Donderdag 22 Junie 2017

Koek - Errieda se Hummingbird Koek

So paar dae terug roep 'n vriend my op WhatsApp en hy is baie huilerig. Hy het die moed bymekaar geskraap en die Hummingbird Koek gebak. Groot was sy terleurstelling ... die koek het kluitjierig uitgekom en was gladnie lekker nie. Ek is dadelik nuuskierig want dis nou een koek wat ek al lankal wou gebak het.

Errieda se Hummingbird Koek
Ek vra hom watter resep het hy gebruik en hy gee my die skakel na die resep toe. Ek sien dadelik dis een van Errieda du Toit se resepte en frons. Haar resepte is gewoonlik baie goed en deeglik getoets. Ek het nog nooit 'n flop gehad met enige van haar geregte wat ek gemaak het nie. Met die eerste oogopslag sien ek dadelik 'n paar dinge raak wat jou baie maklik sal laat struikel met die resep.

Laat ek eers verduidelik ... vir my val koeke in twee hoof afdelings ... SPONSKOEKE en VRUGTEKOEKE ... ek weet dis oorvereenvoudig maar dis hoe dit vir my werk. Koeke se sukses word grotendeels bepaal deur hoe jy die beslag meng en dan hoe jy bak, in 'n vlak pan vir 'n rolkoek, in muffin panne vir cupcakes of in groot panne vir 'n gewone koek. Sponskoeke kan al die dinge doen maar vrugtekoeke is werklik nie geskik vir rolkoeke nie tensy jy regtig dapper is en weet wat jy doen.

Eerste ding wat ek opmerk van die Hummingbird koek is dat dit 'n groot beslag is. Tweedens is daar 'n klomp nat vrugte in ... piesangs en pynappel snippers. Hierdie twee goed gaan die beslag swaar en baie nat maak en natuurlik gaan dit die baktyd baie affekteer.

Ek gesels bietjie met my vriend en vind uit wat hy gedoen het en hoe hy die metodes uitgevoer het. Dis vir my gou duidelik dat hy heel waarskynlik die koek nie deurgebak het nie. Ek weet dis 'n ding met vrugtekoeke ... die beslag is swaar en daar is gewoonlik baie suiker in ... as jou oond te warm is gaan die koek buite brand voor hy in die middel gaar is ... die swaar beslag gelei die hitte stadiger na die middel toe en die buite rante begin brand voor die middel regtig warm raak. Errieda se resep stel voor dat jy drie 23cm panne gebruik ... dit het die voordeel dat die beslag nie te dik in die panne lê nie en vinniger bak want die hitte kom goed deur van bo en van onder af. Ek probeer om die beslag so om en by 3cm maksimum diep in die panne te gooi.

Ondervinding het my geleer dat jy maar gerus die temperatuur van jou oond met 10C kan verminder vir vrugtekoeke. Ek bak ook baie selde 'n ronde koek en seker 80% van my koeke bak ek in vierkantige panne wat so 20cm x 20cm groot is. Vierkantige koek is makliker om te verpak en sny ook makliker in porsies in ... maar dis maar net my persoonlike opinie.

Ek laai die resep op my tablet en kies koers kombuis toe. My vrou is nuuskierig toe ek so vroeg oggend begin panne en meel en dinge uitpak. Ek vertel haar die storie en sy lag ...

"En jy dink jy kan dit reg kry ..."

Ek gee haar so skewe kyk ... "Poppie, mense donner koeke gewoonlik op omdat hulle nie fokus as hulle moet bak nie. Koekbak is 'n wetenskap ding en jy beter fokus of jy gaan faal. Jy kannie sommer dinge uitlos of bygooi vir luck nie en jy moet reg meet en weeg."

