Sondag 23 April 2017

Hoender - Lekker ManKos Vlerkies

Hoendervlerkies ... dis iets wat die meeste van ons baie geniet en hulle kom in so wye variasie dat dit omtrent 'n boek vol kan maak. Die waarheid is egter dat die oorgrote meerderheid net eenvoudig redelike smaaklose en eentonige stukkies hoender op 'n beentjie is.

Hoendervlerkies en brood
Die meeste eetplekke bied dit aan en die gaarmaak metode wissel van vaal gekookte goedjies met 'n bakkie sous van een of ander suspisieuse oorsprong tot die absolute perverse diepgebraaide soort. Laasgenoemde is meesal onooglike goedjies met so blinkerige vel en die smaak van ou olie.

En dan soms, en dis baie raar in Suid Afrika, dan kry jy die heerlike sappige vlerkies met 'n taai sousie wat in verskillende grade van hitsigheid kom. Dis dan waneer jy besef hoekom die goedjies so gewild is in Amerika en met reg kan aanspraak maak op die benaming Buffalo Wings.

Ek persoonlik bestel die goedjies nie sommer nie want dit maak my moerig as so eenvoudige dis so brutaal opgeneuk kan word n dan verwag die plek nog dat jy 'n fooitjie moet los. Ure later verwyt die olierige en bykans muwwe smaak jou nog en jy sweer ... NOOIT WEER ... maar net tot volgende keer as jy aansit en moet kies wat jy vir 'n voorgereg wil hê ... dan bestel jy maar weer en hoop vir die beste.

Soos ek al menige maal geskryf het, my missie is om mans te kry om ook te kook en ek vertel van die kos wat mans van hou. Maar die waarheid is, baie vrouens hou ook van die ManKos. So, as jy 'n vrou is en jy hou van die dis en jy weet jou man hou ook daarvan ... trek hom nader dat hy lees en dan hits jy hom aan of beloof allerhande dinge as hy dit vir jou sal maak.

Die wat my ken weet al by die tyd dat ek nie eintlik resepte doen nie, ek vertel jou die basiese dinge en jy doen dit met wat jy het of wat jy van hou. die belangrikste ding is die tegniek.

Vandag gaan ek julle vertel hoe om heerlike hoendervlerkies te maak en as jy dit eers gedoen het, dan gaan jy nie weer maklik tevrede wees met ander plekke se aanbieding nie. Die voordeel is dat jy nou instaat gaan wees om jou eie "wings" te maak en dit te maak net waneer jy wil.

Bestandele:
1. 'n Pakkie Vlerke
2. Barbeque Spices van jou keuse
3. Bruinsuiker
4. Tamatiesous
5. Sweet Chili Sous - Ek gebruik Wellington
6. Soya Sous - as jy het
7. Worcestershire sous
8. Gemaalde swart peper.
9. Chili Flakes
10. Robertson's Chicken Spice
11. Olie of Varkvet
12. Uie

Die hele proses gaan oor verhoudings en jy moet maar die hoeveelheid aanpas om by die grootte van jou vlerk porsie te pas. Ek het vir twee mense gemaak en een pakkie vlerkie van so om en by 500gr gebruik.

Metode:
Begin deur die vlerkies op te sny. Hier is dit jou keuse ... ek sny die eerste snit by die elmboog om die boarm af te kry. Afhangende van jou verskaffer gaan jy of net die voorarm met die twee beentjies oor hou of die puntjie kan ook nog aan wees. Ek sny daai handjie ook af en gee dit vir my honde. Die dingetjie is net a stukkie vel met fyn beentjies in en eintlik meer van 'n oorlas as wat dit eetbaar is. Jy kan dit bêre en gebruik as jy hoendersop maak.

Braai die uie uit
Nou het jy twee stukkies uit die een vlerkie. Sit dit in 'n mengbak en bestrooi ordentlik met jou gekose braai speserye, moenie skaam wees nie. Volgende stap vir my is om dit in die mikrogolfoond te stoom vir 6 minute, roer dit rond en stoom weer vir 6 minute. As jy nie 'n mikrogolfoond wil gebruik nie moet jy dit nou kook in water tot die vleis gaar is. Jy wil nie met rouerige hoender sit as jy dit in die sous in sit nie ... dis gevaarlik en verder kan die rou sap wat uitloop jou sous verongeluk en die raklewe dramaties verkort.

