Maandag 21 September 2015

Kaboem mielies - Dis hartskos wat baie min mense nog ken



Die aanvanklike pakkie mielies.
Na so 3 ure se kook
Nog 'n uur later
Die finale produk
Nogal 'n belangrike ding vir my ... lekker kos. Maar daar is tye wat lekker beter gedefinieer moet word en hierdie is een van daai tye. Hierdie is kos wat ons nie maklik by eetplekke kan kry nie en om die waarheid te sê, dis 'n kookkunsie wat besig is om in die vergetelheid in te verdwyn. Ons leef mos in 'n tyd wat alles so vinnig as moontlik, met so min moeite as moontlik en soveel gemak as moontlik voor berei moet word. Ons laat toe dat die verwerkers ons kos half-gaar op die rakke sit en vergeet sommer maklik van al die gif wat hulle moet bygooi sodat die goed darem na 7 weke nog eetbaar lyk.

Kyk, ek is 'n man wat baie lief is vir lekker eet en ek kan 'n goeie bord kos luidkeels prys. Ek kan enige goed voorbereide dis met genot eet en laat almal duidelik verstaan dat ek dit baie geniet. Van 'n eenvoudige toebroodjie to 'n komplekse vyfgang maal ... elkeen kan my met verwondering laat staar na die skepping.

Een van my groot liefdes is om self te kook en ek doen dit met oorgawe en toewyding maar tog met 'n groot mate van gemak en sonder teatrale bewegings en bewoordings. Terselfdertyd het ek 'n slegte eienskap en dis die laksheid om 'n resep te volg ... nee jong ek kry 'n idee in my kop en dan is dit voorwaarts. Sonder om nou erg windgat te klink moet ek sê, min kan my klop as dit by kookvleis en maalvleis kom ... seker maar die remnante van 'n ernstige brandarm jeug.

Maar nouja laat ons terugkom na die punt toe ... KABOEM MIELIES ... 'n woord wat meeste Afrikaners goed ken maar 'n begrip waarmee nie meer so baie vertroud is nie. Moenie stamp mielies of mielie gruis hier inbring nie want dis heeltemal iets anders en goeters wat hulle eie soortige vreemde gedrag vereis ten einde die eindproduk eetbaar te kry. So tussen ons ... ek is 'n meester met die goed ... weereens te danke aan daai armgat verlede van my ... 'n verlede waar vleis vir lang tye net 'n gedagte was. (Goeie tye daai.)

Jou heel eerste probleem gaan wees om die regte mielies in die hande te kry waarmee jy kaboem mielies moet maak. Ek het gevind dat as jy by die kleinerige saadhandelaars kan uitkom wat boontjies, gort, koring ensovoorts verpak vir menslike gebruik dan het jy 'n goeie kans om die regte mielies in die hande te kry. Jy soek heelpit geel mielies. Wit sal ook werk maar geel is die regte een.

Moenie dink mielies is soos koring, rys of lensies nie ... nee heel mielies vermenigvuldig gladnie so kwaai nie. My ondervinding is dat die rou volume en die gaar volume omtrent twee to drie maal meer is. So moenie nou gaan en net a halfkoppie rou mielies uitmeet nie.

Om kaboem mielies lekker sag te kry moet jy die rou mielies vir so 12 ure in water laat week ... meeste reken koue water maar ek tap warm water uit die kraan in die pot. O ja die pot ... jy soek a lekker swaarboom pot, hy moet 'n paar uur op die stoof sit sonder om alles te verkool. Ek werk net met swart potyster potte. Nou die fotis wat volg is vir die voorbereiding van drie koppies rou mielies.

Hierdie stap moet gebeur die aand voor jy die mielies wil opdien. Plaas die mielies in die pot en laat loop die warm water kraan in die pot in terwyl jy die mielies goed roer met jou hand. Die stof en stronkies en slegte mielies dryf na bo en spoel oor die rand van die pot. Hou aan tot jy sien die mielies en water lyk skoon of tot jou hand so brand dat jy na die brandewyn bottel begin loer.

Dreineer nou al die water af en sit nuwe water in ... bedek die mielies omtrent met vier vingers water ... lekker baie. Sit die deksel op die pot en laat staan nou die pot vir 12 ure of so.

Die volgende dag dreineer jy die water af en sit nuwe water in, weereens vier vingers bokant die mielies. Strooi twee eetlepels lekker growwe sout oor die mielies. Sit die pot nou op die stoof en stel die plaat op sy heel koudste ... ek praat nou van gas, 'n baie klein vlammetjie. Die deksel moet mooi toe wees. Na sowat 45 minute sal die water fyn borreltjies begin kook en dis reg ... hou so aan vir drie ure.

Nou is die tyd om besluite te neem. Op hierdie stadium sit ek so opgehoopte eetlepel regte botter in die pot. Roer dit sodat die botter heeltemal smelt en sit die plaat af. Jy kan nou ook so eetlepel of wat kondensmelk insit ... dis wat ek gedoen het.

Laat die pot nou maar staan met die deksel toe want jy het nog so 30 minute se kooktyd oor en dit kan jy doen as dit nou nader aan jou regte eettyd is.

Sodra jy begin voel dis tyd vir eet kan jy nou een van die volgende dinge doen ...

a. Kerf bacon in vlenters, braai vinnig crispy en sit dit in die mielies.
b. Sit so lekker dubbelhand natterige, vetterige gekerfde biltong in die mielies.
c. Dreineer die water af van geblikte heel boontjies en voeg die boontjies by die mielies.

