Donderdag 10 Julie 2014

Pap - krummelpap kan stylvol wees

Pap, ja as 'n boerseun van pap praat dan praat hy van mieliepap en dis seker so eg Man Kos as wat iets kan wees ... ek praat nou van die manne van die Vrystaat, Natal, Hoëveld en Wes Transvaal ... dis mielie wêreld en pap is groot in die streke.

Ek is self 'n man wat op pap groot geword het en tot vandag nog is dit vir my asof die dag nie reg begin het as ek nie 'n lekker bak pap kan insluk nie.

Maar vanaand wil ek oor 'n spesifieke tipe pap skryf en nie oor pap in die algemeen nie. Soos ek al baie gesê het, my passie vir Boerekos loop diep deur my are en deesdae dink ek dit begin ook in my murg intrek. Ek is lief vir kos maak en ek lees en kyk na soveel kokke se werk as wat ek kan in pas.

Nou sit ek so en dink terwyl ek weer na 'n kookprogram op TV kyk en die ouens doen fancy dinge met polenta. Polenta ... vir my is dit maar net slap pap in een of ander vorm. Daar word couscous gebruik in slaaie ... ja ek weet dis 'n vorm van pasta, gemaak van durham wheat maar die tekstuur is maar baie na aan fyn krummel mieliepap.

Ek staan op en loop na my kombuis toe ... ek sal dit maak met mieliemeel, growwe braaipap meel. Ek het myself nog altyd gereken as 'n goeie papmaker en menige mense het al gefrons as ek my maat bekers uithaal om pap te maak ... maar ek lag maar net en gaan aan ... voordeel van maatbekers gebruik is dat jy elke keer presies dieselfde resultaat kry.

Mieliepap kom in drie basiese vorms voor ...

1. Stywe Pap - Gewoonlik maak mens dit vir 'n braai of as bykos as jy bredies of wors en sous maak. Ook baie lekker vir ontbyt. Die tekstuur is redelik kompak, amper soos mash potatoes. Dit kan egter heelwat verskil van kok tot kok.

2. Slap Pap - Die is gewoonlik vir ontbyt. Ek maak dit ook baie maal vir 'n laatnag snaxie.

3. Krummel Pap - Hier is daar baie variasies en weereens verskil dit van kok tot kok. Vir my kom krummelpap in variasies voor van waar die krummels omtrent so groot soos ertjie pitte is en af tot fyner as rys. Ek ken die ertjie grote tekstuur as Putu en die fyner as Krummelpap. Maar daar is baie wye beskrywings en benamings vir dit. Dis nie belangrik nie en sover dit my Man Kos aangaan is dit soos ek beskryf het.

Krummel pap ... elegant en smaaklik
Vanaand het ek 'n lekker kerrie skaapbredie in die pot en dis nou tyd om die stysel te maak. Eerste gedagte was koring en toe rys ... en toe sien ek die ding op TV en besluit net daar en dan dat goeie Boere Kerrie Skaap verdien 'n goeie Boere stysel.

Nou moet jy maar mooi lees en net so maak as jy dieselfde resultaat wil kry. Vir baie gaan my resep na waansin klink en dit gaan jou dalk erg laat frons ... maar glo my ... ek maak dit so en die fotos vertel die storie.

As mens pap maak dan moet jy tussen 80 en 160ml meel gebruik per persoon om jou porsies te bestuur. Dis nou goeie porsies maar groot manne kan maklik 240ml meel inskep. So die resep wat ek vannaand gaan beskryf sal vir jou genoeg pap gee vir 4 tot 6 mense.

Wat belangrik is om te onthou is dat ek gaan van koppies praat en dan bedoel ek 'n normale koppie van so ongeveer 240ml. As jy minder wil maak gebruik dan 'n kleiner koppie of bekertjie of glasie maar hou die verhoudings reg.

Die regte vurk
Jy het 'n goeie sterk tweetand vurk nodig.

Waarskuwing ... baie mense gaan die metode lees en sommer dadelik besluit dat dit teveel moeite is. Maar nouja dit is nie 'n maklike kits proses nie en die proses is spesifiek daarop gerig om hierdie Boerekos element van ons in die "fine dining" omgewing in te bring en glo my ... hy kan sy man staan.


