Woensdag 27 Julie 2016

Wors - Rolletjies is maklik

Hierdie is verseker Man Kos wat mans laat glimlag en dis ook iets wat menige man self kan maak. Ek is baie lief vir worsrolletjies maar o genade, die sooibrand vreet my gewoonlik daarna op. So ses jaar terug het ek net eenvoudig besluit ek koop dit gladnie, al lyk dit hoe aanloklik. Vir so kort rukkie laat dit my breed glimlag en dan skop die verwyte in en ek sweer nooit weer nie ... tot ek by die volgende oond verbyloop en die goed lê daar en wink vir my ... dan gee ek maar in en koop en die proses herhaal homself.

Heerlike Worsrolletjies
Onlangs ry ek af Kaap toe en vroegoggend stop ek by 'n Garage ... die worsrolletjies kom net uit die oond uit en dit lyk verruklik ... en ek swig ... jis dis mos nou al jare wat ek dit nie koop en miskien het my sisteem intussen verhard. Wel, dis wat ek gedink het ... en dit was verkeerd ... skuins voor sononder ry ek by my slaapplek in op Colesberg en die worsrol gool my steeds. Ek weet nie wat is dit met die goed nie, is dit die pasta wat hule as vleis aanbied of is die geurmiddels, miskien die bindmiddels maar ek gee eintlik nie om nie ... ek bak al vir omtrent 40 jaar my eie worsrolletjies en ek het nooit probleme met dit nie.

Plaas die wors op die deeg
Nouja, wat is my geheim wonder jy ... wel, daar is nie eintlik geheime nie. Eerstens maak ek seker ek gebruik 'n goeie wors ... wors is a persoonlike ding en elke man en elke slagter het sy gunsteling. Maak nou saak hoe jy dit bewerk nie, maak net seker dis 'n lekker wors waarvan jy hou.

Rol mooi styf.
Volgende het jy 'n pakkie gekoopte skilferkors deeg nodig en een eier.

Hou die wors in die yskas en laat die deeg sag word vir gebruik. Sodra jou deeg reg is, rol dit versigtig oop. As daar krake is, knyp dit toe met jou vingerpunte. Sprinkel nou met koekmeel. Vryf die meel mooi egalig oor die deeg en rol dit nou met jou koekroller. Die rol is belangrik en dit sal die krake nou regmaak.

Klaar gerol
Vat nou die wors en met skerppunt messie sny jy die dermpie oop en trek dit af van die wors af. Kyk nou op die fotos hoe jy die wors op die deeg sit.

Knyp die naat vas
Ek gebruik die plastiek waarin die deeg toegerol is om te help om die rolletjies te maak.. Sny nou die rolletjie af en rol om. Knyp die naat mooi vas en rol terug sodat die naat nou onder is. Nou kan jy die rolletjies in porsies sny. Deesdae deel ek die rol in drie stukkies. Dis lekker hanteerbare grootte. Twee vir mans oor die algemeen en een vir vrouens en kinders.

Plaas nou die rolletjies op jou bakplaat. Ek smeer die plaat met Cook and Spray. Spasieer mooi sodat daar genoeg plek is vir die rolletjies sodat hulle kan uitpof en nie aanmekaar raak nie. Sodra die pan vol is, sit in die vrieskas vir 30 minute.

Gereed vir die vrieskas
Kry jou oond nou ordentlik warm. 210C is waar ek bak en dis 'n waaier oond, so as jy nie 'n waaier het nie gaan op na 220C. Hierdie is baie belangrik, meeste mense bak hulle skilferkors by te lae temperatuur en dan pof die deeg nie en jy kry so taai laag deeg onder die rolletjie.

Reg vir die oond
Sodra jou oond reg is, haal die pan uit die vrieskas en verf nou die rolletjies mooi met 'n geklitsde eier. Ek sprinkel nou Robertson's se Chicken Spice bo-oor die eier ... jy kan enige braaispesery gebruik ... dis nie nodig nie maar ek hou van die ekstra bietjie smaak in die kors.

