Vrydag 30 Oktober 2015

Kombuis - Stel jou Kenwood in

Diep winter van 2015 gaan kuier ek by Annelien Pienaar aan die hange van die Magaliesberge. Kuier is miskien nie die regte woord nie ... sy het ingestem om my op 'n "crash course" te vat in haar kombuis.

Aangesien dit 4 dae van bak en brou sou wees het ek besluit om my Kenwood Chef saam te vat want ek was nie seker of ek vir vier dae aanmekaar sou kon knie en klits nie. Dit was 'n wyse besluit, ons het elke dag vier goed gemaak en so 6 kg meel weggebak in die vier dae.

Kenwood Chef
Ek gebruik my Kenwood nou al so 18 maande en is nogal vertroud met die masjien. Die eerste oggend toe ons wegspring staan Annelien die masjien so en bekyk terwyl hy werk en ek sien sy frons ... ek is egter te besig om regtig aandag daaraan te gee en gaan aan. Na middagete kom sy daar aan met 'n paar "spanners" in haar hand.

"Ek hoop nie jy gee om nie maar die masjien van jou moet so bietjie "getune" word."

Die meeste van julle wat met Kenwoods werk het seker opgelet dat aan die punt van die verskillende spane wat jy kan gebruik is daar 'n as wat in die masjien in druk en so metaal skerm wat die kop van die masjien beskerm teen spattery van mengsels. Wel bokant die metaal deksel sit daar 'n moer. Ek het altyd gedink dat dit maar net eenvoudig 'n sluitmoer is vir die dekseltjie. Jy benodig a 19mm ring spanner.

Sluitmoer
In a japtrap het sy die moer los van die deeghaak en toe sien ek hoe sy die assie draai.

"Die haak van jou is te hoog bokant die bodem van die mengbak ... ek gaan hom nou bietjie laat afsak sodat die haak die deeg beter van die bak se bodem af optel."

Gebruik so moersleutel
Kyk, ek is 'n handige man en ook 'n groot chauvinis maar Annelien se hande vat raak en vat vas en ek kon dadelik sien die vrou weet wat sy doen.

So twee of drie toetsies en toe maak sy die moer vas.

Die res van die middag het daai Kenwood brood geknie dat dit bars en ek kon duidelik sien dat die masjien somer spanne beter vaar met die deeg.

Later die aand toe dit stil word daar op die plaas toe staan ek in die kombuis en verstel die ander drie spane ook.

En so leer hierdie ou ballie toe wraggies meer as net koek en brood bak by Annelien.

Ek stel voor jy kyk mooi na jou masjien en maak seker die spane is op die optimale hoogte. Ek het 'n vadoek in die mengbak gesit en die verstelling gemaak totdat die vadoek net net uit kan trek.

Miskien moes ek die ding se boek beter gelees het.

Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.

Donderdag 29 Oktober 2015

Beskuit - Man Kos Krakers

Beskuit, dis iets wat na aan omtrent elke Afrikaner se hart lê. Karringmelk beskuit in besonder is iets waaroor daar baie gepraat word en baie resepte voor bestaan. Maar karringmelk beskuit is ook baie verwarrend, veral die woord karringmelk.

Gewone beskuit en Krakers
NB ... As jy van plan is om die beskuit te maak dan sal ek jou sterk aanraai om die hele storie mooi deur te lees voor jy begin.

Regte karringmelk kry mens as jy botter maak. Dis gewoonlik nogal aan die soetsuur kant. Dit wat ons in die winkels koop is maar 'n vaal verskoning vir karringmelk. O ja en daar is ook die mense wat reken as jy suurlemoen by gewone melk gooi, dan maak jy sommer jou eie karringmelk. Niks is verder van die waarheid af as dit nie. Wat jy daar maak is suurmelk of dikmelk. Karringmelk is baie laag in bottervet want jy haal die meeste van dit uit in die bottermaak proses.

