Wys tans plasings met die etiket Koek. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Koek. Wys alle plasings

Sondag 13 Augustus 2017

BakDit - Mari-Louise se Jodetert

ManKos het so klein WhatsApp groepie wat mekaar ondersteun en uitdaag met Bak en Brou.
So rukkie terug begin twee van ons praat oor 'n Bak en Kook Bucketlist ... en so word die ManKos BakDit en ManKos KookDit lysies toe gebore.

Mari-Louise se Jodetert
Heel bo aan die BakDit lysie is toe die Jodetert.

Wel ek en Liana Barnard daag mekaar toe om die Tert te maak vir Vrouedag.

Liana het die tradisionele een gemaak en ek het Mari-Louise se Framboos een gemaak soos in die Koekedoor Bakboek.

BakDit is informeel en daar is nie baie reëls nie ... jy kies iets wat jy nog altyd oorweeg het maar nog nie die moed gehad het om regtig te doen nie. Dan as jy klaar is kom wys jy die fotos en vertel jou storie.

Colyn - Loslit Flerrie
Ek wou nie die tradisionele Jodetert bak nie, ek het iets besonders gesoek. Eers kam ek deur die moontlikhede op Google en toe op Youtube. Die Russe maak een wat hulle Medovik noem ... na ek so paar van die Medovik resepte deurgelees het en twee videos gekyk het, besluit ek om liewer terug te gaan na ons eie goed toe.

Liana - Statige Dame
Meeste bakkers wat my ken weet dat ek 'n groot aanhanger van Mari-Louise Guy is en ek hou van haar resepte. So eerste kyk ek in haar boek, Koeke ter viering van die Liefde en die LEWE. Op bladsy 85 kry ek die Russiese Tee Koek. Dis maar 'n Jodetert en die resep lyk lekker. Die ding wat my pla is die Rooibostee ... ek drink gladnie tee nie. Ek dink nie ek het meer as vyf koppies tee in my hele lewe gedrink nie. So ek soek verder.

Die Koekedoor boeke klink na 'n goeie begin punt. Errieda du Toit bewaar die Koekedoor uitdagings vir ons in 'n Kookboek. In Koekedoor I was die Jodetert 'n uitdaging en ek kan nog onthou hoe die deelnemers gespook het met die koek. Ek soek in die Resepregister en sien nie Jodetert nie ... toe gaan soek ek maar onder Koeke ... en daar kry ek hom. Die register wys my na bladsy 128. Hmmm ... nee op bladsy 128 is vir seker nie 'n Jodetert nie en ek begin blaai. En daar kry ek hom op bladsy 132. Duidelik 'n Drukkersduiweltjie.

Ek kyk vinnig oor die bestandele lysie en ek het alles in my spens. Boek onder die arm kies ek koers kombuis toe. Poppie kom maak vir haar tee en loer na die prentjie ...

"My ouma s'n het nie so gelyk nie."

"Dis moontlik omdat jou ouma nie vir Mari-Louise geken het nie."

Alhoewel ek nogal knap is met woorde, kan ek nie daai kyk wat ek gekry het, beskryf nie.

Ek bly maar liewer stil en begin my bestandele uitweeg en afmeet en pak die bakkies in 'n ry. Dis hoe ek bak ... weeg en meet alles af en plaas in bakkies. Dan gaan ek deur die METODE en pak dit wat saam gemeng word in groepies bymekaar.

Heel eerste ding wat my laat kopkrap ... die resep vra 22gr Suiker ... ek weeg dit af en sien dat die hopie skaars 'n eetlepel vol is. Alles in my sê dat dit sekerlik onmoontlik is en ek kyk weer mooi in die boek.

"22gr (1 k) Suiker" ... knorrend trek ek die maatkoppie nader, ek gaan altyd heel eerste vir die gewig as dit in 'n resep is en as dit nie daar is nie dan doen ek die omrekening van die volume en weeg dit dan af. 'n Skaal is baie meer akkuraat as knippies, knyppies, koppies, lepels en mespunte.

Ek maak die koppie mooi gelyk vol ... gooi dit in die bakkie ... 220gr ... ek trek my pen nader en maak die regstelling in die boek. Nog 'n drukkersduiweltjie.

Ek weeg die botter af en toe die drie eiers. Ek staan en kyk by die venster uit terwyl ek die eiers klits.