Goudbruin en lekker
Sit nou die pan in die oond op die rak in die middel en stel jou timer vir 20 minute. Omdat oonde geweldig verskil is die net 'n aanduiding. Jy wil hê die rolletjies moet mooi goudbruin wees. Sodra hulle die regte kleur het draai die oond af na 160C toe vir nog 10 minute. As jy nie 'n waaier oond het nie, draai af na 170C toe.

Hou dit nou dop dat dit nie brand nie. Die aanvanklike baie warm oond is geweldig belangrik vir 'n suksesvolle kors ... die botter in die deeg moet so vinnig moontlik baie warm word dat die stoom die lagies in die deeg kan los druk ... as jou oond te koud is (180C) ... gaan die botter smelt en die deeg pap maak en nie laat skilfer nie.

Ek weet daar is stories oor rou of gaar vulsel maar vir my is rou die regte pad want ek weet daar is niks vog wat my sausage roll se onderkant kan laat taai word nie en 30 minute in die oond is meer as genoeg tyd om gewone wors gaar te maak.

As jy baie dik wors gebruik kan jy een rolletjie middeldeur sny en kyk ... as hy nie heel gaar is nie, sit die oond af en los die rolletjies in die oond vir nog so 10 minute. Baie onwaarskynlik maar doen dit maar as jy onseker voel.

PS: ... Pasop vir goedkoop wors met 'n baie hoë vetinhoud. Dit gaan nie regtig werk nie. Ek gebruik gewoonlik een of ander SPESIALITY wors.


Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.

Maandag 25 Julie 2016

Maalvleis - Kool Frikkadelle

As daar nou een ding is wat waar is, dan is dit dat sekere geregte 'n mens onwillekeurig laat terugdink aan tye lank gelede. Kool Frikkadelle is een van daardie dinge ... dis iets wat stapelkos in ons huis was toe ek baie jonk was. Soos menige ander Afrikaners van daardie tyd, het ons dit nie breed gehad nie en my ma het wonderwerke in die kombuis verrig om kos op die tafel te sit. Hierdie is 'n Man Kos gereg waarvan meeste vrouens ook sal hou en die manne kan dit vir seker self maak.

Kool Frikkadelle
Kool Frikkadelle was een van die luukshede want vleis was skraps en sy het elke stukkie gerek tot by breekpunt. Soos die jare aangestap het, het die kool frikkadelle minder geword en feitlik heeltemal verdwyn.

Weeg die balle af
Soos die jare verbygegaan het was daar momente waar ek na die gereg verlang het maar my ma is dood en ek het geen idee gehad hoe sy dit gedoen het nie. Toe so tydjie terug sit en kyk ek na 'n Homestead Cooking video en die vrou maak iets soortgelyks, ek gaan nie praat oor wat sy ingesit het nie maar sy het mooi verduidelik hoe jy die koolblare moet hanteer. Wel ek ken my pad om en deur 'n pakkie maalvleis so die koolblare hantering het my kop aan die werk gesit. En toe op kouerige Laeveld middag besluit ek dat dit nou die tyd is vir Kool Frikkadelle. Ek het SPAR toe gery en gaan kool soek vir die taak.
Heel koolkop

Kook die blare
Hier volg die proses nou wat ek gevolg het. Eerstens het ek my maalvleis mengsel gemaak vir die frikkadelle en ek het 'n koppie vol gewone BRAN (Semels) by die 900 gram maalvleis gevoeg. Dit verhoed dat die frikkadel toeslaan soos my ma sou gesê het. Nou hier is stukkie advies, maak nou nie saak hoe jy jou frikkadel mengsel voorberei nie, vat 'n klein pannetjie en braai 'n klein pattie van die maalvleismengsel ... proe mooi ... dis baie beter om dit goed te laat smaak voor jy frikkadelle begin maak. Wees ook maar versigtig met sout want die meeste van die spesery mengsels wat beskikbaar is, is reeds goed sout. Ek sit altyd heel laaste die sout in.

Mooi toegedraai en in die pot
Nou maak ek die frikkadelle en vir my het ek op 150gram balle besluit ... dis 'n goeie porsie. Daar is 'n goeie rede hoekom ek die goed afweeg ... dit verseker dat almal eweredig gaar word.