Maar dit nou daar gelaat ... ons ken beskuit hoofsaaklik in drie formate.

1. Boerbeskuit met al sy variante soos mosbolletjies, anysbeskuit en krakelinge. Al die beskuit het een ding in gemeen ... dit word met suurdeeg in een of ander vorm gemaak en dit word baie goed geknie. Dit gaan deur twee rys fases en die beskuit se tekstuur is draderig ... dis van die rys en die gluten stringe. Die hoof bestandele is meel, water, sout en suurdeeg. Druiwemos en anys is gewilde byvoegings. Die beskuite self word styf in panne gepak en dis diep panne wat die beskuit forseer om na bo uit te rys.

2. Karringmelkbeskuit en sy variasies. Hier word nie gis gebruik nie en die meel word met botter ingevryf soos waneer jy skons maak. Dis bakpoeier wat die rys agent is. Die nat element is gewoonlik karringmelk, dikmelk of yoghurt. Die beskuit word baie min geknie, inteendeel jy moenie dit baie knie nie want dan kan dit klinkers word. Jy moet ook baie seker maak jy gebruik goeie botter of bak margerien ... as jy smeer margerien gebruik gaan jou beskuit hard wees en nie bros nie. Hierdie les het ek op die harde manier geleer.

3. Gesondheidsbeskuit in sy duisende variasies. Die basis van die beskuit is normaalweg maar karringmelkbeskuit basis maar daar word allerhande sade, bessies en koring of hawermout elemente ingevoeg. Muesli mengsels is ook gewild. Heuning, stroop, bruinsuiker, molasses en dies meer vir soetigheid. Die nat element kan enigeiets wees soos yoghurt, dikmelk, karringmelk, room, kondensmelk of vrugte stroop.

Nou gaan ek bietjie vertel van my beskuit proses en ek gaan vertel hoe ek dinge doen. Dis verseker nie die "Holy grail" van beskuit maak nie maar dit werk vir my en ek het my ondervinding opgedoen deur dosyne baksels. My resep wat ek vandag hier gaan gee is spesifiek ontwikkel vir die Man Kos Krakers maar kan vir groter beskuit ook gebruik word, jy kan bolletjies maak of jy kan dit in blokkies sny.

Dit is wat gaan benodig: (Ek gaan nou nie taalsuiwer probeer wees nie.)

1kg Selfraising Flour
200ml suiker ... wit of bruin, jou keuse.
250gr Botter of bak margerien. Botter kan galsterig raak as jy die beskuit lank wil bêre.
3 koppies hawermout
2 eiers
5ml sout
10ml bakpoeier
1 koppie Safari Dried Fruit Cake Mix
2 eetlepels olie ... jy kan olyfolie gebruik.
1 blikkie kondensmelk ... dis so 380gr maar wissel van maak tot maak.
1kg Appelkoos gegeurde yoghurt. Jy kan enige geur gebruik.
4 eetlepels fyn appelkoos konfyt. Weereens, enige fyn konfyt, jou keuse. Jy kan selfs heuning of stroop gebruik.

Nou vir die metode.

Moenie te styf pak nie
Sit jou oond op 200C en laat hom warm word terwyl jy die goed gaan meng.

Die belangrikste is om al die benodighede uit te pak op jou tafel. Maak seker alles is daar en bymekaar voor jy begin om enigeiets te doen of te meng. Jy het hoofsaaklik drie houers nodig.

Kry 'n lekker groot bak waarin jy die meel gooi. Skep nou die sout en bakpoeier in die meel in en whisk dit.
Mooi baksel
Volgende rasper jy jou botter in die meel in. Jy kan dit ook in blokkies sny en ingooi.
Gebruik nou jou vingers en vryf die botter en meel inmekaar in totdat dit goed opgebreek en versprei is. Die slimmes reken dit moet soos krummels lyk ... wel ek kyk maar so met die oog en as dit lekker geel is sonder groot klonte, dan is ek tevrede.