Mooi uitgemeet en reg gepak
Uit honderde navrae het ek al geleer dat die meeste mense lui raak as hulle 'n koek moet bak wat baie bestandele het en nie konsentreer nie. Ek het 'n goue reël as dit by koek kom ... ek meet en weeg al my bestandele af en pak dit in groepies bymekaar soos die metode voorskryf. Sodoende mis ek nie 'n bestandeel nie en ek sit ook nie iets eerste in wat eintlik laaste moes ingaan nie. Dit klink dalk bietjie omslagtig maar probeer dit gerus volgende keer as jy 'n koek bak.

Soos gewoonlik is ek nie 'n ou wat sommer resepte in my stories gee nie want dit gaan meer oor die metodes as oor die resep ... hier is die skakel na Errieda se Hummingbird Koek. Kliek op die skakel en kry die hele resep daar.

Maak seker jou oond is aan en gaan reg wees as jy klaar gemeng het ... dis baie belangrik dat jy die beslag so vinnig as moontlik in die oond kry nadat die nat en droeë bestandele bymekaar gebring is. Dink maar aan die proses as jy Enos in die glas water ingooi ... dis maar ook wat gebeur in jou beslag ... net baie stadiger.

Klits die eiers en suiker totdat jy gladnie meer suikerkorrels in die beslag kan voel nie ... vat so 8 minute in my Kenwood met die whisk aan. Gooi nou die olie stadig by terwyl die masjen steeds goed op spoed is. Hierdie is 'n belangrike stap in enige koekbak proses. As jy hier lui is en kortpad vat gaan jy sekerlik nie 'n lekker koek kry nie want daai suikerkorrels gaan jou beslag beneuk in die oond.

Errieda noem in die kommentare dat sy 'n opgehoopte koppie pynappel snippers gebruik en dan bietjie van die sap ekstra in gooi. Dis goeie raad want die beslag was effens stram ... nou die grootte van die eiers wat jy gebruik gaan ook hier 'n rol speel. Nadat ek die meel ingevoeg het was dit duidelik dat die beslag moontlik baie stram gaan wees en ek meng die pynappel en piesangs in met 'n groot metaallepel. Dis nou die tyd om die beslag te beoordeel en te besluit of jy nog so bietjie vog nodig het. Ek het so 4 eetlepels sap bygegooi om die beslag lekker glad te kry.

Mooi gebak
Die volgende stap was die verdeling tussen twee panne, korrek ... ek het net twee vierkantige panne gebruik. Ek is nogal vol draadwerk as dit by hierdie stap kom en ek weeg die panne soos ek die beslag in skep. Ek soek hulle byna dieselfde gewig ... dis baie belangrik om dit so te doen want anders bak die twee koeke nie eweredig nie. Ek weet gesoute bakkers eyeball sommer die verdeling so maar ek doen dit nie ... ek weeg en maak seker.

Nou vir die oond ... my oond is gestel op 180C FAN ASSISTED en ek bak op die middelste rak. Na 10 Minute draai ek die oond af na 160C toe. Op 20 Minute toets ek met die toetspen en die pen kom nog nat uit in die middel. Nog 7 minute en toe is die pen skoon. Die koek begin nou ook effens wegtrek van die panne se rante af.

Na 30 minute keer ek die koeke uit en hulle voel perfek.

Heerlik ... vir seker 'n wenner.
Die koek is heerlik ... klam en geurig ... ek het 'n half teelepel MIXED SPICE ingegooi ipv die Naeltjies en Neutmuskaat wat die resep aandui en ek het die pecans met okkerneute vervang. Ek het so half koppie ekstra neute ingegooi.

Volgende keer as ek hom maak ... en ek sal hom vir seker weer maak ... sal ek 'n Roomkaas en Karamel versiering maak ... pynappel en karamel is mos groot maatjies.

Ek het die fotos met my vriend gedeel en hy het onderneem om weer die koek aan te pak. Vir my was dit 'n lekker projek want ek wou nog altyd graag die Hummingbird koek gebak het. Dit het ook weereens net beaam dat Errieda se resepte werk reg ... mits jy fokus.


Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Thank you for your comment. The comments on this blog are moderated and yours should appear soon.

Greetings
Colyn.