was egter net die begin. Noudat ek dit gedoen het besef dat hier nog baie goed is wat moet koers kry. Hier is goed in rakke wat niks anders doen behalwe om plek te mors nie.
... en nou lyk dit so.

Hier is nog 'n hele hoop bokse wat weggegooi moet word en hier is goed wat ek nooit weer sal gebruik nie.

Nou kan ek tenminste weer gemaklik werk by my tafel en die tweede werksblad is nou oop sodat ek daar my kookboeke kan sit en lees en notas maak.

Hierdie was vir my 'n belangrike stap om te neem en dit is besig om my kop in 'n rigting te druk. 'n Rigting wat nie natuurlik vir my is nie maar ek dink dis 'n beter pad om te volg. In die volgende paar weke gaan ek hierdie klotter draak tem. Dis nie regtig nodig om in sulke chaos te leef nie.

Ons as mense is miskien te geneigd om te maklik ons eie snaakse gewoontetjies net eenvoudig te aanvaar. Later in ons lewens dan is dit so deel van ons dat ons nie kan funksioneer as die goed nie in plek is om ons nie.

Ek hoop die wat hier lees vind waarde in my ondervinding.

Lees gerus my Briekmerke Blog ... daar is nogal 'n paar goeie stories daar.

Hier is my Facebook Bladsy ... LIKE hom stukkend as jy wil.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Thank you for your comment. The comments on this blog are moderated and yours should appear soon.

Greetings
Colyn.