Terloops, ek het jare terug gevind dat dit beter werk vir my om die eiers met a steak mes te klits. Die lem kerf die stringe wat soms in eiers vorm lekker uitmekaar. Ek het dit begin doen nadat ek een oggend my skon baksel amper verongeluk het ... toe ek die kwas uittrek en die eerste skon se koppie verf met die eier, toe val daai slymbal tussen die hare uit en stroom so oor my skon se kop en vorm 'n plas in die pan. Dit was net een te veel vir my OCD natuur. Daarna het ek begin om die eiers te klits met 'n skerp messie .... hierdie is sommer 'n sydelingse opmerking en het nie eintlik iets met die Jodetert te doen nie.

Ag tog ... en dis nou by die groepering van die bestandele volgens die METODE dat nog 'n duiweltjie kop uitsteek.

Die bestandele lys dui aan ... "3 eiers, geklits" en dan in die metode ... "Voeg die eiers een vir een by ..."

Jissim ... dis verwarrend ... ek laat die menger maar loop en eyeball maar die geklitste eier wat ek so oor die bakkie se kant laat glip. Nog 'n drukkersduiweltjie.

Vir my was die maak van die beskuitjies die ernstigste hekkie om te oorkom. Ek het al soveel kleinkoekie baksels verkool dat ek nogal senuweeagtig was net by die blote gedagte aan 'n 20cm koekie.

Ek kon onthou tydens die TV Reeks het Mari-Louise baie klem gelê op die beskuitjie lae. Hulle moes ewegroot wees en hulle moes egalig en dieselfde gebak wees. Dit was die ding wat my senuweeagtig gemaak het.

Die deeg word mooi glad en ek dop dit om op my werksblad. Op hierdie stadium is ek erg gespanne, die groot enkel koekie spook met my. Ek het talle maniere gesien en talle metodes opgelees en op Koekedoor het van die mense die beskuitjie in die onderkant van die ringpanne gebak. 'n Paar het vasgesit en 'n paar het gebreek met die uithaal ... ek was gladnie lus vir dit nie. In die een Russiese video het ek gesien die man rol die deeg uit op 'n silicon sheet en dan druk hy die sirkels uit met sy ringpan. Hy trek die oorskot af en lig die silicon vel met die twee sirkels op, en plaas dit op a cookie sheet ... en dan in die oond in ... dis wat ek gedoen het. Dis maklik hanteerbaar en die koekies kannie vassit aan die silicon vel nie. Liana het haar sirkels op bakpapier uitgedruk en dan in die pan gesit.

Omtrent 'n uur later is al die beskuitjies gebak en ek glimlag ... ek dink hulle is mooi en ek is bly ek het iemand om die sukses mee te deel. Ek kyk nog eenmaal na die klomp sirkels wat op die rakkies lê en begin om die kombuis skoon te maak ... die vulsels is eenvoudige prosesse wat ek al baie gedoen het en die spanning is nou uit die resep uit vir my. Ek het die koue koekies in 'n lugdigte houer gebêre vir die volgende dag.

Colyn - Loslit Flerrie
Wel kyk maar op die fotos ... ek dink ek het dit nogal nie te sleg reggekry nie.

Die maak van die vulsels was sonder kwellings en ek het die koek aanmekaar gesit en toe in die yskas gebêre vir 24 uur. Die deel is eintlik noodsaaklik want dit laat die vulsels mooi stewing vassak en die beskuitjies word ook sag. Die sagtheid laat jy toe om mooi skywe te sny.

Liana - Statige Dame
Ek het my beskuitjies geverf met Muskadel voor dit aanmekaar gesit het ... ek het later besef ek was heeltemal te versigtig met die Muskadel.

Hier is die resultate. Albei van ons was nogal nuuskierig om te kon sien of ons so iets so kon doen.

Beide ek en Liana is bly ons het die ding aangepak en die tert sal weer gemaak word. Ek het klaar planne vir so paar kinkels.

Liana se tert is 'n Statige Dame by die Staatsteater en myne is 'n Loslit Flerrie by Oppikoppie. 😀😀

Dankie Liana ... dit was nou waarlik lekker.


Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.

Donderdag 27 Julie 2017

Koek - Mari-Louise se ouma se Lemoenkoek

Ek is nou vir seker nie 'n koekemaker van faam nie maar ek hou daarvan om te bak. So kom dit dan dat Poppie my nader trek Sondagaand en vra of ek nie 'n koek sal bak vir hulle teetyd nie.
My kop dwaal so deur my resepte en ek is lus vir iets nuuts. Ek trek die jongste boek van Mari-Louise van die rak af en begin deur dit blaai.

