Wys tans plasings met die etiket Pap. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Pap. Wys alle plasings

Maandag 12 Maart 2018

Mieliepap - Korsies met styl

Ons boerenasie is oor die algemeen groot papeters en vir baie van ons is die brandsel byna onweerstaanbaar.

ManKos Papkorsies
Om 'n goeie brandsel in die pot te kry verg so bietjie vaardigheid en baie geduld ... maar as jy dit eers reggekry het dan is dit die groot rede hoekom jy pap maak. Daardie stukkie bros brandsel met suiker, botter, room, kaiings ... net wat jy wil ... die krakende kouery en die die vingers aflekkery ... dis mos ManKos.

Nouja om 'n goeie brandsel te kry is daar so paar punte van belang ...
1. 'n Lekker swaar pot.
2. 'n Goeie skep botter in die kokende water voor jy die meel ingooi.
3. 'n Ordentlike tweetand vurk om die pap mee te roer. Moenie die kors breek as jy roer nie.
4. Baie geduld. 'n Oordentlike kors word op 'n stadige hitte gebou. 90 minute minimum.

Maar nouja vandag se storie gaan oor die maak van die kors sonder om 'n pot pap te maak.

Die resep wat ek gebruik is eenvoudig en ek gebruik Plaasjapie se growwe braaipap meel. As jy gewone meel gebruik moet jy die water so bietjie verminder.

Bestandele:

1/2 koppie growwe pap meel.
1 en 1/2 koppie water.
1/4 teelepel sout.
1 goeie eetlepel botter - Moenie snoep wees met dit nie.

Hierdie mengsel is net genoeg vir die maak van 12 korsies in 'n muffin pan.

Metode:

Na mikrogolf sessies
Meng alles in 'n glas mengbak. Moenie bekommerd wees oor die meel wat nie in die water inmeng nie. Sit nou vir 1 minuut in die mikrogolf oond op hoog. Roer weer met 'n vurk en terug in die mikrogolf oond. Herhaal die proses so 3 of 4 maal. Nou sal jy sien dat jy 'n redelike stewige pasta het. As daar nog vry water in die bak is moet jy maar aanhou met die mikrogolf ding tot dit alles weg is. Die krag van jou oond speel 'n rol en die tipe meel wat jy gebruik.
Verdeel mooi in muffin pan

As jy nie 'n mikrogolf oond het nie, kook die mengsel in a potjie terwyl jy dit die heeltyd roer. Dis belangrik om die pap naby aan gaar te kry voor dit in die oond ingaan.

Skep nou met 'n eetlepel in die gaatjies van 'n muffin pan. Probeer om redelik akkuraat te verdeel want as jy dit oneweredig verdeel gaan party begin brand voor die dikker korsies reg is.

Bak tot goudbruin
Sit nou die pan in 'n 150C oond. Hier sal jy maar moet eksperimenteer want alle oonde is nie dieselfde nie.

Wees maar geduldig ... na sowat 40 minute behoort die korsies te begin kleur wys ... moenie oorhaastig raak nie.

Groot maat
Vanaf sowat 45 minute moet jy maar gereeld kyk en haal maar die korsies uit wat lekker bruin gebak het ... die kans is groot dat almal nie presies gelyk reg gaan wees nie.

As jy groter maat wil doen kan jy die resep verdubbel of meer ... hou die verhoudings reg. Druk dit mooi dun uit in 'n bakpan en sny mooi in blokkies. Ek gebruik a pizza cutter vir dit. Soos met die muffin pan moet jy dit maar mooi dop hou en sodra dit begin mooi kleur kry moet jy die uithaal wat reg is.

Ek het die resep 3x gemaak en die laaste keer het ek te min botter ingesit ... dis 'n fout.

Gebruik die korsies vir byna enige vingerhappie ... soet of sout.

Dit hou goed in 'n lugdigte houer maar smaak nie meer lekker na 'n dag nie.


Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.

Saterdag 16 Desember 2017

Mieliepap - Slappap is heerlik

Ek het al heelwat stories oor mieliepap geskryf en ek het al die soorte pap makery beskryf. Vandag wil ek egter weer vertel van 'n groot lekkerte vir my ... so bederfie wat ek sommer enige tyd maak as ek mistroostig voel.

Heerlike Slappap
Daar is min dinge wat my so salig laat voel soos 'n bakkie romerige slappap. Dit laat my vêr terugdink, laat my verlang na my kinderdae, koue wintersoggende op die Hoëveld, trietsige aande in Zululand en veral eensame aande in my buitekamertjie in Muckleneuk. Maar dit laat my ook terugdink aan nagte langs die viswater ... bibberende koue terwyl ek geduldig wag vir die karp om te byt en dan die yskoue nagte in 'n tentjie in Dullstroom langs die forelwater.

O hemel ja, en moenie die koshuispap vergeet nie, aaklige goed wat omtrent soos gom geproe het en wat geen hoeveeleid suiker beter kon laat smaak nie ... die goed wil ek gladnie onthou nie.

Slappap was menige maal in my lewe die enigste kos vir die dag. As dit die dag bietjie beter gegaan het kon ek darem 'n stukkie boerewors verfrummel en oor die pap strooi en dan ... as dit goed gegaan het was daar bietjie fyn biltong. By my ouma op die plaas was dit kaiings wat oor die pap gestrooi is. Ai dit was lekker tye.

Vandag se dae word ons gebombardeer met allerhande opgesmukte en opgetertde geregte en vertel van die hemelse smake ... ons word ook vertel van polenta en daar word gemaak of dit nou so grênd is ... ek skud maar net my kop.

Ek gaan nou vir julle 'n reseppie gee vir 'n heerlike porsie slappap en as jy meer wil maak moet jy maar net alles vermeerder per porsie.

ManKos Slappap:

60ml Mieliemeel (4 eetlepels) ... ek verkies lekker growwe braaipap meel.
250ml water (1 Koppie)
125ml melk (1/2 Koppie)
1 eetlepel botter (Opsioneel)
Sout na smaak.

Meng die water, melk, meel en sout goed met a whisk. En sit op die stoof. Ek het so klein potjie wat omtrent 500ml kan hanteer.
Moenie getempteer word om meer meel in te gooi nie, in die begin gaan dit hopeloos te min lyk.
Sodra die potjie begin warm word roer die botter by.
Ek staan maar by die potjie want die proses neem net sowat 25 minute. Ek roer die pap gereeld met die whisk en maak seker ek skraap die bodem goed. Jy wil geen klonte in die mengsel kry nie.
Jy wil hê die mengsel moet borrelend kook. Na 10 minute kan jy die plaat afdraai na medium toe maar bly maar roer. Jy sal sien dat daar water teen die rant van die pot vorm en skuim bo-op die mengsel. Bly maar net whisk en werk alles heeltyd goed in. Mettertyd gaan die skuim weg en jy sal sien die mengsel word al dikker. Bly maar roer elke twee minute of so. Ek sit die dekseltjie op tussen die roerdery.
Na 25 minute behoort dit heerlik gaar te wees en lekker romerig. Sit die plaat af en laat staan net so vir so 10 minute.
Roer nou weer goed en keer die potjie uit in a lekker papbakkie.
Ek sit 'n klont botter in en strooi suiker. Dan so bietjie kaneel.
Jy kan stroop, heuning of molasses oorsit ... alles na jou smaak.
Dan kan jy nog biltong, kaiings, maalvleis oor sprinkel.

