Vrydag 20 Mei 2016

Tert - Man Kos Sitrus Tert

Roomkaas terte is iets wat ek baie geniet maar ek het ook al rillers teëgekom. Een van die grootste pyne van meeste yskasterte is die kors. Die maklikste manier is om eenvoudig net Tennis beskuitjies in die bak te pak en die vulsel oor te giet en daar gaan hy. Vinnig maar regtig verbeeldingloos. Hierdie koekie basis is vir my net so terleurstellend soos om te sien hoe fyn uitgevatte dame die Suidooster trotseer ... sy lyk pragtig en dan gee die wind daai romp so wulpse pluk en daar verstar jou blik ... daai vaal katoen onderbroek was verseker nie wat jy verwag het nie ... wel, dis seker nou nie vir almal so nie, maar vir my is dit baie terleurstellend. So voel ek oor 'n Tennis Biscuit kors.

ManKos Sitrus Tert
Dit nou daar gelaat, oor die jare het ek al vele beskuitjie krummel korse gemaak en die een wil meer terleurstellend wees as die ander een. Een van die grootste probleme vir my is dat die goed vetterig raak en na 'n dag of twee dan is dit 'n papperige, olierige vel wat daar in die yskas rondhang.

Soet Lemoen
Na ek die Lemoen Tert van Marie-Louise gesien het op Koekedoor het ek gaan sit en beplan. Natuurlik moes ek eerstens die Lemoenkonfyt in die hande kry en het besluit om maar my eie konfyt te kook.

Lekker Kors
Volgende was die kors ... ek was nie bekommerd oor die vulsel nie want daar vertrou ek my instinkte. Na baie resepte en videos kom ek tot die slotsom dat 'n goeie beskuitjie krummelkors haalbaar is mits jy bereid is om te fokus en mooi te dink terwyl dit maak.

Die kors wat ek hierdie keer gemaak het, het baie goed gewerk. Ek het gemmerkoekies gebruik vir smaak en tekstuur en Mariebeskuitjies vir die volume en bindkrag. Die kors was lekker stewig, smaakvol en gladnie olierig nie. Die tert is oor 'n periode van 6 dae opgeëet en het goed gebly tot die laaste happie. Na baie vloek en swets dink ek dat ek nou die perfekte koekiekrummelkors gekry het. Nou gaan daai Suidooster vir jou ietsie wys wat jou hart vinniger gaan laat klop.

Maandag 16 Mei 2016

Koekedoor - Terte inspireer my

Nouja, Koekedoor is nou mooi aan die gang en van die oudstryders het in die stof gebyt. Ek het nogal gedink die drie gaan die pyp nie rook nie. Die pas is net eenvoudig te moordadig vir die meer senior koekmakers ... niks te doen met hulle vaardigheid nie ... net doodgewone hoë druk en stamina.

Sitrus Yskastert
Die wat my ken weet ek is nie 'n tierlantyntjie koker nie, nee, ek doen die basiese dinge en ek doen dit so goed en met soveel smaak as moontlik. Wat ook waar is, is dat ek altyd in Koekedoor soek na iets wat ek kan aanpak.

Donderdagaand pak hulle hulle toe goed aan wat ek verstaan en kan maak. Mari-Louise se twee terte vang my verbeelding vas en veral die Lemoentert. Daai pragtige lemoen skywe roep my soos 'n hans lam.

Saterdag middag besluit ek om die  ding aan te pak en begin met die lemoene. Ek wil soet lemoenkonfyt maak en het nog altyd teruggedeins vir die proses. Nou het ek nie 'n keuse nie, ek soek daai tert en om hom te kry moet ek lemoenkonfyt hê.

Laat Saterdagnag is die konfyt gebottel en 'n lekker bottel ekstra stroop is in die yskas.

Sondag pak ek die tert aan ... ek gaan hom nie bak nie maar as 'n yskastert doen. Ek gebruik een van Nina Timm se yskasterte as riglyn en bou die een. Lekker goeie koppie vol van die lemoenstroop in die beslag en daar gaan ek.

Laataand sit ek weer en kyk Koekedoor en besef ek moet nou daai dun lemoenskyfies maak wat op die tert gebruik word ... my konfyt gaan bietjie lomp lyk dink ek. So spook ek agter die pan vir omtrent 'n uur en toe gaan slaap ek.