Ouma se Lemoenkoek
Daar is 'n magdom van uitdagings en ek sukkel om te besluit ... en toe vang my oog die resep op bladsy 123. Ouma se beroemde Lemoenkoek.

Ek kies koers kombuis toe en begin maar by die begin ... ek meet elke bestandeel af sodat ek nie per ongeluk iets vergeet nie. Dis iets wat ek myself aangeleer het en wyk bykans nooit van die paadjie af nie. Ek het nie bruismeel nie en maak sommer vinnig my eie, 1 teelepel bakpoeier en 'n half teelepel koeksoda vir elke koppie meel.

Toe vat ek die METODE deel ... ek groepeer altyd die bestandele in die volgorde wat die resep vra.

Groot was my verbasing toe ek lees dat mens alles, en ek bedoel alles, in die mengbak gooi en dan meng. Die instruksie laat my diep frons ... dis 100% teen dit wat ek tot dusver van koekbak geleer het.

Gewoonlik verroom mens mos maar die vet en suiker of die eiers en suiker en dan kom die droë bestandele. Nie hierdie resep nie ... nee jy gooi alles in die meng bak en dan meng jy dat dit bars.

Ek staan en kyk hoe die mengspaan die botter en eiers en suiker en meel begin bymekaar maak en ek draai die spoed op toe alles gebind is. Die boek sê klop 6 tot 8 minute. En so maak ek ... mettertyd sien ek die mengsel word al gladder en die kleur word ook ligter. Ek laat die Kenwood maar begaan en bein die panne reg kry. Die boek beveel twee 18cm ronde panne aan maar ek hou nie van ronde panne nie en het twee vierkantige panne gebruik.

Op 8 minute is die beslag mooi glad en ek verdeel die beslag tussen die twee panne. Maak maar baie seker jy doen dit met 'n skaal want as jy nie die beslag gelykop verdeel nie gaan jy probleme kry met die bak. Ek sien baie bakkers "eyeball" sommer die verdeling maar ek het ook al gesien hoe die bakkers kan galop as die twee koeke nie dieselfde uit kom nie ... so, ek weeg maar.

Ek stel my oond byvoorbaat 20C koeler as wat die resep aanbeveel want uit ondervinding weet ek dat my oond maar hitsig is en die soort beslag hou nie van 'n haastige oond nie.

Terwyl ek die beslag versigtig verdeel en baie sag versprei om die panne egalig te bedek glimlag ek, die was nou 'n wildvreemde metode vir my maar die beslag lyk fantasties. In my kop begin ek al aan variasies dink waar die beslag baie lekker sal werk ... dis hoe ek is ... my kop werk oortyd terwyl ek so bak en brou.

Op 10 minute begin daar duidelik 'n rand om die koek vorm en Poppie merk op dat die duik in die middel darem erg lyk. Ek verduidelik vir haar dis hoe daardie beslag in die oond nou reageer en verduidelik dat die buitenste rant reeds begin bak het en dat dit die rou beslag in die middel omsingel.

Binne die volgende 5 minute begin die middel op hitte kom en begin reageer. Op 17 minute is die twee koeke mooi uitgerys en perfek plat oor die middel heen. (As jou oond te warm is sal die middel aanhou uitrys en selfs begin kraak) Hierdie is 'n kritiese tyd in die bakproses en maak nie saak hoe groot jou nood is nie, moenie daai oonddeur oopmaak nie, nie eens op 'n skrefie nie. Die verandering in temperatuur sal die koek laat platval en hy sal nie weer opstaan nie. So, suig maar aan 'n pippermintjie en bly weg van daai oond deur af.

Op 25 minute gaan my alarm af en ek maak die oond deur oop, eers net op 'n skrefie, voel hoe die stoom en hitte uitstroom en dan bietjie wyer dat ek die toetspen kan insteek. Hy kom skoon uit en ek glimlag.

Ek haal die koeke uit die oond en sit hulle sommer op die stoofplate neer om te rus. Dis nou belangrik om die koeke kans te gee om te kalmeer. Ja kalmeer ... daardie pan is nou vol van 'n klomp baie angstige molekules, hulle was geklits en toe in 'n vuurwarm oond gedruk ... baie dinge het verander. As mens Brood bak en jy haal die Brood uit die oond uit ... en jy sit jou oor naby die Brood dan kan jy hoor hoor hoe kraak en kreun daardie Brood ... Broodbakkers sê die Brood sing ... wel 'n koek sing nie sommer nie want hy het nie 'n kors nie en die oond is nie so warm nie ... maar glo my, daai koek sal wil sing.