Vir my is die pap met botter, suiker en kaneel die beste laatnag snaxie.

Ek daag jou uit om dit te probeer, jy sal nie spyt wees nie.

Geniet dit heerlik warm saam met 'n glas melk.

Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.

Sondag 17 Januarie 2016

Mieliepap - Man Kos Paptert

Kyk as daar nou een ding is wat my die horries gee dan is dit die papterte wat niks anders 'n slopperige paperysel van pap en 'n wye verskeidenheid groentes is nie. Geen tekstuur of vorm nie net 'n paperysel.

Man Kos Paptert
Deel van my eksperimente met die 100% Braaipap meel moes net eenvoudig op 'n paptert uitloop ... en so was dit dan.

Sondagoggend en ons begin praat oor middagete. Dis mos tradisioneel 'n groot etery maar ek het die laaste twee jaar ernstig daarop gefokus om die tradisie van 17 disse op die tafel te verbreek. Dis tydrowend en meer belangrik, dis 'n grootskaalse vermossing van kos. My standpunt is dat mens nie nodig het om meer as drie elemente op 'n bord te sit nie. Sodoende kan jy werklik fokus op smaak en geur in plaas van om jou self mal te maak met 'n onpraktiese verskeidenheid. Op die einde is alles daar maar baie min is van uitstaande smaak en niemand kan dit regtig geniet nie want een lepel van alles laat jou bord lyk asof jy die buurt probeer voed.

Terug by die eintlike storie ... my oog val op die papot van gisteraand en ek lig die deksel ... ek krap die koue pap versigtig los met my tweetand vurk en my kop werk ... ek is nie lus om weer net pap by te maak nie ... ek moet iets anders doen.

Bestandele
En so word die paptert gebore.

Jy gaan benodig ...

2 koppies stywe pap of Putu.
2 Eiers
Melk of room
1 koppie gekapte uie
Meng mooi
1 koppie gekerfde wortels (Sirkels of plat skyfies)

Onthou, alles gaan oor geur, smaak en tekstuur as dit by goeie kos kom. Eerste die uie. Braai dit uit in so bietjie olie of botter ... ek gebruik varkvet. Tydens die braaiproses moet jy die uie lekker geur met peper en braaispeserye. Ek gooi ook rooipeper by. Sodra die uie lekker sag is, skep uit in 'n koppie.

Braai van die uie
Terwyl die uie braai, gooi die wortels in 'n potjie met water en botter en 'n knippie sout. Dit moet vinnig kook, jy wil dit net sag kry. Gooi so eetlepel suiker ook in die water en a stewige klompie witpeper. Sodra die wortels sag is, net sag nie pap nie, skep uit in a koppie ... moenie al die sous in die pot sambring nie, jy soek net die wortels.

Kook van die wortels
Jy is nou besig om die uie en wortels elkeen afsoderlik goed te geur. Dit is als deel van die proses om op die einde a lekker geurige dis te kry. Sorg vir elke element en die eindresultaat sal nie sommer verkeerd wees nie. As jy alles as 'n geheel sien gaan jy maklik opeindig met 'n verwarring van smaak en geur.
Reg vir die oond


Breek nou die eiers in maatbekertjie en klits goed. Gooi melk of room by om 200ml te maak. Ek gebruik a teekoppie, dis 200ml.

Finale produk
Meng nou alles behalwe die wortels mooi in 'n mengbak. Ek gebruik my hande sodat ek kan voel dis nie klonterig nie. Sodra dit glad is gooi die wortels by en meng dit versigtig in, jy wil nie wortels verbrysel nie. Hier kan jy gerus meer smaak byvoeg soos chilli flakes.

Nou het jy 'n mooi mengsel van drie basiese elemente en 'n interresante geur konkoksie. Smeer 180 x 180 oondbak mooi en skep jou mengsel daarin. Nou is hy reg vir die oond.

Jy sien seker ek sit geen tamaties in nie en ek doen dit omdat ek nie met 'n papperysel wil opeindig nie. Jy kan sampioen stukkies en greenpepper bysit as jy wil. Gedroogde cranberries en gekapte gedroogte vye of appelkoos is ook 'n goeie opsie.

Nou in 'n 180 C grade oond vir vir tussen 20 en 30 minute. Jy wil hom bak tot daar so mooi ligbruin korsie gevorm het. Haal uit en laat rus vir so 20 minute voor jy opdien.

Die is genoeg vir 4 tot 6 mense. Die tert sny in mooi skywe en jy kan dit baie maklik as bykos by 'n formele ete bedien. Jy kan 'n pikante sousie ook maak.

Vervang al die sout elemente met soetgoed soos kersies, rosyntjies en bietjie neute. Gooi so eetlepel bruinsuiker by en die word 'n nagereg wat lekker is saam met vla en roomys.

Nou daar is hy ... Man Kos se Paptert.


Nog Pap Stories:

Mieliepap - Man Kos en GWK se Braaipap
Mieliepap - Iets wat ons almal ken
Mieliepap - Rof en Grof met Semels
Pap - Plaatkoekies met Houding 
Pap - Krummelpap kan Stylvol wees 
Mieliepap - Laatnag Snaxie 

Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.

Woensdag 13 Januarie 2016

Mieliepap - Man Kos en GWK se Braaipap

Ek het die lofliedere van lekker mieliepap alreeds goed besing en dis opgeteken in van my vorige stories oor mieliepap.

GWK 100% Braaipap
Vir my is mieliepap een van daardie dinge wat my altyd met nostalgie vervul en ek het duidende kinderdae drome oor mieliepap. Ek dink die hedendaagse jeug verstaan nie altyd baie mooi oor hoe arm was baie van ons ouers nie en hulle sien net die dinge soos dit vandag is.

Pure Mieliemeel
Ek onthou baie dae in my kleintyd waar mieliepap die hoofbron van voedsel was op die tafel en enige iets wat bygekom het was pure bederf en groot bonus.

Lekker vir ontbyt
Oor die jare het meel nogal verander en van die sewentigs af was die super fyn mieliemeel aan die orde van die dag. Tydens die groot droogte in die sewentigs het ons weer geel meel gekry en dit was vir my baie lekker. Maar toe word dinge weer beter en die geel meel verdwyn. In die laat tagtigs het ons in Natal die eerste Braaipap op die winkelrakke gesien en dit was fantasties ... lekker grof en semels duidelik sigbaar. In my huis was dit al mieliemeel wat gebruik is en nie net vir braai nie.

'n Mooi pot pap
Ongelukkig het die braaipap met tyd al hoe fyner geword en teen die middel negentigs was die braaipap op die winkelrakke maar redelik fyn en weinig verskil van die gewone fyn mieliemeel. Ek het van tyd tot tyd so hier en daar 'n sakkie growwe meel in die hande gekry in van die kleiner plattelandse dorpies waar daar 'n meule was maar dit was maar met rukke en stote.

