Wys tans plasings met die etiket Eetplek. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Eetplek. Wys alle plasings

Saterdag 08 Februarie 2020

Eetplek - Abeega Nelspruit

Abeega Roadhouse
Laat ek eers so bietjie agtergrond gee. Die wat my ken weet dat ek nogal handig is agter die kospotte en daar is min dinge wat ek nie self kan kook, bak of braai nie.

Ek en Poppie het 'n tradisie om Vrydagaande iewers te gaan eet. Ek eet selde enige Steak geregte want ek verouder en braai my eie Steak en is gewoond aan topgehalte. Ek het jare terug die besluit geneem om dit te vermy terwille van die vreugde van die aand en Poppie se senuwees. Alhoewel ek myself as 'n redelike man beskou, kan ek wild die moer in raak as 'n stuk vleis opgedonner  word. So ek vermy dit liewers. So tradisioneel eet ek 'n burger of vis en chips.

Oor die jare het ek gesien hoe kruip die rekening vir Vrydagaande se etery stadig maar seker op en het al by plekke die R800.00 merk oorgesteek. Vir my is dit banaal om so duur te betaal vir twee borde kos.

Heerlike Vis
So tydjie gelede merk ek die nuwe Roadhouse by die Food Lovers Sentrum oorkant Tiger Wheel en Tyre. Maande het gekom en gegaan en elke keer as ek daar verby ry dan dink ek dat ek die plek moet gaan besoek. Na nog 'n R600.00 skok by iLanga besluit ek dat ek nou klaar is met die geldmorsery.

Nou tradisioneel weier ek om 'n eetplek te beskryf alvorens ek nie drie maal daar geëet het nie. Ek doen dit want uit ondervinding weet ek dinge kan skeefloop in 'n kombuis. So ek maak seker van my feite voor ek skryf.

So daag ek en Poppie dan by Abeega op. Die plek is besig en ons kry 'n tafeltjie op die stoep, om die hoek van die toonbank af. Ek is nie meer lus vir in die kar sit en eet nie, het seker te oud geword.

Halwe Hoender en Chips
Die atmosfeer is elektries vir my. Laat my terugdink and my aande in Pretoria in die 70's. Polsende musiek en die gelag van mense ... Doll's House, Vlieënde Piering, Moses en Ray's. Sopperige burgers en chips gebaai in Tamatiesous. Sout bestrooide Russians en Chips met Mayonnaise ... alles pure genot vir 'n jong rakker vol planne.

Ek bestel Vis en Chips en Poppie gaan vir die Halwe Hoender wat op Special is. Ek soek 'n Coke en sy vat koffie. Lekker vir my is dat ek kan in vrede 'n twakkie klap daar op die stoep. Die blou rokie draal deur die lug van 'n windstil Laeveld skemeraand. Karre spaander deur die besige kruising, mense draf oor die pad en Taxis lawaai en stop net waar hulle wil. So klein venstertjie in my Suid Afrika in. Ek drink die atmosfeer in en tik op die tafel op die maat van Heartbreak Hotel.

Lekker Chips
Die kos daag op en ek glimlag breed. Beslis nie wat ek verwag het nie. Poppie se hoender lyk heerlik en geurig en my vis is perfek gebak. Wat my mond laat water is die bordjie chips. Ek het vir super crispy gevra en dis wat ek sien. Poppie vat my hand en ons dank die Here vir die kos ... en toe word dit stil om die tafel. Die kos is heerlik, geurig en smaaklik. Alles wat ek verwag het, eintlik meer.
Einde van die aand kom die rekening en ek glimlag breed. Skraps oor die R200.00 fooitjie ingesluit.

In die kar knip ek die veiligheidsgordel vas en kyk vir Poppie ...

"Jis, dit was nou lekker vir my ... hier sal ek weer kom eet." Sy knik net haar kop.

Hamburger en Chips
Een week later en dis weer sulke tyd. Die keer eet ons albei Vis en Chips en weereens so om die R200.00. Op die aand vang die Loadshedding ons. Gelukkig net na die kos op die tafel geplaas word. Die eienaars verseker my dat alhoewel dit ongerieflik is, hanteer hulle die Eskom Fiasko sonder probleme. Al wat in die stof byt is die Pizzas want die oond trek teveel krag vir hulle krag opwekker.