Laat staan so vir 10 minute en keer dan uit op 'n draadrak om heeltemal af te koel.

Die volgende stap was die botterversiersel wat tussen die twee lae kom. Weer moet ek bieg ... Mari-Louise se resep is baie goed ... dit sal voortaan my standaard wees.

Heerlik
So twee ure later sit ek die botterversiersel laag op en toe moet ek die glanslaag bo-oor doen ... weereens iets wat my al male sonder tal gepootjie het. En weer is Mari-Louis in die kol. Die glanslaag werk soos 'n bom. Laastens strooi ek bietjie lemoenskil fraaings oor die koek en sit so paar skyfies van soet lemoenkonfyt op. So paar druppels van my suurlemoenstroop en toe is ek klaar.

Die koek is heerlik en die mense by Poppie se werk was gaande oor die koek. Almal soek die resep en ek sê ... kry die boek ... "Koeke ter viering van die Liefde en die Lewe" en op bladsy 123 is die resep.


Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.

Donderdag 22 Junie 2017

Koek - Errieda se Hummingbird Koek

So paar dae terug roep 'n vriend my op WhatsApp en hy is baie huilerig. Hy het die moed bymekaar geskraap en die Hummingbird Koek gebak. Groot was sy terleurstelling ... die koek het kluitjierig uitgekom en was gladnie lekker nie. Ek is dadelik nuuskierig want dis nou een koek wat ek al lankal wou gebak het.

Errieda se Hummingbird Koek
Ek vra hom watter resep het hy gebruik en hy gee my die skakel na die resep toe. Ek sien dadelik dis een van Errieda du Toit se resepte en frons. Haar resepte is gewoonlik baie goed en deeglik getoets. Ek het nog nooit 'n flop gehad met enige van haar geregte wat ek gemaak het nie. Met die eerste oogopslag sien ek dadelik 'n paar dinge raak wat jou baie maklik sal laat struikel met die resep.

Laat ek eers verduidelik ... vir my val koeke in twee hoof afdelings ... SPONSKOEKE en VRUGTEKOEKE ... ek weet dis oorvereenvoudig maar dis hoe dit vir my werk. Koeke se sukses word grotendeels bepaal deur hoe jy die beslag meng en dan hoe jy bak, in 'n vlak pan vir 'n rolkoek, in muffin panne vir cupcakes of in groot panne vir 'n gewone koek. Sponskoeke kan al die dinge doen maar vrugtekoeke is werklik nie geskik vir rolkoeke nie tensy jy regtig dapper is en weet wat jy doen.

Eerste ding wat ek opmerk van die Hummingbird koek is dat dit 'n groot beslag is. Tweedens is daar 'n klomp nat vrugte in ... piesangs en pynappel snippers. Hierdie twee goed gaan die beslag swaar en baie nat maak en natuurlik gaan dit die baktyd baie affekteer.

Ek gesels bietjie met my vriend en vind uit wat hy gedoen het en hoe hy die metodes uitgevoer het. Dis vir my gou duidelik dat hy heel waarskynlik die koek nie deurgebak het nie. Ek weet dis 'n ding met vrugtekoeke ... die beslag is swaar en daar is gewoonlik baie suiker in ... as jou oond te warm is gaan die koek buite brand voor hy in die middel gaar is ... die swaar beslag gelei die hitte stadiger na die middel toe en die buite rante begin brand voor die middel regtig warm raak. Errieda se resep stel voor dat jy drie 23cm panne gebruik ... dit het die voordeel dat die beslag nie te dik in die panne lê nie en vinniger bak want die hitte kom goed deur van bo en van onder af. Ek probeer om die beslag so om en by 3cm maksimum diep in die panne te gooi.

Ondervinding het my geleer dat jy maar gerus die temperatuur van jou oond met 10C kan verminder vir vrugtekoeke. Ek bak ook baie selde 'n ronde koek en seker 80% van my koeke bak ek in vierkantige panne wat so 20cm x 20cm groot is. Vierkantige koek is makliker om te verpak en sny ook makliker in porsies in ... maar dis maar net my persoonlike opinie.

Ek laai die resep op my tablet en kies koers kombuis toe. My vrou is nuuskierig toe ek so vroeg oggend begin panne en meel en dinge uitpak. Ek vertel haar die storie en sy lag ...

"En jy dink jy kan dit reg kry ..."

