Wys tans plasings met die etiket Beskuit. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Beskuit. Wys alle plasings

Donderdag 12 Mei 2016

Beskuit - Kondensmelk en Anys

Mooi baksel beskuit
Beskuit bak is iets wat ek baie geniet ... dis iets wat vrede in my siel indra. Nouja as ek so voel oor karringmelk beskuit, dan moet jy weet gewone boerbeskuit is terapie in die vergrotende trap.

Laas Vrydag oggend staan ek op en die mismoedigheid is op my ... ek verlang na mense wat ek nie eers geken het nie. Ek staar deur die venster in die tuin in terwyl ek wag dat die ketel kook en die eerste tekens van die komende winter is duidelik. Die bome begin hulle blare verloor en in die veld is die gras reeds droog en verdor. My tuin lyk ook maar gehawend, die liewe Heer het ons hierdie jaar oorgeslaan as dit by die reën kom maar tog was Sy genade groot op ander plekke. Die grasperk is wel uitgedor en vaal maar een of twee ander verhoudings is weer aan die blom nadat ek gedink het hulle gaan kompos word.

Voeg die spons by die meel
Die ketel fluit en ek word teruggeruk na die werklikheid toe. Met die stomende koppie koffie in my hand en beskuit in die ander, stap ek na my kantoor toe.

Die dag het begin.

Die deegbol
Ek gaan deur my take asof ek in 'n trans is en by tien uur is alles afgehandel en ek staar weer deur my venster, die keer my kantoor venster. My binneste maal en kolk en swart wolke dryf kort kort deur my brein. Heel duidelik is die swartgalligheid besig om my te bemeester ... ek grom binnesmonds en verwonder my aan mense se onverskillige hantering van verhoudings. Met 'n byna roekelose skouerbeweging swaai ek my stoel om en kies koers kombuis toe.

Mooi uitgerys
Ek blaai deur my resepte en my oog vang 'n boerbeskuit resep ... ek grou so bietjie dieper en kom op 'n Kondensmelk beskuit resep af. My oë dwaal vinnig oor die bladsy en ek lees die prosesse raak ... dis hy ... dink ek ... hier is genoeg dinge om my besig te hou.

As ek aan hierdie beskuit dink dan dink ek aan my ouma ... haar kombuis blommetjies tapyt en geel Aga stoof. Ek sien haar erde skottels en haar sterk arms wat die deeg knie. Die kombuistafel wat kreun onder aanslag en swart gebrande beskuitpanne wat blink van die vet. Ek ruik die geur van anys en my mond water vir die uitlek van die kondensmelk blikkie ... alles gedagtes wat op hierdie mistroostige Vrydag deur my kop maal.

En toe knip ek my oë en haal die mengbakke uit die kas uit ... "Ek beter 'n ander plan met die bakke maak ... dit is nie lekker om so laag te buk om die goed by te kom nie." dink ek terwyl daai ou lastige stekie deur my heup flits ... 'n skerp herinnering aan 'n onverskillige jeug.

 Presies en stelselmatig begin ek die verskillende bestandele afmeet en uitpak op my werksblad. Hierdie is die begin van die terapie, nou moet ek fokus want 'n klein glipsie hier kan ure later skewebek vir jou grinnik.

Reg vir die oond
Die eerste proses is die maak van die spons en ek onthou die erde skotteltjie wat my ouma hiervoor gebruik het ... hy het al so hier en daar so swart vlekkie gehad waar die die harde werklikheid met hom kennis gemaak het ... ek gebruik 'n mooi blink staal skotteltjie.

Terwyl ek wag vir die spons om te groei klits ek solank die meel, sout, anys en semels lekker los met 'n draadklitser. Ek sit die Kenwood op sy plek en gooi die meel in die mengbak ... en ek wag.

'n Koffietjie en 'n Camel en toe stap ek 'n draai deur my tuin. Tussen die droogte foltering deur is daar ook orals tekens van dapper volharding en blommetjies wys dat die natuur nie sal gaan lê en opgee nie. Ek sien hoe die bye woel en werskaf in die grenadella boskasie en hulle stuifmeel belaaide pootjies wys dat hulle weet die swaar tye kom.

