Wys tans plasings met die etiket Groente. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Groente. Wys alle plasings

Woensdag 27 Mei 2020

Groente - Spinasie in 'n nuwe baadjie

Haal die stingels uit.
Spinasie ... dis 'n woord wat lelike gedagtes in my laat opkom. As 'n deurtrapte koshuisbrak ken ek spinasie as daardie vaal, waterige gekookte trapsel met uie en aartappels by. Gekook vir ure en skrikwekkend in kleur, geur en aangesig.

Ek is doodseker die meeste van ons het soortgelyke herrinneringe aan spinasie.

Kerf die stingels vir die sous
So tyd gelede het ek vir my 'n Aquaponic stelsel opgerig en Spinasie was een van die gewasse wat ek ingesit het. Teen die tyd dat die Spinasie gereed was vir oes het ek begin uitdeel en verkoop maar het self nie aan die goed geraak nie.

Toe kom die China Virus en ek kyk met nuwe oë na my kokery en etery. Skielik was dit baie belangrik om te eet vir my imuunstelsel en dit het nou meer gegaan oor gesond as oor lekker.

Rou blare in die bord
Laatmiddag staan ek in die kombuis en bekyk die bossie spinasie wat ek gepluk het. Onder geen omstandighede gaan ek dit moertoe kook nie.

Eerste "ontbeen" ek die blare en kry die harde stingels een kant. Toe kerf ek dit op en gebruik dit saam met die gekapte uie in die basis vir my sous. Ek rol die blare op en kerf dit soos fettuccine pasta, sulke linte.

Die finale dis
Ek het oorskiet Steak in die yskas en sny dit in klein blokkies. My sous maak ek lekker soet suur en roer die vleis blokkies by.

Nou sit ek 'n handvol spinasie blare in die diepbord. Volgende skep ek van die sous oor die blare en toe die Vleis en ek het ook groenmielies gestoom.

Die warm sous het die blare lekker laat verwelk en dit was heerlik. Probeer dit gerus as jy weer lekker vars spinasie in die hande kan kry. Ek sal nie maklik ooit weer spinasie in 'n pot gooi en kook nie.

Ek dink ons is soms skrikkerig om iets nuuts te probeer met 'n ding wat ons al vir jare ken en eet.


Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.

Vrydag 20 Maart 2020

Groente - Oyster mushrooms verras my

My jarelange kokery het my blootgestel aan baie dinge wat ek nooit voorheen geëet het nie. Vandag is daar min goed wat ek nie regtig ken nie.

100gr Oyster Mushrooms
Vanoggend kontak my buurvrou, Marlene, my en vertel my dat haar eerste Oyster Mushrooms gereed is vir oes. Nou, ek het die goed al in die winkels gesien maar nog nooit gekoop nie. Sonder aarseling bestel ek vyf pakkies van 100gr.

Ons ontmoet by die teerpad en baie opgewonde vertel sy van die mushrooms en ook hoe hulle dit gisteraand gaar gemaak het. Ek is mal oor Marlene, sy het so borrellende bruisende geaardheid en sy gee my sommer energie deur net na haar te kyk en met haar te gesels.

In die pan met botter en speserye
Ek luister aandagtig na haar kook metode en my kop werk oortyd. Met 'n wuif, want ons mag mos nou nie meer aanmekaar raak nie, is ons uitmekaar. Ek het pas 'n baie harde sessie in die gym voltooi en moet iets eet. Ek besluit terstond dat ek die mushrooms dadelik in die pan gaan gooi.

Eers proe ek een net so rou, net om 'n idee te kry waarmee deel ek. Die tekstuur is onmiddelik opvallend en daar is sterk aardse smaak. Die mushrooms is ook nie so sag en bros soos die goedjies wat ons gewoonlik koop nie, nee, die goed moet jy kou. Ek hou van dit.

5 minute later.
Ek besluit om dit so aards as moontlik te hou. So, plaasbotter in a medium warm pannetjie, een pakkie lyk vir my soos een mooi porsie. Ek pak die mushrooms, bokant onder in die warm botter en laat dit doodstil met rus.

Spoedig begin dit duidelik braai en krimp so effe. Nou strooi ek net Robertson's se Chicken Spice oor. Ek wil nie die smaak van die mushrooms bederf of oorweldig met uie, knoffel en speserye nie. Hou dit basies en aards.

