Wys tans plasings met die etiket Wors. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Wors. Wys alle plasings

Sondag 14 Januarie 2018

Wors - Nooit te oud om te leer nie

Ek het al 'n paar ManKos stories geskryf oor die braai van so paar snitte vleis ... vandag gaan ek oor wors praat. Boerewors is so eie aan Suid Afrikaners soos Olyfolie aan Italianers en bier aan Duitsers ... feitlik elkeen van ons weet presies wat Boerewors is. Meer belangrik, omtrent elkeen weet volgens hom, presies hoe mens wors moet gaar maak.

Lekker gebraaide wors
Die mees algemene idee is dat mens wors nie op te warm hitte moet sit nie want dan bars die vel. So tradisioneel word die wors altyd laaste op die vuur gesit waneer die kole al aan die afgaan is. Nou hier op die vuur is dan ook die plek waar die Braaimeesters hulle passies regtig uithaal en jy sien dinge wat jou of met afgryse vul of met verbystering na die manewales laat staan en kyk. Hierdie fiasco duur enigeiets van 15 minute tot 45 minute ... onthou daai vuur is aan die vrek en wors word basies gekook. Dan is daar nog die meesters wat die wors vol gate steek kwansuis om te keer dat die derm bars en jy staar met groot oë na die strale sappigheid wat op die reeds vrekkende vuur val.

Die resultate is altyd min of meer dieselfde ... 'n wurgdroog stukkie derm met vleis binne in, of so vaal gekookte derm met vleis in.

Maak die wors goed droog
Ek moet erken dat ek myself ook skuldig gemaak het aan baie van die bogenoemde praktyke.

So paar dae gelede kom ek op 'n video af wat deur Frans Blaauw van Namibië gemaak is. In hierdie video draai hy elke idee wat ek oor wors gehad het, behoorlik op sy kop. Die video is op my ManKos Facebook bladsy.

Frans maak die volgende stellings ...

1. Worsvel bars nie van die hitte nie maar van die sous wat in die wors gesit word. So chakalaka en sosatie wors sal geneig wees om te bars want die speserye en sous verswak die vel.

2. Swak derms is ook die rede dat die vel sal bars op die vuur.

3. As die wors self nat is kan die vel ook bars op die vuur.

Frans laat sy wors eers winddroog raak voor hy dit in die rooster toeknip.

Lekker warm vuur
Laastens sit hy die wors direk in die kole neer, so warm as moontlik. So twee tot 3 minute op 'n kant en dan af.

Ek sit so rukkie en dink oor wat ek in die video gesien het en stap kombuis toe. Ek haal 'n pakkie wors uit die vrieskas en sit dit op "Defrost" in die mikrogolf oond. Terwyl die proses aan die loop is gaan haal ek my toeknip roostertjie en maak die ding skoon.

Die wors is nou reg en ek skeur die pakkie oop. Natuurlik is die wors nou baie nat en ek besef dat winddroog nie gaan werk in die somer in die Laeveld nie en ek maak die wors mooi droog met handoek papier.

7 minute op die vuur
Ek rol die wors netjies op in die rooster en knip toe. Nou laat staan ek die rooster sommer so in een van die opwasbakke terwyl ek wag dat my braaier warm word. Ek braai al sedert 1986 op gasbraaiers en dit is my gekose manier van braai ... houtvure is vir atmosfeer sover dit my aangaan.

So 10 minute later is die braaier goed warm, nou nie heeltemal so warm soos waneer ek steak braai nie maar baie warmer as wat ek ooit so droom om wors te braai.

Ek sit die rooster op die vuur neer en kyk op my horlosie. Weldrae kan ek sien en hoor dat daar aksie is en ek lig die rooster vinnig op, braaimerke begin wys en ek sit die die rooster weer plat neer. Drie minute later dop ek die rooster om en tot my tevredenheid sien ek die wors is klaar gebraai op die een kant. Ek doen die tweede kant en na 7 minute is die wors op die bord.

Mompelend draai ek die gas toe en stap kombuis toe.