Klaar gebak
Terug in die kombuis en ek sien die spons het goed gegroei en lyk mooi. Ek krap die paperysel in die megbak in by die meel en begin meng. Stadig maar seker kom die hele spul bymekaar en spoedig is dit 'n glansende en wriemelende bol deeg. Ek keer die deeg uit op my werksbank en rond die knieproses af met die hand. Daar is iets magies en sensieus aan so mooi bol deeg ... baie vêr verwyderd van die droeë hopie meel.

Ek het ook een pan krakelinge gemaak
Ek smeer die rysskottel met olyfolie en plaas die bol deeg daarin. Nou moet die bol goed rys. Net terloops, die olyfolie help baie om jou beskuit te beskerm teen swamme.

Een uur en 40 minute later is die deeg mooi uitgerys en ek smeer my panne. Nou begin die eentonige proses van balletjies maak ... ek weeg myne af ... dit help baie vir 'n egalige bak.

Ek laat die deeg in die panne weer rys tot tenminste dubbel die volume en toe gaan dit oond toe. Die reuk van anys vul my kombuis soos die oond sy werk doen en veertig minute later keer ek die bekuit brode uit op my draadrakke. Ek bak my beskuite met opset donkerder as wat die puriste dit soek want my familie hou nie van bleeksiele nie.

Versigtg breek ek die brode op en pak die stukke in die oondpanne waarin ek dit gaan droog. Nou is die werk verby en die tyd moet nou uitloop. Ek droog so teen 70C vir 5 ure.

Kort nou net koffie
Dis kort voor middernag dat ek die beskuite alles in een oondbak in pak en terug in die oond sit. Ek skakel hom af en maak die deur toe. Nou gaan ek slaap want moreoggend het hulle almal mooi afgekoel en is reg om blikke toe te gaan.

En so kom die mistroostige Vrydag tot 'n einde met 'n hoop mooi beskuite en my gemoed baie kalm ... al wt dit nou kon beter maak is as ek so bekuit saam met 'n stomende koppie koffie vir my ouma kon gee.

Ok en dis my storie ... hier kom die resep.

Vir hierdie resep gaan jy eers 'n spons moet maak.

Hier is die bestandele wat jy nodig gaan kry.

Man Kos Kondensmelk en Anys Beskuit.

1 x 397 g blikkie kondensmelk

125 g botter of margarien, in blokkies gesny. As jy die beskuit redelik lank wil bêre, gebruik liewers margarien want botter kan galsterig raak.

180 ml suiker - gebruik bruinsuiker as jy meer karamel smaak in die beskuit wil hê.
2 eiers

250 ml koue water
250 ml kookwater

1 en 1/2 pakkies kitsgis - Ek gebruik 2 pakkies van die 7gr gis vir broodmasjiene.

1,25 kg koekmeel - ek gebruik ongebleikte "stoneground" meel. As jy so bietjie gesonder wil voel kan jy die meel halveer en die helfte bruinbroodmeel gebruik - nie Nutty Wheat nie.

10 ml sout - dit is twee teelepels ... jy kan gerus 3 gebruik.
15 ml anyssaad (Opsioneel)
1 Koppie semels (Opsioneel)

Vir die Spons:
Meng die kondensmelk, kookwater, botter of margarien en suiker saam tot die botter gesmelt en die suiker opgelos is.

Klits die eiers en meng dit met die koue water. Voeg dit by die kondensmelkmengsel en sprinkel die gis oor. Roer liggies deur.

Sprinkel 250 g van die meel oor en meng deeglik.

Bedek die bak losweg en laat staan op ’n warm plek vir ongeveer 1 uur tot die mengsel vol borreltjies bo-op is. Jy het nou so meel paperysel vol borreltjies. Moenie oorhaastig wees nie, hoe meer die spons rys hoe beter gaan jou beskuit rys.

Intussen, gooi die anys, semels (as jy dit gaan gebruik) en die sout in die res van die meel. Klits dit goed deur met 'n "whisk". Dis 'n belangrike stap die om die meel los en lig en vol lug te kry. Dit maak die finale meng net makliker.

Die deeg:
Sodra jy tevrede is met jou spons, voeg dit nou by die meel en begin meng. Spoedig sal die deeg begin vorm. Ek doen die werk in my Kenwood en knie die deeg vir 7 tot 8 minute. Die deeg moet baie elasties wees.