Ek draai die mushrooms om, speserye en rou kant is nou in die botter. Laat dit verkleur en roer dit dan so bietjie, af van die stoof af, minder as 5 minute. Wat my eerste opval is dat daar nie so baie vog uitkom soos met die ronde goedjies nie. Die mushrooms verloor ook nie so baie volume nie. Dis natuurlik hoem dit so lekker tekstuur hou.

Heerlik en smaaklik
Wow, wat 'n wonderlike mondgevoel, bykans soos dungesnyde beesvleis. Ek is mal oor dit, die kan maklik 'n vleis vervanger wees in 'n dis. Nou nie dat ek so onsinnigheid sal wil aanvang nie maar dis egter 'n feit.

Ek smeer 'n snytjie roosterbrood met lekker plaasbotter, sit so knartsie van my Hellfire en Brimstone Chili Tamatiekonfyt op en daar gaan die eerste hap. Wat 'n sensasie.

Nou sal Marlene maar moet wikkel want ek gaan baie van die pakkies gebruik.


Vandag kan ek met alle eerlikheid sê dat ek iets nuuts probeer het en dis fantasties. Natuurlik gaan ek meer met dit doen, Roomsouse met groenpeper, met soet risie konfyt, met kaas maar ek het so idee dat die basies resep elke keer die wenner gaan wees. Die is so vinnig en maklik dat jy dit kan maak as jy skielik in die aand die munchies kry, eerder dit as a sny koek of 'n koeksuster.

Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.

Vrydag 01 Desember 2017

Groente - Boontjies en wortels met mash

Ek en my vrou is alleen in die huis en dit raak soms nogal 'n uitdaging om groente op te dien. Groente is nie altyd so vinnig en maklik soos om iets te braai nie en 'n mens is geneigd om dit te vermy bloot omdat daar altyd oorskiet is. Oor die laaste paar jaar het ek baie metodes van voorberei en opdien ondersoek om sinvolle groente disse in ons dieet te hou.

Vir my is die maklikste en beste manier om oorskiet te vermy, die stoom van die porsies. Ek kan maklik die porsies bepaal en net genoeg gaarmaak maar die uitdaging is altyd om dit smaaklik te maak. Tradisioneel hou ons boere mense van lekker soet wortels en ons hou van boontjies wat gekook is met uie.

Na so paar pogings het ek 'n oplossing gevind wat goed werk vir ons twee. Hier is my porsie afmeting vir ons twee.

1x Aartappel ongeveer so groot soos my vuis.
2x Bakhande gekerfde boontjies.
2x Bakhande gekerfde wortels.

Ryk mash
Een bakhand is ongeveer een koppie. Die boontjies en wortels kan dalk bietjie baie klink maar die goedjies krimp nogal as julle gaarmaak.

Soos reeds genoem, stoom ek al my groente gaar en maak veral seker dat ek die boontjies nie pap maak nie. Jy kan dit natuurlik in water gaar kook.
Boontjies gooi jy in kokende water en kook vir so 12 minute.
Wortels gooi jy in koue water en sodra die water begin borrel dan kook jy dit ook vir 10 tot 12 minute.
Kook die aartappel lekker sag.

Wortels en boontjies
Die reël is dat jy alle groente bokant die grond groei, in kokende water gooi en dit wat onder die grond groei begin jy in koue water.

Onthou om darem sout in al die water te sit vir die groente wat jy kook.

Ek begin altyd eerste met die aartappel en as hy halfpad is dan begin ek die wortels en boontjies.

Sodra die aartappel gaar is trek ek die skilletjie af, jy kan dit aan los, en maak die aartappel baie fyn met 'n vurk. Roer 'n lekker klont botter in en gooi room by ... ja room ... jy wil mos iets lekker luuks op jou bord sit. Meng goed, jy soek die aartappel soos slap pap. Maak baie seker jou sout en peper is perfek in die aartappel. Dis belangrik want die aartappel gaan die dis aanmekaar plak.

Lekker mengsel
Dreineer jou wortels en druip so bietjie heuning oor dit. Meng mooi deur.

Volgende doen jy die boontjies en ek strooi bietjie wit peper oor die boontjies.

Roer nou die boontjies en wortels by die aartappel in ... moenie teveel roer nie, jy soek dit net redelik egalig gemeng.

Nou kan jy dit voorsit op die bord.