Poppie kyk verbaas na my ... "Is daai wors gaar ?"

"Ons sal maar sien, ek het vanaand Stefaans Blaauw se metode probeer."

Sappige wors op die bord
Wel, ek is hoog in my noppies ... die wors is goed gebraai en nie een enkele bars in die vel nie. Na die eerste poging besef ek dat ek die braaier nog warmer kan maak en die braaityd met so 2 minute kan sny.

En so gebeur dit dan hierdie ou brak 'n nuwe toetjie leer.

Die volgende oggend maak ek worsrolletjies vir die naweek en die oorskiet wors braai ek in die pan op die stoof. Weereens vat ek Stefaans se paadjie en maak daai pan hel warm. Ek sit die stukkies wors in en die rook trek. So 2 minute en ek draai die wors om ... die vel is reeds goed gebraai en ek glimlag. Vier minute later skep ek die wors stukkies op 'n bord en sit die gas af. Heerlik gebraai en sappig met weinig sous of vet in die pan ... alles het in die wors gebly.

Nouja ... probeer die manier gerus en dalk vind jy uit dat jy jou hele lewe lank wors verkeerd gebraai het ... in my huis gaan daar verseker baie meer wors op die tafel beland.


Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.

Woensdag 27 Julie 2016

Wors - Rolletjies is maklik

Hierdie is verseker Man Kos wat mans laat glimlag en dis ook iets wat menige man self kan maak. Ek is baie lief vir worsrolletjies maar o genade, die sooibrand vreet my gewoonlik daarna op. So ses jaar terug het ek net eenvoudig besluit ek koop dit gladnie, al lyk dit hoe aanloklik. Vir so kort rukkie laat dit my breed glimlag en dan skop die verwyte in en ek sweer nooit weer nie ... tot ek by die volgende oond verbyloop en die goed lê daar en wink vir my ... dan gee ek maar in en koop en die proses herhaal homself.

Heerlike Worsrolletjies
Onlangs ry ek af Kaap toe en vroegoggend stop ek by 'n Garage ... die worsrolletjies kom net uit die oond uit en dit lyk verruklik ... en ek swig ... jis dis mos nou al jare wat ek dit nie koop en miskien het my sisteem intussen verhard. Wel, dis wat ek gedink het ... en dit was verkeerd ... skuins voor sononder ry ek by my slaapplek in op Colesberg en die worsrol gool my steeds. Ek weet nie wat is dit met die goed nie, is dit die pasta wat hule as vleis aanbied of is die geurmiddels, miskien die bindmiddels maar ek gee eintlik nie om nie ... ek bak al vir omtrent 40 jaar my eie worsrolletjies en ek het nooit probleme met dit nie.

Plaas die wors op die deeg
Nouja, wat is my geheim wonder jy ... wel, daar is nie eintlik geheime nie. Eerstens maak ek seker ek gebruik 'n goeie wors ... wors is a persoonlike ding en elke man en elke slagter het sy gunsteling. Maak nou saak hoe jy dit bewerk nie, maak net seker dis 'n lekker wors waarvan jy hou.

Rol mooi styf.
Volgende het jy 'n pakkie gekoopte skilferkors deeg nodig en een eier.

Hou die wors in die yskas en laat die deeg sag word vir gebruik. Sodra jou deeg reg is, rol dit versigtig oop. As daar krake is, knyp dit toe met jou vingerpunte. Sprinkel nou met koekmeel. Vryf die meel mooi egalig oor die deeg en rol dit nou met jou koekroller. Die rol is belangrik en dit sal die krake nou regmaak.

Klaar gerol
Vat nou die wors en met skerppunt messie sny jy die dermpie oop en trek dit af van die wors af. Kyk nou op die fotos hoe jy die wors op die deeg sit.

Knyp die naat vas
Ek gebruik die plastiek waarin die deeg toegerol is om te help om die rolletjies te maak.. Sny nou die rolletjie af en rol om. Knyp die naat mooi vas en rol terug sodat die naat nou onder is. Nou kan jy die rolletjies in porsies sny. Deesdae deel ek die rol in drie stukkies. Dis lekker hanteerbare grootte. Twee vir mans oor die algemeen en een vir vrouens en kinders.

