Vrydag 31 Julie 2015

Vark - Kaiings is en bly lekker

Omtrent 'n jaar gelede het ek die eerste storie oor kaiings geskryf en die storie is een van die gewildstes op my blog. Vark - Kaiings is onweerstaanbaar vir my. Gaan lees dit gerus.

Niks so lekker saam met pap soos kaiings nie.
Sedertdien het ek vele navrae oor dit gekry en die grootste probleem was die prys wat ons moet betaal vir die rou kaiings. Die vernaamste rede hiervoor is dat varklies mos deesdae 'n lekkerny geword het en die slagters vra 'n premium prys daarvoor. Weg is die dae to varklies as 'n goedkoop snit geklassifiseer was.

So kom dit dan dat ek Woensdag dorptoe gaan en 'n draai maak by die nuwe Eskort Vleiswinkel in Riverside ... daar waar Fruit en Veg was.

Natuurlik is ek van mening dat hier darem a goeie klompie vark snitte sal wees ... maar my oë rek ... hier is baie meer as net varksnitte. Soos mens kan verwag is daar a menigte van die bekende en ook onbekende ESKORT produkte.

Kyk daardie prys !
En toe sien ek dit raak ... Pork Back Fat ... R29.95 / kg ... wow ... dis 30% van wat ek betaal vir die varklies kaiings. Toegegee, daar is minder vleis in maar die feit is ook dat mens kaiings maak vir daai lekker klein sagte vet klontjies met die krakerige velletjie oor. So ek koop 'n pakkie wat so net onder die 1.3 kg is en dit kos 'n skamele R37.91. As jy so bietjie meer vleisies wil sien in jou kaiings kan jy 'n klein pakkie van die Stirfry koop wat hulle aanhou en dit by die vet in sny.

Ek maak kaiings hoofsaaklik om die skoonvet te kry want ek gebruik dit baie plekke in my kokery in plaas van botter, margerine of kookolie.

So hier het jy dus die geleentheid om kaiings te maak teen 'n baie bekostigbare prys. Ek gaan nou nie weer die hele proses beskryf nie want dis volledig gedoen HIER ...

Hier volg 'n reeks fotos wat die proses wys.


Jy het 'n lekker skerp mes nodig.

Sny alles mooi in blokkies

Ek gooi braai speserye op.

Nou is dit tyd om die vlam kleiner te maak.

Heerlike kaiings.

Lekker skoon varkvet.

Nou sal ek baie meer gereeld kaiings maak.


Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.

Sondag 26 Julie 2015

Snaxie - Man Kos Muffins

Die debat oor skons en muffins sal seker nooit eindig nie maar dis ook nie belangrik nie ... wat belangrik is, is hoe smaak dit en hoe maklik is dit om te maak.

By Man Kos is dit my missie om goed te maak waarvan mans hou en wat mans self kan maak. Nou elke man hou daarvan om so ou peuseldingetjie op te tel en dan rustig te staan en eet terwyl sy gedagtes op vêr paaie gaan.

Vir my is daar min dinge so lekker soos 'n souterige muffin en ek het al baie resepte gemaak om die een te kry wat vir my die NOMMER EEN is. Na baie eksperimente dink ek dat ek nou die regte een het ... dis een wat maklik is en omtrent altyd reg uitkom. Meer belangrik is die feit dat mans die goedjies self kan bak.

Ek gaan nou eers oor die vulsel praat en dit is belangrik dat jy die met 'n oop kop lees want die moontlikhede is onbeperk.

Almal van ons beleef die realiteit van oorskiet vleis na 'n braai of groot aansit ete. Elke stukkie vleis wat oorbly kan werk vir hierdie Man Kos Muffin.

Begin deur die vleis in klein blokkies op te sny. Jy soek stukkies omtrent so groot soos 'n ertjie pit. Jy het omtrent 'n poedingbakkie vol nodig. Ek kerf ook suur uitjies in. Ek sit hierby nou so blêrtsie blatjan en een baie fyn gekapte rooi rissie. Die vulseltjie moet krag hê. Toets hom maar mooi voor jy ontspan, hy moet amper te sterk wees.

Nou rasper ek ook so handvol lekker sterk cheddar kaas.

Die grootste fout wat jy kan maak is om oordadig te raak met die vulsel per muffin. Volg my aanwysings en kyk na die fotos.

Kry jou oond nou warm ... 230C

Nou vir die deeg ... en die is baie eenvoudig.

Bestandele
BESTANDELE:

1 x Koppie melk
2 x Groot eiers
1/2 x koppie olie ... Jy kan enige olie gebruik en kies maar na smaak.

Klits nou die mengsel baie goed.

Voeg nou by ...
Eerste lagie deeg

1 x Koppie koekmeel
2x Teelepels Bakpoeier
1/4 x Teelepel sout.