Smeer 'n groot genoeg bak met olie en plaas die deegbal in die bak. Bedek met plastiek en steek een klein gaaitjie in. Laat nou weer rys to ten minste dubbel die grootte.

Verhit jou oond nou to 180C. Smeer 3-4 middelslag-broodpanne met botter of olie.

Die Beskuit:
Knie die deeg af. Knyp nou gholfbal-grootte bolletjies deeg af (ek weeg die balletjies - so tussen 40 en 44gram) en pak dit styf teen mekaar in die panne. As jy jou hande met varkvet, botter of margerine smeer, werk dit goed en dit laat die beskuite ook makliker uitmekaar breek as dit gaar is) Bedek die panne weer losweg en laat rys die deeg vir sowat 15-20 minute. Dit moet tenminste dubbel uitrys.

Sit in die oond, draai dadelik die temperatuur af tot 160 °C en bak die beskuit tot goudbruin en deurgaar. Wees versigtig, die kondensmelk laat die beskuit maklik te donker verkleur, so moenie jou oond te warm stel nie.

Keer uit die panne uit, laat effens afkoel, en breek dan die beskuite versigtig los van mekaar af.

Pak op bakplate en droog uit teen 70 °C of in die lou-oond.

Laat afkoel tot by kamertemperatuur en bêre in lugdigte houers.

Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.

Donderdag 29 Oktober 2015

Beskuit - Man Kos Krakers

Beskuit, dis iets wat na aan omtrent elke Afrikaner se hart lê. Karringmelk beskuit in besonder is iets waaroor daar baie gepraat word en baie resepte voor bestaan. Maar karringmelk beskuit is ook baie verwarrend, veral die woord karringmelk.

Gewone beskuit en Krakers
NB ... As jy van plan is om die beskuit te maak dan sal ek jou sterk aanraai om die hele storie mooi deur te lees voor jy begin.

Regte karringmelk kry mens as jy botter maak. Dis gewoonlik nogal aan die soetsuur kant. Dit wat ons in die winkels koop is maar 'n vaal verskoning vir karringmelk. O ja en daar is ook die mense wat reken as jy suurlemoen by gewone melk gooi, dan maak jy sommer jou eie karringmelk. Niks is verder van die waarheid af as dit nie. Wat jy daar maak is suurmelk of dikmelk. Karringmelk is baie laag in bottervet want jy haal die meeste van dit uit in die bottermaak proses.

Maar dit nou daar gelaat ... ons ken beskuit hoofsaaklik in drie formate.

1. Boerbeskuit met al sy variante soos mosbolletjies, anysbeskuit en krakelinge. Al die beskuit het een ding in gemeen ... dit word met suurdeeg in een of ander vorm gemaak en dit word baie goed geknie. Dit gaan deur twee rys fases en die beskuit se tekstuur is draderig ... dis van die rys en die gluten stringe. Die hoof bestandele is meel, water, sout en suurdeeg. Druiwemos en anys is gewilde byvoegings. Die beskuite self word styf in panne gepak en dis diep panne wat die beskuit forseer om na bo uit te rys.

2. Karringmelkbeskuit en sy variasies. Hier word nie gis gebruik nie en die meel word met botter ingevryf soos waneer jy skons maak. Dis bakpoeier wat die rys agent is. Die nat element is gewoonlik karringmelk, dikmelk of yoghurt. Die beskuit word baie min geknie, inteendeel jy moenie dit baie knie nie want dan kan dit klinkers word. Jy moet ook baie seker maak jy gebruik goeie botter of bak margerien ... as jy smeer margerien gebruik gaan jou beskuit hard wees en nie bros nie. Hierdie les het ek op die harde manier geleer.

3. Gesondheidsbeskuit in sy duisende variasies. Die basis van die beskuit is normaalweg maar karringmelkbeskuit basis maar daar word allerhande sade, bessies en koring of hawermout elemente ingevoeg. Muesli mengsels is ook gewild. Heuning, stroop, bruinsuiker, molasses en dies meer vir soetigheid. Die nat element kan enigeiets wees soos yoghurt, dikmelk, karringmelk, room, kondensmelk of vrugte stroop.