So paar jaar terug toe verskyn daar weer 'n toegewyde braaipap op die toneel en hulle adverteer wyd en suid en dryf die produk op Facebook. Ek kry van dit by my SPAR en ek is woes beindruk met die meel. Lekker grof en dit maak heerlike pap. Ek is tevrede en my mieliepap laat my weer breed glimlag. Maar soos met baie produkte het die produk ook deurgeloop onder verwaarloosing, altans hier in die Laeveld en spoedig is dit nie meer by SPAR nie en net so hier en daar by 'n Slaghuis. Dit was terleurstellend vir my en my mieliepap etery het weer afgeplat en aartappels het die hoofrol gespeel in stysel in my kombuis.

Vroeg in Desember 2015 kom ek toe op die produk van GWK af op Facebook - 100% Braaipap. Hulle adverteer dit as 100% Braaipap en dis verkrygbaar in 4 tipes.

1. Lekker Grof
2. Bitter Grof
3. Rof en Grof met Semels
4. Geel Meel

Pap en maalvleis
Die verpakking is in regte egte meelsakkies en is gemerk 5lb ... daar is blykbaar ook 10lb sakkies beskikbaar. Ek doen navraag en na verskeie boodskap verwisselings beland die meel toe hier in my kombuis. Die verpakking laat my sommer dadelik na my ouma verlang en met 'n bree glimlag soek ek die die regte kant uit van die sakkie om die toutjies te laat ontrafel. Ai hoe onthou ek die dae op die plaas waar ek menigmaal gestaan en kyk het hoe my ouma die sakkies met haar krom vingers oopgetrek het. Die garing is versigtig opgerol want in daai dae is byna niks weggegooi nie.

Pap en Hoendervlerkies
Ek het die Rof en Grof met Semels eerste oopgemaak ... en ek staan en kyk na die inhoud. Dis regte egte mieliemeel die en ek vroetel met my vingers in die meel ... daar is baie tekstuur en die semels is duidelik sigbaar ... dit is mos "Man Kos" die dink ek terwyl ek my pappot op die stoof sit.

Pap en Skaapafval
En so begin my ontdekkingsreis in die wonderwêreld van GWK se Mieliemeel. Vir die volgende vier weke het daar byna elke aand 'n pot pap op die stoof gestaan vir aandete. Sels op oukersaand. Ek het al die tipes meel getoets en het slappap, putu en krummelpap gemaak. Ek het elke denkbare metode van pap maak uitgetoets en neergeskryf, hordes fotos geneem en oor en oor getoets. Ek het die mieliemeel werklikwaar deur die meule gedruk in my kombuis.

Lekker Putu
Die belangrikste ding wat baie vinnig duidelik geword het was die feit dat die grofgraad van die meel verseker die tradisionele maniere van papmaak so bietjie omkrap.

Eerste ding wat gou duidelik geword het is dat die meer stywe pap verseker langer vat om gaar te word as die meel waaraan ek gewoond is.

Superfyn Krummelpap
Tweede ding is dat die meel se growwe aard vereis meer water omdat daar baie meer tekstuur is wat vog trek.

Derde ding wat duidelik was is dat jy sal jou sout moet vermeerder en dit gaan vir my hand aan hand met die feit dat mens meer water moet ingooi.


Krummelpap en lekker sous
Die geel meel was vir my die grootste uitdaging. Die meel is nie grof nie maar helder geel en my eertse poging was 'n redelike flop. Met 'n ergerlike knor onder my snor deur het ek die pap uitgekrap in die emmer in wat vir die voëls gevoer word en my vrou het half geammuseerd gestaan en kyk hoe ek stoom.

"Man moenie so opgewerk raak nie ... dis net pap."
My gunsteling ... die brandsel

Kyk, sy het goed bedoel maar vir my was dit soos 'n rooiwarm yster in my agterstewe in ... ek haat flops ... met ingewikkelde disse is flops gewoonlik redelik naby maar met 'n eenvoudige ding soos pap ... goeie genade ... dis nou 'n "epic fail" soos my oudste sou sê.

Wat was dan fout ... wonder jy seker nou ... wel die pap was taai en daar was verseker te min sout in.

Die tweede poging het ek egter mooi geweet wat loop verkeerd en het my resep en metode ernstig aangepas. Die geel meel soek meer sout en verseker baie langer kooktyd. Normaalweg is my pap reg na so 75 minute ... die geel meel het na twee en half uur eers reg gesmaak vir my. Nou wil ek net byvoeg, my Poppie is nie 'n groot papeter nie en ek was verbaas toe ek sien sy gaan vir 'n tweede porsie van die geel pap en later toe sien ek sy peusel weer daar uit die pot uit.

"Jis maar die is baie lekker pap."

Nouja ... vir my was dit baie lekker maar om die woorde van my vrou te hoor is die grootste kompliment vir die geel meel.

Maak nou regtig nie saak wat die meeste mense sê nie ... pap maak is 'n kuns, ek meen nou, goeie pap. Meeste mense dink pap maak is speletjies en selde word daar ordentlik gemeet en dinge word so op gevoel gedoen. Wel, good luck met daai metode ... ek werk met maatbekers en ek kan keer op keer presies dieselfde resultaat kry.

Om lekker stywe pap of putu te maak gebruik ek 2 koppies meel en 3 en 1/2 to 4 koppies water saam met die GWK Braaipap ... hoe growwer, hoe meer water. Sout is so om en by een teelepel maar die geel meel soek meer sout. Dit lewer genoeg pap vir vier mense. Gebruik groter of kleiner koppies vir die afmeet maar hou die verhouding soos dit is. Sout moet jy aanpas na smaak maar pasop vir te min.

Na baie potte pap is ek nou gemaklik met die GWK Braaipap en my eie persoonlike voorkeur is om een en half koppies van die gekose grofgraad meel te meng met 'n half koppie van die geel meel. Dit is vir my baie lekker en die pap lyk mooi. Ek vervang ook van die water met melk en dit is baie lekker. Ek sit standaard twee eetlepels botter in my pap se water waneer ek dit kook.

Ten slotte ... die GWK Braaipap is van die lekkerste meel wat ek ooit gebruik het vir pap en ek hoop werklik dat die produk wyd en suid beskikbaar gaan word. Die prentjies op die sakkies is kostelik maar ek dink dit gaan verwarring skep by die publiek. Die meel soek 'n sterk handelsmerk om dit te laat uitstaan en om volgelinge getrou te maak.

Doen moeite ... soek vir die meel en jy sal moontlik nooit weer met ander meel tevrede wees nie

Ek hoop die storie laat jou met nuwe oë na mieliepap kyk. Hierdie spesifieke meel het 'n baie lekker tekstuur en 'n baie lekker geur. Tans is dit die beste Braaipap wat ek ken.

Nog Pap Stories:

Mieliepap - Iets wat ons almal ken
Mieliepap - Rof en Grof met Semels
Pap - Plaatkoekies met Houding 
Pap - Krummelpap kan Stylvol wees 
Mieliepap - Laatnag Snaxie 

Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.

