Vrydag 05 Junie 2015

Snaxie - Weer 'n steak broodjie

Ek het die storie oor steak broodjies al voorheen vertel maar die een was so lekker ek moet dit deel.

Lekker steak
Een lekker super stukkie rump ... en ek kan hom gaarmaak presies soos ek daarvan hou want niemand gaan hier saam eet nie.

Rare is presies wat die stukkie bees verdien.

Twee lekker snye bruin brood, so bietjie uitgebraaide varkvet ... ek kry dit as ek kaiings maak en twee goeie skywe lekker kaas.
In die pan

Sny repies van die steak, smeer korrelmosterd op die brood, pak die kaas, dan steak en dan weer kaas.







Maak die toebroodjie toe en smeer liggies met varkvet aan die buitekante.



Nou in a medium pan, moenie te warm wees nie want jy wil dat daar a lekker bros kors vorm en die kaas moet begin smelt.

Lekker Man Kos

Draai die broodjie om en doen die anderkant.


Siedaar ... Man Kos uit die boonste rakke.

Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.


Donderdag 04 Junie 2015

Steak - Kry myle uit hom uit

Soos baie van julle seker al agtergekom het, is ek deesdae op 'n missie om lekker kos ekonomies te maak en ek doen dit op maniere wat dit moontlik maak dat die manne ook kan kook.

Almal van ons weet dat goeie steak deesdae baie duur geword het en ons tradisionele manier van braai is van nature geneig om tot ernstige vermorsing te lei. Daar word chops, wors en steak op die rooster gegooi om 'n weermag te voer en dan word daar nog braaibroodjies, papterte en bakke vol slaaie gemaak. Aan die einde is die kombuis vol halfgehapte stukke vleis en borde vol sous besmeerde slaai. Kyk ek weet dit klink bietjie rof maar elkeen wat eerlik met homself wil wees sal presies weet waarvan ek praat.

Vir my het porsie beheer baie belangrik geword spesifiek omdat die vetrolletjies deesdae erg onder die vergrootglas is ... dan is daar nog die tsunami van eetplanne en elkeen reken sy plan is die beste.

Nouja Man Kos fokus deesdae op maniere om eet lekker te maak sonder die noodwendige vermorsing en gepaardgaande skuldige gewetes.

Heel eerste is om porsie beheer toe te pas en dan om die aantal disse te beperk. Ek steek vas by drie disse op die bord en net een mag stysel wees.

Saterdagmiddag kom ek en Poppie terug van die Kaap af en terwyl ek my kar vol diesel maak glip ek by my gewilde Vleiswinkel in ... ek was nou lus vir 'n ernstige stuk vleis. Twee weke van hoender en vis is genoeg vir eers ... nou wil ek bees eet.

Goeie Rump
Ek kry 'n lekker stuk rump, grasvreter en droog verouderd ... hemels.

Die stuk vleis is meer as genoeg vir drie mense en ek suig stadig aan my Camel terwyl die vlamme om die bees dans. As jy so stuk vleis braai moet jy dit met die nodige respek en toewyding hanteer ... fokus op wat jy doen want dis maar net so 10 tot 12 minute en dan is dit oor.

Volgende plaas ek die gaar steak op 'n plank en stel die horlosie ... hy moet nou 5 minute rus. Hierdie is baie belangrik want dit laat die vesels ontspan nadat die vuur hulle nogal erg gespanne laat raak het.

Reg vir opdien
Na die rus periode sny ek die vleis in repies, sit so hopie growwe sout op die plank en dan gaan hy tafel toe.



Natuurlik 'n lekker vars brood. Dis my stysel.




Net drie disse
Ek het 'n mengelslaai gemaak van  groen ertjies, soet rissie, chilli, peer en rosyntjies. Eetlepel kondensmelk en swartpeper. Sout na smaak en so blerts suurlemoen.

Die slaai maak ek deur 'n eetlepel vol van elke bestandeel per persoon af te meet. Dit help kwaai vir die oorskiet want oorskiet slaai is gewoonlik nie lekker nie.

Dit was die maaltyd op die braai aand. Ons was net twee mense en derhalwe het daar 'n stuk rump oorgebly wat nie gesny was nie. Die vleis het ek in die yskas geplaas.

Man Kos Toebroodjie
Maandag middag en daar is so klein hol kolletjie wat gevul moet word. Heerlike vars brood, lekker plaas botter en so paar repies oorskiet steak.

En dis die tweede ete uit die oorspronklike rump steak uit.











Toe kom Dinsdagaand en die bees lewer die finale ete.

Lekker sous
So een derde koppie lekker olie in die pan, grof gekapte uie, knoffel, swartpeper en gemengde droƫ kruie. Laat hulle maar lekker kuier tot die uie sag en deurskynend is, moenie die knoffel laat brand nie.

Nou gooi ek so koppie vol klein tamaties in die mengsel en twee teelepels suiker. Een eetlepel asyn en sit die deksel op ... laat hy nou maar smoor tot die tamaties oop bars.
Heerlik

Intussen sny ek die steak in blokkies so groot soos ertjies en gooi die stukkies met vet in die smoor in. Onthou die steak is reeds gaar so jy wil dit net warm laat word.

Ek maak pasta gaar en dan gooi ek so paar eetlepels room in die smoor ... maak seker daar is genoeg swart peper in en sout na smaak. Roer goed en verdik met mielieblom as die sous te loperig is. Nou gooi ek die blokkies vleis in en roer en laat prut vir so twee minute.

Skep op en geniet dit.

Die bees het sy kant gebring en jou beursie sug van verligting.


Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.