Vrydag 15 Julie 2016

Biltong - Maak dit self

Biltong ... dis byna 'n towerwoord vir Suid Afrikaners en daar is legendes oor die maak en gebruik van biltong. Wintertyd was tradisioneel biltongtyd maar moderne tegnologie het daardie duidelike seisoen heeltemal laat vervaag. Die rewolusie het al in die 70's begin toe slagters besef het hulle kan die proses ontkoppel van seisoene deur waaiers in hulle koelkamers in te span.

Mellerware kassie met Springbok biltong
Deesdae is daar nie meer baie mense wat hulle eie biltong maak nie want billtong is orals vrylik beskikbaar. Wat die kwaliteit aan betref ... wel dis heeltemal 'n ander storie ... sommige aanbiedinge is werklik 'n klad op die naam biltong.

Ek is 'n biltong verslaafde gewees en vir baie jare was daar altyd 'n houtbak met biltong in my kantoor. Natuurlik moet biltong so lekker strokie vet ook aanhĂȘ anders is dit nie regtig biltong vir my nie. Toe tref 'n ramp my so 3 jaar terig en my tande gee die gees. Vir bykans twee jaar was ek in konstante pyn en ongerief met mond en kaak infeksies en my biltong etery het afgeplat en vervaag.

Gelukkig kom ek toe te hore van 'n wonderlike tandarts en na 'n "makeover" van formaat is ek weer slaggereed vir alles wat gekou moet word.

Sirloin Steak in die pekel
Vreemd genoeg kon ek nie regtig weer vat kry aan biltong nie en dit was so met geleenthede dat ek so bietjie gekou het. Toe op 'n dag vertel my vriend Marcelle my van sy biltong makery en wys my 'n foto van sy biltong kassie. Toevallig het my oudste seun so paar jaar terug vir my so kassie gegee vir Kersfees en die boksie lĂȘ in my stoorkamer ... daar gesit en daar gelos want ek was nie in die bui vir biltong nie. Marcelle het my egter aangesteek en ek begin toe rondkyk.

In die verre verlede het ek altyd vir my skoonpa die wild en bees biltonge gesny en gemaak as dit slagtyd was op die plaas en ek is nogal handig en vaardig met dit.

Steak in die kassie
So stap die dae verby en ek sien op 'n dag 'n artikel op Facebook van 'n man wat begin het om sy eie biltong te maak. Toevallig gebruik hy dieselfde Mellerware kassie en ek besluit ... nou of nooit. Hy gee toe ook die besonderhede van die befaamde Stefaans Blaauw se speserye resep.

My eerste poging was met 'n Springbok boud wat ek as geskenk gekry het. Eerste sit ek die kassie aanmekaar en die boer in my frons, die dingetjie lyk maar tingerig. Maar nouja, ek is begeesterd en bereid om alles een keer te probeer. Ek slaan egter 'n wasgoed draadrak op in 'n spaarkamer en sit die waaier reg ... net ingeval die Mellerware kassie faal.

Lekker Biltong
Wel die kassie het my beindruk ... feitlik geruisloos en so in sy stille enigeheid staan hy daar op die kombuiskas en doen sy ding. Drie dae later toe is dit smultyd. Ek was gehaak. Met nuwe begeestering sleep ek in dorp toe om te gaan biltong vleis soek ... wild is lekker maar niks is beter as 'n lekker sagte beesbiltong met so strokie vet aan nie ... dis mos ware biltong. Wildsbiltong is proviand, beesbiltong is koningskos.

My SPAR verkoop sulke grootmaat pakke Sirloin en die prys is goed. Ek staan vir 'n wyle en wik en weeg besluit toe maar ... probeer dit een keer.

Wel ... wat 'n wonderlike resultaat. Die Mellerware kassie doen sy ding en by dag drie sit ek met biltong wat net die regte graad van droog het vir my. Ek het gladnie die gloeilamp in die kassie gesit nie.

Ek dink nie ek sal sommer weer biltong koop nie ... ek is moeg vir die ewige angs of die goed nie teveel sout op het nie en of daar een of ander vreemde spesery ingesluip het nie. Die Sirloin biltong is lekker porsie grootte vir my en hulle pas mooi in die toebroodjie ziplock sakkies in die vrieskas. Ja ek vries my biltong want ek hou niks van houtdroog bees biltong nie.

Met die wildsbiltong het ek met 3.6kg vleis begin en 1.3kg biltong gekry. Met die bees het ek met 2.1kg begin en 1.4kg biltong gekry. Dit behoort jou 'n idee te gee van wat die vleis jou werklik kos.

Hier is Stefaans Blaauw se resep:

Biltong Stefaans Blaauw
Ingredients:
For every 1kg meat – mix the following spices:
18 grams salt
2 grams black pepper
1 gram brown sugar
4 grams coarse coriander
Worcestershire sauce
Method:
1. Sprinkle meat with spice mix and Worcestershire sauce alternatively. Use the Worcestershire sauce sparingly.
2. Let it rest for 12 hours and mix well again.
3. Let it rest for another 12 hours and hang in well ventilated room or in front of the fan, or in a Biltong Cabinet WITHOUT WARM AIR!



Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Thank you for your comment. The comments on this blog are moderated and yours should appear soon.

Greetings
Colyn.