Plaas nou die rolletjies op jou bakplaat. Ek smeer die plaat met Cook and Spray. Spasieer mooi sodat daar genoeg plek is vir die rolletjies sodat hulle kan uitpof en nie aanmekaar raak nie. Sodra die pan vol is, sit in die vrieskas vir 30 minute.

Gereed vir die vrieskas
Kry jou oond nou ordentlik warm. 210C is waar ek bak en dis 'n waaier oond, so as jy nie 'n waaier het nie gaan op na 220C. Hierdie is baie belangrik, meeste mense bak hulle skilferkors by te lae temperatuur en dan pof die deeg nie en jy kry so taai laag deeg onder die rolletjie.

Reg vir die oond
Sodra jou oond reg is, haal die pan uit die vrieskas en verf nou die rolletjies mooi met 'n geklitsde eier. Ek sprinkel nou Robertson's se Chicken Spice bo-oor die eier ... jy kan enige braaispesery gebruik ... dis nie nodig nie maar ek hou van die ekstra bietjie smaak in die kors.

Goudbruin en lekker
Sit nou die pan in die oond op die rak in die middel en stel jou timer vir 20 minute. Omdat oonde geweldig verskil is die net 'n aanduiding. Jy wil hê die rolletjies moet mooi goudbruin wees. Sodra hulle die regte kleur het draai die oond af na 160C toe vir nog 10 minute. As jy nie 'n waaier oond het nie, draai af na 170C toe.

Hou dit nou dop dat dit nie brand nie. Die aanvanklike baie warm oond is geweldig belangrik vir 'n suksesvolle kors ... die botter in die deeg moet so vinnig moontlik baie warm word dat die stoom die lagies in die deeg kan los druk ... as jou oond te koud is (180C) ... gaan die botter smelt en die deeg pap maak en nie laat skilfer nie.

Ek weet daar is stories oor rou of gaar vulsel maar vir my is rou die regte pad want ek weet daar is niks vog wat my sausage roll se onderkant kan laat taai word nie en 30 minute in die oond is meer as genoeg tyd om gewone wors gaar te maak.

As jy baie dik wors gebruik kan jy een rolletjie middeldeur sny en kyk ... as hy nie heel gaar is nie, sit die oond af en los die rolletjies in die oond vir nog so 10 minute. Baie onwaarskynlik maar doen dit maar as jy onseker voel.

PS: ... Pasop vir goedkoop wors met 'n baie hoë vetinhoud. Dit gaan nie regtig werk nie. Ek gebruik gewoonlik een of ander SPESIALITY wors.


Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.

Sondag 08 November 2015

Wors - Lekker en Ekonomies

Baie mense wil weet hoekom lyk dit so maklik as ek kos maak en hoe kry ek dit reg om so goedkoop kos te maak. Wel daar is nie werklik 'n geheim in dit nie. Vir my is dit belangrik om net so rukkie te sit en mooi te dink oor wat wil jy regtig bereik met die dis wat jy maak.

Ek is op 'n missie om lekker kos te maak wat nie 'n groot klomp geld kos nie en wat voedsaam en smaaklik is. Ek probeer ook om die proses so maklik as moontlik te maak. 'n Groot probleem is om aanhoudend lekker kos vir net twee mense te maak sonder om te mors met bestandele.

Man Kos Wors Bredie
Vir my is 'n goeie sous altyd 'n goeie basis om 'n lekker maar ekonomiese dis te maak. Die internet is vol resepte oor wors bredies en ek is seker baie van julle het dit al gemaak of wil dit graag maak. Vandag gaan ek die storie vertel oor hoe ek myne maak.

Let wel, ek gebruik swart ysterpotte en is nie bang vir hitte onder my potte nie.

As jy wors gaarmaak is dit gewoonlik goed genoeg as jy begroot vir so 200 to 250gr rou wors per persoon. Vir my en my vrou koop ek gewoonlik pakkies wors van so tussen 400 en 500 gram.