Gisteraand maak ons weer so en Poppie bestel die T-Bone Special en ek vat 'n Burger. Nouja, weereens heerlike kos, die Burger is egter te groot vir my en ek los die helfte van die bun. Poppie se steak is soos wat mens kan verwag van 'n Roadhouse Special. Gladnie 'n helse stuk bees nie maar eerder in die lyn van Shizanyama. Maar dis lekker sag en goed gaar gemaak.

T-Bone en Chips
Nou laat ek opsom. Die musiek kan soms erg hard wees en dis al wat ek gaan sê oor dit. Die atmosfeer is klassieke 70's Roadhouse en die pryse is meer as billik. Ek sal vir seker nog baie daar gaan eet want ek is gemaklik met die pryse en dit wat ons geëet het is was van goeie gehalte.

#ManKos beveel Abeega Roadhouse met 'n oop gemoed aan. As jy in Nelspruit woon en lus is vir 'n lekker ete wat nie die bank gaan breek nie, gaan probeer die plek gerus.


Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.

Saterdag 04 Augustus 2018

Eetplek - Turn and Tender Nelspruit

Seker so twee jaar terug het ek die eerste keer by Turn and Tender gaan eet en dit was vir my gladnie 'n goeie ervaring nie. Ek het die skaapchops, 80gr bestel en ai tog, dit was dun doodgebraai en droog.

Turn and Tender - Crossings Nelspruit
Ek het die bestuur op Facebook gekontak en hy het my verseker dit was 'n glipsie. So kom dit toe dat ek so twee weke later weer daar aansit.

Hierdie keer bestel ek ek 'n Burger. Hulle menu vertel groot stories oor die burger en my gevoel is dat dit nie baie moeilik is om 'n goeie burger te maak nie. Ai tog ... weereens 'n terleurstelling. Die patty was suur en het al die tekens getoon van 'n patty wat te lank in die yskas rond gehang het. Sonder enige kommentaar is ek daar weg en besluit dat ek klaar is met die plek.

Biltong Carpaccio
So maand gelede besluit ek dat ons maar weer die Turn en Tender moet besoek. My gedagte is dat as die plek so lank oop bly moet daar iets in hulle kos steek.

Biltong en Chedder Focaccia
Die betrokke aand breek ek een van my goue reëls en bestel Steak. Ek beskou myself as 'n baie goeie Steak braaier en ek verouder my eie vleis vir enige iets van 30 to 120 dae. So my vrou weet goed dat ek basies geen eetplek vertrou met steak nie en om almal se aand te beskerm bestel ek dit nie by eetplekke nie.

Die steak kom by die tafel aan en onmiddelik merk ek dat daar bykans geen vet aan die vleis is nie. Alhoewel ek die Rump stert stuk bestel het en vir seker nie die "maer" opsie gevra het nie. Ek wil knor maar een kyk na Poppie en ek besluit om nie haar aand te bederf nie. Die steak was wel geurig en sag en redelik goed gaar, effens gaarder as wat ek verkies maar heeltemal aanvaarbaar.
Piri Piri Calamari

Toe ons in die kar klim reken ek ... Ok, ek het nou weer besef ek moenie steak by eetplekke bestel nie.

Heimlik besluit ek toe ek moet daardie menu deursoek ... iewers is daar sekerlik geregte wat maak dat mense na die plek toe bly terugkom.

Steak en Calamari Combo
So vir die volgende vier weke eet ons elke Vrydagaand daar en ek soek en soek. Poppie steek vas op die calamari en ek moet sê dit lyk smaaklik en die kere wat ek by haar geproe het was ek gladnie terleurgesteld nie. Maar nouja, die wat my ken weet ek skryf net oor die disse wat ek self geëet het.

Na die steak terleurstelling eet ek hulle Hoender Schnitzel en dit was heerlik. Goed gebraai en nie droog nie.

Crry Prawns
Die volgende week bestel ek drie voorgeregte ... Biltong Carpaccio, Kaas en biltong Focaccia en Calamri in Piri Piri. Dit was 'n heerlik maal, effens te veel vir my maar heerlik.

Gisteraand besluit ek toe om bietjie terug te sny en vat weer die Biltong Carpaccio en Kerrie Prawns. Weereens 'n heerlike ete vir my. Die prawns was "overcooked" maar die die Kerrie Sous het beslis baie smaak en geur. Vir my was die sous egter bietjie te souterig.