'n Paar variasies op dieselfde tema is om sweet chilli sous in die aartappel te sit of selfs tamatie sous.

Jy kan die boontjies vervang met ertjies of jy kan selfs die pakkies gevriesde gemengde groete gebruik.

Soms maak ek 'n lekker ryk en stewige sous en meng dan die sous by die mengsel.


Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.

Woensdag 30 Maart 2016

Aartappels - Raak so bietjie waaghalsig

Aartappels ... min mense glo 'n ete is volledig sonder aartappels en die meeste mans is lief vir dit. Daar is duisende resepte en maniere van aartappels voorberei en elke kok sweer syne is die beste. Ek het al baie maniere gebruik en baie flops gesien.

Dis nou mos Man Kos
Vanaand gaan ek julle vertel van 'n manier wat ek deesdae baie graag gebruik en die resultaat is gewoonlik iets wat die manne breed laat glimlag. Dis maklik en eenvoudig en verg net so bietjie geduld.

Almal van ons ... of altans die meeste van ons het herrinneringe aan die lekker bros gebakte aartappels wat ons oumas uit die oond uitgetower het. Baie van ons het dit sekerlik al probeer naboots en die meeste het agtergekom dat dit net eenvoudig nie so lekker soos ouma se aartappels is nie.

Na baie pogings en baie oplees het ek uitgevind wat my ouma se groot geheim was ... eerstens het sy nie olie gebruik nie ... nee dit was altyd vet, verkieslik gans of eend vet maar meesal was dit varkvet. Dit is die groot ding. Nou met die hedendaagse lawaai oor alles wat sleg is vir 'n mens kan mens seker nie verwag om dieselfde resultate te kry nie ... wat my meer fasineer is dat my ouma en oupa vet gebruik het en albei oor die 90 jaar oud geword het ... ek sien so om my dat baie van my tydgenote omkap al hier van die middel vyftigs af en hulle eet nie vet nie, gebruik nie botter nie en drink nooit volroom melk nie. Nou wonder ek maar ...

Sny jou gaar aartappels so
In my huis is LAE VET, POLI ONVERSADIG, SUIKER VRY alles skelwoorde en ek duld dit nie in my kos of in my yskas of op my tafel nie. Vir die laaste 3 jaar braai ek alles in varkvet wat ek kry as ek kaiings maak, ek gebruik net egte botter, volroom melk, volroom yoghurt en my dokter is verstom oor my cholesterol tellings en bloeddruk.

Terug by die aartappels. Ek gaan nou maar aanvaar dat die meeste mense nie vet in die huis het nie en gaan die meer "beskaafde" metode beskryf.

Vir elke aartappel het jy 'n teelepel botter nodig en dan genoeg kookolie om jou oondbakkie se bodem mooi te bedek, omtrent so vuurhoutjie dikte diep.

Stoom jou aartappels in die mikrogolf gaar of kook dit heel met skil en al.

Gebruik 'n groot genoeg pan
Kyk mooi na die fotos hoe jy dit sny nadat dit gaar is. Die skil gaan nou onder in die pan lê en gaan die aartappel bymekaar hou.

Strooi jou geliefde braai speserye oor die olie in die pan. Sit nou die botter in 'n bakkie en smelt dit. Met 'n kwassie verf nou die bokant van die aartappels baie mooi met die botter en maak seker alle kante is goed geverf. Dis belangrik dat jy die bak so kies dat die aartappels mooi oop kan lê en soos vingers boontoe wys. As jy teveel in die pan sit gaan daar nie ruimte wees vir die vingers om oop te staan nie en gaan jy minder "crunchie" stukke kry.

Strooi nou jou geliefde braai speserye mildelik oor die aartappel, moenie suinig wees nie.

Heerlik bros en smaaklik
Lekker warm oond van so 190C en sit die bak in. Laat dit gaan vir so 20 minute en haal nou uit, verf die vet in die pan weer oor al die aartappels met a kwassie en sit terug in die oond. Draai die temperatuur nou af na so 170C toe en bak vir nog 20 minute. Hierdie is slegs riglyne want oonde verskil kwaai, hou maar dop en moenie laat die aartappels brand nie.

Draai die oond nou af en los die bak in die oond tot jy moet opskep. Mooi netjiese porsies en liplek lekker.