Vanoggend vroeg vat ek 'n blaaskansie en rond die tert af. Goeiste maar hy is lekker.

Vir my lyk hy mooi, onthou ek is nie fyngebak man nie ... ek braai groot stukke vleis en bak menere van brode.

Dankie Koekedoor ... julle inspireer my.

Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.

Brood - Mieliebrood met houding

Mieliebrood is iets wat vir my baie lekker is, maar dis selde dat ek self dit kry dat dit lekker is. Die outydse een wat met baie gerasperde vars groenmielies gemaak word is die koning van mielie brood maar waar kry mens deesdae vars groenmielies.

Vars Mieliebrood
Daar is baie resepte wat die rondte doen en elkeen het sy eie ietsie wat hom besonders maak. Ek het al soveel keer mismoedige broodjies gemaak dat ek opgehou het om dit te maak.

Vrydag is ek in die dorp en een van die smouse op die straat kant offer groenmieles. My "common sense" het my gewaarsku dat Meimaand darem bietjie laat in die jaar is maar die ewige optimus in my het my maar laat koop.

Wel soos te wagte, die mielies is feitlik smaakloos. Wat nou ... mieliebrood dink ek en pak die mielies in die yskas vir later se gebruik.

Toe delf ek deur my resepte en sit en skommel die klomp so bietjie deurmekaar. Eerstens het mens meel nodig en ook 'n bindmiddel met iets wat die brood sal laat rys. Die is eintlik in sy wese maar net 'n "oversized" skon dink ek en begin notas maak.

Bestandele:

*** 1 Koppie = 250ml

1x Koppie Mieliemeel - die soort waarmee jy pap maak.
(Ek het GWK se Braaipap gebruik. - 50:50 Geel meel en Bitter Grof)
1x Koppie Koekmeel
(Ek het Eureka ongebleikte meel gebruik.)
3t Bakpoeier - 15ml
1/2 t Sout
1/2 t Suiker
3 Eiers
30 gr Varkvet - Jy kan meer insit, dis nie belangrik nie. Ek het 2 E lepels geskep. Botter of Margerine sal ook werk.
1x Koppie melk ... verkieslik volroom.
1x Blikkie heelpit mielies - 410gr
(Ek het die klomp groenmielies gaar gemaak en van die stronk afgesny. Ek het die resep verdubbel en het blik mielies bygesit om die gewig te maak. Moenie teveel "stress" oor die hoeveelheid nie, hoe meer mielies, hoe meer vreugde.)


Moenie die panne te vol maak nie
Metode:

Maak jou oond warm ... 180C.

1. Gooi die meel, bakpoeier, sout en suiker in jou mengbak en klits dit goed met a "whisk". Hoe meer jy dit klits hoe meer lug sit jy in die meelmengsel.

Mooi gerys en mooi kleur
2. Dreineer jou blikkie mielies en gooi in 'n mengbakkie. Smelt die vet of botter en roer dit in die mielies in. Nou moet jy maar avontuurlustig wees en die mielies bietjie opkikker met jou geliefde speserye. Ek het Cyan Pepper, Paprika, Robertsons Steak en Chops en Robertsons Spice for rice gegooi en goed gemeng. Toe so paar draaie growwe sout en gemeng. Nou moet jy maar proe ... jy wil die mielies regtig houding gee anders gaan jou broodjie maar vaal proe. Jy moet regtig nie bang wees om bietjie waaghalsig met die geurmiddels te wees nie. Mieliebrood kan baie maklik vaal en oninteressant proe ... dis maar die aard van mielies.
Mooi tekstuur

3. Klits die eiers goed en voeg die melk by. Klits weer en gooi die mengsel oor die mielies. Roer goed.

Baie lekker
Maak nou jou pan of panne reg, smeer goed. Hierdie mengsel kan ook in muffin panne gebak word. Ek het die halwe brood grootte panne gebruik ... dis genoeg deeg om in a gewone broodpan te bak. Moenie meer as so halfpad in die pan gooi nie sodat die brood kan rys sonder om uit die pan uit te klim.

4. Meng die nat mengsel weer mooi en gooi dit by die meel. Roer goed deur met a staal lepel. Die is slap deeg. Jy moet nou vinnig werk en die mengsel in die panne in kry en in die oond in. Jou rys agent is bakpoeier en dit werk maar soos Enos ... sodra dit vog kry begin dit reageer en as jy draai dan verloor jy van jou rys potensiaal.