Terwyl ek die frikkadelle maak laat kook ek solank 'n groot pot water met sout in. Nou maak ek die koolblare mooi los van mekaar af en as die blaar dik stingels het, stel ek voor jy sny dit uit want die dik stingels gaan verhoed dat jy die blaar mooi kan vorm om die frikkadel.

Klaar gaar
Gooi nou die los blare in die kookwater en sit die dekseel op ... jy moet elke minuut toets of die blare al sag word. Moenie dit teveel kook nie ... jy wil net hê dat die blare kan buig sonder om te breek. Sodra dit begin sag word haal die pot van die stoof af.

Lig die blare nou versigtig uit met 'n tang en pak hulle uit op 'n snyplank of in 'n bakplaat. Dit moet uit die kook water uit want anders gaan dit pap word.

Op die bord ... koningskos
Nou begin die pret, vou elke frikkadel mooi toe, dit kan meer as een blaar neem, afhangend van hoe groot jou koolblare is. As hy mooi toegerol is, druk hom versigtig mooi styf, sodoende pers jy ook die oortollige water uit. Pak die frikkadelle in 'n gepaste oondvaste bak.

Maak nou vir jou genoeg stock aan om die frikkadelle so halflyf te bedek. Ek gebruik Ina Paarman se Vegetable Stock en gooi so twee teelepels Bisto by.

Nou sit jy die deksel op en in die oond teen 160C vir 40 minute.

En daar is dit ... heerlike kool frikkadelle ... 'n dis wat jy maar gerus vir die "fancy" gaste ook kan opskep sonder om skaam te voel. Jy kan jou verbeelding op loop sit met die balle wat jy in die koolblare gaan sit ... hoender, vark, bees, skaap ... mengels van vleis en rys, of koring of selfs mieliepap, gekapte ommelet of roereiers ... raak waaghalsig. Dis 'n goeie plan om baie oorskiet nuttig aan te wend.
Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.

Vrydag 15 Julie 2016

Biltong - Maak dit self

Biltong ... dis byna 'n towerwoord vir Suid Afrikaners en daar is legendes oor die maak en gebruik van biltong. Wintertyd was tradisioneel biltongtyd maar moderne tegnologie het daardie duidelike seisoen heeltemal laat vervaag. Die rewolusie het al in die 70's begin toe slagters besef het hulle kan die proses ontkoppel van seisoene deur waaiers in hulle koelkamers in te span.

Mellerware kassie met Springbok biltong
Deesdae is daar nie meer baie mense wat hulle eie biltong maak nie want billtong is orals vrylik beskikbaar. Wat die kwaliteit aan betref ... wel dis heeltemal 'n ander storie ... sommige aanbiedinge is werklik 'n klad op die naam biltong.

Ek is 'n biltong verslaafde gewees en vir baie jare was daar altyd 'n houtbak met biltong in my kantoor. Natuurlik moet biltong so lekker strokie vet ook aanhê anders is dit nie regtig biltong vir my nie. Toe tref 'n ramp my so 3 jaar terig en my tande gee die gees. Vir bykans twee jaar was ek in konstante pyn en ongerief met mond en kaak infeksies en my biltong etery het afgeplat en vervaag.

Gelukkig kom ek toe te hore van 'n wonderlike tandarts en na 'n "makeover" van formaat is ek weer slaggereed vir alles wat gekou moet word.

Sirloin Steak in die pekel
Vreemd genoeg kon ek nie regtig weer vat kry aan biltong nie en dit was so met geleenthede dat ek so bietjie gekou het. Toe op 'n dag vertel my vriend Marcelle my van sy biltong makery en wys my 'n foto van sy biltong kassie. Toevallig het my oudste seun so paar jaar terug vir my so kassie gegee vir Kersfees en die boksie lê in my stoorkamer ... daar gesit en daar gelos want ek was nie in die bui vir biltong nie. Marcelle het my egter aangesteek en ek begin toe rondkyk.

In die verre verlede het ek altyd vir my skoonpa die wild en bees biltonge gesny en gemaak as dit slagtyd was op die plaas en ek is nogal handig en vaardig met dit.