Nou gaan ek bietjie vertel van my beskuit proses en ek gaan vertel hoe ek dinge doen. Dis verseker nie die "Holy grail" van beskuit maak nie maar dit werk vir my en ek het my ondervinding opgedoen deur dosyne baksels. My resep wat ek vandag hier gaan gee is spesifiek ontwikkel vir die Man Kos Krakers maar kan vir groter beskuit ook gebruik word, jy kan bolletjies maak of jy kan dit in blokkies sny.

Dit is wat gaan benodig: (Ek gaan nou nie taalsuiwer probeer wees nie.)

1kg Selfraising Flour
200ml suiker ... wit of bruin, jou keuse.
250gr Botter of bak margerien. Botter kan galsterig raak as jy die beskuit lank wil bêre.
3 koppies hawermout
2 eiers
5ml sout
10ml bakpoeier
1 koppie Safari Dried Fruit Cake Mix
2 eetlepels olie ... jy kan olyfolie gebruik.
1 blikkie kondensmelk ... dis so 380gr maar wissel van maak tot maak.
1kg Appelkoos gegeurde yoghurt. Jy kan enige geur gebruik.
4 eetlepels fyn appelkoos konfyt. Weereens, enige fyn konfyt, jou keuse. Jy kan selfs heuning of stroop gebruik.

Nou vir die metode.

Moenie te styf pak nie
Sit jou oond op 200C en laat hom warm word terwyl jy die goed gaan meng.

Die belangrikste is om al die benodighede uit te pak op jou tafel. Maak seker alles is daar en bymekaar voor jy begin om enigeiets te doen of te meng. Jy het hoofsaaklik drie houers nodig.

Kry 'n lekker groot bak waarin jy die meel gooi. Skep nou die sout en bakpoeier in die meel in en whisk dit.
Mooi baksel
Volgende rasper jy jou botter in die meel in. Jy kan dit ook in blokkies sny en ingooi.
Gebruik nou jou vingers en vryf die botter en meel inmekaar in totdat dit goed opgebreek en versprei is. Die slimmes reken dit moet soos krummels lyk ... wel ek kyk maar so met die oog en as dit lekker geel is sonder groot klonte, dan is ek tevrede.

Nou vir die droog
Gooi nou die vrugte en hawermout in die meel in en meng deur met jou vingers. Wees kalm en mediteer terwyl jy so met die meel werk. Dis nogal opvallend hoe jou siel tot rus kom as jy so met die meel vroetel.

Net reg vir die kies
Sit nou a mengbak, medium grote op jou skaal en ZERO die ding. Gooi die blikkie kondensmelk uit in die houer in. Die skaal sal nou vertel hoeveel dit is. Volgende skep jy die fyn appelkoos konfyt in. Nou vir die yoghurt ... jy soek die totale massa in die mengbak moet 600gr wees. Skep yoghurt in tot by 600 gram.

Breek nou die eiers in die mengsel en gooi die olie en suiker ook hier in. Nou moet jy die mengsel ordentlik meng. ek gebruik 'n whisk maar jy kan 'n handmenger ook gebruik.

Lekker Krakers
Gooi nou die natmengsel by jou meel en meng rustig en kalm. Moenie rof of haastig raak nie. Jy wil al die meel mooi klam kry sonder om die gluten angstig te maak in die proses. Spoedig sal jy 'n lekker hanteerbare mengel in die bak hê wat nie aan jou hande vasklou nie. Ek werk net met een hand in hierdie fase.

Kry nou jou panne reg ... ek het een groot plat pan van so 260x380mm en een van 200x200mm gebruik.

Spuit die panne mooi met koekie sproei en nou is jy reg vir die tandetrek deel van die proses. Ek weeg die deeg af in brokkies van so tussen 22 en 25gr, rol ligies in balletjie en pak in die pan. Jy wil nie die goed te styf pak nie. As ek gewone beskuit bak dan maak ek die balletjies 45gr.

 Nou oond toe ... draai die oond op 190C en laat die beskuit bak vir 15 tot 20 minute, ek kyk waneer daar 'n mooi ligbruin korsie begin vorm.