Saterdag 19 Desember 2015

Mieliepap - Laatnag Snaxie

Teen hierdie tyd hoef ek nie meer te vertel van hoe lief ek vir mieliepap is nie, die wat my ken, weet dit baie goed. Ek is tans op a sending om die gebruik van mieliepap te bevorder. In die proses gaan ek probeer om die stories so te skryf dat die jongmense lus gaan kry om pap te maak en as hulle dit doen dan moet hulle ook seker wees hulle gaan 'n goeie resultaat kry.

Die maak van pap word deur die meerderheid van mense as 'n maklike proses gesien en baie beskou dit as 'n onding om maatbekers te gebruik. Dit werk vir hulle maar vir my, ek hou van voorspelbaarheid en ek is vol nukke oor korrekte mate.

Een vorm van pap wat vir my werklike trooskos is, is slappap ... lekker warm, syglad en ryk. Dis iets wat my op vêr paaie laat teruggaan en bring altyd so gevoel van rustigheid oor my. My werk vereis dat ek selde voor 01h30 in die nag gaan slaap. Ons eet gewoonlik tussen 18h00 en 19h00 in die aand en dit beteken dat by middernag het gewoonlik so hol kol op my maag. 'n Beskuit en koffie is gewoonlik die antwoord maar soms, net soms ... was dit a wilde dag en my siel soek lafenis. Dis dan dat ek my klein potjie uithaal en pap maak ... lekker slappap.

Vanaand is dit weer so en ek haal die bak met die GWK Meelsakkies in van die rak af. Ek vat die Rof en Grof met semels en meet 80ml af ... dis so 1/3 de koppie.

In die potjie gooi ek een koppie melk en 'n half koppie water. 'n Knippie growwe sout en 'n teelepel botter.

Ek staan en kyk by die venster uit terwyl ek vir die water wag om te kook. Dis baie belangrik dat dit goed kook. Ek sien hoe 'n nagapie 'n mot skraap onder die sekuriteitslig en dan is albei weg. DIs doodstil in my huis en buite ritsel die blare net so nou en dan ... wind of gedierte ... dit weet ek nie altyd nie.

Die borrelde water ruk my terug en ek gooi die meel vinnig in. Nou is dit baie belangrik dat jy dit baie goed roer ... daar moet absoluut geen klonte wees nie. Ek het so kly mini-whisk wat ek gebruik maar a gewone tafelvurk werk ook goed. Wees versigtig want die pap is slap, borrelend en hitsig ... as dit op jou hand spat gaan jy dit weet. O ja ... soms kan dit lyk of die potjie wil oorkook ... roer maar soos 'n mal ding en as dit handuit wil ruk ... skuif die potjie van die plaat af.

Deksel terug en dan draai ek die hitte af. Nou stel my horlosie en ontspan ... die volgende aksie is oor 10 minute.

Die klokkie lui en ek maak die deksel oop ... die mel en die vloeistof kan nou effens geskei het maar dis normaal ... roer weer baie goed en kyk of dit glad is ... met baie growwe meel, soos wat ek hier gebruik ... gooi ek nou 'n kwart ko[[ie water by en roer tot mooi glad.

Op met die deksel en wag weer 10 minute. Die klokkie lui en ek roer die pap goed ... dis te dik na my smaak en ek gooi weer 'n kwartkoppie water in en roer baie goed. Baie mense sal die pap nou al eet ... nie vir my nie ... die volgende 10 minute is wat die slappapgaan onderskei van koshuispap of hospitaalpap.

Die horlosie lui na nog 10 minute en die geur vul my kombuis as ek die deksel afhaal. Ek is nog altyd van mening dat die meeste mense rou pap eet ... nou nie heeltemal rou nie maar verseker nie goed gaar nie.

Ek dop die potjie pap om in a lekker diep bord en sit 'n teelepel botter in die middel neer. Die warm pap laat die botter smelt en die stroompies heerlikheid vind hulle weg na die rant toe. Ek strooi die suiker oor en kry 'n glas lekker koue melk. Ek eet nie melk oor die pap nie ... nee ek vat sulke versigtge skeppies teen die rant om en kort kort so slukkie koue melk. En dis soos ek van my slappap hou.

Baie maal sal ek so bietjie kaiings oorstrooi, of gekerfde biltong, gesnipperde oorskiet braaivleis of wors ... enigeiets om so bietjie ekstra geur in te sit ... maar op die einde is daardie kaal pap met botter en suiker genoeg vir my.

Ai en hoe vêr gaan my gedagtes nou terug ... koue wintersoggende op die plaas, laataande in my ouma se kombuis met die wind wat huil om die hoeke en die reën wat teen die kombuisvenster spat ... goeie gedagtes en goeie tye.

Hier is die resep:
80ml Meel
250ml Melk
125ml Water
Knippie sout
1 Teelepel Botter
Ekstra 125ml Water

Metode:
Gooi melk, halfkoppie water, sout en botter in 'n klein potjie en laat kook.
Gooi meel in en roer goed met a gewone vurk en maak seker daar is geen klonte nie.
Draai plaat af na laag en laat prut vir 10 minute.
Roer nou goed en gooi die helfte van die ekstra water in en roer goed in.
Prut weer 10 minute met die deksel dig toe.
Gooi nou die laaste water in en roer weer goed.
Prut nou weer vir 10 minute.
Totale kooktyd is 30 minute.
Skep op.

Deur so bietjie vindingryk te wees en te fokus op wat jy doen kan jy van die onpretensieuse mieliepap, 'n heerlike ete maak wat voedsaam is en steeds geurig. Dit is bekostigbaar en dit is gesond.

Ek hoop die storie laat jou met nuwe oë na mieliepap kyk. Hierdie spesifieke meel het 'n baie lekker tekstuur en 'n baie lekker geur. Tans is dit die beste Braaipap wat ek ken.

Nog Pap Stories:

Mieliepap - Iets wat ons almal ken
Mieliepap - Rof en Grof met Semels
Pap - Plaatkoekies met Houding 
Pap - Krummelpap kan Stylvol wees 

Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.

Maandag 07 Desember 2015

Mieliepap - Rof en Grof met Semels

Na my storie oor die stories rondom mieliepap het ek vele navrae gekry vir meer besonderhede. As jy regtig wil lekker mieliepap maak dan stel ek voor dat jy die Mieliepap - Iets wat ons almal ken ... storie ook mooi aandagtig deurlees.

Die begin van Putu
Soos met menige disse regoor die wêreld sal die sukses bepaal word deur die bestandele wat gebruik word. Vandag gaan ek die storie vertel van GWK se 100% Braaipap - Rof en Grof met semels.

Hierdie meel is vir my alles wat ek van mieliemeel vra teneinde lekker pap te maak. Ek het die 5lb sakkie, ja jy lees reg, 5lb ... eerste oopgemaak en begin eksperimenteer. Ek beskou myself nogal as 'n goeie papmaker en ek is puntenerig oor die mates en volumes wat gebruik word. Ek maak pap met maatbekers.