Poppie het hulle Steak en Calamari Combo geneem en dit het baie lekker gelyk. Sy eet haar vleis Medium Well en vir my was die tekstuur lekker sag maar te gaar. Dis egter 'n persoonlike smaak ding en die restaurant het nie veel daarmee te doen nie. Wat sy natuurlik baie waardeer is die "maer" opsie.

By die tafel langsaan het die man die Murgbene bestel en ek het om uitgevra oor dit. Dit het baie lekker gelyk en hy was baie in sy noppies met die smaak.

Daar was vir my so effense krapperige oomblik toe een van die bestuur my in die parkeer area uitvra oor my foto nemery van die eetplek. Die hele gesprek is nie belangrik nie maar ek het my nogal vervies, ek neem al vir jare STREET FOTOS en ek het maar net gewonder waar kom die besware vandaan. Maar nouja ... ek gaan maar my gang met kamera in die strate en steur my feitlik nooit aan die soort optredes nie. Ek wou meer atmosfeer fotos vir die storie geneem het maar het maar net weggeloop. Nie my verlies nie.

Ten slotte ... die atmosfeer is goed en die algemene geluide in die eetplek laat jou gemaklik voel en dis duidelik die gaste geniet hulle kos. Turn en Tender sal my sekerlik meer gereeld daar sien en ek is nuuskierig om hulle spyskaart verder te ondersoek.

Pryse is heel billik en ek is veral beindruk met die geur gehalte in die kos. Die diens is flink sonder dat die die kelners jou steur. Eendag sal ek maa rmy Grootseun Onderbroek aantrek en een van hulle vlagskip Steaks aanvat ... maar daar sal heelwat water in die see moet loop voor ek so waaghalsig raak. :)

Turn and Tender is in die Crossings Kompleks.

Eet lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.

Saterdag 19 Mei 2018

Eetplek - Bistro Bistro in Nelspruit

Dit is tog vreemd hoe mens elke dag by 'n plek verbystap en dink, ek moet eendag tog hier gaan inloer en dan stap jy net verder aan. So kom en gaan die dae verby en die voorneme is altyd daar maar jy gaan nie oor tot die instap nie.

Bistro Bistro
Bistro Bistro by Steiltes SPAR Sentrum is so plekkie vir my. Dis nou al 'n geruime tyd dat ek die plek sien en altyd dink dat ek tog daar moet gaan eet ... maar dis waar dit gebly het.

Gister, Vrydag, sit ek in my kantoor en my vrou vra my ... "Waar gaan ons eet vanaand?"

Vir so paar oomblikke wonder ek en toe sê ek ... "Kom ons gaan probeer Bistro Bistro."

Sterk skemer kom ons by die plek aan en word by die deur verwelkom.

Lisinda wys ons tafel aan en ek en my gaste kom tot rus. Vier volwassenes en een kind. Niemand van ons het al hier geëet nie en ek sien nogal uit na die aand.

Die diens is flink en spoedig het elkeen ietsie om te drink en ons begin die spyskaart deurkyk.

Feestelik

Ek kyk vir my vrou ... "Poppie, dit gaan my 'n tydjie besig hou om deur die spyskaart te eet."


Gesellig
Sy grinnik net ... "Kyk maar eers of jy van die kos hou." ... sy ken my te goed.

Twee van ons kies die Hoenderlewer Pate en ek besluit op die Steak Tartare ... ek is baie lief vir rou vleis, ek het dit geleer eet in die Kuwait. Maar ek het my rieme al soveel keer styfgeloop hier dat ek dit nie meer maklik bestel nie. Vanaand voel ek egter waaghalsig en bestel die dis.
Hoender Lewer Pate
Ons bestel 'n Kiddies Pizza vir die dogtertjie en gesels lekker tot die disse opdaag. Dit lyk baie smaaklik en toe word dit stil om die tafel.

Die twee dames met die Lewer Pate is duidelik hoog in hulle noppies en ek smul aan die Steak Tartare.

Wat 'n heerlike en smaakvolle dis. Die geur en smaak is perfek vir my en ek gaan my nou verstout en sê dat dit die beste Steak Tartare is wat ek al ooit geëet het.
Steak Tartare
Vir die hoofgereg bestel ons Beer Battered Hake, een met slaai en een met chips.

