Sondag 14 Oktober 2018

Potjiekos - Slowveld 2018

Saterdag 13 Oktober 2018 en die dag breek oor die Laeveld. Ek staan in my kombuis en kyk deur die venster terwyl die ketel aan die kook kom. Ek sukkel om ordentlik wakker te word as ek nie my oggend koffie in kry nie.

Finale aanbieding
Dis 'n grou dag, ligte windjie maar hy het 'n skerp kant en daar is so mistige reëntjie wat nie eers die geute aan die praat kry nie ... net so sukkelende druppery ... amper soos my skoolmaatjie, Fanie ... net 'n gehakkel.

Ons Kookskerm
Ek is nogal gespanne, die Slowveld Potjiekos Kompetisie is bekend vir strawwe kompetisie en uitstekende kos. Soort van die UITHANG potjiekos geleentheid van die jaar. #ManKos neem vir die eerste keer deel en ek weet dat ons te staande gaan kom teen spanne wat gekonfyt is in die potjiekos ding.

So vat ons die pad Witrivier toe. Nie baie geselsies in die motor nie, elkeen maar besig met sy eie gedagtes.

Varkvel Krakers en Kaiings
Met ons aankoms by Casterbridge is dit reeds woelig en almal pak af, pak uit en slaan op. Hier is dit koud en die misreën is bietjie meer manhaftig as by my op die plaas. Dit laat my nogal angstig voel. Die hoofpot is nie regtig 'n probleem nie want hy kook met sy deksel op en die Mashesa stofie sal kan oorleef in so trietsigheid. My probleem is kaiings en varkvel krakers ... dis oop potte met kokende varkvet in en dit gaan nie goed werk as daar water inval nie.

Ons slaan ons kookplek aanmekaar en spoedig begin die rokies trek. Die reën neem die wyk maar die koue bly maar knibbel.

Op 'n stadium het ek gevrees ons gaan nie betyds klaar kry nie maar met toewyding stook en kook die span en 11h50 is ons gereed vir die beoordeelaars. Nadat ek die opdiening gedoen het, haal ek diep asem en ontspan. Nou is daar niks meer wat gedoen kan word nie en ek en Jedske neem die bord na die beoordeelaars toe.
Beoordeling

Lekker Buffalo Bacon Bytes
Varkvel Krakers en Kaiings
Gemmer Varkpens
Vetkoekies
Tuisgebakte Broodrolletjies

Daar was so bietjie groente maar #ManKos is Vleis en Brood 👍

Sukses
Op die oog af het ek goeie tekens gesien tydens die beoordeling en toe is dit verby. Terug by die kookskerm is ek stomgeslaan ... alles is uitverkoop ... 22 porsies. Vir die eerste maal gaan sit ek in my stoel, nou eers besef ek hoe lekker moeg is ek werklik. Zaan en Jedske ruim op en pak die goeters in die kratte ... dankie meisies, julle is sterre.

En toe breek die oomblik van waarheid aan ...

Die amateur wenners van die Slowveld Potjiekos Kompetisie 2018 ... #ManKos

Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.




Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Thank you for your comment. The comments on this blog are moderated and yours should appear soon.

Greetings
Colyn.