Kom on begin met die mees populêre gebruik van pap ... mieliepap vir 'n braai. My storie mag langdradig wees vir die ou hande maar daar is hele geslag jonges wat nie regtig weet hoe om pap te maak nie.

Putu op die bord
Dit is baie belangrik om die pap se finale tekstuur reg te kry vir 'n braai. Daar is gewoonlik een of meer souse beskikbaar en dan is daar ook diegene, wat slegs botter op die warm pap sit ... dan is daar die mense soos ek, wat botter en suiker op die pap sit. Dit is egter nie regtig belangrik nie, wat meer belangrik is, is dat die pap of met mes en vurk hanteer kan word maar ook geskik is om net met die hand te eet.

Nou die pap wat beste werk vir braai is Putu ... sommiges verwys na dit as krummelpap en ek het die verskille aangespreek in die ander storie, hier bo gemeld. Die hoof kenmerk van Putu is dat dit losserige groot stukkies vorm in die pot maar as jy dit vat kan jy dit in bolletjies saampers.

Om 'n goeie Putu te maak verg so bietjie konsentrasie en die begrip van die kookproses. Jy kan Putu van enige mieliemeel maak en al wat gaan verskil is die hoeveelheid water.

My storie van vandag gaan spesifiek oor die GWK Braaipap - Rof en Grof met Semels. My resep is vir 4 mense, twee mans en twee dames.

Jy benodig 'n goeie pot, ek gebruik net ysterpotte. Jy moet ook a stewige tweetand vurk byderhand hou en dan 'n maatkoppie. (225ml).

Bestandele:
2x Koppies meel
3 1/2 koppies water (As jy gewone braaipap meel gebruik is 3 koppies genoeg.)
2x Eetlepels botter (Opsioneel maar sterk aanbeveel)
1x Teelepel sout

Metode:
Kook die water
Ek meet my meel af en gooi dit in die pot se deksel.
Kry nou die water, botter en sout aan die kook.
Gooi die meel in
Sodra die water sterk kook dop ek die meel in die pot om. Dit vorm 'n hopie in die water. MOENIE ROER nie en sit die deksel dadelik op. Jy kan jou plaat so knertsie koeler draai as jy nie 'n ysterpot gebruik nie. Maar dis belangrik dat daardie water steeds sterk kook. Die deksel moet ook mooi stewig seel sodat jy nie teveel vog verloor deur stoom wat ontsnap nie.
Stel nou die horlosie vir 15 minute en ontspan. Die kans dat die pap sal brand is skraal maar as jy 'n dun pot gebruik kan dit gebeur.

Na 15 minute
Dis regtig belangrik dat jy die proses mooi verstaan en fokus terwyl jy met die pap werk. Ek weet baie ou hande gaan grynslag en as jy nou eers leer om pap te maak gaan van die toeskouers dalk baie kommentaar lewer. Ignoreer dit en fokus ... as jy hierdie resep en metode goed onder die knie het kan jy na ander se stories luisters. As jy nou vir hulle luister gaan jy dalk ook net soos meeste van hulle, jou lewe lank putu maak wat nie regtig putu is nie.

Die eerste roer
Na 15 minute, haal die deksel af en skud die water in die deksel terug in die pot in. Gebruik nou die tweetand vurk en begin die meel mooi deurwerk in die slap pap wat om die rand gevorm het. Jy moet regtig vinnig werk want jy sal sien hoe ontsnap die stoom terwyl jy die roerwerk doen. Die pap gaan taai lyk en nog nie eintlik enige geur afgee nie. Meng goed en sit die deksel terug.

As jy hierdie roerproses met 'n lepel doen gaan jy 'n pot mielie klei maak in daardie pot ... moenie dit doen nie.

Nou draai ek my plaat baie laag ... ek gebruik gas as jy 'n elekriese plaat gebruik sal 2 'n goeie stelling wees. Weer stel ek die horlosie vir 15 minute en moenie daai deksel oplig nie. Niks van 'n geloer nie, wag geduldig.

Op die tweede alarm moet jy weereens vinnig werk en die pap goed deur krap met die vurk. Nou moet jy pasop dat jy die kors wat begin vorm teveel versteur nie. Jy sal ook nou die pap se geur begin ruik. Deksel terug en stel die alarm weer vir 15 minute.

Die finale produk
By die volgende alarm kan jy ontspan en seker maak jy roer die pap baie mooi. Daar sal nou duidelik klonte begin vorm wat uitmekaar breek as dit roer. Deksel terug en stel die alarm.

Nou is jy op die pylvak ... sodra die alarm afgaan is dit 60 minute en jy behoort nou 'n geurige pot pap te hê. Roer weer goed en stel die plaat nou op sy laagste. Van hier af sal elke minuut wat die pot staan net vir jou beter resultate gee. Ek laat myne nou 30 minute op daardie baie lae hitte staan.

En dis al wat jy moet doen om goeie putu te maak.

Vir variasie kan jy die botter met uitgebraaide varkvet vervang, jy kan kaiings ingooi na 30 minute. Jy kan die water vervang met een van Ina Paarman se sous poeier mengsels. Pasop net, die souse is baie sout.
Jy kan die water vervang met melk of gedeeltelik vervang.
Jy kant heelpit mielies wat gedreineer is ingooi op 45 minute.
Alles dinge waarmee jy kan esperimenteer as jy eers die basiese putu maak onder beheer het.

Deur so bietjie vindingryk te wees en te fokus op wat jy doen kan jy van die onpretensieuse mieliepap, 'n heerlike ete maak wat voedsaam is en steeds geurig. Dit is bekostigbaar en dit is gesond.

Ek hoop die storie laat jou met nuwe oë na mieliepap kyk. Hierdie spesifieke meel het 'n baie lekker tekstuur en 'n baie lekker geur. Tans is dit die beste Braaipap wat ek ken.

Nog Pap Stories:

Mieliepap - Iets wat ons almal ken
Pap - Plaatkoekies met Houding 
Pap - Krummelpap kan Stylvol wees 

Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.

Sondag 06 Desember 2015

Mieliepap - Iets wat ons almal ken

Man Kos gaan oor die soort kos waarvan mans hou en dan is dit ook die kos waarvan baie vrouens ook hou.

Vir die meeste Suid Afrikaners is daar min dinge so basies, so aards, so vanselfsprekend as mieliepap. Dis 'n gegewe by byna elke braai en dis tradisionele ontbytkos.

Mieliepap, pap, braaipap, putu, krummelpap en slappap ... alles benamings wat meeste van ons gebruik. Wat egter ook waar is, is dat daar vele verskillende betekenisse aan die verskillende benamings geheg word. Van hier af gaan ek die woord pap gebruik as 'n algemene benaming vir die kos en sal ek die verskillende tipes pap meer volledig beskryf. Al wat jy nodig het is meel, water en sout.