Een pasta, prawns en squid.

Ek bestel die Special of the Day ...

Wildsvleis Pastei met Chips en groen slaai.

Pasta
Weereens is die disse pragtig opgedien en dit lyk smaaklik.

Die Wildsvleis pastei is heerlik, die kors is vlokkerig en bros en die vleis is sag en sappig.

Daar is 'n heerlike ryk sous apart en ek het dit mildelik oor die pastei gegiet.

Vis en slaai
Die chips is lekker bros, soos ek daarvan hou en die groen slaai is 'n goeie mengsel. Dit is iets wat ek deesdae baie geniet saam met my maaltye, so gemengde groen slaai. Die sousie waarmee die blare gebaai is, was lekker, nie oormatig gegeur nie en ek kon die blare se verskillende smake goed proe.

Die algemene gevoel oor die vis was dat dit lekker is maar effe olierig.

Wildsvleis Pastei
Die pasta dis was heerlik maar die porsie was groot vir die dame en sy het die res saamgeneem huistoe om later te eet.

Bistro Bistro sal my vir seker weer sien en die keer sal ek iets ligter bestel sodat ek by die nagereg ook kan uitkom.

Komplimente aan die chef en die bestuur. Dit was 'n heerlike aand en ek is gelukkig huistoe.

Bistro Bistro is in die Steiltes SPAR Kompleks en ek het die geskryf na aanleiding van my besoek daar op Vrydag 18 Mei 2018.

Die pryse is billik en ek voel dat dit vir my goeie waarde gegee het.


Eet lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.


Woensdag 10 Januarie 2018

Eetplek - Crafty Butcher Nelspruit.

So paar dae gelede besluit ek om bietjie te gaan kyk hoe lyk die Crafty Butcher, ek was baie jare terug daar toe dit nog iets anders was en die ligging van die plek was vir my mooi en pas perfek in by 'n Laeveld eetplek. Geen toegeboude eetkamers nie ... nee, alles is mooi oop op die groot dek en jy het 'n goeie uitsig oor Nelspruit. Vir my die ideale opset.

Crafty Butcher Ontvangs
By ons aankoms is ons vriendelik gegroet en flink na 'n tafel in die een hoek van die dek geneem. Ek was baie tevrede met dit. Ek is 'n buitelug mens en voel sommer maklik ingehok, hierdie plek laat my kalm en rustig voel.

Gesellige atmosfeer
Ons bestel drankies en begin die spyskaart verken. Daar is heelparty items op wat my oog vang en ek begin die kelnerin uitvra ... die hoeveelheid disse wat nie beskikbaar was nie laat my frons maar ek gaan aan. Terloops, ek dink dis nie baie goed dat soveel items "Out of Stock" is nie ... veral nie net na 18h00 in die aand nie.

Die diens was goed en binne 10 minute was my voorgereg op die tafel en 20 minute later die hoofgereg. So vir diens is dit volpunte van my af.

Mooi uitsig
Die Tequila Sunrise Prawns was mooi opgedien en ek hou baie van die sous. Die prawn self was effe oorgaar en effe melerig ... ek gaan dit maar afskryf teen "Die Tyd van die Jaar" en niks verder oor dit sê nie ... ek sal nie weer prawns hier bestel nie.

Die wat my ManKos Blad volg sal weet ek is 'n ou wat gatvas is oor Steak en ek verouder my eie snitte. So as 'n reël bestel ek nie sommer Steak by 'n eetplek nie want die kanse is baie goed dat ek moerig gaan wees en dit ongemaklik gaan maak vir my gaste en die eetplek personeel. So, ek vermy die onsmaaklikhede en bestel nie Steak nie.

Tequila Prawns
Op hierdie aand het ek egter besluit dat die algemene indruk van die plek is dat hierdie plek trots is op 'n hulle beesvleis en mens voel bykans soos 'n ketter om nie 'n groot vleisdis te bestel nie. So gee ek maar in en bestel ... Assegaai Steak. My vrou kies die Ladies Fillet en my gas bestel die Chicken Caesar Salad.