Nou vir die droog
Gooi nou die vrugte en hawermout in die meel in en meng deur met jou vingers. Wees kalm en mediteer terwyl jy so met die meel werk. Dis nogal opvallend hoe jou siel tot rus kom as jy so met die meel vroetel.

Net reg vir die kies
Sit nou a mengbak, medium grote op jou skaal en ZERO die ding. Gooi die blikkie kondensmelk uit in die houer in. Die skaal sal nou vertel hoeveel dit is. Volgende skep jy die fyn appelkoos konfyt in. Nou vir die yoghurt ... jy soek die totale massa in die mengbak moet 600gr wees. Skep yoghurt in tot by 600 gram.

Breek nou die eiers in die mengsel en gooi die olie en suiker ook hier in. Nou moet jy die mengsel ordentlik meng. ek gebruik 'n whisk maar jy kan 'n handmenger ook gebruik.

Lekker Krakers
Gooi nou die natmengsel by jou meel en meng rustig en kalm. Moenie rof of haastig raak nie. Jy wil al die meel mooi klam kry sonder om die gluten angstig te maak in die proses. Spoedig sal jy 'n lekker hanteerbare mengel in die bak hê wat nie aan jou hande vasklou nie. Ek werk net met een hand in hierdie fase.

Kry nou jou panne reg ... ek het een groot plat pan van so 260x380mm en een van 200x200mm gebruik.

Spuit die panne mooi met koekie sproei en nou is jy reg vir die tandetrek deel van die proses. Ek weeg die deeg af in brokkies van so tussen 22 en 25gr, rol ligies in balletjie en pak in die pan. Jy wil nie die goed te styf pak nie. As ek gewone beskuit bak dan maak ek die balletjies 45gr.

 Nou oond toe ... draai die oond op 190C en laat die beskuit bak vir 15 tot 20 minute, ek kyk waneer daar 'n mooi ligbruin korsie begin vorm.

Draai nou die oond af na 170C en laat bak vir nog 20 minute. Die is beskuit en nie koek nie, so dis beter as dit so bietjie "overbake".

Haal uit die oond en laat koel af vir so 5 minute. Dop die beskuit uit op 'n vadoek en breek vesigtig uitmekaar.

Nou moet jy dit laat uitdroog. Ek pak myne in plat oondpanne maar baie mense pak dit op draadrakkies. Maak soos dit jou pas. My beskuit doog teen 70C vir so om en by 5 ure.

Die doel van hierdie Krakertjies is om 'n lekker snaxie te maak. Ek is moeg daarvoor dat my huismense die beskuit se koppe afbreek en verslind ... die krakers is my antwoord vir die soort wangedrag. Die manier waarop ek bak verseker lekker korsies. Die aanvanklike hoë hitte laat die botter vinnig smelt en bak die korsies mooi bruin.

Ek meng bruinsuker met kaneel soos vir pannekoek en strooi dit oor die balletjies voor ek begin bak.

Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.

Woensdag 21 Oktober 2015

Hoender - Crown National Spices braai dit lekker

Man Kos was van die begin af my platform waar ek mense wil vertel hoe om lekker kos te maak sonder 'n groot gesukkel. Die wat my al lank volg sal weet ek is nie groot op die plasing van resepte nie ... nee, ek vertel liewer die storie rondom ander mense se resepte. Daar is ook egter tye waneer ek my eie konkoksies maak ... dan gee ek respete.

Lekker gebraaide hoender
Ek is die laaste tyd sterk gefokus op die maak van bekostigbare etes want meeste van ons is maar erg onder druk met die styging in pryse en die waardevermindering van ons inkomste. Tenspyte van al die goed moet ons eet.

Daar is mos so grappie wat rondloop waar die man reken as hy groente wil eet dan vat hy 'n stukkie hoender ... alhoewel ek nogal sterk met die man kan identifiseer is die realiteit dat rooivleis hel duur geword het ... veral die prima gewilde snitte. So, uiteraard moet ons na hoender kyk as ons elke dag vleis wil eet.