As jy so gelukkig is om gansvet of varkvet in die yskas te hê, vervang die botter met die vet. Die olie is nodig om te keer dat die aartappels te maklik aanbrand.

Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.

Woensdag 19 Februarie 2014

Stampkoring - Colyn kook koring met 'n nuwe baadjie

As mens so na die Kook Programme op TV kyk dan sien jy lekker goed en jy hoor vreemde name vir geregte. Een van die goed waarmee ons gekonfronteer word is Risotto ... allerhande fancy beskrywings en moets en moenies. Die eerste maal toe ek sien hoe hulle dit doen toe dink ek ... hmmm lyk mos vir my baie na koshuis mieliegrys. So papperige storie.

Nouja, ek besluit toe ek gaan dit probeer en sleep af na die koswinkel toe. In die rysrak is pakkies op pakkies en die een belowe harder as die ander een om net die beste te wees. Ek koop die een wat aanbeveel word vir risotto en nog so paar dingetjies om by te gooi.

Sononder is ek voor die stoof, resep op die tafel en rys in 'n koppie. Eers die olietjies in die pan, toe bietjie gekapte uie. Braai tot dit deursigtig en gooi die rys in die olie. Braai effens om die "nutty" smaak te kry en toe bedek ek dit met hoender "stock" ... dis hierdie "stock" storie wat my kop aan die loop gesit het. Ek is nie 'n man wat van rys hou nie en verkies koring of "barley" ... die twee lyk vir my maar baie na dieselfde ding maar ek is verseker deur die slimmes dat daar wel 'n verskil is ... nou ja wie is ek om te stry.

Ek wil nou nie lank op die rys ding sit nie want dis nie waaroor dit gaan nie. Na omtrent 40 minute toe dien ek op en Poppie loer die trapsel so skeef skeef aan ... lekker papperige rys met uie, mushrooms, groen pepers en gebraaide spek blokkies.

Ek moet erken, dit was vir my nogal lekker. Vir die volgende paar dae loop ek met die risotto ding in my kop. Een laatnag sit ek en kyk na die Nigella meisie se program en so wrintiewaar sy maak "Barley Risotto". Nouja dis al wat ek nodig gehad. Sononder die volgende dag toe is dit ek en die pan en die koring. 40 minute later toe skep ek maar op ... nogal lekker vir my maar Poppie is gladnie beindruk nie ... die koring was nie sag genoeg na haar smaak nie. Gelukkig het ek nie 'n brose selfbeeld nie en begin dink ... nou gaan ek vêr terug ... my ma se kombuis. Sy het die koring lank gekook ... baie langer as rys.

Wel Maandagaand toe besluit ek dis nou die tyd om dit weer te doen. Hierdie keer is ek egter honderd persent gefokus en my wiskunde brein is in beheer.

Ek gooi een koppie koring in 'n pot. Genoeg koue water om so twee vingers bokant die koring te sit ... die goed het sap nodig om sag te raak en ek sorg dat daar genoeg is. Nou gooi ek twee hoog opgehoopte teelepels van Ina Paarman se "Chicken Stock" poeier in die water en spuit ook so een buisie van Ina se "Stock concentrate" in die pot in. Gee dit 'n lekker roer en maak die deksel toe. Nou dis hierdie aksie wat dit nou streng gesproke nie meer 'n risotto maak nie. Maar nouja ons sal maar sien. So 25 minute later maak ek die pot oop en ek hou van wat ek sien. Die water is nou gelyk met die koring se oppervlakte en die koring lyk al klaar lekker plomp. Ek proe en dis duidelik op die regte pad vir my.

Nou braai ek gekapte uie in so bietjie olie en kry 'n lekker kleurtjie op dit. Soos gewoonlik gooi ek bietjie speserye in die uie se olie voor ek die uie insit. Ek het Robertsons Chicken Spice en Spice for Rice in die olie gegooi.

Ek kap ook 'n groen rissie in klein blokkies. Toe die uie reg is gooi ek dit in die koring en ook die rissies. Roer nou versigtig want die laaste ding wat jy wil doen is om koring pap te maak.

Nou los ek die deksel af want die koring moet nou begin droog raak. Niks 'n geroerdery nou nie, ek maak net so gat in die middel van die koring elke dan en wan om te sien hoeveel sous is daar nog. Teen hierdie tyd begin die aanvanklike waterige mengsel meer na a sousie te lyk en ek gooi  'n eetlepel regte botter en so kwart koppie room by. Roer dit vinnig maar versigtig deur en los die pot weer uit.

