Saterdag 13 Mei 2017

Sop - 'n ManKos Sopstorie

Sop ... so klein woordjie maar met so groot betekenis. Ek het in die maer jare groot geword en sop was 'n baie belangrike deel van ons dieet. My ma het altyd geraap en skraap en die wonderlikste potte sop aanmekaar geslaan. Sop met hart en sop met siel. Geen twee potte het dieselfde gesmaak nie want sy het sop gemaak met wat daar was en dit was dit. Maar ... en dis 'n groot maar ... die basiese maak van die sop het altyd dieselfde paadjie gevolg, die bestandele het gewissel soos daar dinge beskikbaar was.

So begin ek my sop
Vandag gaan ek julle die storie vertel van hoe ek sop maak en as jy die storie mooi volg sal jy nooit weer soek vir 'n sop resep nie. Ek glo sop resepte is daar vir skrywers om hulle boeke vol te kry en gapings toe te maak. Sop maak is soos skottelgoed was ... volg die paadjie, en die goed kom skoon anderkant uit.





Vir my begin elke pot sop met die volgende goeters ...
1. Varkvet
2. Olie
3. Gekapte uie
4. Growwe swart peper
5. Ina Paarman se Sop of Sous Poeiers. Die boepens botteltjies. Ek gebruik gladnie pakkies soppoeiers nie want ek trust die inhoud gladnie. Ina Paarman se goed is ordentlik en jy weet wat jy kry.

Dit is die basiese goed ... ek weet varkvet is deesdae skaars so jy kan dit vervang met een of ander olie van jou keuse. Sonneblom, Grondboontjie, Canola of Olyf ... net waarvan jy hou of wat jy in die huis het. Moet net nie botter nou gebruik nie want botter brand baie maklik aan.

Ek gaan mates gee vir genoeg sop vir twee mense.

Vat nou jou tyd en besluit mooi oor wat jy gaan insit. Ek maak maar die groentelaai in die yskas en die rakkies skoon ... alles wat by hulle pronktyd verby is, is reg vir die sop. Jy kan omtrent alles gebruik, tamaties, wortels, boontjies, ertjies, uie, sampioene, beet ... alles is bruikbaar maar beteuel jouself en kies so twee of drie komponente wat mooi saamwerk. Wortels, uie, boontjies ... dit werk goed. Aartappels, uie, blomkool of kool ... Beet en uie, Uie en sampioene. Die kombinasies is legio maar moenie ALLES in die pot moer nie ... dit werk gewoonlik nie lekker uit nie.

Kies jou twee of drie bestandele en kerf dit op ... ek het sulke staalbakkies waarin ek my goed voorberei, dit help om die porsies mooi te beheer en help ook om seker te maak ek balanseer darem die elemente wat ek gaan gebruik ... een kop kool en een tamatie klink so 50:50 maar dis nie regtig waar nie.

As jy uie in jou sop will laat sprankel dan moet jy twee bakkies uie maak ... een wat fyn in blokkies is vir die basis en een wat grofgekap is vir die sop.

Bacon, russians, cheesegrillers, kaiings, ham, hoender, maalvleis ... alles lekker vleiserigheid maar weereens, nie alles deurmekaar nie.

Vir my storie het ek 'n Russian opgekerf. Een gaar groenmielie se pitte afgestroop en dan my uie.

Begin deur so opgehoopte eetlepel varkvet in 'n lekker swaarboom pot te smelt. Ek gebruik net ysterpotte ... die rede is dat jy die vet kwaai warm gaan maak en vir die eerste gedeelte van die sop maak storie hou ek die hitte baie hoog. Dun potjies gaan aanbrand.

Sit die spices in die warm olie in
Sodra die varkvet gesmelt het gooi ek so een of twee eetlepels olie ook in. As jy nie varkvet gebruik nie vervang dit met so twee tot drie eetlepels olie van jou keuse. Nou gooi ek so teelepel gemaalde swartpeper in die olie. Hier moet jy nou besluit waar jy wil heengaan met die sop ... as jy dit spicey wil maak moet jy nou jou spesery insit ... ek sit 'n lekker masala in of gebruik Robertsons se Chicken Spice of Steak en Chops Spice. Die verskillende braaispeserye wat beskikbaar is, werk ook reg. Die keuse is joune ... onthou net om darem so min of meer in lyn te bly met wat gewoonlik mooi saamwerk. Wildwarm speserye is nie goed as jy mushroom en kaas sop wil maak nie maar dit werk lekker met vleis en groente.