So tydjie gelede kom my jongste hier by my huis aan met so groen materiaal sakkie ...

"Pa, Roland van Crown stuur die ... kyk of pa van dit kan gebruik."

Reg vir die vuur
Nou kyk ... een van die goot stappe wat ek moes neem so twee jaar terug, was om die etiket van "Moerby Kok" af te skud en ek het al daaroor geskryf. Een van die goed wat ek gedoen het was om onmiddelik van alle voorafgemengde bottels sous en speserye ontslae te raak en te leer hoe om van die basiese speserye en kruie by die verwagte uiteinde uit te kom. Soms was dit moeilik maar baie gou het ek besef dat dit eintlik eenvoudig is om die resultate te kry wat jy soek as jy net so bietjie fokus. Ek het nou 'n plekkie in my kooklewe bereik waar ek gemaklik is met die basiese speserye en daarom is ek meer ontvanklik vir voorafgemengde bottels goed.

Net soos ons daarvan hou
Ek sit en kyk die inhoud van die sak deur en sien mengsels wat nogal interresant lyk. So besluit ek toe om die Crown National Six Gun BBQ Mengsel vir 'n toetslopie te vat. Vir die volgende week of so het ek net dit gebruik en 'n ek het dit uitsluitlik op hoender gebruik.

Ek het al voorheen genoem dat ek al my hoender wat ek braai eers in die mikrogolf  oond in 'n "steamer" gaar maak ... so 10 minute in myne ... dis a 1,000 watt oond. Menige puris frons vir dit maar nouja, as die son sak en die mense moet eet is daar nie tyd vir 'n lang gesukkel op die braai nie. Onthou net, rou hoender is verseker nie aanvaarbaar nie en kan dodelik wees. So die mikrogolf maak die hoender basies gaar ... dan is die vuur daar om kleur en geur in te sit.

Geurig en ekonomies
Ek is uit 'n familie wat nie regtig van vaal kos hou nie en daar moet op alle vleis so paar blertse ernstige verkoling wees ... soos Greg Wallace eendag op Masterchef genoem het ...  "I see you have caramalised this meat enthusiastically."

Nouja ... voor ek die hoender in die stomer sit besprinkel ek dit goed met die Six Gun Spices ... en ek bedoel goed ... op 4 boudjies en 4 dye sommer a bakhand van die poeier.
Hoenderstukke

Na dit uit die mikrogolf uitkom ... pak dit in 'n plat glasbak en nou weer a bakhand speserye ... bietjie tamatiesous en twee teelepels suiker. Laaste blerts ek so bietjie tobasco oor. Nou maak ek dit toe met plastiek en laat die stukke maar goed kennis maak met die speserye en sousies. Hierdie deel is so 15 minute se werk en dan laat ek dit vir tenminste 'n uur rus.
Bak vol boudjies

In die uur kan jy die bykosse maak wat jy wil voorsit. Uit die fotos sal jy kan sien ek is nogal gedissiplineerd en hou by niks meer as drie goed op die bord.

Tot hier is die proses by uitstek geskik vir hoender stukke, ek het selfs "baby chickens" heel so gedoen.

Nou is alles feitlik gereed en ek steek my gasbraaier aan ... ja ek braai op gas, al sedert 1987 ... dit maak net meer sin vir my ... die ding is altyd reg vir gebruik en die hitte is goed beheerbaar. Met hoender is dit veral belangrik om a goed gereguleerde vuur te hê. Bonus van my metode is dat die vuur nie so groot rol speel nie want jy gaan nie langer as so 10 tot 12minute daar wees nie.

Met die hoender stukke verkies ek om dit in toeknip rooster te sit ... dit maak dit net makliker om die hoender om te draai op tyd. Ek staan ook nie en bedruip die stukke terwyl dit braai nie. Die gesousery bemors net die gereedskap en maak dat die vuur simpel raak. Verder is dit maklik om die hoender smaak heeltemal te oordonder met die souse.