5 minute later en alles lyk reg in die koring pot. Ek proe weer en glimlag ... goeie plan gewees om geen sout in te gooi nie ... die Ina Paarman goetjies het meer as genoeg sout.

Ek het hoender borsie vingers gemaak om saam te eet en dis hoekom ek die hoender mengsel van Ina Paarman gebruik het. As jy bees sou gaar maak dan sou ek bees mengsels in die koring gebruik het. Jy kan natuurlik ook sampioene, rissies, knoffel, spriet uie ensovoorts by sit na smaak. Ek vertel jou maar net wat die basiese koring proses is.






Vir my was dit baie lekker en dis hoe ek voortaan my geliefde koring gaan gaarmaak. Dit vat so bietjie toewyding en meer aandag maar op die einde is dit deur en deur die moeite werd.

Soos met alles is dit nie my doel om volledige resepte te gee nie want ek gee maar net bietjie my ondervinding met kos wat ons almal op een of ander manier gaarmaak.

Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook blad.

Wees so vriendelik en "Follow" my hier en SHARE dit ook wyd en suid. Ons maak nie geld uit die goed uit nie maar dis baie lekker om te sien dat lesers die inhoud waardeer. O ja en +1 is ook belangrik.

Lees ook gerus my Briekmerke Blog.


Maandag 10 Februarie 2014

Aartappels - Colyn Deepfry en Kook Aartappels


Nouja, die InterwebNet is mos vol slim dinge en baie planne vir allerhande probleme.

So kom ek so week of wat terug af op 'n artikel waar iemand jubel oor die fantastiese gebraaide aartappels wat hulle gemaak het. Die foto is pragtig en aartappels goudbruin en my bek begin water. Ek lees bietjie meer en frons al hoe erger hoe verder ek gaan ...

Eerstens praat die skrywer van 'n ding wat my nie so lekker laat voel nie maar ek bedink dit goed en die wiskunde maak sin vir my ... net terloops ... ek noem enige wetenskaplike ding sommer net wiskunde

Jy sny jou aartappels in wedges en dan gooi jy eweveel kookolie en water in die pot. Nou net hier toe slaan die briekmerke uit ... olie en water ... maar relax ... alles is by kamer temperatuur.

Nou sit jy die pot op die stoof so warm as wat jy kan en los die konkoksie so vir 45 minute.



Dit borrel en spoeg dat dit bars en die olie lyk soos botter.




Hoe later hoe kwater en ek rangskik vadoeke om die pot, weg van die vuur maar naby genoeg om die gemors te keer. Aanvanklik het ek een van daai spatsel siwwe oor die pot gesit maar gou besef die sif gaan die proses kelder want die water kom nie uit nie.




Dis 'n morsige gedoente en jy moet jou oog op die ding hou.

Nou die skrywer het verduidelik dat jy die storie gladnie mag roer nie en ek het dit half skepties nagevolg. Na 45 minute was myne nog gladnie klaar nie en ek het ook begin kriewelrig voel oor die roer ding. Die wiskunde vertel my dat met so helse vuur onder die pot gaan daai wedges verseker aanbrand en dan gaan die pot deur hel gesit moet word om hom skoon te kry en al die wedges gaan in anycase moertoe wees.

Lyk vir my nog serious suspect maar ek sien die lig.

Op hierdie stadium verloor ek my vertroue in die skrywer se integriteit en steek a spaan so mik mik in die pot in ... hopende ek gaan 'n lekker mooi gebraaide aartappel skyf of twee uitgelig kry vir inspeksie ... TOE NIE ... net soos ek gedink het ... die goed is vas aan die bodem en geensins lus om met my ligte betastings hulle houvas te los nie. 

My vrou staan so 5 meter weg van my af en die uitdrukking op haar gesig herinner my aan my ma se uitdrukking toe ek tameletjie in haar nuwe elektriese braaipan gemaak het. Diep binne my weet ek egter my vrou sal dit nie waag om te doen wat my ma gedoen het nie en ek fokus op die borrelende ballsup wat besig is om op die stoof te gebeur.