Voor jy begin braai ... kry die volgende reg:
 (Die is vir twee persone)

1. 1 Blikkie Pitmielies, nie sweetcorn in room nie. (Gooi die vloeistof af)
2. 1 Blikkie tamaties in sous.
3. 4x Eiers
4. 2x Eetlepels botter (Ek gebruik varkvet)
5. 2x Eetlepels olie (Ek gebruik Canola)
6. 1x Ui grof gekap
7. 400 - 500gram boerewors.
8. 2x Eetlepels room - Opsioneel
9. 2x Eetlepels Koekmeel (Opgehoop - jy kan dalk ekstra nodig kry)

Geurmiddels soos ...
Braai speserye (Ek gebruik Robersons se Shizanyama mengsel)
Gemaalde swart peper
Chiliflakes
Worcestershire sous
Tamatiesous
1x Koppie koue water
1x Opgehoopte teelepel souspoeier (Ek gebruik Ina Paarman se Bruin Uie Poeier)

Sit die pot op die stoof, ja jy het reg gelees .... gebruik 'n pot, nie 'n pan nie ... en die plaat is nie warm nie. Gooi so een eetlepel water in die pot en sit die plaat op sy warmste. Ek gebruik gas.

Nou moet jy nie gaan staan en wegloop en ander dinge gaan doen nie. Hou jou oog op daai pot want dinge begin vinnig gebeur. Eerste gaan jy merk die water beging borrel en stoom en spoedig gaan die wors begin braai. Draai die wors gereeld om sodat dit egalig gaar word van buite af. Dis belangrik dat die wors begin braai in die pot sodat die vet begin uitbraai en dat die pot sulke stukkies begin bruinbraai. So moenie sommer die hitte afdraai nie tensy die wors begin brand, dit verskil van stoof tot stoof en dit verskil ook van pot tot pot. Ek gebruik die medium grootte brander van my stoof. Hoe warmer jy die wors braai hoe meer geur gaan jy kry.

Jy wil nie die wors doodbraai nie ... net genoeg sodat daar darem lekker braaiskille op die wors is en dat daar so eetlepel of wat se vet en sous uitgebraai het.

Nou moet jy vinnig speel ... haal die wors uit die pot uit en laat rus op 'n bord. Dis nou wat die wors heeltemal gaar gaan word.

Gooi die olie en botter in die pot in en roer goed, krap soveel as moontlik van die aanbrandsel los en gooi so knippie swartpeper en van die braaispesery in die olie. Gooi die uie in. Roer stadig en laat die uie braai totdat dit deurskynend begin raak.

Gooi nou die meel in en roer goed dat 'n pasta vorm in jou pot, jy kan nou die plaat afdraai na medium toe terwyl jy die pasta bly roer. Dit moet so twee minute geroer word om die meel ietwat gaar te kry. As jou vet en olie teveel is dat jy nie a pasta kry nie, gooi nog so bietjie meel by.

Draai die plaat op na hoog toe en wag so paar sekondes tot jy sien die hitte is nou erg. Gooi nou die koue water in en roer goed terwyl dit opborrel en stoom. Krap alles los van die pot se bodem af. Gooi die soouspoer in en roer sodat daar niks klonte is nie. Draai nou die plaat af na medium. Hier het jy nou die basis van 'n goeie sous wat sekerlik nog gladnie lekker gaan proe nie maar moenie worry nie ... dit gaan ons nog fix.

Gooi nou die blikkie tamaties met sous en al in en roer. Gooi die chili flakes, so blertsie Worcestershire sous en 'n blerts tamatiesous en een teelepel suiker in. Sit die deksel op en laat prut vir so 5 minute ... pasop vir aanbrand.

Terwyl die sous prut, sny die wors op in happie grootte stukkies. Doen dit in die bord sodat jy al die sap wat uitloop kan behou.

Gooi nou die pitmielies in die pot saam met enige sap wat uit die wors gekom het. Roer goed en breek maar die tamaties op. As die sous te dik is kan jy water of bier of cyder byvoeg om dit bietjie los te kry.

