Vrydag 22 Junie 2018

Potjiekos - Canarywalk Corporate Challenge

Potjiekos ... dis 'n ding wat baie mense laat glimlag maar dis ook iets wat baie mense laat frons. Die algemene opinie rondom die tipe kosmaak is dat dinge net ingemoer word en dat die pot basies na homself sal kyk. Dis 'n langdradige proses en in die meeste gevalle net 'n goeie verskoning om te kuier.

Die manne staan bont
So tydjie terug het ek die vraag gevra ... Wat is vir jou lekker van 'n potjie en wat kan jy gladnie verdra nie ?
Wel daar was letterlik dosyne antwoorde en elke antwoord het basies dit bevestig wat ek altyd vermoed het. Laat ek dit net duidelik stel, ek het nog nooit in my lewe werklik 'n potjie gemaak nie ... hoofsaaklik omdat die proses in sy gewilde vorm, gladnie sin maak vir my nie en die resultate is normaalweg maar baie middel van die pad.
Die pot prut

So paar weke gelede nader my seun en twee van sy vriende my en vra of ek wil deel word van hulle potjiekos span wat gaan inskryf vir die Canarywalk Corporate Challenge in Nelspruit. Hulle wou dit graag onder die ManKos vaandel doen. Ek het so rukkie geluister na hulle stories en toe besluit ek ... Hoekom nie, miskien is dit tyd dat ManKos sy toon in die kompetisie wêreld insteek.

Vars broodjies uit die oond
Potjiekos is 'n erg tipiese Suid Afrikaanse benaming maar die werklike kookproses is wêreldwyd bekend. Die vernaamste verskil tssen Potjiekos en 'n Bredie is die feit dat die potjie uit duidelik onderskeibare lagies bestaan waar 'n bredie maar
'n mengelmoes is.

Die volgende paar aande reis ek deur kombuise op Youtube en soek vir iets wat nie net uiters smaaklik gaan wees nie maar ook iets wat nogal kan uitstaan.



En so word die ManKos Varkpens Potjie gebore.

'n Potjie sonder maniere ... hy verlei jou en bederf jou sonder om skaam te kry.

Dan roep hy nog sy vriende ook in om jou verleiding tot die uiterste te dryf ... Kaiings, varkvel krakers en as jy nou genoeg gekneus is dan offer hy jou 'n broodjie met romerige plaasbotter as salfies vir jou bederfie.

Brosgebraaide kaiings
Moet net nie vir jou vrou vertel hoe jy hier gekafoefel het nie ... sy sal nie verstaan nie.

Wees gewaarsku ... daai groot glimlag en vetring om jou bek gaan jou weggee.

Ek drie proeflopies gedoen en toe is ek tevrede.

Kos is op die tafel.
En toe breek die groot dag aan. Saterdagoggend 16 Junie 2018. Ek glo dit was 'n ondervinding vir my 3 spanmaats, Wiehann, Janus en Johan ... ek dink hulle verwagting was 'n dag van pret en jol om die vure rond maar die ouman het ander planne gehad ... net die beste moet gelewer word en geen tyd vir speletjies nie. Ek het so hier en daar opmerkings opgevang wat woorde soos "slawedrywer" "army korporaal" en "blixem" ingesluit het ... die sweet het getap en die manne het gefokus en uiteindelik toe die beoordeling moet gebeur het almal rustig gestaan en geweet ... die Varkpot is goed.

ManKos Potjiekos span het die eerste plek gekry vir die Beste Stalletjie en het tweede gekom met die potjie self. Nie sleg vir 'n eerste maal nie. Daar was 35 spanne wat meegeding het.

Ons oorweeg nou om gereeld aan sule kompetisies deel te neem.


Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.