In die oond in ... as jy a "fan assisted" oond het kan jy die temperatuur nou afdraai na 160C toe. Jy wil die broodjie stadig laat bak, amper soos 'n wortelkoek.

In my oond het ek op 40 minute getoets en toe nog 5 minute gegee.

Keer uit op a draadrak en laat behoorlik afkoel voor jy sny. Die brood is bros en kan maklik breek as jy nie versigtig sny nie.

Vir my is die 'n baie lekker mieliebrood.

Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.

Donderdag 12 Mei 2016

Kombuis - Sakkies met houding

Uie Sakkie
Ek glo dat baie van ons kokers dieselfde siekte het as wat vissermanne het ... die gadgets ... 80% van die kuns ase in die rakke by die winkel vang meer hengelaars as vis ... so ook gaan dit met die goetertjies by die kookwinkels. Die ding lyk absoluut onmisbaar en jy kannie dink hoe jy so lank sonder dit oor die weg gekom het nie en jy koop ... met bewende vingers maak dit oop by die huis en jy gaan in Masterchef Mode in ... en dan maande later as jou goetertjies laai so vol is jy kannie meer jou teesif opspoor nie dan begin jy uitpak en daar lê 'n klomp goed op die tafel wat jou laat wonder of jy op dwelms was toe jy dit gekoop het.
Mooi paartjie
Maar so nou en dan ... dan loop ek 'n ding raak wat my eers baie laat wonder maar uiteindelik swig ek maar voor die versoeking en koop die ding. En dan kom jy by die huis en die nuwe dingetjie kruip diep onder jou vel in.

Nou ja ... onlangs bestel ek weer 'n klompie goed by 'n aanlyn winkel en sien hierdie goiingsak sakkies vir aartappels en uie. Ek lees die beskrywing en dit maak dadelik sin vir my. Die sakkies het 'n voering wat dit donker hou binne in die sak en ek dink terug aan my ouma se groente stoortjie op die plaas. Klein geboutjie onder die appelboom en hy was pikdonker ... ja pik donker. En dis hier waar die aartappels, uie en nog baie ander groentes gestoor was vir die af seisoen. Deesdae gooi ons mos alles in die yskas sonder om te onthou dat ons voorsate het nie yskaste gehad nie en hulle het ook produkte vir a lang tyd gestoor.

Die sakkies kom hier op die plaas aan en die oomblik toe ek die plastiek omhulsel breek, toe kry ek daai bekende reuk van goiingsak. Reuk is mos maar die grootste ding wat ons terug laat dink aan tye wat verby is. Ek raak sommer nostalgies en dop die plastiek sakkie aartappels om in die nuwe sakkie in. Trek die wurgtou styf en daar staan hy ... mooi regop en die aartappels snoesig en veilig in die donker. So het my ouma se sakkies aartappels en uie vir maande in haar groente stoortjie gestaan sonder om sleg te word en sonder om uit te loop.

Hierdie was nou 'n goeie kopie en dit lyk ook sommer spoggerig in my kombuis. Die sakkies is baie mooi en netjies gemaak ... bietjie duur maar nouja ... dis mos 'n Goeterjie en Goetertjies is mos nooit te duur nie.



Die sakkies is beskikbaar by Yuppiechef ... Aartappels  en Uie


Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.

Beskuit - Kondensmelk en Anys

Mooi baksel beskuit
Beskuit bak is iets wat ek baie geniet ... dis iets wat vrede in my siel indra. Nouja as ek so voel oor karringmelk beskuit, dan moet jy weet gewone boerbeskuit is terapie in die vergrotende trap.

Laas Vrydag oggend staan ek op en die mismoedigheid is op my ... ek verlang na mense wat ek nie eers geken het nie. Ek staar deur die venster in die tuin in terwyl ek wag dat die ketel kook en die eerste tekens van die komende winter is duidelik. Die bome begin hulle blare verloor en in die veld is die gras reeds droog en verdor. My tuin lyk ook maar gehawend, die liewe Heer het ons hierdie jaar oorgeslaan as dit by die reën kom maar tog was Sy genade groot op ander plekke. Die grasperk is wel uitgedor en vaal maar een of twee ander verhoudings is weer aan die blom nadat ek gedink het hulle gaan kompos word.

