Gewig ... wie kan ons glo

Hierdie is iets wat my nou al vir baie jare fasineer ... jissim elke kort kort kom iemand op met die sogenaamde FINALE WOORD oor gewig beheer ... en dan net so rukkie later en die mense begin vertel hoe verkeerd die idee is en gladnie vir hulle werk nie.

Nou hoe dan nou ?

Wel ek is nie iemand wat baie vertroue het in die media se dekking oor die sake nie want iewers in die agtergrond is daar altyd een of ander agenda wat gedryf word. Of iemand wil pille smous of iemand het 'n gym wat hy wil vol maak. Ander het weer fancy kookgoed wat hy wil verkoop of iemand het 'n boek wat hy wil smous.

Ek luister maar vir die Grotman in my en die Grotman was 'n vleisvreter wat rou plante ook gevreet het. Hy het niks in blikkies gekoop of in pakkies nie. Hy kon 'n bok met die vuis doodslaan en myle agter 'n haas aan hardloop. Ek trust hom.

Ek kry swaar met die Sindroom X ding en dis nou 5 jaar sedert ek gediagnoseer is. Wat vir my van groot waarde was, was my gesprek met 'n dieetkundige en sy het my gewys op die rol van GI in my dieet. Ek volg haar raad en riglyne en alhoewel ek nie regtig gewig afskud nie bly my gewig stabiel ... en dit alleen is alreeds 'n bonus vir my.

Steak en aartappels
Julle sien baie van my kos stories en moet seker dink ... "Gun wonder nie ... kyk hoe eet die man" ... wel ek maak verseker lekker kos en baie van dit is maar redelik sondig as dit nou by die gewig kom maar ek het een groot voordeel ... selfbeheersing van 'n trein op 'n spoor.

Nou gaan ek met julle so paar van my praktiese dinge deel rondom die gewig beperking storie deel.

Die heel belangrikste is om na porsie groottes te kyk. In my Laerskool dae het my biologie onderwyser vir ons vertel dat 'n mens se hart is so groot soos jou gebalde vuis en jou maag is so groot soos soos jou twee vuiste saam. Sit nou terug en dink mooi daaroor en hou jou twee vuiste saam ... die prentjie moet jy in jou kop in ets ... dis baie belangrik.

Al die mense met hulle slim voorskrifte het een ding in gemeen ... almal beklemtoon dat hulle storie sal werk maar jy moet ook oefening in bring. Nou dis net hier waar ek my kop skud en lag.

Deesdae deel ek en my vrou een steak
So 50 of meer jare terug was vet mense die uitsondering ... vet kinders was raar en ons het almal lekker geëet en gedrink ... volroom Jersey melk, lekker vet skaapvleis, bruingebraaide aartappels, soet pampoen, poeding met dik vla en so skeppie room in die koffie.

Wat het dan verkeerd geloop ... wel eerstens was daar baie min "snacks" ... niks van al die sjokolade stafies en soet koeldranke vryelik beskikbaar in ons kombuise of yskaste nie. Nog 'n ding, kinders het buite gespeel en mekaar rondgejaag tot almal uitgeput op die gras neergeslaan het. Ma het gemmerbier of Kool Aid gegee en die suiker was net genoeg ... nie 13 teelepels in 'n blikkie Coke nie. Koekies was tuisgebak en was nie versmoor met allerhande soet en vetterige smeersels nie ... gekookte kondensmelk was die ultimate tussen twee bros koekies, maar was skaars want ons was arm ... baie arm.

Etenstyd was basiese kos ... groente, rys, koring, gort, stamp mielies, pap en vleis met 'n lekker sous. Niks van blikkies dit of dat met wie weet watse chemicals in nie.

Toe ek op my Man Kos missie vertrek het was dit een van my basiese doelwitte, om soveel as moontlik by basiese goed te begin.

Steak in klein blokkies gesny op 'n slaai
Tweede ding was om te gaan kyk na ons eetstel wat daagliks gebruik word. Hier het het ingespring en 'n nuwe stel gaan koop ... kleiner borde asook lekker sop/nagereg bakkies wat so groot was dat my twee vuiste net kan in pas.

Porsies is aangepas om in die tweevuis template in te pas ... en dit is die hele ete ... as daar meer as een bord ter sprake is dan moet almal saam in die tweevuis bakkie kan in pas.

Ek het stysel kwaai beperk en sit net 3 disse op 'n bord ... as ek iets maak met 'n deegkors vir die vleis dan is daar geen ander stysel op die bord nie ... basta met rys en aartappels saam met wildspastei ... die pastei kors is die stysel so daar kom groenboontjies met a lekker sous by en 'n rou slaaierige ding.

Geurige pampoen sop met vark
Met die beperking tot net 3 disse op 'n bord en die posie beheer het ek begin fokus om maksimum smaak en geur in te sit want nou het ek mos tyd ... daar is nie 7 potte op die stoof nie ... nou kan jy fokus en mooi dink.

Ek doen ook moeite om snacks te maak wat ek in die yskas sit, hoender stukkies, vleis balletjies, vleis repies, vis koekies ... die is die goed waaraan gepeusel word tussen maaltye.

Moenie jouself bluf met appels en pere ensovoorts nie ... die moderne vrugte is gelaai met suiker en dis jou vyand.

Lekker Paella en mushrooms
Kyk uit op my blog vir my stories oor die verskillende peuselhappies wat ek maak. LIKE my Facebook bladsy ... Man Kos ... en maak seker jy mis niks.

Oor die volgende paar weke gaan ek regtig probeer om vir julle 'n goeie idee te gee van die kos wat ek daagliks maak en van my ervarings met julle deel soos ek altyd doen.

Ek is nie 'n gekwalifiseerde mens wat voorskrifte kan gee nie maar ek is maar net 'n gewone ou wat ook sukkel met 'n boepie. Ek gee nie raad nie, ek vertel maar wat ek doen.

Net 'n burger ... geen bykosse
Ek gaan stap in die middae met my honde so vir 20 minute en as ek in die kombuis staan en wag vir die ketel om te kook dan staan ek so een en 'n halmeter weg van my toonbank af en doen 10 pushups teen die toonbank ... jy sal verbaas wees as jy dit elke keer doen as jy iets in die yskas wil vat om te knibbel, spoedig gaan jy vind jy kan maklik 20 doen waar ek in die begin amper gevrek het om 5 reg te kry.

Om gesond te eet beteken nie jy moet droeë oninteressante kos eet nie. Met die beperking van die disse op die bord kan jy nou fokus op 'n lekker sous vir die vleis en iets avaontuurlustigs aanvang met die slaai.

So om op te som ... basiese kos, baie rou plante, lekker sousies, gesonde vleis nie polonies nie, baie water, stap rond, knibbel aan gesonde goed ...

Onthou die twee vuiste ...

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Thank you for your comment. The comments on this blog are moderated and yours should appear soon.

Greetings
Colyn.