Draai nou die oond af na 170C en laat bak vir nog 20 minute. Die is beskuit en nie koek nie, so dis beter as dit so bietjie "overbake".

Haal uit die oond en laat koel af vir so 5 minute. Dop die beskuit uit op 'n vadoek en breek vesigtig uitmekaar.

Nou moet jy dit laat uitdroog. Ek pak myne in plat oondpanne maar baie mense pak dit op draadrakkies. Maak soos dit jou pas. My beskuit doog teen 70C vir so om en by 5 ure.

Die doel van hierdie Krakertjies is om 'n lekker snaxie te maak. Ek is moeg daarvoor dat my huismense die beskuit se koppe afbreek en verslind ... die krakers is my antwoord vir die soort wangedrag. Die manier waarop ek bak verseker lekker korsies. Die aanvanklike hoë hitte laat die botter vinnig smelt en bak die korsies mooi bruin.

Ek meng bruinsuker met kaneel soos vir pannekoek en strooi dit oor die balletjies voor ek begin bak.

Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.

Sondag 04 Mei 2014

Karringmelk Beskuit - Maak dit bietjie gesonder

Almal wat my goed lees weet teen die tyd dat ek 'n swakte het vir karringmelk beskuit. Ek het al twee stories oor dit geskryf ...

Karringmelk Beskuit - beskuit wat my hart laat sing
Karringmelk Beskuit - Hier gaan ek alweer

Nou is dit weer ek en die karringmelkbeskuit ... my basiese resep is in die stories hierbo genoem.

Hierdie is nou nie 'n lang storie nie want ek het omtrent alles al gesê oor die beskuit.

Lyk mos gesonder
Laasweek loop ek so deur My SPAR en daar sien ek bruismeel van SASKO ... bruismeel wat met semels versterk is. Man, natuurlik kon ek dit uitlos nie want ek was juis daar om die goeters kry om beskuit te bak. My resep vra 1Kg so ek koop die 1Kg pakkie en een gewone pakkie ... net vir die wis en onwis.

My reseppie is kort en vinnig behalwe ek maak dit langer want ek werk my deeg so bietjie meer as wat die populêre geloof oor karringmelkbeskuit is. Ek het gevind as jy dit te min werk dan is dit geneig om te bros te wees en foeter sommer in die koffie in. So ek rek daai gluten stringe so bietjie.

Mooi baksel
Ek gebruik nie meer karringmelk nie maar AMAZI of Dikmelk ... het baie meer smaak en is bietjie ryker.

Verder gooi ek 1 koppie gedroogde cranberries by ... ek hou van daai surigheid wat die bessies in die beskuit sit.

In die oond om te droog
Ek het so derde van die deeg oorgehou en nie bolletjies gemaak nie en baie dun, ontrent so 15mm dik in die pan uitgedruk en in skyfies gesny ... ek hou daarvan om die beskuit sommer so tussenin te eet as 'n happie en wou dit meer hanteerbaar maak vir die doel.

Soos jy kan sien, die baksel het mooi uitgekom en die plattetjies was ook binne 2 en half uur droog.

Probeer dit gerus.






Lekker kook tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook bladsy ... LIKE hom stukkend as jy wil.





Maandag 07 April 2014

Karringmelk Beskuit - Hier gaan ek alweer

So tydjie terug het ek die loflied van hierdie heerlikheid besing en vertel hoe ek myne gebak het. Hier is die skakel na die storie ... Karringmelk Beskuit ... Ek stel voor jy gaan lees dit ook as jy die resep soek en ek vertel daar hoe ek die ding gedoen het.

Karringmelk beskuit
Wel Vrydag het ek die laaste een geëet en dus moes ek Saterdag weer bak. DIt is my tweede rondte met hierdie resep en dit gaan vinniger as die eerste keer. So 45 minute na ek die beskuit in die oond gesit het staan ek en kyk na die baksel op die koelrak.

Klaar gedroog en reg vir die koffie
Hulle lyk goed en ek breek die blok op in beskuite en pak in die oond vir die droog proses. Weer dieselfde as laas en so 6 ure latere is dit alles oor en die beskuit is in die houer.

Dis mooi beskuite en hulle proe lekker. Ek soek die wat die donkerste uitgekom het en pak hulle in a sakkie vir my broer. Hy hou van brood en beskuit wat so bietjie "over done" is.