Ek gee haar so skewe kyk ... "Poppie, mense donner koeke gewoonlik op omdat hulle nie fokus as hulle moet bak nie. Koekbak is 'n wetenskap ding en jy beter fokus of jy gaan faal. Jy kannie sommer dinge uitlos of bygooi vir luck nie en jy moet reg meet en weeg."

Mooi uitgemeet en reg gepak
Uit honderde navrae het ek al geleer dat die meeste mense lui raak as hulle 'n koek moet bak wat baie bestandele het en nie konsentreer nie. Ek het 'n goue reël as dit by koek kom ... ek meet en weeg al my bestandele af en pak dit in groepies bymekaar soos die metode voorskryf. Sodoende mis ek nie 'n bestandeel nie en ek sit ook nie iets eerste in wat eintlik laaste moes ingaan nie. Dit klink dalk bietjie omslagtig maar probeer dit gerus volgende keer as jy 'n koek bak.

Soos gewoonlik is ek nie 'n ou wat sommer resepte in my stories gee nie want dit gaan meer oor die metodes as oor die resep ... hier is die skakel na Errieda se Hummingbird Koek. Kliek op die skakel en kry die hele resep daar.

Maak seker jou oond is aan en gaan reg wees as jy klaar gemeng het ... dis baie belangrik dat jy die beslag so vinnig as moontlik in die oond kry nadat die nat en droeë bestandele bymekaar gebring is. Dink maar aan die proses as jy Enos in die glas water ingooi ... dis maar ook wat gebeur in jou beslag ... net baie stadiger.

Klits die eiers en suiker totdat jy gladnie meer suikerkorrels in die beslag kan voel nie ... vat so 8 minute in my Kenwood met die whisk aan. Gooi nou die olie stadig by terwyl die masjen steeds goed op spoed is. Hierdie is 'n belangrike stap in enige koekbak proses. As jy hier lui is en kortpad vat gaan jy sekerlik nie 'n lekker koek kry nie want daai suikerkorrels gaan jou beslag beneuk in die oond.

Errieda noem in die kommentare dat sy 'n opgehoopte koppie pynappel snippers gebruik en dan bietjie van die sap ekstra in gooi. Dis goeie raad want die beslag was effens stram ... nou die grootte van die eiers wat jy gebruik gaan ook hier 'n rol speel. Nadat ek die meel ingevoeg het was dit duidelik dat die beslag moontlik baie stram gaan wees en ek meng die pynappel en piesangs in met 'n groot metaallepel. Dis nou die tyd om die beslag te beoordeel en te besluit of jy nog so bietjie vog nodig het. Ek het so 4 eetlepels sap bygegooi om die beslag lekker glad te kry.

Mooi gebak
Die volgende stap was die verdeling tussen twee panne, korrek ... ek het net twee vierkantige panne gebruik. Ek is nogal vol draadwerk as dit by hierdie stap kom en ek weeg die panne soos ek die beslag in skep. Ek soek hulle byna dieselfde gewig ... dis baie belangrik om dit so te doen want anders bak die twee koeke nie eweredig nie. Ek weet gesoute bakkers eyeball sommer die verdeling so maar ek doen dit nie ... ek weeg en maak seker.

Nou vir die oond ... my oond is gestel op 180C FAN ASSISTED en ek bak op die middelste rak. Na 10 Minute draai ek die oond af na 160C toe. Op 20 Minute toets ek met die toetspen en die pen kom nog nat uit in die middel. Nog 7 minute en toe is die pen skoon. Die koek begin nou ook effens wegtrek van die panne se rante af.

Na 30 minute keer ek die koeke uit en hulle voel perfek.

Heerlik ... vir seker 'n wenner.
Die koek is heerlik ... klam en geurig ... ek het 'n half teelepel MIXED SPICE ingegooi ipv die Naeltjies en Neutmuskaat wat die resep aandui en ek het die pecans met okkerneute vervang. Ek het so half koppie ekstra neute ingegooi.

Volgende keer as ek hom maak ... en ek sal hom vir seker weer maak ... sal ek 'n Roomkaas en Karamel versiering maak ... pynappel en karamel is mos groot maatjies.

Ek het die fotos met my vriend gedeel en hy het onderneem om weer die koek aan te pak. Vir my was dit 'n lekker projek want ek wou nog altyd graag die Hummingbird koek gebak het. Dit het ook weereens net beaam dat Errieda se resepte werk reg ... mits jy fokus.


Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.