Sodra dit begin prut is dit tyd om te proe. Jy wil nou toets vir soet, suur en sout. Proe mooi, eerste wil jy proe of jy die soet kan proe. Sit bietjie suiker by as jy nie die soet kan proe nie ... jy moet fokus en konsentreer.

Sodra jy die soet proe ... soek nou die suur ... as jy dit nie kan proe nie, gooi a teelepel suurlemoen of asyn in. Proe tot jy die suur kan onderskei ... dis nou moeiliker want jy het ook die soet daar. Moenie worry nie, jy sal weldra leer hoe om te onderskei en te balanseer.

Laaste proe jy vir sout ... nou die een, is in die begin nie maklik nie ... ek skep 'n eetlepel sous, strooi so biejie sout oor en proe of dit verskil maak of nie ... so bepaal ek min of meer hoeveel sout ek moet ingooi.

Roer nou weer goed en roer die room in as jy wil, sit plaat op medium laag en breek die vier eiers versigtig in die sous in, elkeen in sy hoekie.

Sit die deksel op en laat prut stadig vir so 5 to 7 minute. Geen geroerdery nou meer nie.

Ek dien die dis op in 'n bakkie ... pak die wors stukkies onder in die bakkie en dan skep ek die sous/bredie bo-oor. Gebruik 'n lekker groot lepel sodat jou eerste skep die eier mooi vat. Twee eiers vir elke bakkie en dan nog so paar skeppies souserigheid. Laastens sit ek 'n skeppie roomkaas bo-op.

Hierdie is 'n basiese resep en jy kan geur soos jy daarvan hou. Jy kan sampioene byvoeg, soousboontjies, fyngekapte bacon ... net waarvoor jy lus is. Die hoofsaak is om a dik souserige bredie te maak.

Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.

Sondag 13 Julie 2014

Sous - moenie bang wees nie

As jy, soos ek, 'n Masterchef verslaafde is dan sal jy baie hoor die judges praat oor die sousies. Hulle noem dinge soos, "depth", "flavour", "consistency" en nog so paar ander dinge ... maar die meeste keer praat hulle oor "depth".

In Boerekos word daar baie verwys na 'n LANG sous. Een van die eerste dinge wat ek gaan ondersoek het toe ek besluit het dat my MOERBY KOK dae is verby, was die ding oor souse. 'n Lekker sous kan 'n baie gemiddelde bord kos oplig na groot hoogtes toe.

Matt Preston van Masterchef sê baie ... "All I want now is piece of bread to mop up that wonderful sauce." ... en dan glimlag hy van oor tot oor.

Vandag gaan ek probeer om vir julle te wys hoe mens jou eie sous maak sonder om pakkies sop of lepels vol poeiers te gebruik. Ons gaan reg in die begin begin en ek gaan jou stap vir stap wys hoe maak ek 'n sous waaroor die Manne gaande raak en die vrouens lek hulle lippies af.

Wors in koue pan
Ek gaan begin met 'n baie eenvoudige ding, iets wat ons almal baie maak ... wors in 'n pan. Wees gewaarsku, hier is baie fotos.

Heel eerste gaan ek sommer ook wys hoe ek wors gaar maak op die stoof. Ek begin deur my getroue ou ysterpan nader te trek ... pak die wors mooi in die pan en gooi so 3/4 koppie koue water in. Let wel die pan is yskoud.
Water by en pan word warm

Nou sit ek die gas op sy hoogste en relax.

Sodra die water goed kook begin ek die wors draai, as dit buig dan gee ek dit meer hitte op die rugkant sodat dit reguit kan trek ... ek hou niks van krom worse nie. Sodra die water weggekook het draai ek die gas af na medium toe, ek wil nie die pan verbrand nie maar wil die wors braai.

Wors begin braai
Jy moet baie seker maak jy BRAND nie die pan nie want dan gaan jou sous bitter wees.