Mieliepap ... Trooskos vir my
Nou wonder jy seker hoekom ek nou 'n storie oor pap wil skryf ... wel soos met baie van ons tradisionele kosse, is pap een van daardie dinge wat baie min mense regtig die fokus gee wat dit verdien. Meeste kokke is redelik traak-my-nie-agtig as dit by die voorbereiding kom en mates is meesal 'n lukraak gevoel vir volumes as wat dit regtig ernstig opgeneem word. Mense meet sommer met hande, gooi net uit die houer in die pot en roer en kook ... in kort, pap word meesal op 'n Moerby basis voorberei.

In die laaste 2 of 3 jaar is daar 'n sterk opwelling in die voorbereiding van goeie kos en mense soos Dine van Zyl het ons tradisionele kos weer terug op die tafels gesit met haar Boerekos reekse en boeke. Die magdom kos programme op televise het ook die fokus op kos voorbereiding gevestig. Daarmee saam is die gevare van bymiddels en prosessering, menige dae op die voorblaaie.

Dit is nou regte egte krummelpap
Een ding is verseker, mieliepap is 'n basiese stapelvoedsel in Suid Afrika en vir menige mense is dit soms al wat hulle vir die dag kry om te eet.

Na baie rondvra en bel het ek tot die slotsom gekom dat mieliepap in die volgende vorms aangebied word en sekere benamings is verwarrend en het verskillende betekenis in verskillende streke. Ek gaan die hoofgroepe nou noem met so bietjie meer beskrywende verduidelikings. Dis verseker nie noodwendig gesaghebbend nie maar is bloot net ter inligting en is my eie siening van die verskillende tipes.

Verskillende tipes word hoofsaaklik bepaal deur die verhouding tussen die water en die mieliemeel.

1. Slappap ... hierdie vorm is alombekend en is gewild as ontbyt kos. Dit kan wissel van iets wat byna soos dik sop lyk tot 'n meer stewige vorm wat jy met 'n groot opskeplepel kan opdien, byna soos vla.
Die verhouding is min of meer 4 dele water en een deel meel. 4:1 Water teen meel.

2. Stywepap ... hierdie vorm is meesal gewild as bykos en kan wissel van sagte mengsel wat in skywe gesny kan word tot iets wat baie naby aan 'n koek tekstuur is.
Die verhouding hier is so ongeveer 2:1 water tot meel.

3. Putu ... hierdie is 'n gewilde vorm vir braaivleis en baie mense verwys ook hierna as krummelpap. Laasgenoemde is nie heeltemal korrek nie maar die ware toets vir putu is of jy so handjievol van die pap kan vat en dit kan saampers in 'n bolletjie.

4. Krummelpap ... hierdie is die vorm wat dit moontlik maak vir mieliepap om te begin meeding in die omgewing van sogenaamde "fine dining". Jy kan dit van redelik grof tot ultra fyn krummels voorberei en die eindresultaat kan as plaasvervanger vir rys gebruik word. Dit onderskei dit self van die tradisonele putu deurdat dit nie werklik in bolletjies gepers kan word nie.
Die verhouding hier is om en by 1 deel water en 2 dele meel. 1:2 ... maar die verhouding kan geweldig aangepas word en jou kookproses gaan bepaal hoe die eindproduk gaan uitkom.

Sygladde slappap wat prut
Al hierdie tipes kan baie verskil en die eindresultaat word erg geaffekteer deur jou kookproses en die graad van fynheid van jou meel. Water tot meel verhoudings word grootliks bepaal deur die meel en die kookproses.

Vir die res van my vertelling gaan ek die bogemelde benamings gebruik.

As jy putu maak met sogenaambe braaipap meel en gewone meel fyn mieliemeel sal die verhouding verskil en dis daarom belangrik om met jou soort meel te eksperimenteer en neer te skryf wat jy doen en wat die resultaat is.

Dwing jouself om maatkoppies te gebruik
Dwing jouself om maatkoppies te gebruik, maak nie saak of die toeskouers dink jy is onervare nie. Goeie pap is werklik 'n kuns en verhoudings is deurslaggewend. As jy eers jou verhouding uitgesorteer het dan kan die porsies beheer deur die maatbeker wat jy gebruik. Een koppie kan dan maklik een bakkie of een lepel word, die verhouding sal dieselfde bly en net die kooktyd gaan verander.

In my kombuis waar ek meesal vir 3 mense kook is die mengsel grootte van so aard dat die pap gaar is na 60 tot 75 minute. As ek slappap maak dan is dit net vir een en die kooktyd is 30 minute.

Die begin van Putu
En so lyk die Putu as dit gaar is
Sonder om nou spesifieke pap resepte te bespreek gaan ek nou so bietjie uitbrei oor van die meer bekende gaarmaak metodes. Dit verskil van streek tot streek en van familie tot familie. In my lewe het ek die meeste van papmaak geleer by verskillende huishulpe wat ek as kind, en later as grootmens geken het. My leefstyl het my ook baie in die posisie geplaas dat ek soms vir lang tydperke op konstruksie persele diep in die bos moes leef en daar het ek by die swart mans gesien hoe hulle pap maak.

In my eie lewe was dit hoogs uitsonderlik om nie pap vir ontbyt te eet nie tot ongeveer die einde van my universiteits loopbaan. Maar my liefde vir pap het nooit verdwyn nie en in my latere lewe was dit vir my gladnie vreemd om drie keer per dag pap te eet nie.

Tydens die groot droogte in die sewentigs het ek die eerste keer met geel mieliemeel kennis gemaak en dit het my gefasineer. Toe die geel meel verdwyn was ek nogal terleurgesteld. En toe in die middel laat tagtigs maak Braaipap sy verskyning. Dit was vir my koningskos want dit was lekker grof en die hartjies en doppies was duidelik sigbaar in die meel. Ek moes my papmaak resep aanpas want die growwer meel het veroorsaak die pap wat gewoonlik stywepap was nou verander het in putu. Ek het egter vinnig geleer en toe die terleurstelling, toe ek opmerk die braaipap word al hoe fyner, nog die semels ingehad maar dit het fyner geword. Deesdaae is die groot handelsmerke braaipap maar basies gewone graad meel met so bietjie semels by.

Krummelpap met styl
En toe twee jaar of so gelede toe verskyn Janpap se braaipap op die mark en ek was in die sewende hemel. Die meel is lekker grof en nie spierwit nie. Ek het met oorgawe in die meel ingeklim. Maar nouja die euphoria was van korte duur want net so vinnig as wat dit in die Laeveld verskyn het, so vinnig het dit weer verdwyn. Vandag moet ek regtig soek om van dit te kry.

So paar weke gelede kom ek toevallig op 'n produk van GWK af  op Facebook ... 100% Braaipap. Ek het dadelik navraag gedoen en ontvang die volgende inligting ...

Die braaipap is in 4 soorte beskikbaar:

·       Lekker grof (soortgelyk aan die meeste braaipappe tans op die mark)

·       Bitter grof (ordentlik grof en maak super krummelpap)

·       Rof en grof met semels( selfde tekstuur as Lekker grof maar die semels van die mielie is bygevoeg)

·       Geelmeel (standaard geelmeel – omtrent selfde tekstuur as Lekker grof)

Nog so bietjie vrae en toe laas Vrydag ariveer hier 'n paar sakkies van elk. Ja, sakkies, die meel word in egte regte outydse meelsakkies verpak. Dit het sommer dadelik die gevoel van nostalgie oor my laat spoel. Heel eerste maak ek die Rof en Grof met Semels oop want ek wou woes gaan met braaipap en die het vir my reg geklink.