Man Kos Krummel Pap
Bestandele:
1/2 Koppie water
1/2 Koppie melk (Jy kan die melk los en net water gebruik)
1 Eetlepel botter (Margarien as jy wil)
4 Koppies growwe braaipap meel - Ek gebruik Jan Pap Braaipap meel. Ek het nie die resep met fyn meel gedoen nie so ek weet nie of fyn meel gaan werk nie.
Sout na smaak.

Metode:
Meet jou meel uit in 'n houer, ek skep dit sommer in die pap pot se deksel.
Dis belangrik dat jy die meel afmeet voor jy begin.
Gooi die water, melk en botter in jou pap pot. Ek gebruik 'n gietyster pot op my gasstoof. Gooi 'n half teelepel sout ook in.

Reg vir die eerste roer
Jou plaat moet nou baie warm wees want jy wil die vloeistof vinnig laat kook.
Sodra die mengsel goed kook roer dit vinnig om die botter en sout te versprei.
Gooi nou die meel vinnig op 'n hoop in die pot in en maak die deksel dig toe.
Ja maak toe en moenie roer nie. Daardie hoop meel sal nou omring word deur die water.

Draai die gas nou af na medium toe.
Dis belangrik dat jy nou nie daardie deksel oplig nie. Die pot moet nou stoom opbou.
Laat staan die pot nou vir 5 minute.

Dis wat jy soek
Nou kom die werk ... haal die deksel af en dop hom om, jy wil die vog teen die deksel behou.

Nou begin jy daardie meel roer met die tweetand vurk. Dit vat so bietjie elmboog ghries. Aanvanklik gaan jy dink daar is hopeloos te min water. Moenie worry nie ... bly meng en roer en spoedig gaan jy sien dat dit sulke fyn krummels vorm en droë meel is weg. Sodra jy dit sien sit die deksel terug, mooi dig en los op die medium hitte vir so 15 minute.

Maak die pot weer oop en skud enige water van die deksel af terug in die pot in. Nou moet jy dit weer goed roer met die tweetand vurk en maak seker jy krap die bodem van die pot goed want daar mag nou al 'n harde korsie begin vorm het. Roer goed en werk vir 'n fyn egalige tekstuur.

Ja ek weet dis bietjie effort maar ons einddoel is om mieliepap op 'n bord neer te sit wat kan meeding in enige fancy omgewing.

Toets nou net vir SOUT ... onthou die meel is nog rou ... sprinkel ekstra sout oor as dit te vars is en roer in.

Maak die deksel dig toe, draai die plaat af na "low" toe. Hierdie pot moet nou vir 45 minute op die hitte bly. Na die eerste 15 minute verby is maak jy die pot weer oop, behou die vog teen die deksel en skud dit in die pap in. Roer weer baie goed maar nou moet jy die bodem nie skraap nie want die kors moet begin vorm.

Maak toe en los nou vir 30 minute.

Moenie die pot oopmaak nie want jy verloor stoom en dis wat die tekstuur veroorsaak en die pap gaar maak.

Heerlike fyn krummel pap
Op die einde maak jy die pot oop en gee weer 'n goeie roer met daai tweetand vurk. Nou is jou Krummel Pap reg. Fyn tekstuur en heerlik. Nou kan jy dit bord toe vat, jou keuse hoe ... 'n lekker hopie op die bord met 'n sousie of jy kan dit in a vormpie druk en opdien ... net soos jy wil.

Die beste deel van die pap ... jy maak 'n lekker vla met so knertsie rum of brandewyn in, skep van die pap in tot jy 'n stywerige mengesel het. Skep in bakkies en druip appelkoos en gemmer sousie oor dit en siedaar ... 'n sexy krummelpap en vla nagereg.

Hierdie pap kan nou ook in slaaie gebruik word in plaas van couscous.

Gebruik jou verbeelding met die pap en jy kan verrassende dinge in die poedingbakkies doen ... en dit alles van eenvoudige mieliemeel af.

Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook bladsy ... Man Kos ... like hom stukkend as jy wil.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Thank you for your comment. The comments on this blog are moderated and yours should appear soon.

Greetings
Colyn.