Steak in die kassie
So stap die dae verby en ek sien op 'n dag 'n artikel op Facebook van 'n man wat begin het om sy eie biltong te maak. Toevallig gebruik hy dieselfde Mellerware kassie en ek besluit ... nou of nooit. Hy gee toe ook die besonderhede van die befaamde Stefaans Blaauw se speserye resep.

My eerste poging was met 'n Springbok boud wat ek as geskenk gekry het. Eerste sit ek die kassie aanmekaar en die boer in my frons, die dingetjie lyk maar tingerig. Maar nouja, ek is begeesterd en bereid om alles een keer te probeer. Ek slaan egter 'n wasgoed draadrak op in 'n spaarkamer en sit die waaier reg ... net ingeval die Mellerware kassie faal.

Lekker Biltong
Wel die kassie het my beindruk ... feitlik geruisloos en so in sy stille enigeheid staan hy daar op die kombuiskas en doen sy ding. Drie dae later toe is dit smultyd. Ek was gehaak. Met nuwe begeestering sleep ek in dorp toe om te gaan biltong vleis soek ... wild is lekker maar niks is beter as 'n lekker sagte beesbiltong met so strokie vet aan nie ... dis mos ware biltong. Wildsbiltong is proviand, beesbiltong is koningskos.

My SPAR verkoop sulke grootmaat pakke Sirloin en die prys is goed. Ek staan vir 'n wyle en wik en weeg besluit toe maar ... probeer dit een keer.

Wel ... wat 'n wonderlike resultaat. Die Mellerware kassie doen sy ding en by dag drie sit ek met biltong wat net die regte graad van droog het vir my. Ek het gladnie die gloeilamp in die kassie gesit nie.

Ek dink nie ek sal sommer weer biltong koop nie ... ek is moeg vir die ewige angs of die goed nie teveel sout op het nie en of daar een of ander vreemde spesery ingesluip het nie. Die Sirloin biltong is lekker porsie grootte vir my en hulle pas mooi in die toebroodjie ziplock sakkies in die vrieskas. Ja ek vries my biltong want ek hou niks van houtdroog bees biltong nie.

Met die wildsbiltong het ek met 3.6kg vleis begin en 1.3kg biltong gekry. Met die bees het ek met 2.1kg begin en 1.4kg biltong gekry. Dit behoort jou 'n idee te gee van wat die vleis jou werklik kos.

Hier is Stefaans Blaauw se resep:

Biltong Stefaans Blaauw
Ingredients:
For every 1kg meat – mix the following spices:
18 grams salt
2 grams black pepper
1 gram brown sugar
4 grams coarse coriander
Worcestershire sauce
Method:
1. Sprinkle meat with spice mix and Worcestershire sauce alternatively. Use the Worcestershire sauce sparingly.
2. Let it rest for 12 hours and mix well again.
3. Let it rest for another 12 hours and hang in well ventilated room or in front of the fan, or in a Biltong Cabinet WITHOUT WARM AIR!



Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.

Sondag 10 Julie 2016

Snaxie - Lekker gesonde gummies

Passion Fruit en Muskadel
So tydjie gelede lees ek op 'n webtuiste, waar huiskokke kuier, van die vrou wat "gums" maak vir haar kinders, Wat my meer fasineer is die feit dat sy die "gums" versterk met verskeie vitamines en minerale. Sodoende kry die kinders hulle aanvullings so kou kou in sonder stories. Wel ek het gelees en gelees en hoe meer ek lees hoe meer kom ek agter dat daar letterlik honderde gebruike is vir die eenvoudige "gums".

Apple Sauce en Magnesium
Nouja, Man Kos is mos daar vir die manne en dit gaan oor die kos wat manne kan maak en soms, net soms dan is dit dieselfde kos waarvan vrouens ook hou. Vandag gaan dit oor lekkergoed wat mans kan maak en die kinders gaan dit baie geniet.

Daar is min bestandele en min skottelgoed en binne so uur of wat kan dit geniet word.

Die proses bestaan daaruit dat jy 'n vrugte mengsel maak, dan voeg jy die aanvullings in en dan die gelatien. Die gelatien word baie sterk gemaak sodat die goedjies "gums" kan wees en nie slap jellie goedjies nie.

Hier is die basiese resep.