Soos jy kan sien op die fotos is die hoender lekker geurig en aantreklik en dit was in totaal minder as 30 minute, uitgesluit die rustyd na die mikrogolf.

Baba hoendertjies
Nou so paar wenke ...

1. Moenie jou hoender te lank in die mikrogolf sit nie want dan is daar 'n groot kans dat dit droog gaan wees.
2. Moenie suinig wees met die spesery nie ... gooi dik en goed en vryf maar so bietjie in.
3. Werk versigtig met die hoender as dit uit die mikrogolf kom want die vel kan baie maklik skeur en afkom.
Man Kos
4. Moenie die hoender op die vuur sit en dan ander dinge gaan doen nie. Staan daar en hou dit dop. As die vuur bietjie hitsig is, draai net vinniger en meer gereeld om.

Van Man Kos se kant af is hierdie braaispesery mengsel van Crown National verseker 'n goeie mengsel vir die hoender en ek sal dit gereeld, miskien uitsluitlik gebruik. Dis baie meer ekonomies as die klein botteltjies wat ons koop.

Jy kan die speserye van Crown by die meeste slagters, SPAR en ESKORT se winkels kry. Dan kan jy dit ook by die plaaslike Crown Cash en Carry winkels kry. Dis die moeite werd om so bietjie sweet in te sit om by die speserye uit te kom en as jy dit direk by Crown koop gaan jy geld spaar.

Hierdie mag na 'n promosie lyk, en miskien is dit, maar die feit bly staan dis baie lekker, bekostigbaar en dit sit so bietjie, nee, sommer baie lekkerte in doodgewone hoender.

Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.

Dinsdag 13 Oktober 2015

Kombuis - Houtbakke en houtborde

Ou houtbak
Man Kos en houtborde is eintlik sinoniem. Vir my is hout baie spesiaal en ek raak bedonnerd as ek sien mense verniel hout produkte. Ek raak veral erg befoeterd as ek sien dat hardehout vermors word ... hoekom ... feit is dat daai mens wat daardie hardehout boom afkap kan in sy lewe nooit weer daardie boom vervang nie. Hierdie geit van my kom al van baie jonk af en dit was 'n sterk motiverende ding vir my in die jare toe ek houthuise en houtdekke gebou het. Ryk mense probeer hulle "power" bewys en dan lê hulle skaars inheemse hardehout planke op 'n dek ... sotheid in Suid Afrika ... daardie hout het nie 'n kans in ons klimaat nie en ek gaan nou nie oor die tegniese aspekte praat nie. Feit is, aangeplante dennehout wat reg behandel is sal enige hardehout dek in Suid Afrika met baie jare oorleef.

Onderkant van houtbak
Maar kom ek kom by die punt ... baie van die wat hier lees sal sekerlik 'n hardehout snyplank hê en baie sal ook die eienaars wees van hardehout bakke. Die bakke word langs die paaie verkoop deur smouse en jy kan van dit in snuistery winkels kry. Ek het nie 'n probleem met die aankoop van die goed nie ... die skade is reeds gedoen toe die boom afgekap is ... koop die bord en versorg dit ... dan het die boom nie verniet gesterf nie.

Klaar olie gesmeer
Die waarheid is dat as jy jou houtborde en bakke goed versorg sal dit vir langer as jy bestaan en waarskynlik jou kinders en kleinkinders ook oorleef.

Ek verkies om my bakke by die smouse te koop want hulle smeer nie allerhande selers of vernisse op nie. Die meeste van hulle gebruik gewone vloer politoer. Dis om die ding te laat blink en mooi te laat lyk ... dis die wat ek koop maar verkies eintlik die wat nog rou en vaal is.
Eindresultaat.

Eerste stap as ek by die huis kom is om die bak ordentlik te skroop met warm water en seep en 'n potskuur spons. Raak ontslae van die politoer ... dit gaan jou kos in elkgeval sleg laat proe.