Sit nou die plaat weer aan en nou moet jy 'n oog op die pot hou want verseker wil jy nie die mielies nou brand nie. Roer die mielies gereeld maar wees versigtig, jy wil dit nie pap karring nie. Die deksel moenie op die pot wees nie want nou wil jy die vog laat uitkom. Sodra jy kan voel die mielies is goed warm, sit die plaat af ... dreineer al die vloeistof af en maak die deksel toe. Nou moet jou ander kos reg wees want al wat oorbly is om weg te lê.

OPSOMMING:

Mielies
Water
Sout
Botter
... en geduld. Die ander goetertjies is maar net om dit meer lekker te maak.

Ek stel voor dat jy maar 'n ordentlike pot vol maak want dis baie moeite en dit wat oorbly is reg om in porsies in plastiek sakkies te sit en te vries vir latere gebruik.

PS ... 'n Baie lekker variasie is om kaiings in te roer in plaas van bacon maar nouja ... waar kry mens dit as jy dit nie self kan maak nie.

Volgende sal ek 'n basiese vleispot aanmekaar slaan.
Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.

Donderdag 17 September 2015

Hoender - Maklike braai

As jy die woorde hoender en braai saam gebruik dan is daar dadelik sommer 'n klomp stories wat reg moet wees. Ek is baie lief vir hoender stukke op die vuur en het so bietjie gefokus en een van my geliefde Man Kos resepte gebruik en die fotos geneem. Hierdie is my tuisgemaakte Flame Grilled Chicken en ek weet presies wie het wat met die hoender gedoen.

Hoender stukkies in die rooster
Ek glo dat almal op hierdie stadium baie seker is oor een ding, en dis dat rou hoender defnitief nie aanvaarbaar is nie. Menige koker is al huistoe gestuur by kompetisies oor rou hoender.

As jy hoender wil braai dan het jy 'n goeie vuur nodig wat dit lank en stadig kan doen want anders is die hoender verkool voor hy gaar is. Ek het nie die tyd vir dit nie en het 'n kortpad uitgewerk.

Nou die goed wat jy nodig gaan hê om hierdie Man Kos Hoender te maak is 'n mikrogolf oond, een of ander tipe van stomer en 'n braaier. Ek gebruik al sedert 1982 hoofsaaklik gas braaiers want ek is lief vir braai maar my werk maak dit hoogs onprakties om vuur te maak en te wag vir die kole. Ek maak vuur as ek op vakansie is.

Soos gewoonlik is hierdie nie 'n formele resep nie maar gaan dit meer oor die metode.

Amper gaar
Mens kry mos sulke pakkies met vier boudjies en vier dytjies in ... dis die hoender wat ek hier gebruik het.

Eerstens vryf ek speserye in al die stukkies in, as jy onseker is oor wat om te gebruik is Robertsons se Chicken Spice 'n goeie begin. Ek gebruik enige gemengde braai speserye maar die ding is dit ... moenie skaam wees met die speserye nie. Gebruik waarvan jy hou.

Pak nou die hoender stukkies in jou stomer en dan mikrogolf oond toe vir 8 tot10 minute. Ek is seker sommiges frons nou vir die mikrogolf storie maar die praktiese deel is dat nou weet jy jou hoender is verseker mooi gaar. Kyk, dit is verseker bleek en vaal en lyk nie baie aantreklik nie maar dit is gaar. As jy nie 'n stomer het nie kan jy die stukkie in 'n Ziplock sak sit, gooi so drie eetlepels water by en seel die sak. sit die sak op 'n gepaste bord wat die mikrogolwe kan hanteer en steek so paar gaatjies in die bokant en sit dit in die mikrogolf oond.

Lekker Flame Grilled
In 'n mengbak, gooi nou tamatiesous, sweet chili sous, Worcestershire sous, en bruinsuiker bymekaar. Meng dit goed met 'n draadklitser. Ek gooi ook Tobasco en Chili Sous in die mengsel ... hy gaan vir jou hel warm proe in die bak maar dis lekker as jy klaar gebraai het want daar is nie teveel van die sous op die eindproduk nie.

Nou gooi ek weer speserye op die gaar hoender en sit dit in 'n glasbakkie ... gooi die sous mengsel oor en maak seker elke stuk is goed gesmeer. Ek laat dit so lê vir omtrent 30 minute ... genoeg tyd om die res van die kos gou aanmekaar te slaan.

Hoender sonder baie moeite
Nou braaier toe. Vuur kan maar taamlik warm wees, onthou die hoender is gaar, jy wil dit nou net daardie lekker Flame Grill afronding gee. Pasop net, die marinade brand maklik want daar is baie suiker in, so draai maar vinnig en gereeld. Ek verkies dit deesdae om die stukke in 'n toeknyp rooster te plaas. Dit laat my toe om die hoender vinnig en sonder moeite te draai.

Afhangende van die hitte van jou vuur en jou smaak, behoort die braaiery so tussen 10 en 12 minute te neem. Ek hou van die bietjie verkoolde stukkies.

Jy kan die stukkies gereeld maar smeer met die marinade sousie as jy wil.

En daar is dit ... jou eie Flame Grilled hoender stukke sommer in 'n japtrap by die huis.


Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.