Dinsdag 17 Junie 2014

Vark - Kaiings is onweerstaanbaar vir my

Vandag is ek op 'n vreemde plekkie in my kop. Die winter lig, kaal bome, stowwerige strate, warrellende blare ... alles dinge wat my na 'n donker plekkie in my kop laat gaan. Sien die ding het so begin ... dit was in Augustus maand in Johannesburg se Garden City dat ek so deur die dokter se spreekkamer venster gestaar het ... alles buite was dood en kaal takke het soos vingers na die hemel gereik.

Binne in my was dit asof 'n blok lood op my siel gaan lê het ... dertig minute tevore het ek van my bike af geklim en met 'n veerligte stap die paadjie opgekom na die spreekkamer toe ... my vriend en dokter moes die steke in my nek uithaal waar hy tien dae terug 'n ding uitgesny het. Dis mos niks het ek gedink en op my fiets geklim in Pretoria ... die goue gras langs die pad af het liggies gewieg in die wind en die sonlig het geel op die pluime gedans. Die fotograaf in my het duisende prentjies gesien terwyl die swart teer onder my verbygegly het ... dit was lekker om te leef en dit was lekker om in die laat winter bike te ry.

In sy spreekkamer wou ek sommer deur stap na die kamer toe waar hy klein goedjies regmaak ...

"Wag eers ... kom sit hier by die tafel ... ek moet iets met jou bespreek."

Instinktief het sommer dadelik geweet hier is nou 'n ding ...

Woordeloos sit ek luister na sy relaas en verduidelikings en sy stem begin al meer na 'n stem op die radio klink terwyl my oë deur die die venster staar en vashaak op die dooie droë plante in die tuin. Dit was nie wat ek wou hoor nie ... verseker nie.

"Maar moenie nou teveel worry nie ... die was net 'n uitsaaing ... ons moet nou die primêre bron van die kanker kry en dan sal ons weet wat om te doen ..."

Die res gaan ek nou nie oor praat nie want dis geskiedenis ... die belangrikste is dat dit in 1982 was en ek is nog hier. Maar van daardie dag af het die ding van die plante wat so afvrek na die somer my erg omgekrap.

Nouja, vanoggend was ek weer by die dokter ... hierdie keer om steke uit my duim te laat haal en toe ek uit die spreekkamer uitloop toe vang die winter lig my en ek sien die baie dooie bome om my ... darem nou nie so erg soos op die Hoëveld nie ... dis een van die groot redes hoekom ek in 1994 Laeveld to geskuif het ... die doodgaan ding is baie ligter hier.

Kaiings is Man Kos
Beelde van my kinderdae op my ouma se plaas kom by my op. Winter was mos groot slagtyd en ek dink aan die vark slagtery ... die groot ou seeppot wat op die vuur staan waarin die vet uitgebraai word en ek onthou hoe sy die krummels uitgeskep het en in 'n geblomde erde bakkie gesit het ... dit was die beste deel van die hele slagtery vir my ... lekker vars brood en kaiings.

Ek stop by die slaghuis want hulle het my laat weet die skaap harte wat ek bestel het is daar. Binne dwaal ek so tussen die yskaste deur en besluit ... miskien moet ek tog bietjie kaiings maak. Die pers en die radio en die TV bly ons hamer met hoe mens gesond moet eet maar ek onthou my ouma se lagplooitjies en sien hoe sy die vet van haar lippe afvee ... en sy het amper 90 geword ...

Vark lies
"Te moer met dit !" ... brom ek en wink die slagter nader. Ek verduidelik hom mooi presies wat ek soek en hy lag so diep uit sy maag uit ...

"Oom ... jy gaan mos nou koningskos maak ... onthou net 'n lekker potjie pap."

Nouja terug by die kos ... laat jou slagter vir jou 'n lekker stuk varklies in blokkies sny. Maak seker daar is genoeg vet anders moet jy maar so bietjie spek by sit.

Die maak van die kaiings is nie baie moeilik nie maar dit kan nogal morsig raak op en om die stoof want die vet wat so uitbraai kan nogal spat. So ek gebruik maar 'n groot pot.

Begin stadig
Eerste soek ek die geil vet stukkies uit en dit gaan eerste pot toe. Nou braai ek dit uit totdat daar 'n goeie klomplie vet in die pot is. As jy dit nie doen nie is die gevaar daar dat jy jou kaiings gaan aanbrand in die begin.

So 90 minute in
Nou gooi ek die res van die lies in die pot in en dit spoeg en spat soos die koue stukkies in die warm vet beland. Moenie die deksel opsit nie want dan gaan jy die goed kook en dit gaan lank vat om uit te braai. Ek strooi 'n ordentlike klompie braai speserye oor die stukkies vleis want ek is nie lus vir geurloses kaiings nie.

Hou maar die pot dop en roer gereeld. Maak veral seker niks brand vas onder in die pot nie. Ek sit een van daai spatsel siwwe oor die pot om die vet binne te probeer hou.

Nou is dit reg
Na 2 ure is die kaiings reg. Ek skep dit uit met 'n siflepel in 'n bak in waar ek handoek papier onder in het. Nou nie iets wat my ouma gedoen het nie maar ek doen dit maar om my gewete te sus.

Laastens skep ek die uitgbraaide vet af in 'n beker in ... die gaan in die tye wat kom baie lekker werk om aartappels te braai en om maalvleis te geur ... ag man daar is sommer baie gebruike vir dit. Lekker uitgebraaide varkvet.

Ek het met 1.6 kilogram se lies begin en op die einde het ek 'n lekker bak vol kaiings gekry en so 450 ml vet.
Lekker pap ... reg vir die kaiings

Hierdie kaiings kan jy nou op baie maniere gebruik. Jy kan 'n lekker slaai maak en kaiings oorstrooi of jy kan dit op pizza sit. Jy kan dit op brood sit of in 'n omelet insit saam met kaas en sampioene.

Maar die heel beste vir my ... 'n lekker bakkie slappap en kaiings.

Lekker kook tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook bladsy ... Man Kos ... LIKE hom stukkend as jy wil.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Thank you for your comment. The comments on this blog are moderated and yours should appear soon.

Greetings
Colyn.