Woensdag, 19 Februarie 2014

Bosvark - Colyn slag Bosvark en maak ribbes gaar

Meeste van ons ken Vlakvark of Top Gear soos my skoonpa hulle genoem het. En dan is daar sommiges van ons wat ook die befoeterde Bosvark ken. Die twee varke is bekend daarvoor dat hulle baie lekker vleis het maar nie almal hou daarvan nie. Ek is baie lief daarvoor maar ek sal ook toegee dat dit 'n "acquired taste" kan wees vir sommiges.

Soos van julle ook weet is ek gladnie tengunste van 'n gesous en gemarineer totdat daar geen smaak behalwe asyn in die vleis oor is nie. Nee, ek wil die vleis se regte smaak proe want anders kan jy maar netsowel polonie elke dag eet en dit iets anders noem.

Vlakvark het wit en rooi vleis en as dit 'n ou vark is dan is die ding hel taai en droog. Ek weet sommiges sal nou sommer dadelik dink ek is verkeerd en wil verduidelik van al die souse en vog wat in die marinade moet kom en dat dit vir drie weke of so moet lê ... maar ek soek nie dit nie ... ek soek die vleis se unieke smaak. As daar nou 'n ding is wat die wit waks uit my laat uitspring is dit die woorde ... "Hoe kry ek daai wille smaak uit die wildsvleis uit ?" Goeiste ... gaan koop dan vir jou hoender of polonie by die winkel en moenie wildsvleis koop of as geskenk aanvaar nie.

Nou het daar 'n derde rolspeler op die toneel verskyn. 'n Wildboer het so paar jaar gelede "Wild Boar" van Europa af ingevoer en die goed het so goed geaard in die Bosveld dat hy hulle nou begin verkoop. Die dier lyk so effens soos 'n kruising tussen ons Bosvark en 'n mak vark. So hy is nie heeltemal so vrees aanjaend soos ons bosvarke nie. Maar kom ons los die "looks" uit die prentjie en die gesprek uit ... Poppie het hoeka gereken die klein varkies is tog so "cute" ... en dis nie goed nie want sy gaan nie "cute" eet nie.

Nou na baie beloftes en voornemens sleep ek toe af Bosveld toe die afgelope naweek en hierdie keer was my swaer goed beaarbei ...

"Swaer, ek soek 'n vark ... as daar nie een is nie gaan ek een van jou Nyalas skiet."

Kyk ... dit was oorgenoeg inspirasie en toe ek daar by Witbank verbysleep toe kom die boodskap deur ...

"Vark hang in koelkamer. Bring jou spices."

Jis dit het my bek sommer dadelik laat water. In my geestesoog sien ek al die kole gloei en die ribbetjies lê en kry houding op die rooster.

Op die plaas aangekom is ek sonder baie stories reguit koelkamer toe. En daar hang hy, so lekker jongetjie, omtrent so meter en 'n bietjie lank aan die haak. Ek bekyk hom mooi. Eerste wat my opval is die dun lagie vet wat so kol kol oor die karkas sit. Dit lyk gesond. Tweede ding wat my opval is die tekstuur van die vleis. Die grein lyk baie fyn en die kleur laat my nogal aan bosduif dink.

Wel vir die volgende paar weke gaan julle nog heelwat Bosvark stories van my hoor want ek het die vark net in boude en blaaie gesny, die ribbes afgehaal, die nek en rugstring geskei en die hele saaltjie uitgesny. So die varkie het opgeeindig in 9 stukke.

Nou die regte ding sal wees om die karkas so vir 10 dae of so te laat hang in die koelkamer dat hy lekker ryp kan word maar vandag gaan ons nou nie die regte ding doen nie. Ek het jare laas wilde vark ge-eet en my maag grom.

Die twee ribbes word summier met braaimengsel, bruinsuker, olyfolie en suurlemoen behandel. Daar is darem so drie ure oor voor dit braai tyd is. Die res word verpak en gevries. Ek sal dit so stuk stuk aanvat en kyk wat kan ek daaruit kry ... dis nou smaak gewys.

Skuins na sononder is die vuur gepak en aangesteek ... ek het ongeduldig gewag dat die kole moet regkom. Al die ander is gefokus op hoender en bykosse maar ek wil net een ding hê en dis vark.

Eerste ding om te onthou is dat die nie skaap is nie, daar is baie min vet so jy moet verseker pasop dat jy die ribbes nie uitdroog nie ... stadige kole en baie geduld. Jy wil die regte skakering kry maar nie verkool nie.

