Maandag 10 Februarie 2014

Aartappels - Colyn Deepfry en Kook Aartappels


Nouja, die InterwebNet is mos vol slim dinge en baie planne vir allerhande probleme.

So kom ek so week of wat terug af op 'n artikel waar iemand jubel oor die fantastiese gebraaide aartappels wat hulle gemaak het. Die foto is pragtig en aartappels goudbruin en my bek begin water. Ek lees bietjie meer en frons al hoe erger hoe verder ek gaan ...

Eerstens praat die skrywer van 'n ding wat my nie so lekker laat voel nie maar ek bedink dit goed en die wiskunde maak sin vir my ... net terloops ... ek noem enige wetenskaplike ding sommer net wiskunde

Jy sny jou aartappels in wedges en dan gooi jy eweveel kookolie en water in die pot. Nou net hier toe slaan die briekmerke uit ... olie en water ... maar relax ... alles is by kamer temperatuur.

Nou sit jy die pot op die stoof so warm as wat jy kan en los die konkoksie so vir 45 minute.



Dit borrel en spoeg dat dit bars en die olie lyk soos botter.




Hoe later hoe kwater en ek rangskik vadoeke om die pot, weg van die vuur maar naby genoeg om die gemors te keer. Aanvanklik het ek een van daai spatsel siwwe oor die pot gesit maar gou besef die sif gaan die proses kelder want die water kom nie uit nie.




Dis 'n morsige gedoente en jy moet jou oog op die ding hou.

Nou die skrywer het verduidelik dat jy die storie gladnie mag roer nie en ek het dit half skepties nagevolg. Na 45 minute was myne nog gladnie klaar nie en ek het ook begin kriewelrig voel oor die roer ding. Die wiskunde vertel my dat met so helse vuur onder die pot gaan daai wedges verseker aanbrand en dan gaan die pot deur hel gesit moet word om hom skoon te kry en al die wedges gaan in anycase moertoe wees.

Lyk vir my nog serious suspect maar ek sien die lig.

Op hierdie stadium verloor ek my vertroue in die skrywer se integriteit en steek a spaan so mik mik in die pot in ... hopende ek gaan 'n lekker mooi gebraaide aartappel skyf of twee uitgelig kry vir inspeksie ... TOE NIE ... net soos ek gedink het ... die goed is vas aan die bodem en geensins lus om met my ligte betastings hulle houvas te los nie. 

My vrou staan so 5 meter weg van my af en die uitdrukking op haar gesig herinner my aan my ma se uitdrukking toe ek tameletjie in haar nuwe elektriese braaipan gemaak het. Diep binne my weet ek egter my vrou sal dit nie waag om te doen wat my ma gedoen het nie en ek fokus op die borrelende ballsup wat besig is om op die stoof te gebeur.

Nou raak ek moerig ... die wiskunde het my gewaarsku maar ek wou nie luister nie ... ek kry die regte tool beet en vat daai pot aan met mening ... wel nou nie so sterk mening nie want na alles, is dit kokende borrelende olie en water en ongelukke met die goed is gewoonlik meer as ligte brandwondjies. 

Ek kry die goed los van die bodem af en merk dat ek net betyds was ... nognie gebrand nie maar net erg donker. In my siel woed nou 'n storm en tussen die geworstel in die oliepot en onderlangse swetse, hou ek 'n ogie op Poppie ... sy voel nie so lekker vannaand nie en het pille gevat ... netnou kry sy bravade van êrens af en gaan oor tot dit wat sy staan en kontempleer ... en dan moet ek reg wees om te duik. 'n Befoeterde siek vrou kan vir 'n man SKADE maak.

Een uur later en die olie is watervry en daar is bruin goedjies in die pot. Die letsels is ook sigbaar.

Nog so 5 minute en ek skep dit uit ...

Die skade van die geroer is duidelik maar dit was baie lekker.

Ok die eindresultaat was nie sleg nie maar sal ek dit weer so doen ... verseker nie.

Die wiskunde agter die storie is dat die aanvanklike gekook die aartappels in die water laat gaar word en soos die water verminder begin die olie die wedges braai. 

Teoreties niks fout nie maar in die praktyk ... wel as jy 'n helse groot pot vat met 'n moerse klomp olie in en dan dieselfde volume water en jy sit nie baie wedges in nie ... kan dit dalk reg werk. Maar ek het vir twee gekook en dit was drie aartappels ... en ek het nogal mooi gekyk dat die olie heelwat is sodat die rou aartappels ordentlik bedek was met spaar ruimte ... vir die rondplons het ek gedink. Maar ek was verkeerd, die wedges het nogtans vas gebrand. 

Die gesukkel om dit los te kry en 'n ramp af te weer het veroorsaak dat van die wedges verbrokkel het. Dis hoekom die skrywer aangedring het dat jy dit nooit mag roer nie.

Jislaaik en dis maar 'n morsige storie en vat baie lank.

Wat sal ek doen .... hmmmm ... ek sal die wedges in my stomer sit in die mikrogolf oond vir so 12 minute en seker maak dis perfek sag ... verkrummel sag ... en dan met veerligte vingers elkeem mooi netjies in my deepfryer se mandjie plaas ... olie so lekker 170 C.

Dan sink ek hulle stadig in en los doodstil totdat die ergste borreling weg is en dan so ligges die mandjie skud ... hoe beter die kors word, he meer ernstig kan jy dan skud. En op die einde is ek seker ek gaan presies die voorspelde eindresultaat kry met baie minder moeite en minder gemors ... en o ja, verseker gaan Poppie nie soek vir 'n moermasjien nie.

Laat weet my wat dink jy.

Die storie is oorspronklik op September 18, 2013, 14:14:40 pm op Bike in jou Taal gepos.

Sedert die oorspronklike publikasie het heelparty lesers gereageer en party hetgesweer die ding werk en ander het ook vertel van hulle noue ontkomings. Feit bly, dis a wille proses die en jy moet guts hê om dit te doen. Ek kan regtig insien dat dit kan werk maar ek weet ook van ander meer praktiese maniere om min of meer dieselfde resultate te kry.

Hier is so paar van die opmerkings wat deur lesers op Bike in jou Taal gepos is ...

HenkB:
Het nou lekker gelag Colyn. Mooi vertel.

Sal liewer ook jou beproefde manier probeer.


Rèhann:
Ek stem ook vir daai een.

Hierdie wiskunde-eksperiment klink vir my na iets wat jy net moet doen as jy iemand gewed het dit kan werk en hy stry. En hoe langer dit vat en hoe meer brannewyn hy drink, hoe meer wed jy hom.

Maar net daarvoor, niks anders nie.

Wabez:
Colyn , nou hoe klink dit vir my jy het die Brakpan resep op die Internet gekry?? Jy hoor mos dit raak somer......., die storie van hulle loop haal nou weer hul grassnyers.... 

Nee wat, daai resep van jou in die laaste paragraaf alleen, daai werk ook vir my! 

Gert J:
Jammer dit het nou nie mooi uitgewerk nie , as n ou Kosmaak moet jy bereid wees om nuwe goed te probeer.

Solank n ou net nie dieselfde fout twee keer maak nie.




Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Thank you for your comment. The comments on this blog are moderated and yours should appear soon.

Greetings
Colyn.