Voeg die spons by die meel
Die ketel fluit en ek word teruggeruk na die werklikheid toe. Met die stomende koppie koffie in my hand en beskuit in die ander, stap ek na my kantoor toe.

Die dag het begin.

Die deegbol
Ek gaan deur my take asof ek in 'n trans is en by tien uur is alles afgehandel en ek staar weer deur my venster, die keer my kantoor venster. My binneste maal en kolk en swart wolke dryf kort kort deur my brein. Heel duidelik is die swartgalligheid besig om my te bemeester ... ek grom binnesmonds en verwonder my aan mense se onverskillige hantering van verhoudings. Met 'n byna roekelose skouerbeweging swaai ek my stoel om en kies koers kombuis toe.

Mooi uitgerys
Ek blaai deur my resepte en my oog vang 'n boerbeskuit resep ... ek grou so bietjie dieper en kom op 'n Kondensmelk beskuit resep af. My oë dwaal vinnig oor die bladsy en ek lees die prosesse raak ... dis hy ... dink ek ... hier is genoeg dinge om my besig te hou.

As ek aan hierdie beskuit dink dan dink ek aan my ouma ... haar kombuis blommetjies tapyt en geel Aga stoof. Ek sien haar erde skottels en haar sterk arms wat die deeg knie. Die kombuistafel wat kreun onder aanslag en swart gebrande beskuitpanne wat blink van die vet. Ek ruik die geur van anys en my mond water vir die uitlek van die kondensmelk blikkie ... alles gedagtes wat op hierdie mistroostige Vrydag deur my kop maal.

En toe knip ek my oë en haal die mengbakke uit die kas uit ... "Ek beter 'n ander plan met die bakke maak ... dit is nie lekker om so laag te buk om die goed by te kom nie." dink ek terwyl daai ou lastige stekie deur my heup flits ... 'n skerp herinnering aan 'n onverskillige jeug.

 Presies en stelselmatig begin ek die verskillende bestandele afmeet en uitpak op my werksblad. Hierdie is die begin van die terapie, nou moet ek fokus want 'n klein glipsie hier kan ure later skewebek vir jou grinnik.

Reg vir die oond
Die eerste proses is die maak van die spons en ek onthou die erde skotteltjie wat my ouma hiervoor gebruik het ... hy het al so hier en daar so swart vlekkie gehad waar die die harde werklikheid met hom kennis gemaak het ... ek gebruik 'n mooi blink staal skotteltjie.

Terwyl ek wag vir die spons om te groei klits ek solank die meel, sout, anys en semels lekker los met 'n draadklitser. Ek sit die Kenwood op sy plek en gooi die meel in die mengbak ... en ek wag.

'n Koffietjie en 'n Camel en toe stap ek 'n draai deur my tuin. Tussen die droogte foltering deur is daar ook orals tekens van dapper volharding en blommetjies wys dat die natuur nie sal gaan lê en opgee nie. Ek sien hoe die bye woel en werskaf in die grenadella boskasie en hulle stuifmeel belaaide pootjies wys dat hulle weet die swaar tye kom.

Klaar gebak
Terug in die kombuis en ek sien die spons het goed gegroei en lyk mooi. Ek krap die paperysel in die megbak in by die meel en begin meng. Stadig maar seker kom die hele spul bymekaar en spoedig is dit 'n glansende en wriemelende bol deeg. Ek keer die deeg uit op my werksbank en rond die knieproses af met die hand. Daar is iets magies en sensieus aan so mooi bol deeg ... baie vêr verwyderd van die droeë hopie meel.

Ek het ook een pan krakelinge gemaak
Ek smeer die rysskottel met olyfolie en plaas die bol deeg daarin. Nou moet die bol goed rys. Net terloops, die olyfolie help baie om jou beskuit te beskerm teen swamme.

Een uur en 40 minute later is die deeg mooi uitgerys en ek smeer my panne. Nou begin die eentonige proses van balletjies maak ... ek weeg myne af ... dit help baie vir 'n egalige bak.

Ek laat die deeg in die panne weer rys tot tenminste dubbel die volume en toe gaan dit oond toe. Die reuk van anys vul my kombuis soos die oond sy werk doen en veertig minute later keer ek die bekuit brode uit op my draadrakke. Ek bak my beskuite met opset donkerder as wat die puriste dit soek want my familie hou nie van bleeksiele nie.