Ek verduidelik mooi aan die braai meester hoe die ribbetjies hanteer moet word ...

"Reg so oom ... ek maak so."

Nou dis mos die regte antwoord vir 'n knormoer soos ek en ek sit rustig in my stoel terug, vat 'n lang sluk uit die groen botteltjie uit en steek 'n Camel op. Die blou rokie krul so in die aandlug op en ek voel goed ... dis lekker om 'n Afrikaner te wees ... lekker in die Bosveld en lekker by die vuur. Nog lekkerder is die geure wat van die rooster af kom.

Vannaand gaan ek nie eers oor politiek, die swak rand, duur diesel en e-Tol dink nie. Nee, vannaand gaan ek net myself oorgee en dit wat op die rooster is met oorgawe geniet.

Eerste is die benekant op die kole, altyd 'n goeie begin vir 'n ribbetjie. Dan die anderkant. By die omdraai slag word die lieslappe so bietjie bygekom met die mes want hulle krul mos alewig sleg op. Die twee hoendertjies lyk mos maar al te oninteressant daar in hulle deel van die speelveld en ek lek my lippe af. Die girls het klaar begin grom oor die arme varkie en ek smile, net soveel meer vir my om te eet. Hoender is mos eintlik net groente vir 'n vleisvreter soos ek.

Dis goed dat hulle die ribbes saam met die hoenders braai want albei het goeie stadige kole nodig en die manne kyk mooi na die vleis op die vuur.

So veertig minute later en ek gooi my oog baie krities oor die rooster.

"Manne, daai ribbes lyk nou vir my doodreg ... haal maar af."

Nou ek is 'n ou wat daarin glo dat vleis eers moet rus as dit van die vuur af kom, die vleis moet 'n kans kry om te ontspan.

'n Goue reël is dat dit tenminste die helfte van die braai tyd moet rus en ek maak nog 'n botteltjie oop. Hierdie gaan nou meditasie tyd wees ... die innerlike moet nou intens deur so bietjie goeie gedagtes sag gemaak word want die gaan 'n fees maal wees.

Uiteindelik is die ribbes op die bord en ek ruik diep aan dit. Die geur is goed en ek is hoog in my noppies oor die min vet op die vleis. Die is gesonde vleis. Poppie wil allerhande bykossies voor sit maar ek skud net my kop, daar was vetkoek en ek smeer een lekker dik met botter ... dis al wat ek soek, vleis en vetkoek.

Nou kyk, die is verseker nie die "Spare Ribs" wat jy by jou gewilde ketting braai restaurant koop nie. Die vleis val nie van die bene af nie en die goed swem nie in een of ander soet suur taai sous nie. Nee, die vleis is in sy natuurlike staat van smaak, geur en tekstuur. As jy die repe in goeie byt porsies sny met 'n lekker skerp mes dan is dit baie lekker en die effense growwer tekstuur maak dit lekker om te kou en te geniet.


Ek hou nie van die woord taai nie want dis relatief tot jou manier van sny. Ek hou van die woord substansie as dit by vleis kom. Nou hierdie ribbes het substansie. As ek die smaak en tekstuur moet saamvat dan sou ek sê dat die vleis is sag, sappig en geurig met lang vesels wat verseker gesny moet word vir die meer gekunsteldes, vir my is dit lekker om die repies so af te trek met my tande en dan stadig te kou totdat ek elke greintjie smaak daaruit onttrek het.

Ek hoop julle monde water nou kwaai ... ek het die hele naweek aan die ribbes ge-eet ... Saterdag "Brunch", en Sondag weer 'n "Brunch" en toe is dit klaar en ek pak my kar en ry terug Laeveld toe. Daar was so diepe saligheid in my gemoed en ek bewerk die vleis in my koelkas so in my gedagtes terwyl ek ry. Volgende gaan die nek wees ... hoe ... dit weet ek nog nie mooi nie ... maar verseker gaan ek nie sommer mal word en die siel uit hierdie varkie kook nie.

Soos met alles is dit nie my doel om volledige resepte te gee nie want ek gee maar net bietjie my ondervinding met kos wat ons almal op een of ander manier gaarmaak.

Hier is die tweede aflewering ... Die Nek ...

Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook blad.

Wees so vriendelik en "Follow" my hier en SHARE dit ook wyd en suid. Ons maak nie geld uit die goed uit nie maar dis baie lekker om te sien dat lesers die inhoud waardeer. O ja en +1 is ook belangrik.

Lees ook gerus my Briekmerke Blog.