Sondag 08 November 2015

Wors - Lekker en Ekonomies

Baie mense wil weet hoekom lyk dit so maklik as ek kos maak en hoe kry ek dit reg om so goedkoop kos te maak. Wel daar is nie werklik 'n geheim in dit nie. Vir my is dit belangrik om net so rukkie te sit en mooi te dink oor wat wil jy regtig bereik met die dis wat jy maak.

Ek is op 'n missie om lekker kos te maak wat nie 'n groot klomp geld kos nie en wat voedsaam en smaaklik is. Ek probeer ook om die proses so maklik as moontlik te maak. 'n Groot probleem is om aanhoudend lekker kos vir net twee mense te maak sonder om te mors met bestandele.

Man Kos Wors Bredie
Vir my is 'n goeie sous altyd 'n goeie basis om 'n lekker maar ekonomiese dis te maak. Die internet is vol resepte oor wors bredies en ek is seker baie van julle het dit al gemaak of wil dit graag maak. Vandag gaan ek die storie vertel oor hoe ek myne maak.

Let wel, ek gebruik swart ysterpotte en is nie bang vir hitte onder my potte nie.

As jy wors gaarmaak is dit gewoonlik goed genoeg as jy begroot vir so 200 to 250gr rou wors per persoon. Vir my en my vrou koop ek gewoonlik pakkies wors van so tussen 400 en 500 gram.

Voor jy begin braai ... kry die volgende reg:
 (Die is vir twee persone)

1. 1 Blikkie Pitmielies, nie sweetcorn in room nie. (Gooi die vloeistof af)
2. 1 Blikkie tamaties in sous.
3. 4x Eiers
4. 2x Eetlepels botter (Ek gebruik varkvet)
5. 2x Eetlepels olie (Ek gebruik Canola)
6. 1x Ui grof gekap
7. 400 - 500gram boerewors.
8. 2x Eetlepels room - Opsioneel
9. 2x Eetlepels Koekmeel (Opgehoop - jy kan dalk ekstra nodig kry)

Geurmiddels soos ...
Braai speserye (Ek gebruik Robersons se Shizanyama mengsel)
Gemaalde swart peper
Chiliflakes
Worcestershire sous
Tamatiesous
1x Koppie koue water
1x Opgehoopte teelepel souspoeier (Ek gebruik Ina Paarman se Bruin Uie Poeier)

Sit die pot op die stoof, ja jy het reg gelees .... gebruik 'n pot, nie 'n pan nie ... en die plaat is nie warm nie. Gooi so een eetlepel water in die pot en sit die plaat op sy warmste. Ek gebruik gas.

Nou moet jy nie gaan staan en wegloop en ander dinge gaan doen nie. Hou jou oog op daai pot want dinge begin vinnig gebeur. Eerste gaan jy merk die water beging borrel en stoom en spoedig gaan die wors begin braai. Draai die wors gereeld om sodat dit egalig gaar word van buite af. Dis belangrik dat die wors begin braai in die pot sodat die vet begin uitbraai en dat die pot sulke stukkies begin bruinbraai. So moenie sommer die hitte afdraai nie tensy die wors begin brand, dit verskil van stoof tot stoof en dit verskil ook van pot tot pot. Ek gebruik die medium grootte brander van my stoof. Hoe warmer jy die wors braai hoe meer geur gaan jy kry.

Jy wil nie die wors doodbraai nie ... net genoeg sodat daar darem lekker braaiskille op die wors is en dat daar so eetlepel of wat se vet en sous uitgebraai het.

Nou moet jy vinnig speel ... haal die wors uit die pot uit en laat rus op 'n bord. Dis nou wat die wors heeltemal gaar gaan word.

Gooi die olie en botter in die pot in en roer goed, krap soveel as moontlik van die aanbrandsel los en gooi so knippie swartpeper en van die braaispesery in die olie. Gooi die uie in. Roer stadig en laat die uie braai totdat dit deurskynend begin raak.

Gooi nou die meel in en roer goed dat 'n pasta vorm in jou pot, jy kan nou die plaat afdraai na medium toe terwyl jy die pasta bly roer. Dit moet so twee minute geroer word om die meel ietwat gaar te kry. As jou vet en olie teveel is dat jy nie a pasta kry nie, gooi nog so bietjie meel by.

Draai die plaat op na hoog toe en wag so paar sekondes tot jy sien die hitte is nou erg. Gooi nou die koue water in en roer goed terwyl dit opborrel en stoom. Krap alles los van die pot se bodem af. Gooi die soouspoer in en roer sodat daar niks klonte is nie. Draai nou die plaat af na medium. Hier het jy nou die basis van 'n goeie sous wat sekerlik nog gladnie lekker gaan proe nie maar moenie worry nie ... dit gaan ons nog fix.

Gooi nou die blikkie tamaties met sous en al in en roer. Gooi die chili flakes, so blertsie Worcestershire sous en 'n blerts tamatiesous en een teelepel suiker in. Sit die deksel op en laat prut vir so 5 minute ... pasop vir aanbrand.

Terwyl die sous prut, sny die wors op in happie grootte stukkies. Doen dit in die bord sodat jy al die sap wat uitloop kan behou.

Gooi nou die pitmielies in die pot saam met enige sap wat uit die wors gekom het. Roer goed en breek maar die tamaties op. As die sous te dik is kan jy water of bier of cyder byvoeg om dit bietjie los te kry.

Sodra dit begin prut is dit tyd om te proe. Jy wil nou toets vir soet, suur en sout. Proe mooi, eerste wil jy proe of jy die soet kan proe. Sit bietjie suiker by as jy nie die soet kan proe nie ... jy moet fokus en konsentreer.

Sodra jy die soet proe ... soek nou die suur ... as jy dit nie kan proe nie, gooi a teelepel suurlemoen of asyn in. Proe tot jy die suur kan onderskei ... dis nou moeiliker want jy het ook die soet daar. Moenie worry nie, jy sal weldra leer hoe om te onderskei en te balanseer.

Laaste proe jy vir sout ... nou die een, is in die begin nie maklik nie ... ek skep 'n eetlepel sous, strooi so biejie sout oor en proe of dit verskil maak of nie ... so bepaal ek min of meer hoeveel sout ek moet ingooi.

Roer nou weer goed en roer die room in as jy wil, sit plaat op medium laag en breek die vier eiers versigtig in die sous in, elkeen in sy hoekie.

Sit die deksel op en laat prut stadig vir so 5 to 7 minute. Geen geroerdery nou meer nie.

Ek dien die dis op in 'n bakkie ... pak die wors stukkies onder in die bakkie en dan skep ek die sous/bredie bo-oor. Gebruik 'n lekker groot lepel sodat jou eerste skep die eier mooi vat. Twee eiers vir elke bakkie en dan nog so paar skeppies souserigheid. Laastens sit ek 'n skeppie roomkaas bo-op.

Hierdie is 'n basiese resep en jy kan geur soos jy daarvan hou. Jy kan sampioene byvoeg, soousboontjies, fyngekapte bacon ... net waarvoor jy lus is. Die hoofsaak is om a dik souserige bredie te maak.

Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.