Versigtg breek ek die brode op en pak die stukke in die oondpanne waarin ek dit gaan droog. Nou is die werk verby en die tyd moet nou uitloop. Ek droog so teen 70C vir 5 ure.

Kort nou net koffie
Dis kort voor middernag dat ek die beskuite alles in een oondbak in pak en terug in die oond sit. Ek skakel hom af en maak die deur toe. Nou gaan ek slaap want moreoggend het hulle almal mooi afgekoel en is reg om blikke toe te gaan.

En so kom die mistroostige Vrydag tot 'n einde met 'n hoop mooi beskuite en my gemoed baie kalm ... al wt dit nou kon beter maak is as ek so bekuit saam met 'n stomende koppie koffie vir my ouma kon gee.

Ok en dis my storie ... hier kom die resep.

Vir hierdie resep gaan jy eers 'n spons moet maak.

Hier is die bestandele wat jy nodig gaan kry.

Man Kos Kondensmelk en Anys Beskuit.

1 x 397 g blikkie kondensmelk

125 g botter of margarien, in blokkies gesny. As jy die beskuit redelik lank wil bêre, gebruik liewers margarien want botter kan galsterig raak.

180 ml suiker - gebruik bruinsuiker as jy meer karamel smaak in die beskuit wil hê.
2 eiers

250 ml koue water
250 ml kookwater

1 en 1/2 pakkies kitsgis - Ek gebruik 2 pakkies van die 7gr gis vir broodmasjiene.

1,25 kg koekmeel - ek gebruik ongebleikte "stoneground" meel. As jy so bietjie gesonder wil voel kan jy die meel halveer en die helfte bruinbroodmeel gebruik - nie Nutty Wheat nie.

10 ml sout - dit is twee teelepels ... jy kan gerus 3 gebruik.
15 ml anyssaad (Opsioneel)
1 Koppie semels (Opsioneel)

Vir die Spons:
Meng die kondensmelk, kookwater, botter of margarien en suiker saam tot die botter gesmelt en die suiker opgelos is.

Klits die eiers en meng dit met die koue water. Voeg dit by die kondensmelkmengsel en sprinkel die gis oor. Roer liggies deur.

Sprinkel 250 g van die meel oor en meng deeglik.

Bedek die bak losweg en laat staan op ’n warm plek vir ongeveer 1 uur tot die mengsel vol borreltjies bo-op is. Jy het nou so meel paperysel vol borreltjies. Moenie oorhaastig wees nie, hoe meer die spons rys hoe beter gaan jou beskuit rys.

Intussen, gooi die anys, semels (as jy dit gaan gebruik) en die sout in die res van die meel. Klits dit goed deur met 'n "whisk". Dis 'n belangrike stap die om die meel los en lig en vol lug te kry. Dit maak die finale meng net makliker.

Die deeg:
Sodra jy tevrede is met jou spons, voeg dit nou by die meel en begin meng. Spoedig sal die deeg begin vorm. Ek doen die werk in my Kenwood en knie die deeg vir 7 tot 8 minute. Die deeg moet baie elasties wees.

Smeer 'n groot genoeg bak met olie en plaas die deegbal in die bak. Bedek met plastiek en steek een klein gaaitjie in. Laat nou weer rys to ten minste dubbel die grootte.

Verhit jou oond nou to 180C. Smeer 3-4 middelslag-broodpanne met botter of olie.

Die Beskuit:
Knie die deeg af. Knyp nou gholfbal-grootte bolletjies deeg af (ek weeg die balletjies - so tussen 40 en 44gram) en pak dit styf teen mekaar in die panne. As jy jou hande met varkvet, botter of margerine smeer, werk dit goed en dit laat die beskuite ook makliker uitmekaar breek as dit gaar is) Bedek die panne weer losweg en laat rys die deeg vir sowat 15-20 minute. Dit moet tenminste dubbel uitrys.

Sit in die oond, draai dadelik die temperatuur af tot 160 °C en bak die beskuit tot goudbruin en deurgaar. Wees versigtig, die kondensmelk laat die beskuit maklik te donker verkleur, so moenie jou oond te warm stel nie.

Keer uit die panne uit, laat effens afkoel, en breek dan die beskuite versigtig los van mekaar af.

Pak op bakplate en droog uit teen 70 °C of in die lou-oond.

Laat afkoel tot by kamertemperatuur en bêre in lugdigte houers.

Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.