Assegaai Steak
Met die aankoms van die kos lyk dit smaaklik en ek sit vir so rukkie en kyk net. My gaste se kos lyk goed en ek fokus op my dis. Die Assegaai Steak is heelwat kleiner as die wat ek self opdis en ek verwag dat die vleis sag en geurig sal wees want dis duidelik 'n baie jong bees se "chop" die. Die vetlagie is 100% binne perke en my mond water. Ek het gevra vir a Baked Potato en kry toe ook Wedges by ... nie ernstig nie want my gaste het die wedges geniet. Die gebakte aartappel was heerlik en die pepersous wat ek gevra het was smaaklik en geurig.

Die steak was reg gaargemaak soos ek versoek het en baie geurig. Daar was so effe suur ondertoon wat kenmerkend is van genyde steak wat oornag in 'n yskas maar was nie oorweldigend nie. Siende dat die plek ook sy eie slaghuis het moet hulle dalk nie die snitte op die been te vêr vooruit in porsies sny nie ... as hulle nie anders kan nie kan die snitte as enkel snitte lugdig verseël word ... net my mening.

Ladies Fillet
Ek het my maaltyd geniet en sal dit weer bestel.

My vrou was tevrede met haar keuse van die fillet en my gas het gehou van die Chicken Caesar Salad.

Dit was 'n heerlike aandjie en ek het met belangstelling gesien hoe 'n paar tafels die reuse platters vir 4, 6 en selfs 8 mense bestel.

Chicken Caesar Salad
My enigste werklike irritasie was die klein dogtertjie wat die heeltyd die hele dek vol gehardloop het en uit volle bors vir haar ouers geskreeu het. Lyk my die Spur insident het eienaars onwillig gemaak om ouers aan te spreek oor kinders se onvanpaste gedrag ... dis jammer want dis die soort ding wat maak dat ek nie na 'n eetplek toe gaan nie.

Ek dink eienaars moet 'n keuse maak, wees polities korrek en draai hulle koppe weg van wangedrag om die ouers van die ongepoetste kinders te paai. In die proses sal die mense wat ook hulle aand wil geniet, vervreem. Of tree ferm op en spreek die ouers van die wilde kinders aan. Dis my opinie en ek staan daar by. Daar staan tog duidelik ... Reg van Toegang Voorbehou.

Crafty Butcher ingang
Die rekening was heeltemal billik en goeie waarde vir geld en die kelnerin het haar fooitjie werklik verdien. Sy was baie vriendelik en baie flink.

Ons het koffie oorweeg maar die gillende kind was besig om my grense van selfbeheersing te toets en terwille van my eie veiligheid en vryheid het ons maar liewer besluit om die koffie elders te gaan geniet.

Ter opsomming ... die Crafty Butcher in Nelspruit sal my sekerlik weer sien. Die kos was lekker en die atmosfeer en ligging is baie lekker ... ek filter maar die skril gille uit as ek dit sê.

Ek het die Crafty Butcher op 29 Desember 2017 besoek.


Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.


Sondag 04 Junie 2017

Eetplek - Sophies Bistro Nelspruit

Ek is 'n moeilike mens as dit kom by eetplekke. Ek het baie jare terug opgehou om stories oor eetplekke te skryf want dit is vir my moeilik om goed op te tower.

Sophie's Bistro by Halls
Vir my gaan dit oor lekker kos ... nie noodwendig die duurste op die spyskaart nie, inteendeel, ek verkies hamburgers, gebraaide hoender of vis en skyfies as ek gaan uiteet. Ek sal nie sommer steak bestel nie want ek weet vooraf al dat ek omgekrap gaan raak ... ek is 'n goeie kok en as dit by steak kom dan verouder ek my snitte self en sodoende is die steak altyd uit die boonste rakke. Ondervinding het my geleer om terwille van almal om my, liewer nie steak te bestel nie.

Nelspruit het 'n wye verskeidenheid eetplekke en ek weet sekerlik nie van almal nie. Ek het my geliefde plekkie vir hoender in die middedorp, my burger plekkie by iLanga maar ek het nie 'n plek vir vis en skyfies nie ... die een by Riverside het toegemaak en dit was dit vir my.

Heerlike atmosfeer
Laat in Februarie 2017 hoor ek van Sophies Bistro by Halls en die daaropvolgende Vrydagaand pak ek vir Poppie in die kar en daar gaan ons. My vorige twee Vrydagaande was 'n "wash out" ... eers loop ek my rieme styf met Skaap Chops en na ek daaroor gekla het gaan ek terug na dieselfde plek toe en bestel 'n hamburger ... denkende dat dit nie maklik is om van a hamburger 'n flop te maak nie ... wel ... nodeloos om te sê ... die ouens is spesialiste en foeter toe ook die hamburger op ... so ek en daai plekkie is klaar met mekaar.