Jy kan nou speserye na smaak byvoeg soos growwe swartpeper, cumin, coriander, ginger, mixed herbs ensovoorts ... enigeiets wat vir jou lekker smaak.
Kaas

Meng die nou by jou melkmengsel en klits goed met 'n whisk sodat jy 'n mooi gladde deeg kry. As die deeg nie lekker loperig is nie kan jy so bietjie melk byvoeg.

Vat nou 'n 12x holte muffin pan en spuit met koekie sproei.

Vulsel
Nou is dit belangrik dat jy nie kop verloor en sommer deeg in die pannetjies begin gooi nie. Sit nou een eetlepel deeg in elke pannetjie in.
Dan so klein bietjie kaas in elkeen.
Nou so eetlepel van jou vleismengsel.
Weer so paar stringetjies kaas.

Nou gooi jy een eetlepel deeg bo-oor alles. Versprei dit mooi en werk maar saggies met die lepel om die deeg mooi in te kry. Hierdie volume is net genoeg vir 12 muffins.
Nog kaas

Probeer vinnig werk want onthou, sodra die bakpoeier vog kry begin dit aktiveer en jy wil darem soveel as moontlik rys uit die muffins kry.

Laaste sprinkel ek nog so paar stringetjies kaas en so bietjie braai sout.

Oondrak in die middel en die pan is in.

Laaste deeg lagie
Onthou, die oond is baie warm en die mengsel het baie olie in. Daardie warm oond is baie belangrik om die muffin 'n lekker bros korsie te gee.

Hou maar dop ... jy soek die muffins so goudbruin kleur. Dit vat so tussen 10 tot 15 minute.

Klaar gebak
Hierdie is baie lekker en is so aanpasbaar dat jy nooit weer oorskiet vleis sommer net verlore laat gaan nie. Ek het al braaivleis, hoender, lewer, niertjies en wors gebruik om die muffins te maak.

En dit is my Man Kos Muffins wat mans maklik kan maak.

Hierdie muffins hou goed in die yskas en dit is baie lekker om in 'n kosblik te pak.

Die olie maak seker dat dit nooit droog en soos wurgkoek proe nie.

Jy kan die resep maklik aanpas om ook soet muffins te maak. Gooi net so twee eetlepels suiker in die deegmengsel en dan gebruik jy glansvrugte of droë vrugte vir die vulsel.
Heerlik

Ek sit soms gemengde groente net so uit die gevriesde pakkie in en dan gebruik ek die muffins by etes in plaas van rys of aartappels.

Dis veral lekker saam met kerrie en 'n lekker sous. As jy dit by kerrie gebruik dan verkies ek om die soet variasie te maak.

Nooit droog nie
Gebruik jou verbeelding en dink so bietjie buitekant die boksie ... hierdie is 'n baie aanpasbare resep en kan sommer maklik nuwe vonk in 'n gewone maaltyd sit.

Jy kan die vulsel met ingemaakte vrugte maak en saam met 'n slim spesery mengsel en 'n lekker vla is dit sommer 'n slim nagereg.



Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.



Saterdag 25 Julie 2015

Bos en Berg - 'n Paar dae saam met Annelien Pienaar

Die afgelope twee jaar het ek baie tyd en moeite ingesit om my teoretiese en tegniese kennis rondom bak en kook te verbeter. Ek het letterlik honderde ure in die kombuis spandeer en baie resepte gemaak. Disse wat ek nie gedink het ek sal ooit regkry nie.

Dine van Zyl, Errieda du Toit en Nina Timm was almal groot inspirasie vir my.

Helena, Maggie, Dalene en Sonja by Lekker Resepte het my baie aangemoedig en het saam met my lekker gelag vir die flops wat ek soms gemaak het.

Ambelene het altyd vinnig met raad ingespring as ek onseker was oor 'n proses, Renette het my ondersteun as ek so bietjie wyer wou gaan.

Bos en Berg Kombuis
My broer Andrè en sy vrou Vera is altyd gewillig om my kos te eet en dan my vrou, ai tog, sy is die een wat elke dag my kos eet ... soms kan ek sien dis nou nie presies wat sy wou gehad het nie maar sy eet dit maar.

Hierdie is die mense wat direkte invloede op my kokery het en dis die mense wat my inspireer om my beste te gee.

Die kos wat my ma en my ouma gemaak het is baie na aan my hart en Boerekos laat my gewoonlik breed glimlag. So gebeur dit toe dat daar so paar maande gelede 'n nuweling in my lewe in kom ... Annelien Pienaar ... ek en sy het sommer so met die intrapslag net reg gekliek en soos die tyd verby gegaan het is ons 'n vriendskap gebou. Vir my as tegnoloog van beroep was haar tegniese kennis soos 'n kers vir 'n mot.

