Maandag 05 Januarie 2015

Vark - Lekker ou eisbein

Lekker krakerige varkpoot
Eisbein, dis nou lekker Man Kos waarvan vrouens ook hou. Die lekkerte is in baie formate beskikbaar en met honderde resepte. Gerook, gepekel, gebraai of gestoom ... teveel om op te noem. Wat waar is, is dat sommige resepte meer geslaagd is as ander.

Klaar in die stoompot
So tydjie gelede vertel 'n vriend my van die vark lekkerte wat hy in die Fillipyne raakgeloop het en hy verduidelik in groot besonderhede wat dit was. Ek lyk maar skepties en later die aand toe spring ek op Google.

Klaar in die oond
Hulle noem die ding Crispy Pata. Die straatkos manier is waar die finale kookproses in diepvet gedoen word maar jy kan dit ook in die oond afrond. Baie mens gaan skrikkerig wees om so hele varkpoot in die diepvet in te sit.

Maak nou nie saak hoe jy hom gaan afrond nie, die eerste deel is dieselfde. Dit beteken jy moet die varkpoot sag kook in speserye. Ek gebruik my elektriese stoompot ... 40 minute en die poot is lekker sag.

Klaar in die diepvet
Nou moet jy die vark laat droog word. Oornag in die yskas sonder enige bedekking is genoeg. Die vel moet heeltemal droog wees.

Volgende vir my is die geur van die poot ... ek sit hom in 'n oondpan op 'n rakkie en vryf hom goed in met my gunsteling braaispeserye. Dan oond toe vir 1 uur teen 160C.

Reg vir die tafel
As hy nou uitkom sal jy sien dat hy al begin krispie raak. Nou kom die riller gedeelte vir baie ... daai poot gaan nou in die diepvet braaier in teen so 170 C. Dis 'n gespoeg en spat vir die vale hel in die begin, so wees versigtig. Hou hom dop en sodra jy sien die hele varkvel is lekker bros haal hom uit en laat rus hom op a draadrak. Dit laat baie vet en olie afdrip. Jy wil hom so tussen kamer temperatuur en warm kry ... jy moet hom gemaklik met die hand kan hanteer.

Op die bord
Die straatkos manne eet hom saam met lekker baie chips en 'n braai doop sous.

Vir opdiening druk jy hom eenvoudig plat met jou handpalms. Die vel breek in stukke en die vleis val van die bene af.

Ek het myne opgedien met lekker vars brood, plaasbotter en 'n bakkie spicy butternut sop.

As jy nie die diepvet ding wil doen nie dan maak jy so ... uit die yskas uit en sit jou sout en spesery op en dan oond toe ... baie warm ... 220C vir 20 minute ... dan draai jy die oond af na 170C vir nog 20 minute. Die resultaat behoort min of meer dieselfde te wees.

PS ... die ding is geil en jy moet dit nie elke dag maak nie.

Eet lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook bladsy ... Man Kos ... Like hom as jy wil.

Pap - Plaatkoekie met houding

Ek het al by verskeie geleenthede vertel hoe lekker mieliepap vir my is. Regte Man Kos. Nouja vandag doen ek dit weer. Die afgelope feestyd het my weereens laat besef dat ons soms onwetend darem erg met kos mors. Dis iets wat diep teen my grein ingaan ... seker maar 'n brandarm jeug wat dit vir my so moeilik maak. Dis egter soms onvermydelik dat daar oorskiet sal wees en ek gaan probeer om die oorskiet bruikbaar te maak.

Koue pap en eier
Mieliepap is een van die goed wat omtrent altyd in oormaat gemaak word en dan later sit jy met die pot vol koue pap. Die normale ding is dat dit gaan vir die honde, hoenders of varke as dit goed gaan maar so baie keer word die pot net eenvoudig vol water gemaak en laat staan ... en dan later word dit in die drein afgegooi.

Klaar gemeng
In my huis word die koue pap met 'n staallepel uit die pot gekrap sonder om die brandsel te breek. Die koue pap word dan met 'n groot tweetandvurk verkrummel en in 'n lugdigte houer in die yskas gesit. Dis 'n baie lekker ding om souse mee te verdik. Dis ook 'n lekker ontbyt happie ... koue pap in 'n bakkie, so twee eetlepels melk ... roer goed en 60 sekondes in die mikrogolfoond. Ek roer dan botter by met suiker en fyn biltong en daar het ek 'n koningsmaal.

In die pan
Vandag gaan ons plaatkoekies maak met houding.

Jy benodig twee koppies koue pap wat jy verkrummel. Twee eiers, fyngekapte uie wat jy vinnig in die pan sagmaak. Speserye van jou keuse ... ek gebruik growwe peper, chili flakes en sout.

Lekker sous
Klits die eiers, meng die uie by en gooi alles oor die koue pap. Nou meng dit goed deur. Jy soek 'n stywe beslag wat jy kan vorm.

Ek weeg nou balle af wat so om en by 100gr weeg.

Ek gebruik 'n klein pannetjie en druk die bal mooi plat. Nou braai ek die plaatkoekie tot hy mooi goudbruin is.

Goue lekkerte

Volgende maak ek 'n lekker sampioen sous en bedien die koekies op met so lekker dik sous oor.

Daar het jy dit ... die oorskiet pap in 'n nuwe baadjie.

As jy growe meel soos Jan Pap se Braaipap gebruik het dan het jy 'n heerlike tekstuur.

Ek gooi soms ook pitmielies in die mengsel.

Jy kan sprietuie bysit vir ekstra geur.

Lekker kook tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook bladsy ... Man Kos ... Like hom as jy wil.