Vleis en mielies in
Die smaakprofiel is jou keuse en met oefen sal jy gou uitvind wat werk.
 
Nou vir die koekmeel



Sodra die speserye begin skuim in die olie moet jy die uie ingooi en goed deurmekaar roer. Moenie die pot alleen los nie en roer gereeld. As jy 'n mengsel ingedagte het wat 'n ligkleurige sop moet wees dan moet jy nie die uie laat braai nie ... laat dit net sag en deursigtig word. Vir 'n stewige vleiserige sop braai ek my uie effens.

Die meel is nou gaar
Sodra die uie reg lyk gooi ek my Russians en die mielies in en braai dit so bietjie saam om dit kleur te gee en om daar so smakie by te sit.

Al die vleise wat jy wil gebruik, behalwe hoender of vis kan so uitgebraai word saam met die uie. Hoender en vis droog te maklik uit so dit word opgekap in stukkies en baie na aan die einde ingesit.

Terug by my Russians en mielies ... sodra dit mooi gebraai het kom die volgende stap.

Twee opgehoopte eetlepels koekmeel word nou oor die mengsel gestrooi en dan goed ingeroer. As jy 'n dunner sop wil hê kan jy so bietjie minder meel insit. Roerbraai nou die meel mengsel goed, vir tenminste so minuut tot minuut en 'n half. Die plaat is nogsteeds woes warm en spoedig begin die meel aan die pot bodem vasklou.

Nou kom die stock in en borrel kwaai
Ek roer twee teelepels van Ina Paarman se Chicken Stock in 500ml koue water in ... ja koue water.

Pas die dikte aan met melk
Jou pot lyk nou asof die bodem gaan begin aanbrand ... nou gooi ek die stock mengsel vinnig in daai pot in. Die heel eerste wat jy gaan sien is dat dat dit geweldig gaan borrel en stoom ... skraap nou vinnig elke stukke wat aan die bodem en kante vasklou los met 'n staal lepel. Jy soek elke krummeltjie van die pot los ... dis die smaak daardie.

Laat hom nou stadig prut.
Bly nou daardie mengsel roer en jy sal gou sien dit begin dik word. Dit kan heel moontlik te dik raak maar moenie nou oor dit kwel nie ... daar is maniere om die dikte te beheer en te bestuur. As jy gewone groente soos kool, blomool, aartappels, wortels, beet, uie, pruie, patats en tamate gaan gebruik dan is dit nou die tyd om dit in die pot te gooi. Sekere goed kook langer as ander so sit dit in serie in om die kooktyd in totaal te beheer.

Tot op die stadium het ek nog gladnie aan SOUT geraak nie. Ek proe ook nou nog gladnie want kanse is goed dat dit maar oninterresant gaan proe. Kry jou groentes gaar.

Nou sit ek Worcestershire sous in, so eetlepel, en soja sous ... roer goed en proe ... nou met jy die smaak afrond. Soms is so skoot suurlemoensap goed en a lepel of wat suiker. Laastens sit jy sout by ... as jy kaas gaan insit, wag eers met die sout.

Voorgereg of hoofmaal ... jou keuse
Nou moet jy die dikte aanpas ... ek gebruik, water, melk en room ... soms in kombinasie en soms alleen. Sterk vleiserige groentesop gooi ek water by ... ligte groentes, hoender of vis gebruik ek melk.

Draai nou die plaat na laag toe en laat pruit die pot sop vir so 15 minute met die deksel toe. Skakel die plaat af en laat die pot net so toe staan en rus vir so 10 minute.
 
Enige sop kry net so bietjie styl met 'n lekker skoot room in net voor jy opdien. Dis ook die tyd om jou gerasperde kaas in te roer.

Ek glo jy sal nou met nuwe oë na sopmaak kyk. Volg net die paadjie en dink waarheen jy wil gaan.

Die variasies is eindeloos. Soms sit ek al my groente in 'n oondpan en smeer met olie en speserye en kruie en bak in die oond ... dan gaan dit in die sop sous in. Soms maak ek die blomkool of groente gaar in my stomer in die mikrogolf oond. Blits die helfte en hou die helfte heel. As jy oorskiet rys of stampkoring het kan jy so lepel of wat op die einde in die dop in roer.

Dink net eers mooi oor wat jy wil behaal en volg die pad ... onthou net dat dit nie regtig werk om net wild en wakker goed in die pot te gooi nie.


Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.