Woensdag 10 Januarie 2018

Eetplek - Crafty Butcher Nelspruit.

So paar dae gelede besluit ek om bietjie te gaan kyk hoe lyk die Crafty Butcher, ek was baie jare terug daar toe dit nog iets anders was en die ligging van die plek was vir my mooi en pas perfek in by 'n Laeveld eetplek. Geen toegeboude eetkamers nie ... nee, alles is mooi oop op die groot dek en jy het 'n goeie uitsig oor Nelspruit. Vir my die ideale opset.

Crafty Butcher Ontvangs
By ons aankoms is ons vriendelik gegroet en flink na 'n tafel in die een hoek van die dek geneem. Ek was baie tevrede met dit. Ek is 'n buitelug mens en voel sommer maklik ingehok, hierdie plek laat my kalm en rustig voel.

Gesellige atmosfeer
Ons bestel drankies en begin die spyskaart verken. Daar is heelparty items op wat my oog vang en ek begin die kelnerin uitvra ... die hoeveelheid disse wat nie beskikbaar was nie laat my frons maar ek gaan aan. Terloops, ek dink dis nie baie goed dat soveel items "Out of Stock" is nie ... veral nie net na 18h00 in die aand nie.

Die diens was goed en binne 10 minute was my voorgereg op die tafel en 20 minute later die hoofgereg. So vir diens is dit volpunte van my af.

Mooi uitsig
Die Tequila Sunrise Prawns was mooi opgedien en ek hou baie van die sous. Die prawn self was effe oorgaar en effe melerig ... ek gaan dit maar afskryf teen "Die Tyd van die Jaar" en niks verder oor dit sê nie ... ek sal nie weer prawns hier bestel nie.

Die wat my ManKos Blad volg sal weet ek is 'n ou wat gatvas is oor Steak en ek verouder my eie snitte. So as 'n reël bestel ek nie sommer Steak by 'n eetplek nie want die kanse is baie goed dat ek moerig gaan wees en dit ongemaklik gaan maak vir my gaste en die eetplek personeel. So, ek vermy die onsmaaklikhede en bestel nie Steak nie.

Tequila Prawns
Op hierdie aand het ek egter besluit dat die algemene indruk van die plek is dat hierdie plek trots is op 'n hulle beesvleis en mens voel bykans soos 'n ketter om nie 'n groot vleisdis te bestel nie. So gee ek maar in en bestel ... Assegaai Steak. My vrou kies die Ladies Fillet en my gas bestel die Chicken Caesar Salad.

Assegaai Steak
Met die aankoms van die kos lyk dit smaaklik en ek sit vir so rukkie en kyk net. My gaste se kos lyk goed en ek fokus op my dis. Die Assegaai Steak is heelwat kleiner as die wat ek self opdis en ek verwag dat die vleis sag en geurig sal wees want dis duidelik 'n baie jong bees se "chop" die. Die vetlagie is 100% binne perke en my mond water. Ek het gevra vir a Baked Potato en kry toe ook Wedges by ... nie ernstig nie want my gaste het die wedges geniet. Die gebakte aartappel was heerlik en die pepersous wat ek gevra het was smaaklik en geurig.

Die steak was reg gaargemaak soos ek versoek het en baie geurig. Daar was so effe suur ondertoon wat kenmerkend is van genyde steak wat oornag in 'n yskas maar was nie oorweldigend nie. Siende dat die plek ook sy eie slaghuis het moet hulle dalk nie die snitte op die been te vêr vooruit in porsies sny nie ... as hulle nie anders kan nie kan die snitte as enkel snitte lugdig verseël word ... net my mening.

Ladies Fillet
Ek het my maaltyd geniet en sal dit weer bestel.

My vrou was tevrede met haar keuse van die fillet en my gas het gehou van die Chicken Caesar Salad.

Dit was 'n heerlike aandjie en ek het met belangstelling gesien hoe 'n paar tafels die reuse platters vir 4, 6 en selfs 8 mense bestel.

Chicken Caesar Salad
My enigste werklike irritasie was die klein dogtertjie wat die heeltyd die hele dek vol gehardloop het en uit volle bors vir haar ouers geskreeu het. Lyk my die Spur insident het eienaars onwillig gemaak om ouers aan te spreek oor kinders se onvanpaste gedrag ... dis jammer want dis die soort ding wat maak dat ek nie na 'n eetplek toe gaan nie.

Ek dink eienaars moet 'n keuse maak, wees polities korrek en draai hulle koppe weg van wangedrag om die ouers van die ongepoetste kinders te paai. In die proses sal die mense wat ook hulle aand wil geniet, vervreem. Of tree ferm op en spreek die ouers van die wilde kinders aan. Dis my opinie en ek staan daar by. Daar staan tog duidelik ... Reg van Toegang Voorbehou.

Crafty Butcher ingang
Die rekening was heeltemal billik en goeie waarde vir geld en die kelnerin het haar fooitjie werklik verdien. Sy was baie vriendelik en baie flink.

Ons het koffie oorweeg maar die gillende kind was besig om my grense van selfbeheersing te toets en terwille van my eie veiligheid en vryheid het ons maar liewer besluit om die koffie elders te gaan geniet.

Ter opsomming ... die Crafty Butcher in Nelspruit sal my sekerlik weer sien. Die kos was lekker en die atmosfeer en ligging is baie lekker ... ek filter maar die skril gille uit as ek dit sê.

Ek het die Crafty Butcher op 29 Desember 2017 besoek.


Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Thank you for your comment. The comments on this blog are moderated and yours should appear soon.

Greetings
Colyn.