Vrydag 26 Oktober 2018

Prima Rib - Fees vir Vleisvreters

1.8kg Grotman Chop
So twee weke gelede stap ek by my gunsteling vleiswinkel in en ek steek dood in my spore vas. Daar in die vertoonyskas staan 'n stuk vleis op 'n houtplank, kompleet met 'n bankskroef. Mensig maar dis 'n mooi prentjie. In my geestesoog sien ek al hoe die mes teen die been afgly ... en my mond begin water.

Ek wink vir Wimpie nader ... "Hoeveel vir die stuk vleis en die bord ?"

Sag en sappig
Tien minute later sit ek in my kar en skud my kop ... ek gesels kliphard met myself. Ek beter hulp gaan soek ... hierdie ding van my en vleis is nou besig om handuit te ruk. Ek steek 'n Camel aan die brand en kyk hoe die blou rook rustig by die venster uit trek .... Nee ek kort nie hulp nie ... ek is 'n man en ek is 'n vleisvreter.

My grootste uitdaging was om te besluit wie gaan ek nooi om hierdie pronkstuk saam met my te eet ... dis 'n reuse stuk vleis ... 1.8kg ... dis baie en hoe hy gaar gemaak moet word is baie belangrik. Daar is geen manier dat hy "medium well" kan wees nie ... dit sal omtrent dieselfde wees as om 'n aandpak aan te trek op 'n jagtog ... hoogs onvanpas en moet net eenvoudig nie gedoen word nie.

Teen die tyd dat ek by die huis aankom het ek my besluit geneem. Ek sal my oudste, Jacques, nooi vir die fees ... hy is baie lief vir vleis  ... die ideale gas vir die geleentheid.

Lekker man
Ek gaan nou nie Poppie se presiese woorde herhaal wat geuiter is toe ek by die kombuis instap en die stuk vleis en plank op die kombuistafel neer sit nie ... al wat ek gaan sê is dat daar wilde gesigsuitdrukkings was wat gewissel het tussen totale stomheid en passievolle uitlatings ... heeltemal teveel F's in vir publieke publikasie.

Nouja ... met sorg lê ek die pronkstuk neer in my yskas se onderste laai ... dis waar ek my vleis verouder ... hierdie kneuwel is wel reeds verouder maar ek gaan hom beslis nog so 14 dae of wat gee.

Die opvolgende dae doen ek baie navorsing ... ek is nie 'n man wat skrik vir vleis op die vuur nie maar hierdie is 'n baie groot stuk vleis ... 1.8kg en so 35mm dik ... nie jou tradisionele braaivleis biefstukkie nie.

En so breek die dag aan ... Sondag ... en ek haal die Grotman Chop uit die yskas uit. Eers smeer ek hom mooi met Suurlemoen gegeurde olyfolie en dan strooi ek gemaalde peper lekker ruimskoots oor die vleis. Ek druk die peper mooi vas en maak die pan toe met kleefplastiek. Nou moet hy rustig lê tot hy by kamertemperatuur is.

Twee uur gan die stuk bees rooster toe. My braaier, 'n gas braaier is op sy warmste en die temperatuur onder die deksel klim tot by 450C. 6 minute aan elke kant en toe skuif ek hom van die roosters af na die sogenaamde "infra-rooi" braaiplaat toe. Die interne temperatuur van die vleis is nou 38C maar daar is 'n mooi kors op die vleis. Nog 3 minute op elke kant en die temperatuur is 63C.

Vleisvreters
Ek lig die vleis af van die braaier af en op die plank. Nou moet hy 8 minute rus ... seker die belangrikste deel van die kook proses.

Almal in die kombuis staar met groot oë na die chop ... vir my is dit 'n kunswerk.

Agt minute later gly die mes teen die been af en die vleis lyk heerlik. Ek sny dit op in repies, vra die Seën en toe sak ons twee manne in daai vleis in. Daar word min gepraat ... net gekou en lippe word afgelek.

Net vleis en brood ... ManKos uit die boonste rakke. Nie sleg vir 'n eerste poging met so reuse stuk vleis op die braaier nie. Volgende een sal ek afhaal op 60C.

Ek koop my vleis by El Madre Slaghuis in Nelspruit. Vra maar vir Wimpie.


Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.

Sondag 14 Oktober 2018

Potjiekos - Slowveld 2018

Saterdag 13 Oktober 2018 en die dag breek oor die Laeveld. Ek staan in my kombuis en kyk deur die venster terwyl die ketel aan die kook kom. Ek sukkel om ordentlik wakker te word as ek nie my oggend koffie in kry nie.

Finale aanbieding
Dis 'n grou dag, ligte windjie maar hy het 'n skerp kant en daar is so mistige reëntjie wat nie eers die geute aan die praat kry nie ... net so sukkelende druppery ... amper soos my skoolmaatjie, Fanie ... net 'n gehakkel.

Ons Kookskerm
Ek is nogal gespanne, die Slowveld Potjiekos Kompetisie is bekend vir strawwe kompetisie en uitstekende kos. Soort van die UITHANG potjiekos geleentheid van die jaar. #ManKos neem vir die eerste keer deel en ek weet dat ons te staande gaan kom teen spanne wat gekonfyt is in die potjiekos ding.

So vat ons die pad Witrivier toe. Nie baie geselsies in die motor nie, elkeen maar besig met sy eie gedagtes.

Varkvel Krakers en Kaiings
Met ons aankoms by Casterbridge is dit reeds woelig en almal pak af, pak uit en slaan op. Hier is dit koud en die misreën is bietjie meer manhaftig as by my op die plaas. Dit laat my nogal angstig voel. Die hoofpot is nie regtig 'n probleem nie want hy kook met sy deksel op en die Mashesa stofie sal kan oorleef in so trietsigheid. My probleem is kaiings en varkvel krakers ... dis oop potte met kokende varkvet in en dit gaan nie goed werk as daar water inval nie.

Ons slaan ons kookplek aanmekaar en spoedig begin die rokies trek. Die reën neem die wyk maar die koue bly maar knibbel.

Op 'n stadium het ek gevrees ons gaan nie betyds klaar kry nie maar met toewyding stook en kook die span en 11h50 is ons gereed vir die beoordeelaars. Nadat ek die opdiening gedoen het, haal ek diep asem en ontspan. Nou is daar niks meer wat gedoen kan word nie en ek en Jedske neem die bord na die beoordeelaars toe.
Beoordeling

Lekker Buffalo Bacon Bytes
Varkvel Krakers en Kaiings
Gemmer Varkpens
Vetkoekies
Tuisgebakte Broodrolletjies

Daar was so bietjie groente maar #ManKos is Vleis en Brood 👍

Sukses
Op die oog af het ek goeie tekens gesien tydens die beoordeling en toe is dit verby. Terug by die kookskerm is ek stomgeslaan ... alles is uitverkoop ... 22 porsies. Vir die eerste maal gaan sit ek in my stoel, nou eers besef ek hoe lekker moeg is ek werklik. Zaan en Jedske ruim op en pak die goeters in die kratte ... dankie meisies, julle is sterre.

En toe breek die oomblik van waarheid aan ...

Die amateur wenners van die Slowveld Potjiekos Kompetisie 2018 ... #ManKos

Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.