Sondag 04 Junie 2017

Eetplek - Sophies Bistro Nelspruit

Ek is 'n moeilike mens as dit kom by eetplekke. Ek het baie jare terug opgehou om stories oor eetplekke te skryf want dit is vir my moeilik om goed op te tower.

Sophie's Bistro by Halls
Vir my gaan dit oor lekker kos ... nie noodwendig die duurste op die spyskaart nie, inteendeel, ek verkies hamburgers, gebraaide hoender of vis en skyfies as ek gaan uiteet. Ek sal nie sommer steak bestel nie want ek weet vooraf al dat ek omgekrap gaan raak ... ek is 'n goeie kok en as dit by steak kom dan verouder ek my snitte self en sodoende is die steak altyd uit die boonste rakke. Ondervinding het my geleer om terwille van almal om my, liewer nie steak te bestel nie.

Nelspruit het 'n wye verskeidenheid eetplekke en ek weet sekerlik nie van almal nie. Ek het my geliefde plekkie vir hoender in die middedorp, my burger plekkie by iLanga maar ek het nie 'n plek vir vis en skyfies nie ... die een by Riverside het toegemaak en dit was dit vir my.

Heerlike atmosfeer
Laat in Februarie 2017 hoor ek van Sophies Bistro by Halls en die daaropvolgende Vrydagaand pak ek vir Poppie in die kar en daar gaan ons. My vorige twee Vrydagaande was 'n "wash out" ... eers loop ek my rieme styf met Skaap Chops en na ek daaroor gekla het gaan ek terug na dieselfde plek toe en bestel 'n hamburger ... denkende dat dit nie maklik is om van a hamburger 'n flop te maak nie ... wel ... nodeloos om te sê ... die ouens is spesialiste en foeter toe ook die hamburger op ... so ek en daai plekkie is klaar met mekaar.

Hoenderlewers
Terug by Sophies ... die son sak net agter die berge weg toe ek by Halls se parkeerplek indraai en ek vat so oomblik of twee om myself mooi bymekaar te kry ... met wilskrag spoel ek my brein uit sodat ek met 'n oop kop die plek kan ervaar. Poppie het my juis ernstig vermaan voor ons in die kar geklim het ...

Vis en skyfies
"Moet nou nie weer jou speelgoed rondgooi as die kos nie reg is vir jou nie." Ek mompel net so deur my tande.

In die skemerlig lyk alles warm en vriendelik en ons gaan sit by a tafeltjie op die stoep ... ek sal nege uit tien keer vir 'n buite sitplek gaan as ek die keuse het. Dis 'n heerlike laat someraand in die Laeveld en buite is die enigste plek om te sit.

Prawns
Aan die dienspersoneel se aksies kan mens sien die mense is nog nuut op die plaas en ek glimlag ... ek hou daarvan om te sien hoe mense in 'n tuig kan insak en dan met mening begin trek.


Ons lees die spyskaart deur en ek sien baie goed wat my aandag trek maar vanaand is dit net een ding vir my ... Vis en Skyfies. Poppie kies dieselfde en ek bestel ook die Hoenderlewer voorgereg vir ons twee om te deel.
Burger

Ek bestel 'n Coke en Poppie vat koffie. En so begin ons aand. Soos die borde van die omringende gaste by ons verbyaan word ek stelselmatig kalmer ... die kos lyk heerlik.


En toe arriveer on Hoenderlewers. Ek is mal oor die mooi bordjies. Ons vat hande en toe begin die feesmaal. Die lewers is heerlik sag en die sousie het net genoeg byt om jou aandag behoorlik te trek. Ek is nou so kalm soos 'n daggawalm en kannie wag vir die vis en skyfies nie.

Die kelner plaas die bord voor Poppie neer, sy het Vis en Slaai gevat ... dit lyk heerlik ... myne het baie minder blare by maar die goudgebraaide chips roep my op die naam en sonder seremonie is dit sommer met die vingers in die bord in.

Vark Chop
Die chips is presies soos ek daarvan hou en die vis is heerlik sappig met 'n baie ligte deegkorsie ... alles is perfek en ek is in die sewende hemel want nou weet ek dat ek weer 'n Vis en Chips plekkie opgespoor het.

Sophie's het nou nie eintlik 'n flambojante nagereg spyskaart nie en dit maak ook nie regtig vir my saak nie ... ek is nie 'n groot nagereg eter nie.
Hoender

Aan die einde van die aand kom die rekening en ek frons ... jissim die mense pryse is billik ... inteendeel dis meer as billik. By die uitgang ontmoet ek die eienaar en sy vrou en ons kliek omtrent dadelik ... Dries en Elize is pragtige mense, oop, eerlik en baie ernstig oor Sophie's. Ons gesels land aan sand en toe ek by die deur uitstap toe weet ek ... dis MY PLEKKIE die.

Steak
Nouja, dis nou drie maande later en ons eet bykans elke Vrydagaand by Sophie's ... heeltemal teen my natuur in met eetplekke het ek die spyskaart deurgewerk ... uit beginsel het ek weggebly van die Steak disse af en vermy ook geregte wat duidelik aandui dat daar knoffel in is. So hier en daar was daar ietsie wat nie in my smaak geval het nie en ek het dit met Elize bespreek. Sy is altyd gewillig om klein aanpassings te maak en ek kan met 'n skoon gewete Sophie's Bistro met 4 Sterretjies beloon ... hoekom nie 5 nie ... wel niemand kry 5 sterre by my nie.

Sophie's se Prawn geregte is heerlik, hulle burgers, bief en hoender is van die beste wat ek al geëet het.

As jy in Nelspruit is en jy wil lekker eet, baie billike pryse ervaar en met 'n glimlag by die deur uitstap ... wel dan is Sophie's Bistro die plekkie vir jou.

ManKos gee Sophie's Bistro 4 Sterre.


Eet lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Thank you for your comment. The comments on this blog are moderated and yours should appear soon.

Greetings
Colyn.