Nou moet jy die bak los dat hy kan droog word ... nie in die son nie ... dis ongesond om so nat bak in die son te sit. Hy kan kraak.

Nadat hy mooi droog geword het, so dag of wat later, kan jy hom begin behandel. Ek doen gewoonlik die onderkant eerste. Gebruik lekker silwerskoon vars Canola olie ... of sonneblom olie ... ek verkies Canola want dis redelik smaakloos en is baie lig in kleur.

Jy het so omtrent een eetlepel vol nodig, afhangende van die grootte van die bak. Gooi die olie op die bak en nou moet jy nie vol fiemies wees nie. Vryf die olie mooi egalig oor die hele bak met jou kaal hand ... nie 'n lap of 'n kwas nie ... jou hand. Maak seker jy smeer dit lekker dik aan en as die hout wit vlekke in het, smeer dit daar meer aan want die wit is gewoonlik sagter.

Nou sit ek die bak so onderstebo in die son vir so 30 minute. Na 30 minute gebruik ek papierhandoek en maak die bak mooi skoon. Vee die olie goed af ... niks natkolle moet oorbly nie.

Nou doen ek die binnekant net soos die buitekant en terug son toe. Dan na 30 minute vee ek die binnekant ook mooi droog met papierhandoek.

Nou is jou houtbak weer fiks en mooi vir die volgend jaar of wat. Doen dit gereeld met jou houtbakke en borde en hulle sal vir jare en jare mooi bly. Jy kan dieselfde doen met jou houtlepels en slaai vurke.

Ek sal gladnie voorstel dat jy olyfolie gebruik nie want olyfolie het 'n kenmerkende smaak en geur en dit wil jy nie in jou houtbakke hê nie. Hierdie spesifieke bak as is meer as 10 jaar in my kombuis en hy gaan nog baie jare diens gee ... net so bietjie liefde en respek.

O ja ...moenie jou houtborde en bakke in die skottelgoedwasser sit nie. Was met warmwater en seep en spoel goed af, maak dadelik mooi droog.

Ek hou altyd 'n halwe suurlemoen handig op die wasbak ... sodra ek klaar is met 'n snyplank, spons dadelik skoon met skottelgoed seep, spoel af met warm water ... vryf met die suurlemoen en spoel af met koue water. Nou is die kans vir slegte reuk baie skraal. Hou jou borde dop, as jy sien hulle begin droog lyk, olie maar weer.

Deesdae kry mens bamboes snyplanke ... hulle moenie geolie word nie en jy kan hulle na die was proses net laat staan en droog word, nie nodig om af te droog met vadoek nie ... jou houtborde moet jy droog maak.

Nog 'n onding ... moenie jou snyplanke in die water laat lê nie. As jy dit doen het jy 'n baie goeie kans om jou bord of bak te laat bars ... of hy bars tydens die lê in die water of as jy hom laat droog word. Hardehout suig nie sommer water nie en as jy hom in water laat lê dan trek slegs die buitenste lagie vog. Dit veroorsaak groot spanning op die opervlak en dis wat jou houtbord of bak sal laat kraak.

Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.

Woensdag 07 Oktober 2015

Potluck - Rek die mince

Deesdae is dit nogal 'n depressiewe ding om te gaan kos koop. Pryse van goed is mal en as jy nie versigtig is nie kan jy baie maklik 'n onsedelike klomp geld spandeer op 'n mandjie wat nie baie vêr gaan kom in jou kombuis nie.

Man Kos is op 'n missie om lekker kos te maak wat bekostigbaar is. So kom dit dan dat ek in die kombuis inloop so teen laatmiddag en ek wonder ... wat gaan ek vanaand op die tafel sit. Dit is iets wat in duisende huise gebeur en my oë dwaal oor die kaste en deur die vrieskas.

