Wys tans plasings met die etiket Potjiekos. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Potjiekos. Wys alle plasings

Sondag 14 Oktober 2018

Potjiekos - Slowveld 2018

Saterdag 13 Oktober 2018 en die dag breek oor die Laeveld. Ek staan in my kombuis en kyk deur die venster terwyl die ketel aan die kook kom. Ek sukkel om ordentlik wakker te word as ek nie my oggend koffie in kry nie.

Finale aanbieding
Dis 'n grou dag, ligte windjie maar hy het 'n skerp kant en daar is so mistige reëntjie wat nie eers die geute aan die praat kry nie ... net so sukkelende druppery ... amper soos my skoolmaatjie, Fanie ... net 'n gehakkel.

Ons Kookskerm
Ek is nogal gespanne, die Slowveld Potjiekos Kompetisie is bekend vir strawwe kompetisie en uitstekende kos. Soort van die UITHANG potjiekos geleentheid van die jaar. #ManKos neem vir die eerste keer deel en ek weet dat ons te staande gaan kom teen spanne wat gekonfyt is in die potjiekos ding.

So vat ons die pad Witrivier toe. Nie baie geselsies in die motor nie, elkeen maar besig met sy eie gedagtes.

Varkvel Krakers en Kaiings
Met ons aankoms by Casterbridge is dit reeds woelig en almal pak af, pak uit en slaan op. Hier is dit koud en die misreën is bietjie meer manhaftig as by my op die plaas. Dit laat my nogal angstig voel. Die hoofpot is nie regtig 'n probleem nie want hy kook met sy deksel op en die Mashesa stofie sal kan oorleef in so trietsigheid. My probleem is kaiings en varkvel krakers ... dis oop potte met kokende varkvet in en dit gaan nie goed werk as daar water inval nie.

Ons slaan ons kookplek aanmekaar en spoedig begin die rokies trek. Die reën neem die wyk maar die koue bly maar knibbel.

Op 'n stadium het ek gevrees ons gaan nie betyds klaar kry nie maar met toewyding stook en kook die span en 11h50 is ons gereed vir die beoordeelaars. Nadat ek die opdiening gedoen het, haal ek diep asem en ontspan. Nou is daar niks meer wat gedoen kan word nie en ek en Jedske neem die bord na die beoordeelaars toe.
Beoordeling

Lekker Buffalo Bacon Bytes
Varkvel Krakers en Kaiings
Gemmer Varkpens
Vetkoekies
Tuisgebakte Broodrolletjies

Daar was so bietjie groente maar #ManKos is Vleis en Brood 👍

Sukses
Op die oog af het ek goeie tekens gesien tydens die beoordeling en toe is dit verby. Terug by die kookskerm is ek stomgeslaan ... alles is uitverkoop ... 22 porsies. Vir die eerste maal gaan sit ek in my stoel, nou eers besef ek hoe lekker moeg is ek werklik. Zaan en Jedske ruim op en pak die goeters in die kratte ... dankie meisies, julle is sterre.

En toe breek die oomblik van waarheid aan ...

Die amateur wenners van die Slowveld Potjiekos Kompetisie 2018 ... #ManKos

Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.




Maandag 09 Julie 2018

Potjiekos - Loggers Pub and Grill

Saterdagoggend 7 Julie 2018 skrik ek wakker ... jip, skrik is die regte woord. Dis 05h15 en nog nag. Vir my is dit 'n ongoddelike tyd om op te staan en ek kreun terwyl ek myself sit maak op die kant van die bed. Ons het baie voorbereiding gedoen vir die kompetisie in Sabie maar ek voel hondsleg. Dinsdag teen sononder het my neus begin brand en spoedig het ek geweet dat sulke tyd is ... grieptyd en die moerigheid begin prut in my. Tenspyte van medikasie en wat nog voel ek maar kakkerig vanoggend.

Tafel is gedek
Met 'n ernstige snuif kies ek koers badkamer toe. Vyftien minute later staan ek in die kombuis en staar deur die venster terwyl ek wag dat die ketel moet kook. Dis nog donker buite so ek weet nie hoe die weer lyk nie maar die termometer dui aan dat dit 'n skamele 7C in die tuin is. Nou vir die res van die land is dit warm maar vir ons Laevelders is dit koud.

Jedske en Wiehann en die Kaiingpot
Vanoggend het die koffie nie regtig 'n uitwerking op my nie en ek mompel aanhoudend terwyl ek vir die laaste keer deur my kontrolelysie gaan.

Net na 06h30 daag Wiehann en Jedske op en ons laai die bakkie. Dis nou darem al mooi lig en ek kan sien daar is dik wolke in die suidweste. Die twee jonges is baie opgewonde oor die dag se uitdaging en ek is maar stil en stemmig. In my kop maal die resepte en die tydsberekeninge en ek kyk in die pad sonder om regtig iets te sien.

Net na 07h30 draai ons in die parkeerterrein in by Loggers Pub en Grill ... daar staan alreeds so paar gazebos en ons soek vir ons 'n gepaste staanplekkie. Dis bewolk en koel maar gelukkig geen noemenswaardige wind nie.

Johan en Zaan en die Broodpot
Soos 'n goed geoliede masjien spring ons aan die werk en voor agtuur staan ons gazebo, is die braaiers opgestel en die tafels gedek.

Wiehann is in beheer van die kaiingpot en hy moet so spoedig as moontlik aan die gang kom. Sy pot doen ook die Varkvel Krakers en die Vetkoekies. Hy moet ook die Buffalo Bacon Bits afrond in die varkvet.

Johan is in beheer van broodbakkery en Zaan staan hom by. Hy gaan 'n besige dag met die broodpot hê en weinig kans kry om te ontspan.