Bestandele:
1/2 Koppie koue water
1/2 Koppie kookwater
1/2 Koppie vrugte pulp
1 Knippie sout
1 Eetlepel heuning
3 Eetlepels ongegeurde gelatien

Dit is die basiese bestandele wat ek in al my "gums" gebruik.

Metode:
Eerste taak is om te besluit watter vrugte pulp jy wil gebruik.

Die volgende vrugte is nie geskik vir gummies nie want dit skei 'n ensiem af wat keer dat die gelatien stol.
1. Pynappel
2. Vye
3. Guava
4. Kiwi
5. Papaja
6. Gemmer

Al die bestandele
Ek het gebottelde Apple Sauce gebruik, vars Grenadella en bevrore Raspberries in die drie wat ek gemaak het. Die opsies is wyd en jy kan eksperimenteer na hartelus. Ek het die bessies tussen my vingers stukkend gedruk want ek wou die tekstuur behou en nie met 'n voedselverwerker verpulp nie. Weereens, dis jou keuse hoe jy dit doen.

Vrugte Pulp
Meng die pulp en heuning goed saam. Jy kan self besluit of jy meer of minder heuning in wil gooi. Dis belangrik dat jy jou mengsel proe en staatmaak op jou smaak om jou te lei. Sout doen wondere om smaak te verbeter. As jy tevrede is met jou pulp se smaak dan gaan jy verder.

Kook solank jou ketel water.

Ek gebruik die mini pannetjies
Voeg nou die gelatien by die 1/2 koppie koue water en roer maar moenie klits nie. Los dit nou dat die gelatien kan "bloom". Dit vat so minuut of twee. Sodra dit in a pasta verander het met geen sigbare "los" water nie, gooi dit by die pulp. Roer versigtig, probeer die mengsel mooi glad te kry sonder baie borrels. Voeg nou die 1/2 koppie kookwater by en meng goed.

Indien daar skuim gevorm het kan jy dit afskep.
Gelaai met Vitamine C

Nou het jy alles klaar en kan jy die mengsel in vormpies giet of eenvoudig in 'n glashouer giet. As jy die glashouer gebruik dan sny jy die gummies in blokkies nadat dit gestol het ... dis maklike en vinnige manier.

Sit in die yskas vir so sestig minute om te stol.

Aanpassings:
Passion Fruit
Ek het 2 Teelepels Magnesium poeier saam met die Appel Sous gebruik. Hierdie mengsel is baie goed vir kinders om hulle te help om rustiger te slaap. Pasop net vir teveel op 'n slag want die Magnesium help ook om hardlywigheid te voorkom. My seun gee een so gummie vir sy dogtertjie voor sy gaan slaap.

Saam met my Grenadella Gummies het ek 2 teelepels Vitamine C poeier gesit. Pas net op, die vitamien poeier maak baie skuim. Jy moet dit maar tyd gee om te settle voor jy die gelatien aanmaak.

Ek het ook Passion Fruit gebruik en 'n kwart koppie Muskadel bygegooi. Dit was baie lekker.

Soos ek reeds gesê het, die opsies en die mengsels is onbeperk. Eksperimenteer ... dis nie a duur proses nie maar dit kan 'n klomp pret wees.

Wine Gummies
Ek het ook "gummies" gemaak met wyn, brandewyn en Coke, met Passionfruit, wyn en Sprite. Eksperimenteer ... hou net by die verhoudings van vloeistof en gelatien.

Hoe langer jy hulle in die yskas hou, hoe sterker word die "gum". Hierdie "gummies kan a baie prettige byvoeging tot 'n kaas bord wees. Jy avontuurlustig raak en cocktail mengsel gebruik ... gaan wild en lag daaroor.




Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.

Sondag 03 Julie 2016

Sop - Hartskos, Trooskos, Noodkos

Klipsop
So paar dae terug sit ek so paar fotos op van my sopdisse wat ek maak op Facebook en soos tewagte, is daar dadelik navrae vir die resepte. Dit kan ek nie regtig doen nie want sop maak is by my honderd persent instink en baie min mates en gewigte. So kom ek vertel julle my storie met sop en ek is seker baie van julle sal daarna meer avontuurlustig wees as dit by sop kom.