Twintig minute later is die wors lekker bruin gebraai en daar is lekker vet en aanbrandsels onder in die pan. Nou skep ek die wors uit in a bakkie in, Moenie die hitte afdraai op die pan nie.

Wors klaar gebraai
Nou kyk ek in die pan, kantel hom en skat hoeveel eetlepels vet is in die pan ... jy soek tenminste een eetlepel en 'n bietjie. As daar te min vet is, gooi 'n eetlepel botter by en laat dit smelt. Nou gooi jy twee opgehoopte eetlepels koekmeel in die pan. Gebruik 'n metaal lepel en roer goed, krap soveel van die brandsel los van die pan bodem af en meng met die meel wat nou so pasta begin vorm. Die chefs noem dit die maak van 'n "rue".

Wag vir die sous
Laat die pasta vir een minuut kook in daardie warm pan. DIs belangrik om te keer dat jy 'n meel smaak in jou sous het. Gooi nou een koppoie koue water in die pan. Dit behoort te borrel en stoom laat dit bars ... dis wat hulle noem "deglazing" ... werk daai pan met jou lepel en skraap elke brokkie lekkerte los van die pan bodem af.

Nou begin die sous
Die storie lyk maar redelik onooglik en smaak verseker gladnie goed nie. Sodra jy al die lekkerte los het van die pan bodem af, gooi nog 'n koppie koue water in ... nou gaan die storie eers sleg lyk maar moenie worry nie ... bly maar net roer, ek smeer die paste met die agterkant van die lepel teen die pan bodem om die klonte weg te kry. Soos die hitte opkom sal jy sien die sous begin lyf kry.

Omtrent so 4 minute later begin dit nou na 'n ordentlike sous lyk en dit moet moet regtig sterk borrel. Bly net roer met jou lepel, amper asof jy beslag meng ... daar kan nou ook skuim begin vorm maar hou net aan met roer ... die skuim word veroorsaak deur die vry water wat afkook.

Meel in
Op ongeveer 5 minute gaan jy skielik sien die sous kom bymekaar en lyk nou soos 'n regte sous. Dis nou die tyd wat jy die eerste keer proe. Hierdie is belangrik want jy moet nou uitvind wat is daar. Myne proe maar gaggas op hierdie stadium maar ek proe wat daar is, veral of daar genoeg sout is.
Pasta vorm

Lyk nie baie goed nie
Nou gooi ek een eetlepel elk van die volgende in ... tamatiesous, blatjang, Worcestershire sous .... roer goed deur en draai die plaat nou af na LOW toe ... die sous moet nou prut. Nou met jy weer proe ... en konsentreer op wat jy proe ... jy wil 'n balans hê van SOET, SUUR, SOUT ... jy is nou so 10 minute besig met die sous. Jy bly proe tot jy al daardie elemente kan onderskei ... dit vat so bietjie oefening ... later gaan jy dit sommer alles in een proe onderskei maar in die begin moet jy jou smaak masjien eers oefen en fyn tune.
Nou begin dit sous word

Belangrik ... as jy voel die SUUR uit die tamatiesous, chutney en Worcestershire sous is nie genoeg nie kan jy bietjie asyn, wyn of suurlemoen insit. Onthou net, suiwel en citrus hou nie van mekaar nie en kan jou sous laat skif ... so as jy room, kaas of botter wil bysit, bly weg van die citrus af.

Nou is dit tyd om jou sout balans reg te kry en jy moet maar strooi, roer en dan proe, fokus nou op die sout ... onthou sout verbreed die smaakprofiel en al die ander goed gaan nou sterker begin uitkom soos jy die sout by sit.

Kook lekker vinnig
Laaste soek ons die SOET ... ek skep 'n teelepel sous ... strooi suiker oor en proe of dit verander ... dis hoe ek bepaal hoeveel suiker ek gaan ingooi ... deur op die teelepel te proe kry jy vinnig 'n idee of jy in die regte rigting gaan. Strooi nou suiker oor die sous, jy kan heuning of konfyt ook gebruik maar pasop net want dit kan die ander balanse ook affekteer ... ek hou by wit of bruinsuiker op die stadium.