Ek ontrafel die sakkie se opening baie versigtig want dit sou banaal wees om die sakkie te beskadig. Jis maar was ek in my skik toe ek die inhoud bekyk. Dis mos Braaipap ... 100% Braaipap.

Die besonderhede oor die resepte gaan ek in ander stories vertel want ek is besig om die sakkies een vir een deur te werk en maak pap vir die vale. In my huis is mieliepap nou op die spyskaart by elke ete. En weereens leer ek meer van pap maak. Pap en melk, pap en vleis en pap en sous ... dis wat hier gemaak word. Poppie is nie 'n groot pap eter nie maar ek sien sy vat omtrent elke keer 'n tweede skeppie.

As dit by pap maak kom is daar basies drie metodes.

1. Die meel word in koue water gemeng totdat dit byna soos koekbeslag lyk en dan word it in 'n pot geskep om gaar te word. Die metode word gebruik vir slappap en stywepap. Ek ken dit as koshuispap of hospitaalpap maar vir baie mense is dit hoe pap gemaak word.

2. Die meel word by vinnig kokende water ingeroer tot dit goed gemeng is en word dan gaar gemaak. Weereens goed vir slappap en stywepap maar menige mense maak putu ook so.

3. Die meel word eensklaps op 'n hopie in die kokende water gegooi en die deksel word toegemaak. Nou moet jy nie aan die deksel raak nie, vir tenminste 15 minute. Sommiges laat dit self gaan vir 30 minute. Moenie die hitte te laag afdraai nie want jy wil die water laat bly kook en die meel stoom. Na die aanvanklike wagtyd maak jy die deksel oop en begin die meel deurwerk met 'n tweetand vurk. Die vurk is belangrik want dit sny die meelklonte goed sonder om die pap te brei. Sommige mense gebruik die agterkant van 'n houtlepel. Ek verkies die vurk.

Sodra die meel nou egalig nat is maak jy die deksel toe en draai die hitte baie laag. Daardie pap moet nou stadig stoom en gaar word. Moenie die deksel teveel oplig nie want elke keer as jy dit doen onsnap daar vog in die vorm van stoom.

Ek roer my pap elke 15 minute mooi deur en wees versigtig om nou nie die kors te versteur wat begin vorm nie. Na 60 minute is pap wat met twee koppies meel gemaak is gaar. As jy baie growwe meel gebruik het kan jy gerus nog aangaan tot op 90 minute.

Hierdie metode is die enigste metode wat vir jou werklik krummelpap kan lewer.

Deur so bietjie vindingryk te wees en te fokus op wat jy doen kan jy van die onpretensieuse mieliepap, 'n heerlike ete maak wat voedsaam is en steeds geurig. Dit is bekostigbaar en dit is gesond.

Ek hoop die storie laat jou met nuwe oë na mieliepap kyk.

Nog Pap Stories:

Mieliepap - Iets wat ons almal ken
Mieliepap - Rof en Grof met Semels
Pap - Plaatkoekies met Houding 
Pap - Krummelpap kan Stylvol wees 

Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.

Maandag 05 Januarie 2015

Pap - Plaatkoekie met houding

Ek het al by verskeie geleenthede vertel hoe lekker mieliepap vir my is. Regte Man Kos. Nouja vandag doen ek dit weer. Die afgelope feestyd het my weereens laat besef dat ons soms onwetend darem erg met kos mors. Dis iets wat diep teen my grein ingaan ... seker maar 'n brandarm jeug wat dit vir my so moeilik maak. Dis egter soms onvermydelik dat daar oorskiet sal wees en ek gaan probeer om die oorskiet bruikbaar te maak.

Koue pap en eier
Mieliepap is een van die goed wat omtrent altyd in oormaat gemaak word en dan later sit jy met die pot vol koue pap. Die normale ding is dat dit gaan vir die honde, hoenders of varke as dit goed gaan maar so baie keer word die pot net eenvoudig vol water gemaak en laat staan ... en dan later word dit in die drein afgegooi.

Klaar gemeng
In my huis word die koue pap met 'n staallepel uit die pot gekrap sonder om die brandsel te breek. Die koue pap word dan met 'n groot tweetandvurk verkrummel en in 'n lugdigte houer in die yskas gesit. Dis 'n baie lekker ding om souse mee te verdik. Dis ook 'n lekker ontbyt happie ... koue pap in 'n bakkie, so twee eetlepels melk ... roer goed en 60 sekondes in die mikrogolfoond. Ek roer dan botter by met suiker en fyn biltong en daar het ek 'n koningsmaal.

In die pan
Vandag gaan ons plaatkoekies maak met houding.

Jy benodig twee koppies koue pap wat jy verkrummel. Twee eiers, fyngekapte uie wat jy vinnig in die pan sagmaak. Speserye van jou keuse ... ek gebruik growwe peper, chili flakes en sout.

Lekker sous
Klits die eiers, meng die uie by en gooi alles oor die koue pap. Nou meng dit goed deur. Jy soek 'n stywe beslag wat jy kan vorm.

Ek weeg nou balle af wat so om en by 100gr weeg.

Ek gebruik 'n klein pannetjie en druk die bal mooi plat. Nou braai ek die plaatkoekie tot hy mooi goudbruin is.

Goue lekkerte

Volgende maak ek 'n lekker sampioen sous en bedien die koekies op met so lekker dik sous oor.

Daar het jy dit ... die oorskiet pap in 'n nuwe baadjie.

As jy growe meel soos Jan Pap se Braaipap gebruik het dan het jy 'n heerlike tekstuur.

Ek gooi soms ook pitmielies in die mengsel.

Jy kan sprietuie bysit vir ekstra geur.

Lekker kook tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook bladsy ... Man Kos ... Like hom as jy wil.

Donderdag 10 Julie 2014

Pap - krummelpap kan stylvol wees

Pap, ja as 'n boerseun van pap praat dan praat hy van mieliepap en dis seker so eg Man Kos as wat iets kan wees ... ek praat nou van die manne van die Vrystaat, Natal, Hoëveld en Wes Transvaal ... dis mielie wêreld en pap is groot in die streke.

Ek is self 'n man wat op pap groot geword het en tot vandag nog is dit vir my asof die dag nie reg begin het as ek nie 'n lekker bak pap kan insluk nie.

Maar vanaand wil ek oor 'n spesifieke tipe pap skryf en nie oor pap in die algemeen nie. Soos ek al baie gesê het, my passie vir Boerekos loop diep deur my are en deesdae dink ek dit begin ook in my murg intrek. Ek is lief vir kos maak en ek lees en kyk na soveel kokke se werk as wat ek kan in pas.

Nou sit ek so en dink terwyl ek weer na 'n kookprogram op TV kyk en die ouens doen fancy dinge met polenta. Polenta ... vir my is dit maar net slap pap in een of ander vorm. Daar word couscous gebruik in slaaie ... ja ek weet dis 'n vorm van pasta, gemaak van durham wheat maar die tekstuur is maar baie na aan fyn krummel mieliepap.