Ek en my Man Kos stories loop baie maal terug op my lewenspad en kyk na die kos wat groot oomblikke in my lewe laat herleef en soms, ja soms vat ek die kronkelpaadjie terug na die werklike swaar tye van my jeug. Soos menige Afrikaners het ek in die tye na die laaste wêreldoorlog groot geword. 'n Tyd wat bekend was vir die algemene armoede wat geheers het maar dit was ook 'n tyd van ongekende groei en bloei in die ekonomie en die wat bereid was om hard te werk is op die einde beloon.

Albei my ouers was bankklerke en dit was 'n werk met min vooruitsigte vir bevordering. My pa het besluit hy gaan myne toe want daar kon hy vinniger bevordering kry. En so is dit dan dat ek begin verstand kry het in 'n harde en brandarm omgewing. My pa moes heel onder begin en dit het ook beteken, baie min geld.

Een ding van die myn "villages" was dat almal het gedeel wat hulle kon en so was dit dan ook met die byna verpligte groentetuine wat elke huis gehad het. In die middae het die vrouens in die dienspad wat tussen elke twee rye huise was, rongekuier en uitgeruil. Op die manier het almal dan ietsie van alles gehad wat nodig was vir aandete.

Roasted Butternut
Nouja noodgedwonge was sop 'n belangrike element in die kosmaak rituele want 'n goeie bord sop het alles in gehad wat nodig was om kinders te laat groei en mans die energie te gee om te kan werk. My ma het 'n basiese groentesop gemaak en het dit Klipsop genoem. Eers baie jare later het ek besef dat dit sinspeel op die gesegde van Bloed uit 'n Klip te tap. Sy het weliswaar kos uit 'n klip getap. Alles wat beskikbaar was het in die pot beland en is gekook totdat dit fyn stukkies was. Omdat wortels nogal volop was is dit dan ook so dat Klipsop 'n kenmerkende oranje kleur gehad het. Daar is ook murgbene ingegooi as dit beskibaar was en die kenmerkende vetdruppels wat bo-op die sop gedryf het was hemels.

Sop is in baie opsigte soos brood bak ... 'n paar basiese goed ... of alles of wat beskikbaar is om 'n spesifieke sop te maak. Belangrikste is WATER ... ja gewone skoon water. Deesdae maak ek my sop in twee fases. Die eerste fase doen ek in my Elektriese AEG stoompot ... as jy nie een het nie gaan dit net langer vat.

Tamatie en uie
Ek maak my groentelaai in die yskas skoon en so ook my groente rakkies. Ek soek alles uit wat lyk asof dit "end of life" se kant toe staan en kap dit op in stukkies en gooi in die stoompot. Aartappels, wortels, blomkool, pampoen, patats ... enige kombinasie. Jy kry ook die Soup Mix pakke groente by die supermark deesdae. Moenie teveel tob oor die kombinasies nie ... dis die lekker van Klipsop ... elke pot het sy eie karakter.

Nou maak ek 1000ml kookwater en vier opgehoopte lepels van Ina Paarman se Stock Poeier ... die boepens plastiese houertjies, aan. Weereens, sy het 'n verskeidenheid van die poeiers en ek gebruik die een wat ek graag as hoofgeur in my sop wil hê. Soms meng ek selfs van die poeiers.

Baie belangrik ... moenie SOUT in jou sop gooi nie ... al die poeiers is redelik sout en die verskillende groentes kan ook 'n groot invloed hê op hoeveel sout jy op die einde gaan benodig.

Sit nou jou sopbene, skenkels, hoendernekke, hoendervlerke, boerewors, maalvleis, viskoppe ... wat ook al vleiserigheid jy wil gebruik of wat jy op hande het, in die pot. Gooi die vloeistof oor en laat daai pot sy gang gaan. Ek kook dit so 40 minute in die stoompot maar op die stoof sal jy dit so een en half uur moet laat kook. Hierdie gaan nou sterk indruis teen die moderne siening oor kos gaarmaak maar dit is 'n feit ... hoe langer jy die pot kook hoe beter word daardie sop.

Moenie jou teveel steur aan die kleur of smaak op hierdie stadium nie. Jy wil die maksimum geur uit die groente en vleis kook, onthou dis sop, nie opskep kos nie.