Later die aand sit ek voor my rekenaar met a beker koffie en 'n beskuit en my kop begin werk. Die wat my ken sal weet dat ek hierdie lelike streep in my het om 'n ding te doen tot ek dit reg kry en dan in plaas van om dit daar te laat, raak ek waaghalsig.

Vir my was daar twee dinge wat ek verseker wou aanspreek. Noudat ek die basiese resep regtig onder beheer het was dit tyd om te kom met so paar kinkels. Hierdie kinkel ding het in die verlede al lelik skeef geloop maar dit het ook aanleiding gegee tot baie lekker dinge.

Eerste ding wat ek wou verbeter was die intensiteit van die smaak van die beskuit. Tweede ding was om te kyk of ek nie so bietjie meer "gemoedsrus" in kon sit nie. Dis darem suiwer wit meel die en dit is nie so goed vir my nie.

So is dan ook dat ek vroeg Sondagoggend in die kombuis is. Poppie loer my so skeef aan ...

"Wat nou ... jy het mos gister beskuit gebak ?"

"Ja ek het maar ek wil iets anders probeer."

"Aggenee man ... die goed is mos lekker soos dit is ... wat wil jy nou weer aanvang ?"

Die hoof bestandele
Sy is baie skepties en ek neem haar nie eintlik kwalik nie want sy het al eerstehands ondervind hoe ek 'n goeie ding kan opvoeter met my kinkel stories. Aan die ander kant het sy ook al baie gesien en geproe hoe ek met 'n kinkel 'n ding kan laat spring. Maar nouja, my Poppie sien maar altyd die glas as halfleeg en ek is al gewoond daaraan.

Semels en Cranberries is sigbaar
Eerste vervang ek die karringmelk met "Amazi" ... dis mos dikmelk. Dit het baie meer intense geur en behoort die beskuit se smaak lekker te verhoog.

Volgende gooi ek 'n koppie en 'n half semels in die meel in. Ek gooi een teelepel bakpoeier by.

Dan vir die gesondheid verkrummel ek twee koppies Kellogs Special "K". Ek kap ook 'n half koppie gedroogde Cranberries fyn ... ek soek daai suur smaak.



Mooi baksel karringmelk beskuit
Dit verhoog die droë bestandele heelwat en ek gooi 100gr meer Amazi in en nog 'n eier.


Weereens verfrummel ek die botter in die meel in met my handmenger en toe gaan alles in die mengbak van my Kenwood Chef in met die deeg haak.

Semels is duidelik sigbaar
Nou moet jy maar geduldig wees want dis nie a vinnige proses nie en die menger doen sy ding op lae spoed. Op 'n stadium begin dit vir my lyke of die mengsel te droog gaan wees maak ek los die menger maar uit dat hy aangaan met sy werk.

En dan skielik begin die deeg teen die haak opklim en ek kan sien dis gladnie te droog nie. Nou moet hy maar aangaan want jy wil 'n goeie gladde deeg kry. Na sowat 8 minute klou omtrent die hele klomp deeg aan die haak vas en ek toets dit. Die gluten het mooi ontwikkel en die deeg kan redelik rek. Nou is dit reg vir die volgende stap.

In die vorige baksels het ek die deeg in die pan ingedruk en dan gesny, hierdie een gaan ek maar my luiheid los en die bolletjies maak soos die resep sê.

Nou vir die droogmaak
Op 25 minute draai ek die oond af van 180 na 160. Die beskuit is mooi ligbruin en ek is bang dat dit gaan te kwaai verdonker as ek die temperatuur nie afdraai nie.

Pragtig goudbruin en heerlik
45 Minute later en die beskuit is uit die oond uit. So met die oopbreek slag kan ek sommer sien die tekstuur is mooi en toets a stukkie. Di korsdeel is lekker en die sagte deel het baie meer smaak as die vorige baksel.

Nou weer oond toe vir die droogmaak deel ... 45 minute teen 120 C en die beskuite het a mooi ligte kleurtjie en ek draai die oond af na 60 C toe.

Na sowat 5 ure breek ek eenbeskuit middeldeur en voel dat daar reg in die middel nog so kolletjie is wat nognie heeltemal droog is nie.