Ek staan op en loop na my kombuis toe ... ek sal dit maak met mieliemeel, growwe braaipap meel. Ek het myself nog altyd gereken as 'n goeie papmaker en menige mense het al gefrons as ek my maat bekers uithaal om pap te maak ... maar ek lag maar net en gaan aan ... voordeel van maatbekers gebruik is dat jy elke keer presies dieselfde resultaat kry.

Mieliepap kom in drie basiese vorms voor ...

1. Stywe Pap - Gewoonlik maak mens dit vir 'n braai of as bykos as jy bredies of wors en sous maak. Ook baie lekker vir ontbyt. Die tekstuur is redelik kompak, amper soos mash potatoes. Dit kan egter heelwat verskil van kok tot kok.

2. Slap Pap - Die is gewoonlik vir ontbyt. Ek maak dit ook baie maal vir 'n laatnag snaxie.

3. Krummel Pap - Hier is daar baie variasies en weereens verskil dit van kok tot kok. Vir my kom krummelpap in variasies voor van waar die krummels omtrent so groot soos ertjie pitte is en af tot fyner as rys. Ek ken die ertjie grote tekstuur as Putu en die fyner as Krummelpap. Maar daar is baie wye beskrywings en benamings vir dit. Dis nie belangrik nie en sover dit my Man Kos aangaan is dit soos ek beskryf het.

Krummel pap ... elegant en smaaklik
Vanaand het ek 'n lekker kerrie skaapbredie in die pot en dis nou tyd om die stysel te maak. Eerste gedagte was koring en toe rys ... en toe sien ek die ding op TV en besluit net daar en dan dat goeie Boere Kerrie Skaap verdien 'n goeie Boere stysel.

Nou moet jy maar mooi lees en net so maak as jy dieselfde resultaat wil kry. Vir baie gaan my resep na waansin klink en dit gaan jou dalk erg laat frons ... maar glo my ... ek maak dit so en die fotos vertel die storie.

As mens pap maak dan moet jy tussen 80 en 160ml meel gebruik per persoon om jou porsies te bestuur. Dis nou goeie porsies maar groot manne kan maklik 240ml meel inskep. So die resep wat ek vannaand gaan beskryf sal vir jou genoeg pap gee vir 4 tot 6 mense.

Wat belangrik is om te onthou is dat ek gaan van koppies praat en dan bedoel ek 'n normale koppie van so ongeveer 240ml. As jy minder wil maak gebruik dan 'n kleiner koppie of bekertjie of glasie maar hou die verhoudings reg.

Die regte vurk
Jy het 'n goeie sterk tweetand vurk nodig.

Waarskuwing ... baie mense gaan die metode lees en sommer dadelik besluit dat dit teveel moeite is. Maar nouja dit is nie 'n maklike kits proses nie en die proses is spesifiek daarop gerig om hierdie Boerekos element van ons in die "fine dining" omgewing in te bring en glo my ... hy kan sy man staan.


Man Kos Krummel Pap
Bestandele:
1/2 Koppie water
1/2 Koppie melk (Jy kan die melk los en net water gebruik)
1 Eetlepel botter (Margarien as jy wil)
4 Koppies growwe braaipap meel - Ek gebruik Jan Pap Braaipap meel. Ek het nie die resep met fyn meel gedoen nie so ek weet nie of fyn meel gaan werk nie.
Sout na smaak.

Metode:
Meet jou meel uit in 'n houer, ek skep dit sommer in die pap pot se deksel.
Dis belangrik dat jy die meel afmeet voor jy begin.
Gooi die water, melk en botter in jou pap pot. Ek gebruik 'n gietyster pot op my gasstoof. Gooi 'n half teelepel sout ook in.

Reg vir die eerste roer
Jou plaat moet nou baie warm wees want jy wil die vloeistof vinnig laat kook.
Sodra die mengsel goed kook roer dit vinnig om die botter en sout te versprei.
Gooi nou die meel vinnig op 'n hoop in die pot in en maak die deksel dig toe.
Ja maak toe en moenie roer nie. Daardie hoop meel sal nou omring word deur die water.

Draai die gas nou af na medium toe.
Dis belangrik dat jy nou nie daardie deksel oplig nie. Die pot moet nou stoom opbou.
Laat staan die pot nou vir 5 minute.

Dis wat jy soek
Nou kom die werk ... haal die deksel af en dop hom om, jy wil die vog teen die deksel behou.

Nou begin jy daardie meel roer met die tweetand vurk. Dit vat so bietjie elmboog ghries. Aanvanklik gaan jy dink daar is hopeloos te min water. Moenie worry nie ... bly meng en roer en spoedig gaan jy sien dat dit sulke fyn krummels vorm en droë meel is weg. Sodra jy dit sien sit die deksel terug, mooi dig en los op die medium hitte vir so 15 minute.

Maak die pot weer oop en skud enige water van die deksel af terug in die pot in. Nou moet jy dit weer goed roer met die tweetand vurk en maak seker jy krap die bodem van die pot goed want daar mag nou al 'n harde korsie begin vorm het. Roer goed en werk vir 'n fyn egalige tekstuur.

Ja ek weet dis bietjie effort maar ons einddoel is om mieliepap op 'n bord neer te sit wat kan meeding in enige fancy omgewing.

Toets nou net vir SOUT ... onthou die meel is nog rou ... sprinkel ekstra sout oor as dit te vars is en roer in.

Maak die deksel dig toe, draai die plaat af na "low" toe. Hierdie pot moet nou vir 45 minute op die hitte bly. Na die eerste 15 minute verby is maak jy die pot weer oop, behou die vog teen die deksel en skud dit in die pap in. Roer weer baie goed maar nou moet jy die bodem nie skraap nie want die kors moet begin vorm.

Maak toe en los nou vir 30 minute.

Moenie die pot oopmaak nie want jy verloor stoom en dis wat die tekstuur veroorsaak en die pap gaar maak.

Heerlike fyn krummel pap
Op die einde maak jy die pot oop en gee weer 'n goeie roer met daai tweetand vurk. Nou is jou Krummel Pap reg. Fyn tekstuur en heerlik. Nou kan jy dit bord toe vat, jou keuse hoe ... 'n lekker hopie op die bord met 'n sousie of jy kan dit in a vormpie druk en opdien ... net soos jy wil.

Die beste deel van die pap ... jy maak 'n lekker vla met so knertsie rum of brandewyn in, skep van die pap in tot jy 'n stywerige mengesel het. Skep in bakkies en druip appelkoos en gemmer sousie oor dit en siedaar ... 'n sexy krummelpap en vla nagereg.

Hierdie pap kan nou ook in slaaie gebruik word in plaas van couscous.

Gebruik jou verbeelding met die pap en jy kan verrassende dinge in die poedingbakkies doen ... en dit alles van eenvoudige mieliemeel af.

Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook bladsy ... Man Kos ... like hom stukkend as jy wil.