Terloops, skaap maak nie lekker sop nie en so ook nie vark nie. Gerookte vark snitte soos die skenkels is egter die uitsondering.

Sodra die eerste fase ordentlik uitgekook het en alles is pap sag is jy reg vir fase twee. Skep twee koppies van die vloeistof af en hou eenkant. Druk nou die groente fyn met 'n vurk of "masher". Soms gebruik ek nou 'n elektriese ding wat die hele storie in fyn pulp verwerk. Dis 'n "Stick Blender". Dit hang af wat jy wil kry op die einde. As my groente hoofsaaklik aartappel, papmpoen of patats is, dan maak ek dit baie fyn. Anders "mash" ek dit net.

Kap 'n groot ui in stukkies en gebruik 'n lekker diep kastrol. Ek gebruik net ysterpotte so ek kan maar erg vuur maak onder hulle. Ek skep 'n groot eetlepel varkvet in die pot. jy kan olie en botter mengsel gebruik as jy nie varkvet het nie. Ek gooi gemaalde swartpeper en 'n goeie blerts braaispeserye in die olie en laat dit so paar sekondes lekker braai. Gooi nou die uie in en laat lekker uitbraai maar moenie brand nie. Nou skep ek drie eetlepels koekmeel in die vet in en roer die pasta goed. Jy moet dit laat uitkook vir so minuut of wat.

Volgende gooi ek die twee koppies van die sopvloeistof op die braaiende uie en meel mengsel. Wees wakker ... dit gaan 'n sissende storie wees maar jy het dit nodig want nou brand al die aanpaksels in die pot los en los op in die vloeistof. Roer die heeltyd met 'n metaallepel en skraap die pot bodem en kante goed skoon.

Gooi nou die hele sopmengsel in en roer goed en aanhoudend tot die hele pot sterk kook. Draai nou die hitte af na laag en sit die deksel op en laat stadig prut vir so 15 minute.

Vleissop
Nou is dit die tyd om te begin kyk na die smaak. Proe en dink mooi wat jy het. Onthou net ... sout gaan die hele smaak profiel verander, so moenie te gou sout ingooi nie en as jy voel die basiese smaak is min of meer wat jy soek kan jy kalmeer.

Op hierdie stadium gooi ek gewoonlik 'n
goeie eetlepel vol Worcestershire sous by en laat bietje kook en proe weer. As ek 'n sterker vleiserige smaak soek dan gooi ek twee buisies van Ina Paarman se Bees of Hoender ekstrak in.

Die sout smaak behoort nou reg te wees want al die laaste byvoegings is sterk souterig. As dit nog vars proe, sit dan sout in na smaak. Jy kan die deksel van jou pot afhaal terwyl jy kook as jy die sop dikker wil maak. Soms maak ek a mengsel van Maizina en Bisto poeier om die sop te verdik. Onthou net die goed moet ordentlik uitkook anders proe dit nie reg nie.

Nou is die tyd dat jy dinge soos gevriesde ertjies of sampieone kan ingooi want die sop is baie naby aan klaar.

Jy behoort nou a lekker pot sop te hê.

Een variasie wat ek baie doen is om mince en tamatie te gebruik as die hoof bestandeel met minder groente en dan dit baie dik te maak, net so skrams weg van 'n bredie af. Maar weereens, kook daai mince dat dit klap ... so kry jy die geur.

Sop maak is die een ding wat ek uit ondervinding weet, kom elke keer effens anders uit en dis ook nogal vergewensgesind teenoor die kok. Pas net op ... jy kan sop baie maklik te sout maak. As dit sou gebeur, sny 'n groot aartappel in stukke en gooi in die sop en kook vir so 20 minute. Skep die aartappel uit en proe ... as dit nog souterig is, sit weer 'n aartappel in en herhaal.

Moenie melk of room in die kookfase in jou sop sit nie ... sommige groentes kan ensieme afskei wat die suiwel laat skif ... dit doen niks aan die smaak nie maar dit lyk nie lekker nie.

Vir my is elke pot sop 'n nuwe avontuur.

As jy wil room bysit, doen dit net voor jy opskep of liewers, sit in as jy klaar opgeskep het.

Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.