Ek doen die hoofpot, Gemmer Varkpens en Jedske staan my by. Zaan en Jedske help ook met die tafel vir die beoordeelaars.

My spanmaats
Elke lid van die span het sy spesifieke take en verantwoordelikhede en almal weet presies wat van hom of haar verwag word. Ons het vrede gemaak met die feit dat die ManKos span nie sommer die prys vir die beste GEES sal wen nie want ons is heeltemal te besig om te kook ... en dis ook reg so vir ons almal ... vir ons gaan alles oor die finale opdiening. Dit moet net die beste wees ... niks minder nie.

Beoordeling
By die middel van die dag prut die potte mooi en die kaiingbak en broodmandjie begin vol raak. Ek voel steeds maar olik maar die dinge loop mooi. Natuurlik befoeter die snotterigheid my smaak vermoë en ek moet sterk staatmaak op my spanmaats om my te lei met die geur van ons disse.

En toe is dit sulke tyd ... 15h15 en die beoordeelaars stap in ons plekkie in. Ons tema vandag is DIE VARK in die Verhaal. Ek lees vir hulle ons Spyskaart Storie en toe staan ons terug en kyk ... reg om vrae te antwoord maar eenkant ... die mense moet tyd kry om te proe, dink en weer te proe. Die algemene opmerkings en die bree glimlagte laat my goed voel. #ManKos span het weereens 'n meesterstuk opgedien.

Teen skemeraand is dit die prysuitdeling en ek is trots om te sê dat die #ManKos Potjiekos Span het hulle goed van hulle taak gekwyt ... Die Wenners van die Loggers Pub en Grill 2018 Potjiekos Kompetisie.

Dankie aan die organiseerders, die beoordeelaars en 'n groot dankie aan my spanmaats ... welgedaan manne en meisies ... julle is tops.

Spesiale dank aan #ManKos se Borge ...

1. ESKORT Butchery Mbombela
2. Corporate Collect
3. Tripwired Clothing
4. ACS Security


Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.

Vrydag 22 Junie 2018

Potjiekos - Canarywalk Corporate Challenge

Potjiekos ... dis 'n ding wat baie mense laat glimlag maar dis ook iets wat baie mense laat frons. Die algemene opinie rondom die tipe kosmaak is dat dinge net ingemoer word en dat die pot basies na homself sal kyk. Dis 'n langdradige proses en in die meeste gevalle net 'n goeie verskoning om te kuier.

Die manne staan bont
So tydjie terug het ek die vraag gevra ... Wat is vir jou lekker van 'n potjie en wat kan jy gladnie verdra nie ?
Wel daar was letterlik dosyne antwoorde en elke antwoord het basies dit bevestig wat ek altyd vermoed het. Laat ek dit net duidelik stel, ek het nog nooit in my lewe werklik 'n potjie gemaak nie ... hoofsaaklik omdat die proses in sy gewilde vorm, gladnie sin maak vir my nie en die resultate is normaalweg maar baie middel van die pad.
Die pot prut

So paar weke gelede nader my seun en twee van sy vriende my en vra of ek wil deel word van hulle potjiekos span wat gaan inskryf vir die Canarywalk Corporate Challenge in Nelspruit. Hulle wou dit graag onder die ManKos vaandel doen. Ek het so rukkie geluister na hulle stories en toe besluit ek ... Hoekom nie, miskien is dit tyd dat ManKos sy toon in die kompetisie wêreld insteek.

Vars broodjies uit die oond
Potjiekos is 'n erg tipiese Suid Afrikaanse benaming maar die werklike kookproses is wêreldwyd bekend. Die vernaamste verskil tssen Potjiekos en 'n Bredie is die feit dat die potjie uit duidelik onderskeibare lagies bestaan waar 'n bredie maar
'n mengelmoes is.

Die volgende paar aande reis ek deur kombuise op Youtube en soek vir iets wat nie net uiters smaaklik gaan wees nie maar ook iets wat nogal kan uitstaan.



En so word die ManKos Varkpens Potjie gebore.

'n Potjie sonder maniere ... hy verlei jou en bederf jou sonder om skaam te kry.

Dan roep hy nog sy vriende ook in om jou verleiding tot die uiterste te dryf ... Kaiings, varkvel krakers en as jy nou genoeg gekneus is dan offer hy jou 'n broodjie met romerige plaasbotter as salfies vir jou bederfie.

Brosgebraaide kaiings
Moet net nie vir jou vrou vertel hoe jy hier gekafoefel het nie ... sy sal nie verstaan nie.

Wees gewaarsku ... daai groot glimlag en vetring om jou bek gaan jou weggee.

Ek drie proeflopies gedoen en toe is ek tevrede.

Kos is op die tafel.
En toe breek die groot dag aan. Saterdagoggend 16 Junie 2018. Ek glo dit was 'n ondervinding vir my 3 spanmaats, Wiehann, Janus en Johan ... ek dink hulle verwagting was 'n dag van pret en jol om die vure rond maar die ouman het ander planne gehad ... net die beste moet gelewer word en geen tyd vir speletjies nie. Ek het so hier en daar opmerkings opgevang wat woorde soos "slawedrywer" "army korporaal" en "blixem" ingesluit het ... die sweet het getap en die manne het gefokus en uiteindelik toe die beoordeling moet gebeur het almal rustig gestaan en geweet ... die Varkpot is goed.

ManKos Potjiekos span het die eerste plek gekry vir die Beste Stalletjie en het tweede gekom met die potjie self. Nie sleg vir 'n eerste maal nie. Daar was 35 spanne wat meegeding het.

Ons oorweeg nou om gereeld aan sule kompetisies deel te neem.


Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.