Karringmelk Beskuit
Op 6 ure is ek tevrede en sit die oond af. Ek los die beskuit vir nog a uur in die oond om af te koel en toe haal ek die panne uit om heeltemal af te koel.

Soos gewoonlik is daar mos maar so paar stukke wat sleg gereek het tydens die uitmekaar maak proses en die goed trek my soos heuning 'n by trek.

Jis die beskuit is lekker. Die dikmelk werk verseker beter as karringmelk en die semels en Bran gee dit 'n lekker tekstuur.

Nouja ek het die beskuit goed getoets en ek moet sê ek is baie tevrede. Dit slurp die koffie netjies op en daar is duidelike geure en tekstuur.

Ek is tevrede en beskou my missie met karringmelk beskuit nou as afgehandel.

Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy.

Sondag 16 Maart 2014

Karringmelk Beskuit - beskuit wat my hart laat sing ...

Seker elke volbloed Afrikaner ken beskuit en het dit al geëet ... die wat nog nie het nie beter 'n plan maak want hierdie is volkskos sonder weerga ... wel, miskien 2de want biltong is mos eintlik die een sonder weerga.

Beskuit besig om te droog.
Soos julle almal seker teen die tyd weet, het ek maar eers so 18 maande terug ernstig begin bak, voor daardie tyd het ek die oond net vir pasteie en brood gebruik. Ek het geglo dat bak iets is wat ek nie sal regkry nie.

Maar soos met omtrent alles in my lewe het ek die ding mooi bedink, gaan oplees oor oonde en hulle dinge en toe maar begin.

Na so paar koeke en terte het ek besluit dat beskuit is die volgende op my lys.

Poppie kom hier aan met 'n vriendin se ekstra spesiale geheime resep vir gesondheids beskuit en ek staar na die lys ... hel, dis 'n elle lange lys en ek loer weer na die Woolworths pakkie Muesli beskuit toe en dink dat dit baie makliker is om te koop.

Maar nouja, Poppie gee my so skewe kyk en in haar houding en oë kan ek sien sy is lus om die woord "Chicken" te gebruik. Wel geen rooibloed man hou van daai woord nie, veral nie as dit na hom verwys nie.

So pak ek toe die resep en al wat ek kan sê is dat na 'n paar ure, baie swets en gebare taal is die beskuit gedoen. Sederdien het ek dit elke maand gebak want die hoeveelheid is net mooi genoeg om 'n maand te hou. Ek begin elke dag met 'n koppie koffie en beskuit en daarna 'n sigaret. Dan is ek reg vir die dag.

Al die tyd spook Karringmelk beskuit egter by my, dis een van die heerlikhede wat met wit meel gemaak word wat my nie sooibrand gee nie. Ek hou ook daarvan om dit droog te eet en in my dae toe ek nog diepsee hengel gedoen het, was dit die beskuit wat my derms bymekaar en op hulle plek gehou het.

Na drie pogings en drie resepte om karringmelk beskuit te bak wat gewissel het van totale klinkers tot redelike smaaklose klonte is ek toe op 'n plek waar ek wil handdoek ingooi. Ek lees elke artikel wat ek in die hande kan kry oor karringmelk beskuit en my kop spin soos 'n top om die een.

Hoe is dit moontlik dat iets wat vir ander so maklik is, my elke skoot onder die tafel in skop ?

So kom dit dan dat ek in die winkel staan en na die Karringmelk boksie staar. Ek sien daar is 'n resep op en dit lyk baie maklik. Ok, ek gaan dit probeer en as dit nie werk nie kan ek mos op hulle gaan braak op Facebook.

Karringmelk Beskuit - Danone Boksie

1 kg Bruismeel
5 ml Sout
200 ml Suiker
250 gr Botter
500 gr Karringmlk - 1 Boksie
1 Eier
25 ml Olie

180 Grade oond
Meng droë bestandele saam.
Vryf Botter in
Meng Eier, olie en karringmelk.
Meng nou die deeg goed.
Maak in balletjies en pak in oondpan.
Bak vir 45 minute.
Breek nou beskuite los en pak op oondplate om te droog.
Droog in koel oond vir sowat 5 ure.