Meet ordentlik
Ek het meer en meer van haar resepte begin maak en was altyd tevrede met die uitslag want die vrou maak seker van haar feite voor sy publiseer.

Dit was seker onvermydelik dat ek en Annelien in die regte lewe met mekaar sou kontak maak. Na my onlangse "roadtrip" Kaap toe het ek besluit ... ek het nou nodig om tyd saam met 'n kundige te spandeer. Ek het 'n vlak bereik waar ek gemaklik was in my kombuis en het nie teruggedeins vir enige ding wat ek wou maak nie. Wat ek gekort het was om net te kan sien hoe die kundiges sekere prosesse fisies hanteer.

So gebeur dit dan dat Annelien haar dagboek skommel en my nooi om vier dae op Bos en Berg te spandeer. Sondag 19 Julie 2015 pak ek my goedjies in die kar en daar trek ek. In die kar maal duisende dinge deur my kop en soms bevraagteken ek my besluit om te gaan. Ek is verseker nie onhandig in 'n kombuis nie maar ek wonder of ek die pas sal kan volhou.


Ek en die spuitsak maak kennis
Sterk skemer en ek ry tussen die ruie bosse in en volg die aanwysings na die gastehuis toe. Annelien wag my in op die stoep en ek sien dadelik hoe netjies versorg sy is en sy glimlag breed. Ek is van nature 'n mens wat fyn ingestel is op mense se lyftaal en ek kom gou tot die slotsom dat die vrou verseker nie nonsens vat nie. Sy is selfversekerd en op die punt af. Alles tekens van 'n mens wat die pad gestap het en anderkant uitgekom het. Ons kliek ook goed en die kubervriendskap ontaard gemaklik in 'n "real world" vriendskap. Nou is ek meer gemaklik want dis sou nie lekker gewees het om vir vier dae saam met 'n persoon in 'n kombuis te wees as daar ongemaklikheid tussen ons was nie.

Maandag oggend sit ek op die stoep en drink koffie terwyl die son opkom ... die blou rook van my Camel haak vas aan die koue winterlug se tandjies en ek vat nog 'n sluk koffie. Ek sal jok as ek sou sê dat ek nie effens gespanne was nie ... ek was verseker. Natuurlik was daar ook 'n goeie dosis twyfel in die pot ... twyfel of ek die mas gaan opkom.

Nog spuitsak werk
En dan kom sy tussen die bome deur, kraakvars en spierwit baadjie en 'n krat vol goeters in haar hande.

Ek gaan nou nie veel meer oor die besonderhede skryf nie want dan ontaard hierdie in 'n kortverhaal.

Spoedig begin sy instruksies uitrammel en ek fokus en voer uit. Die dag begin met 'n piesangbrood en sy leer my die prosesse verstaan waneer suiker en botter vermeng word en waneer eiers en suiker vermeng word.

Sy leer my hoe om verskillende bestandele korrek te meet en ek sien eerstehands dat mens jou kop moet gebruik as dit by die vog volumes kom waneer jy deeg maak. Die resep is altyd net 'n leiding en nie noodwendig die finale woord nie want lugdruk en humiditeit speel 'n groot rol.


Ons bak 'n marmerkoek en maak meringues. Sy wys my hoe om a spuitsak te gebruik en ek leer van kulture in deeg. Ek sien hoe mens sjokolade smelt.

Deeg vorm werk
Dinsdag begin ek die dag deur skons te maak en dan bak ek 'n rolkoek en sy wys my hoe om polka dots in die koek in te bak. Ek maak Roti en toe maak ons terte. Melkterte en vleisrolletjies.

Nog deeg vorm werk
Woensdag is dit weer skons vir ontbyt en die keer sit ek waatlemoen konfyt en pekaneute in. Dan is dit brood. Knie en vorm en bak. Croissants en Cinomon Buns. Dis 'n lang dag en die sak meel waarmee ons begin het is besig om erge letsels te wys. Ek leer van glazing en maak versiersuiker. Roomkaas en botter versiering.

Die son sak op Bos en Berg en my gat sleep ... dit was drie wilde dae maar ek is lekker moeg, lekker want ek het baie geleer.

Donderdag oggend is my blus vir bak effens uit. Sy moet my nog net wys hoe om die roomkaas versiering op die piesangkoek te doen.

By 11h00 is ek op pad terug ... my kar is gelaai met al die goeters wat ek gebak het en daar is 'n paar sakke gadgets in ook. Vir my was dit 'n pryslose ondervinding en ek is dankbaar vir die tyd wat Annelien aan my af gestaan het. Ek hoop haar belegging lewer dividente.

Fokus en fokus
As jy ernstig is oor jou bakkery en jy wil meer weet as net hoeveel van elke ding jy moet gebruik, wel dan moet jy by Bos en Berg gaan kuier.


Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.