Lekker kool en maalvleis
250gr Mince, aartappels, uie, 'n klein kool koppie, blaarslaai en tamaties. Nou moet ek kos maak vir 3 mense. Dis maar 'n klein pakkie mince en beteken so omtrent 80 gram vleis per persoon ... minder as 'n burger pattie by 'n fastfood plek.

Eerste maak ek die slaai en 'n slaaisous van yoghurt, heuning, suurlemoensap en mosterd. Dis 'n lekker dik en geurige sous wat opsigself voedsaam is.

Kap die uie op en sit 'n pot op die stoof. Twee eetlepels varkvet en 'n goeie klompie braaispeserye ... die gaan die basis van my sous word en ek roer die uie totdat dit lekker sag gebraai is. Die vet is lekker warm en borrel en spat. Pasop vir brand.

Ek meng twee teelepels sous poeier in 500ml water in ... ek gebruik Ina Paarman se sous poeier maar jy kan Bisto of iets soortgelyks gebruik. Nou skep ek twee eetlepels meel in die uie en vet in die pot en roer dit goed. Spoedig verdik dit tot 'n pasta, Nou moet jy bly roer en die pasta kans gee om so bietjie uit te braai. Hou die pot lekker warm en roer gereeld sodat dit nie aanbrand nie. As jy nou brand kan jy dit maar wegsmyt en gaan fliek.

Geurig en goedkoop
Dan gooi ek die watermengsel in die pot in ... dis 'n gespat en borrel dat die stoom trek en ek roer dit aanhoudend. Spoedig het die meelpasta mooi opgelos en daar is 'n lekker sous met uie in aan die kook. Moenie die plaat afdraai nie ... laat hy maar warm bly. Nou gooi ek die mince so in die pot sous in en roer. Breek die mince op so fyn as jy kan en laat die pot kook. Die gaan nou regte vaal mince wees. Na so 5 minute is die mince mooi fyn en gaar. Onthou, mince is gewoonlik maar taai vleis en ek kook dit dit altyd goed om lekker sag te word. Gooi nou nog 'n koppie water in die sous want dis nogal dik. Jy wil 'n sous kry wat amper soos room lyk. Roer goed.

Nou is dit tyd om die sous te begin proe ... kanse is dat dit nie regtig lekker gaan wees nie maar die geheim is om dit van 'n kant af reg te maak ...

Eerste gooi ek bietjie asyn in en proe ... jy wil die suur net begin proe. Volgende gooi ek suiker in, begin met een teelepel. Proe ... jy wil die soet en die suur proe. Sodra jy dit mooi gebalanseer het dan weet jy die basis is reg ...

Nou kan jy ander speserye insit waarvan jy hou ... maar moenie sout insit nie ... dit kom heel laaste.

Jy kan chutney bysit, Worcestershire sous, soy sauce en chili sous. Dit waarvan jy hou.  So bietjie kerriepoeier is ook lekker.

Laaste toets jy nou vir sout en ek het gevnd dat as ek so teelepel sous vat en dan bietjie sout op dit strooi en proe kry ek 'n goeie idee van wat om te doen. Onthou sout verbreed die smaakprofiel ... dis wat sout doen.

Nou is die sous reg, miskien dalk nie dik genoeg nie maar dis nie 'n probleem nie. Draai die plaat bietjie stadiger en laat prut terwyl ek my aartappels in die mikrogolf gaar stoom ... dit vat so 10 minute.

Terug na die sous toe. Draai die plaat op en kry die sous baie warm ... as dit goed borrel, gooi al die gekerfde kool in, rooer goed en sit die deksel op, skakel die plaat af. Die neem so 5 minute.

Nou skep ek die borde op, breek die aartappels oop en strooi gemaalde swart peper oor en as jy wil, so lekker blêrts botter. Skep die slaaisous oor die slaai.

Die vleis sal nou reg wees. Jy wil nie die kool heeltemal pap gekook hê nie.

Laaste skep ek die vleissous en kool oor die aartappel ... lekker sopperig.