Nou behoort jy 'n sous te hê waar jy die SOET, SUUR en SOUT goed kan proe sonder dat die een die ander oorweldig.

Nou is die tyd wat jy kan besluit waarheen jy wil gaan ... as jy sampioene wil insit, doen dit nou ... ek het gemaalde swartpeper ingesit.
Sous is reg

Sampioene gaan heelwaarskylik veroorsaak dat jy so bietjie water moet bysit, gebruik kookwater nou. Jy sal ook die sout moet aanpas.

Jy kan ook besluit jy gaan die uie en tamatie pad vat, dan moet jy nou uie wat sag gekook is ingooi en geblikte tamaties ... onthou net as jy tamaties insit moet jy dalk weer die soet en sout bietjie aanpas. Geblikte tamaties se smaak balans is gewoonlik reg.
Al die lekkerte is uit

As jy kaas kant toe wil gaan kan  jy nou 'n koppie gerasperde kaas vat, in 'n bakkie so opgehoopte teelepel mielieblom (Maizina) oorgooi en goed meng dat die kaas 'n goeie lagie mielieblom kry en dan gooi jy dit in jou sous. Dit is belangrik om 'n lekker kaassous te maak.

Laat prut nog so 2 minute tot jy sien die sous se dikte is reg.
Tafel toe

Op die einde kan jy nou so een eetlepel botter inroer of twee eetlepels varsroom ... my wors het genoeg vet ingehad so ek het dit nie gedoen nie.

En 15 minute later het jy 'n sous wat enige judge gaan laat regop sit ... geen storie van "lack of depth" nie. Die is nou 'n lang sous so uit 'n boek uit.

Hier het jy nou jou eie sous van "scratch" af gemaak sonder pakkies en botteljies. Jy weet wat daar in is en jou gaste gaan almal vra hoe jy dit doen. Jou antwoord ... MET LIEFDE.

Eenvoudig maar lekker
So bietjie advies ... as jy 'n ete met hoender gaan maak ... doen presies dieselfde maar in plaas van die wors te braai, braai vlerkies in die pan en laat dit maar ordentlik uitmekaar val, haal net die beentjies uit voor jy jou meel ingooi. Jy sal moet botter bysit want die vlerkies gaan nie genoeg hoendervet afgee nie. Ek gebruik hoender hartjies vir die basis.

As jy beesvleis of steak doen ... kry sou paar repies brisket en begin die sous deur die brisket uit te braai.

Ek hoop regtig jy gaan nou meer moed hê om liewer jou eie sous te maak as om pakkies te gebruik.

Hierdie is een van die redes hoekom ek so sterk voorstander is van net drie elemente op 'n bord ... dit gee my die tyd om lekker sousies te maak.

Lekker kook tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook bladsy ... Man Kos ... Like hom stukkend as jy wil.

Maandag 21 April 2014

Wors - 'n Boerie moet mos lyf hê

Sit ek so en kyk na die Kokkedoor 2014 program en hulle maak kos by die landbouskou. Nou kyk, moenie my verkeerd verstaan nie, ek besef dat hulle ou gunstelinge nuwe baadjies aantrek en so bietjie meer kultiveer. Maar nouja, vir my is 'n boerewors rolletjie (Boerie in die volksmond) baie meer as 'n pikante happie.

Soos ek al baie gesê het, ek maak Man Kos ... Man Kos wat vrouens ook like.

Alles wat nodig is
As dit by die Boerie kom dan kan ek liries raak. Die Yankees het hulle Hot Dogs en hulle maak TV shows daaroor ... ons het die Boerie en vir my is dit ook iets om 'n Show van te maak.

Lekker uie sousie
Heel eerste ... ek soek nie die poefter rolletjies nie, nee man, geen boerewors wat sy sout werd is gaan met oorgawe in die verpiepte rolletjies in nie. Daar is altyd een of ander probleem. Of die rolletjie staan so skewe bek en met die eerste byt val daar dinge op die grond of die rolletjie verkrummel en los jou met sop en sous teen jou wange af en oor jou vingers. Of hy lyk so mooi opgehoop en "dressed to kill" op die bordjie maar as jy aan hom vat dan gaan dinge "sideways."