Nou raak ek moerig ... die wiskunde het my gewaarsku maar ek wou nie luister nie ... ek kry die regte tool beet en vat daai pot aan met mening ... wel nou nie so sterk mening nie want na alles, is dit kokende borrelende olie en water en ongelukke met die goed is gewoonlik meer as ligte brandwondjies. 

Ek kry die goed los van die bodem af en merk dat ek net betyds was ... nognie gebrand nie maar net erg donker. In my siel woed nou 'n storm en tussen die geworstel in die oliepot en onderlangse swetse, hou ek 'n ogie op Poppie ... sy voel nie so lekker vannaand nie en het pille gevat ... netnou kry sy bravade van êrens af en gaan oor tot dit wat sy staan en kontempleer ... en dan moet ek reg wees om te duik. 'n Befoeterde siek vrou kan vir 'n man SKADE maak.

Een uur later en die olie is watervry en daar is bruin goedjies in die pot. Die letsels is ook sigbaar.

Nog so 5 minute en ek skep dit uit ...

Die skade van die geroer is duidelik maar dit was baie lekker.

Ok die eindresultaat was nie sleg nie maar sal ek dit weer so doen ... verseker nie.

Die wiskunde agter die storie is dat die aanvanklike gekook die aartappels in die water laat gaar word en soos die water verminder begin die olie die wedges braai. 

Teoreties niks fout nie maar in die praktyk ... wel as jy 'n helse groot pot vat met 'n moerse klomp olie in en dan dieselfde volume water en jy sit nie baie wedges in nie ... kan dit dalk reg werk. Maar ek het vir twee gekook en dit was drie aartappels ... en ek het nogal mooi gekyk dat die olie heelwat is sodat die rou aartappels ordentlik bedek was met spaar ruimte ... vir die rondplons het ek gedink. Maar ek was verkeerd, die wedges het nogtans vas gebrand. 

Die gesukkel om dit los te kry en 'n ramp af te weer het veroorsaak dat van die wedges verbrokkel het. Dis hoekom die skrywer aangedring het dat jy dit nooit mag roer nie.

Jislaaik en dis maar 'n morsige storie en vat baie lank.

Wat sal ek doen .... hmmmm ... ek sal die wedges in my stomer sit in die mikrogolf oond vir so 12 minute en seker maak dis perfek sag ... verkrummel sag ... en dan met veerligte vingers elkeem mooi netjies in my deepfryer se mandjie plaas ... olie so lekker 170 C.

Dan sink ek hulle stadig in en los doodstil totdat die ergste borreling weg is en dan so ligges die mandjie skud ... hoe beter die kors word, he meer ernstig kan jy dan skud. En op die einde is ek seker ek gaan presies die voorspelde eindresultaat kry met baie minder moeite en minder gemors ... en o ja, verseker gaan Poppie nie soek vir 'n moermasjien nie.

Laat weet my wat dink jy.

Die storie is oorspronklik op September 18, 2013, 14:14:40 pm op Bike in jou Taal gepos.

Sedert die oorspronklike publikasie het heelparty lesers gereageer en party hetgesweer die ding werk en ander het ook vertel van hulle noue ontkomings. Feit bly, dis a wille proses die en jy moet guts hê om dit te doen. Ek kan regtig insien dat dit kan werk maar ek weet ook van ander meer praktiese maniere om min of meer dieselfde resultate te kry.

Hier is so paar van die opmerkings wat deur lesers op Bike in jou Taal gepos is ...

HenkB:
Het nou lekker gelag Colyn. Mooi vertel.

Sal liewer ook jou beproefde manier probeer.


Rèhann:
Ek stem ook vir daai een.

Hierdie wiskunde-eksperiment klink vir my na iets wat jy net moet doen as jy iemand gewed het dit kan werk en hy stry. En hoe langer dit vat en hoe meer brannewyn hy drink, hoe meer wed jy hom.

Maar net daarvoor, niks anders nie.

Wabez:
Colyn , nou hoe klink dit vir my jy het die Brakpan resep op die Internet gekry?? Jy hoor mos dit raak somer......., die storie van hulle loop haal nou weer hul grassnyers.... 

Nee wat, daai resep van jou in die laaste paragraaf alleen, daai werk ook vir my! 

Gert J:
Jammer dit het nou nie mooi uitgewerk nie , as n ou Kosmaak moet jy bereid wees om nuwe goed te probeer.

Solank n ou net nie dieselfde fout twee keer maak nie.