Colyn Serfontein ... wie en wat is ek

Voor die stoof ... dis waar ek wil wees.
Hierdie gaan meesal oor my lewe rondom kosmaak. Colyn kook Man Kos ... waar kom dit vandaan. Wel ek is passievol oor kosmaak en ek hou daarvan om kos te maak wat mans se monde laat water. Meer belangrik is dat ek Man Kos maak wat vrouens ook van hou.

Ek is maar 'n doodgewone ou wat hou van kos maak. My ma het my van baie vroeg af geleer kosmaak en ek kan nog onthou hoe ek op 'n stoel moes staan om by die tafel te kan werk.

Van haar het ek baie geleer en die belangrikste les was om alles met respek te hanteer en om skoon te werk met kos. Hierdie lesse is in my brein ingedril en soms ook ingemoker.

Mense wat my goed ken weet dat ek nie iemand is wat iets half doen nie ... nee, as dit die moeite werd is om te doen dan is dit nodig om dit ordentlik te doen.

Oor die jare heen het my vaardighede ontwikkel maar soos meeste huiskokke het ek ook in 'n tipiese "Moer By" kok ontwikkel. Wat is 'n MOER BY kok ... wel dis waar jy voor die potte staan en dinge bygooi tot die kos vir jou lekker proe, geen plan, resep of metode as die riglyn nie. Dis ook selde dat MOER BY kokke 'n resep presies navolg, die algemene resep word gevolg maar daar word altyd goed bygesit of weggeneem soos die oomblik jou dryf.

Pap en maalvleis ... altyd 'n wenner vir my.
Hierdie manier van kook se grootste negatiewe gevolg is dat jy nooit weet hoe moes die dis gesmaak het nie en derhalwe verbreed jou arsenaal geregte nooit regtig nie. MOER BY kokke land gewoonlik op 'n plek waar hulle 'n spesifieke reeks speserye en souse het wat in alles ingegooi word. Op die ou einde proe bykans alle vleisgeregte min of meer dieselfde ongeag of dit skaap, bees, vark of hoender is. Teksture sal verskil maar die oorweldigende smaak profiel is min of meer dieselfde.

Sowat 'n jaar gelede het ek besef dat ek 'n uitstekende MOER BY kok is en dit was vir my nie meer aanvaarbaar nie. Al die televisie programme maak groot stories van die smaak profielle en my manier van kook het baie min variasie op die smaak profiel gehad.

Ek is 'n IT Besigheids Analis van beroep en dis net normaal dat ek alles in my lewe op dieselfde manier analiseer, beplan en dan uitvoer.

Nouja die eerste stap was om eerlik en objektief te kyk na wat ek kan doen en hoe ek dit doen. Hiervoor het ek gelukkig honderde fotos gehad om my te help onthou. Na so paar dae se kopkrap en baie rillings het ek besef ek is 'n sprekende voorbeeld van 'n MOER BY kok. Ek het dit nogal vermoed maar die bevestiging het my nogal omgekrap. Dis nie wat ek wil wees nie.

Ontbeende hoender dye en koring risotto.
So wat staan my nou doen ... heel eerste het ek besluit om te begin deur resepte getrou na te volg. Dit het die voordeel dat ek dadelik aan nuwe smake blootgestel gaan word. In die begin was dit nogal moeilik want elke kort kort wil ek iets BY MOER wat nie op die resep is nie. Met goeie disipline en toegewydheid het ek baie vinnig resultate begin sien.

Vandag, sowat 'n jaar later is ek tevrede ... my smaakprofielle is baie meer gedefinieerd en ek het speserye in my rakke wat ek nooit voorheen gebruik het nie.

Met die resep navolging het ek vinnig begin leer dat om my gunsteling chutney by alles in te gooi is nie 'n goeie plan nie. Die volgende goed is op my FLAVOUR WATCHLIST geplaas ...

Chutney
Fondor
Aromat
Uie Sop
Verskeidenheid Chili Souse
Alle Kettingroep gegeurde souse

Net dit het klaar 'n groot rol gespeel om my beter te laat dink en meer spesifiek te geur.

Die volgende items het by my botteltjies by gekom ...

Ster Anys
Gemaalde Gemmer
Mosterd saad
Fennel saad
Cardomon saad
Kaneel stokkies
Koljander

Maroela konfyt en jellie.
Met die nuwe uitkyk op smake en geur profielle het ek hierdie jaar weer heelwat konfyt gemaak en ek moet sĂȘ, nie een van my brousels was 'n mislukking nie. Dit het my laat besef dat my smaak het gladnie in die modder geval by die uitdeel tou nie.

Tamatie Konfyt ... chilli flakes, suurlemoen, gemmer, kaneel, swartpeper en sout by die suiker.
Soet Lemoen Konfyt ... Cardomon, Ster Anys en sout saam met die suiker.
Pynappel Konfyt ... Ster Anys, Chili Flakes, Swart Peper, Suurlemoen en sout saam met die suiker.
Taai Perske Konfyt ... Kaneel, Neutmuskaat, Gemmer, Ster Anys en sout saam met die suiker.

Soet lemoen konfyt en vark tjops.
Die konfyte was heerlik, verfrissend en wulps en wat baie lekker is dat die konfyte lekker gaan saam met verskeie vleise as 'n ekstra geurtjie op die bord. 'n Goeie plaasvervanger vir die tradisionele chutney bottel se inhoud.

Daarna het ek die basiese groente soos pampoen, wortels, groen boontjies en aartappels aangepak. Hier het ek ook gefokus op maksimum geur en soveel variasie as moontlik. Vandag is dit vir my maklik om pampoen gaar te maak vir verskillende disse. Die pampoen wat saam met oondgebraaide skaap gaan en die pampoen wat saam met gebraaide hoender opgedien word is nie dieselfde gegeur nie. So ook met die wortels en die boontjies. Elke item word gegeur om by die hoof element in te pas.

Oor aartappels kan mens 'n hele boek skryf maar die basiese mash, hash en braai is almal metodes wat jou die geleentheid gee om nuwe geure in te bring. Volgende keer as jy mash wil maak ... in plaas van die aartappels gaar te maak en dan te mash, sny die rou aartapels in blokkies, gooi so 2 teelepels van Ina Paarman se Groente Aftreksel poeier oor en bedek met water ... kook dit nou tot sag en laat die water redelik wegkook. Maak nou die aartappels fyn en sit swart peper, room en botter by. Laaste sout ... meeste van die tyd het jy nie sout nodig nie want die Groente speserye is reeds baie sout.

My volgende uitdaging was dan ook om te kyk na die manier waarop die kos op die borde op dien. Hier het
ek aanvanklik kwaai gesukkel maar so mettertyd is ek besig om beter te word daarmee. Mens moet net onthou dat daar darem a verskil is om kos op te dien vir die gesin en om op te dien vir 'n spesiale geleentheid.

Brood bak is my groot liefde. Hier het ek begin deur SPAR se deeg te koop en te kyk hoeveel variasies ek uit die bol deeg kan kry. Van eenvoudig net a brood tot 'n klomp variasies en kinkels ... alles met die gewone pakkie deeg.

Hier is een van my stories oor die SPAR deeg ...

Die gewone ou pakkie deeg kan die basis vorm vir 'n groot en lang avontuur in jou oond.

Ek hoop julle verstaan nou beter wie en wat ek in die kombuis is.

Hier is die skakel na my Blog toe ... Colyn Kook Man Kos.

Hier is my Facebook Blad ...


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Thank you for your comment. The comments on this blog are moderated and yours should appear soon.

Greetings
Colyn.