Reg vir die Boerie
Nee ... gee vir my 'n rolletjie wat sy man kan staan teen die boerewors. Vir my is die Ciabatta rolletjies die beste. Ek koop hulle by My SPAR of ek maak hulle self.

Eerstens het die Ciabatta 'n ordentlike kors wat die Boerie kan bymekaar hou.
Tweedens kan jy die sagte binnekant uithaal en dan eindig jy met 'n lekker houer vir die sousies en ander aangenaamhede.

Riffelpan met water
Hoekom raak ek nou so langdradig ... wel vir my is 'n Boerie meer as net 'n Hap en Stap storie ... vir my is 'n Boerie 'n ete op sy eie.

Volgende kom ons by die wors. Nou hier is ek ook sommer vol stront as dit by die Boerie se vernaamste komponent kom. Jis man hoe de hel wil jy so krom wors in 'n reguit broodjie sit. Maak mos nie sin nie ... veral nie as jy ernstig is oor jou boerie nie.

Mooi porsies
Die proses begin by die braai van die wors. Die oorgrote meerderheid braaiers gooi mos daai hele rol so op die vuur of in die pan en dan flip hulle hom soos en wanneer nodig. Pure luiheid in my boekie ... pure luiheid sê ek vir jou. Dis mos maklik om daai hele rol mooi te vat en om te draai. Ja dis maklik en jy kry 'n wors met twee gebraaide kante en as jy dit meer as net die twee kante wil hê dan word die wors droog gebraai. Verder as dit dan by die sny kom dan word die laaste ou bietjie voggies ook uitgetap en hoe nader jy aan die binnekant van die spiraal kom, hoe krommer is die wors.
Reguit en vaal 
Lekker sappig

Ek haal die wors uit die pak uit ... trek hom versigtig reguit en masseer hom so bietjie om die reguitmaak meer ontspanne te maak. Dan sny ek die wors om te pas by my broodjies.

Volgende ... en nou is ek nie by 'n braai vuur nie ... sit ek my vierkantige riffelpan op die stoof en gooi koue water onder in die pan sodat net die riffels uitsteek.

Dan sit ek die wors in ... altyd eerste op die gebuigde kant onder. Dis hoekom ek die riffelpan like want jy kan die wors balanseer tussen die riffels. Moenie worry oor die twee punte wat nou effens op wys nie ... sodra die hitte kom gaan die vel begin krimp en die wors reguit trek.

Hol die broodjie uit
Nou sit ek die pan op medium hitte en ek staan wag by daardie pan. Op my stoof is dit genoeg om te braai maar jy kan dal k meer hitte nodig kry. Spoedig begin die water kook en stoom en jy begin ook vetjies sien. Hou hom mooi dop en sodra die wors mooi reguit getrek het, rol hom om. Spoedig is die water weg en die hele wors is vaal. Nou wil jy net so bietjie braaimerke op die wors kry en dan moet dit uit die pan uit. As jy sien dit vat te lank, gee hom gas. Hoe langer jy die wors op die hitte hou, hoe meer smaak gaan jy verloor.

Gedurende die rusproses sal die wors deur gaar word maar steeds lekker sappig wees.

Gooi die sousie in
Nou sit ek van my vulsel/sous in die holte in die Ciabatta. Volgende plaas ek so bietjie ander goedjies by soos gekapte tamatie, avo, kaas ... net waarvan jy hou. Chutney, rissiesous, tamatiesous, mosterd ... almal gewilde keuses.

Vou die Ciabatta toe en siedaar ... lekker ou Boerie toegevou in die perfekte jassie. Nou kan jy maar eet en vrolik wees. Na so een gaan jy verseker nie meer honger wees nie en dis nou regte Man Kos vir my.

En daar is hy ... Man Kos
Nouja ek hoop jy gaan my Boerie met Muscle probeer.

Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Blad.




Man Kos wat vrouens ook like