TIP: Ek droog myne so vir 45 minute teen 120 C ... dit gee a lekker ligte rooster kleur aan die beskuit.
Dan draai ek die oond af na 70 C toe vir so 4 ure.
As jy nie wil balletjies maak nie, gooi so 1/2 koppie melk by om die deeg slapper te kry en druk dan in oondpan plat.

Die feit dat ek nou iemand het wat ek kan gaan uitskel as sake verkeerd loop gee my nuwe ywer en ek skraap die benodighede in my mandjie in.

By die huis staan ek voor die werksblad met al die bestandele mooi uitgepak en ek lees die resep mooi deur. Net daar toe klap realiteit my teen die kop. Die botter moet in die meel ingevryf word. Ek versuur sommer dadelik. Baie ondervinding het my geleer dat ek heeltemal te warmbloedig is vir die storie. My hande maak die meel en botter sommer in a japtrap een olirige gemors wat net eenvoudig nooit uitkom soos die bakkers vertel nie ... sanderig in tekstuur ... neewat, myne is modderig.

Terwyl ek so na die resep staar onthou ek 'n video wat ek eendag toevallig raakgesien het. Die vrou het vertel van haar stryd met warm hande en die deeg makery en toe gee sy raad ... raad wat ek vandag gaan volg. Sy het gewys hoe sy haar handmenger met die gewone klitser lemme aan gebruik om die botter en meel ding te doen.

Nouja ek gaan julle nie verder verveel met die storie nie maar al wat ek kan sê is dat dit werk. Vat so rukkie, 5 minute of so maar ek het 'n lieflike sanderige mengsel gekry. Ek gooi 'n teelepel ekstra bakpoeier by want ek vertrou die pakkies bruismeel nie heeltemal nie.

Volgende gaan die hele spul bymekaar en ek eindig met 'n lekker deeg ... nou vertel die resep ek moet balletjies maak en ek skud my kop, dis laat middag en ek het nie tyd vir dit nie. Ek gooi so half koppie melk by en kry die deeg so bietjie papper. Sit dit in 'n oondpan en sny die porsies met 'n mes.

45 Minute later is die beskuit uit die oond.

Ruik heerlik en ek breek die stukke op. Die snymerke in die begin het gehelp en so op 30 minute het ek dit weer uitgehaal en die merke net bevestig met 'n messie. My beskuit het ook baie mooi gerys ... omtrent verdubbel in hoogte.

Klaar gedroog en dit lyk mooi
Ek sit draad rakkies in 'n paar bakpanne en pak die beskuite uit om te droog. Die mengsel is nogal klam en vir 'n paar oomblikke wonder ek daaroor. Toe skop my broodbakker kop in en ek draai die oond op na 130 C toe.

Poppie frons ... "Wat maak jy nou ?"

Pragtige Karringmelk beskuit.
"Ek dink dit gaan lekker wees om die beskuit so klein bietjie te rooster aan die buitekante, behoort mooi te lyk en net so klein bietjie ekstra smaak te hê."

"Ja jong ... daar gaan jy alweer ... hou by die resep man !"

In die kassie
Ek glimlag maar net en sit die beskuit in die oond. Stel die wekker vir 45 minute en maak die deur toe. Toe die alarm afgaan maak ek die deur oop en die geur is wonderlik. Ek sien die ligte kleurtjie met die donker puntjies en my hart sing. Ek draai die oond af na 70 C toe en los die deur op 'n skrefie oop.

Ondervinding het my geleer dat ek nou maar kan ontspan en gaan werk. So kort na middernag behoort die beskuit reg te wees.

Wel dit was ook so ... kort na middernag, terwyl ek wag dat my stelsels die dag se rekonsiliasies afhandel, sit ek met 'n beker lekker koffie en 'n warm beskuit in my hand.

Hierdie beskuit het pragtig uitgekom vir my en ek is met 'n lied in my hart bed toe.

Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook blad.

Wees so vriendelik en "Follow" my hier en SHARE dit ook wyd en suid. Ons maak nie geld uit die goed uit nie maar dis baie lekker om te sien dat lesers die inhoud waardeer. O ja en +1 is ook belangrik.



Lees ook gerus my Briekmerke Blog.