Terwyl die die vleis gaar word, pot of mikrogolf ... begin jou sous. Ek verkies die mikrogolf metode en ek weet baie mense frons oor dit. Ek doen dit met alle hoender wat ek wil braai ook. Op die vuur gaan ek net fokus op smaak en kleur en hoef nie bekommerd te wees oor ROU HOENDER nie.

Lekker soet en suur en taai
Kap die uie in blokkies en sit so 4 eetlepels olie of vet in 'n lekker swaar pot op die stoof. Maak die plaat maar lekker warm. Gooi gemaalde peper, chiliflakes en van die braai speserye in die vet. Sodra die speserye begin reageer met die vet sit jy die uie by en braai die spulletjie nou lekker. Jy soek die uie sag met so hier en daar so bietjie verbruining.

As die uie reg is dan gooi jy 'n halwe koppie van elk van die volgende in die pot ...
Tamatiesous, Chilisous, bruinsuiker
Roer goed en laat goed prut totdat die suiker opgelos is.
Nou 2 eetlepels Worcestershire sous en een eetlepel soja sous.
Roer goed en laat woes prut.

Lyk nog nie na veel nie
Nou het jy die basis van jou sous reg, draai die plaat stadiger en proe ... wat jy nou wil regkry is die sout, soet en suur.
Proe ... die kanse is dat dit nou oorweldigend soet gaan wees en dis ook nou die tyd om die chili faltor op te draai as jy wil. Doen dit heel eerste. Sodra jy tevrede is dat die brand reg is dan gaan jy oor en toets vir die suur ... voeg bietjie suurlemoensap of bruinasyn by, roer en proe. Jy wil byvoeg tot jy die SOET en die SUUR kan proe. Dit kos so bietjie fokus maar jy sal dit gou baasraak as jy fokus en oefen.

Sodra jy gelukkig is dat die SOET en SUUR lekker balanseer dan moet jy sout insit ... nou die is ' kritiese punt ... dis waar meeste kokers die ding kan verongeluk ... moenie te vinnig te veel sout insit nie. Ek skep gewoonlik so eetlepel vol in 'n piering en krap dit in drie plassies ... dan sit ek bietjie sout op die eerste plassie en proe ... as dit reg proe dan het jy nou 'n idee van hoeveel sout jy wil bysit ... toets een plassie met baie sout en neem jou besluit. Die sout gaan die smaakprofiel baie verbreed en jy gaan nou 'n megseel van smake kry wat nie voorheen daar was nie. Nou kan jy weereens 'n besluit neem oor die brand faktor en kan dt met Paprika of rissie peper opjaag as jy wil. En as jy 'n blikbek het, gooi piri-piri sous in ... bv. Tabasco.

Jou sous is nou reg.

Heerlike vlerkies.
Dreineer jou vlerkies en gooi in die pot en roer goed. Maak die plaat maar lekker warm en bly roer totdat jy sien die sous klou mooi aan die vlerkies. Sit af die plaat en moenie die deksel op die pot sit nie. Laat staan vir 20 minute terwyl jy dit elke 5 minute mooi versigtig deurroer. Jy wil nie vlerkies opbreek nie.

Daar is dit nou, nou het jy 'n pot met lekker vlerkies. Die rustyd is nodig vir die smaak ontwikkeling maar dit maak dit ook moontlik om die vlerkies lekker met die hand te eet en ordentlik te kan proe.

Al wat oorby is om te begin eet ... as jy nie jou vingers aflek nie is daar fout en daar moet sulke taai blertse langs jou mond sit. Vir my is dit koningskos saam met net vars brood.

Lekker eet.

PS ... Wees baie versigtig vir aanbrand ... daar is baie suiker in die sous en dit brand maklik en kan dan bitter word.

Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.