En daar is dit ... geurig, gesond en dit kos nie 'n arm en 'n been nie.


Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.

Dinsdag 06 Oktober 2015

Snaxie - lekker Corn Dogs

Man Kos is mos iets wat maklik geëet kan word ... vat dit sommer so met die hand en daar gaan jy. Nou hierdie Amerikaanse snaxie is baie lekker en verseker pure Man Kos.

Corn Dogs
Met al die publisiteit rondom al die goed wat ons mag eet en wat ons nie mag eet nie en dit wat ons verseker gaan dood maak en dit wat ongetwyfeld vet maak, word mens soms erg depressief as jy net aan kos dink.

Vir my is die belangrikste reël dat ek moet darem 'n redelike goeie idee hê van waar kom my kos vandaan. So het dit dan gebeur dat ek oor die laaste klompie jare al die gewone worsies, polonies, hoenderlewers, burger patties en viskoekies vermy soos die pes. Die goed leen hulle by uitstek daartoe dat ons allerhande gemors gevoer kan word en ons is salig onbewus daarvan.

Beslag in die glas
Hier in Nelspruit is 'n slaghuis, Meat Delights ... en by hulle koop ek die worsies waarvan so baie van ons hou. Ek vertrou die slagter dat sy nie long, poepol en tong in my worsies sal sit nie en dis goed genoeg vir my.

Rol in die meel
Corn Dogs is uit en uit 'n Amerikaanse skepping en die laaste klompie jare sien ons dit by feeste en Saterdag Markte. Sover ek kon vasstel is die naam Corn Dog blykbaar omdat daar mieliemeel in die beslag gesit word. Ek sit Jan Pap se Braaipap meel in myne want dis lekker grof. Jy kan enige mieliemeel insit wat jy het, ek sien dat sommige mense polenta in sit.

In die diepvet braaier
Nou wat presies is die Corn Dog ... dis eenvoudig ... bloot net 'n worsie wat op 'n stokkie gedruk word, in die beslag gedoop word en dan in diepvet gebraai word. Klink eenvoudig maar jissie ... dis lekker.

Die belangrikste ding is dat jy moet jou beslag aanmaak en dan gooi ek dit in 'n glas, 'n Glas wat diep genoeg is sodat die worsie mooi in die beslag ingedruk kan word. Dis belangrik want anders gaan jy sukkel. Tweede ding is, maak seker jou gekose worsies is mooi droog, ek droog hulle af met papierhandoek. As jy dit nie doen nie gaan jy probleme kry met die vog in die diepvet en jou beslag gaan nie lekker klou nie. Laastens is dit nodig dat jy die worsies in koekmeel rol voordat jy dit in die beslag doop.

Nou as jy al die dinge gedoen het dan kan jy redelik seker wees die braaiery gaan goed afloop. Ek maak my olie so 175C to 180C warm. As jy nie 'n diepvet braaier het nie, gebruik 'n groot pan want dis belangrik dat die worsie met stokkie en al mooi in die olie kan ingaan.

Hier is die resep ...

6 sausages / hotdogs - Ek gebruik gewoonlik Frankfurters of Russians.
1 Koppie Self Rising flour - as jy nie het nie. Gewone meel plus 1 Teelepel bakpoeier.
1 Koppie Mieliemeel
1 Koppie melk
1 eier
Sout en Peper ... ek gooi ook Braaivleis speserye in.
Olie vir die diepbraai.

Gooi alles in 'n bak en meng goed. Dis 'n baie stywe beslag en dis wat jy soek.

Steek nou stokkies in die worsies en doop in die beslag. Dan olie toe. Vir so 7 tot 8 minute. Moenie die olie te warm maak nie want dan gaan die deeg brand.

Hier is 'n video van hoe dit gedoen word ... Corn Dogs

Ek het al omtrent al die worsies wat hulle maak so gebraai, ek hou nogal van die Russians maar my familie verkies die gewone Frankfurters.


Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.