Hoenderlewers
Terug by Sophies ... die son sak net agter die berge weg toe ek by Halls se parkeerplek indraai en ek vat so oomblik of twee om myself mooi bymekaar te kry ... met wilskrag spoel ek my brein uit sodat ek met 'n oop kop die plek kan ervaar. Poppie het my juis ernstig vermaan voor ons in die kar geklim het ...

Vis en skyfies
"Moet nou nie weer jou speelgoed rondgooi as die kos nie reg is vir jou nie." Ek mompel net so deur my tande.

In die skemerlig lyk alles warm en vriendelik en ons gaan sit by a tafeltjie op die stoep ... ek sal nege uit tien keer vir 'n buite sitplek gaan as ek die keuse het. Dis 'n heerlike laat someraand in die Laeveld en buite is die enigste plek om te sit.

Prawns
Aan die dienspersoneel se aksies kan mens sien die mense is nog nuut op die plaas en ek glimlag ... ek hou daarvan om te sien hoe mense in 'n tuig kan insak en dan met mening begin trek.


Ons lees die spyskaart deur en ek sien baie goed wat my aandag trek maar vanaand is dit net een ding vir my ... Vis en Skyfies. Poppie kies dieselfde en ek bestel ook die Hoenderlewer voorgereg vir ons twee om te deel.
Burger

Ek bestel 'n Coke en Poppie vat koffie. En so begin ons aand. Soos die borde van die omringende gaste by ons verbyaan word ek stelselmatig kalmer ... die kos lyk heerlik.


En toe arriveer on Hoenderlewers. Ek is mal oor die mooi bordjies. Ons vat hande en toe begin die feesmaal. Die lewers is heerlik sag en die sousie het net genoeg byt om jou aandag behoorlik te trek. Ek is nou so kalm soos 'n daggawalm en kannie wag vir die vis en skyfies nie.

Die kelner plaas die bord voor Poppie neer, sy het Vis en Slaai gevat ... dit lyk heerlik ... myne het baie minder blare by maar die goudgebraaide chips roep my op die naam en sonder seremonie is dit sommer met die vingers in die bord in.

Vark Chop
Die chips is presies soos ek daarvan hou en die vis is heerlik sappig met 'n baie ligte deegkorsie ... alles is perfek en ek is in die sewende hemel want nou weet ek dat ek weer 'n Vis en Chips plekkie opgespoor het.

Sophie's het nou nie eintlik 'n flambojante nagereg spyskaart nie en dit maak ook nie regtig vir my saak nie ... ek is nie 'n groot nagereg eter nie.
Hoender

Aan die einde van die aand kom die rekening en ek frons ... jissim die mense pryse is billik ... inteendeel dis meer as billik. By die uitgang ontmoet ek die eienaar en sy vrou en ons kliek omtrent dadelik ... Dries en Elize is pragtige mense, oop, eerlik en baie ernstig oor Sophie's. Ons gesels land aan sand en toe ek by die deur uitstap toe weet ek ... dis MY PLEKKIE die.

Steak
Nouja, dis nou drie maande later en ons eet bykans elke Vrydagaand by Sophie's ... heeltemal teen my natuur in met eetplekke het ek die spyskaart deurgewerk ... uit beginsel het ek weggebly van die Steak disse af en vermy ook geregte wat duidelik aandui dat daar knoffel in is. So hier en daar was daar ietsie wat nie in my smaak geval het nie en ek het dit met Elize bespreek. Sy is altyd gewillig om klein aanpassings te maak en ek kan met 'n skoon gewete Sophie's Bistro met 4 Sterretjies beloon ... hoekom nie 5 nie ... wel niemand kry 5 sterre by my nie.

Sophie's se Prawn geregte is heerlik, hulle burgers, bief en hoender is van die beste wat ek al geëet het.

As jy in Nelspruit is en jy wil lekker eet, baie billike pryse ervaar en met 'n glimlag by die deur uitstap ... wel dan is Sophie's Bistro die plekkie vir jou.

ManKos gee Sophie's Bistro 4 Sterre.


Eet lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.