Dinsdag 12 Mei 2015

Skons - Annelien se Lepel Skons

As daar nou een debat onder ons Boerekos mense is wat seker nooit regtig tot 'n eengesinde uitkoms sal kom nie dan is die storie oor skons. Die meer geletterde VLU bakkers sal jou dadelik vertel dat as jy die deeg in muffin pan inskep is dit dadelik nie meer skons nie. Skons is ook bekend as botter broodjies maar ek is nie geskiedskrywer of navorser nie en ek gaan my nie op hierdie pad begewe nie.

Man Kos Skep Skons
Die groot ding is dat ons baie maklik na bondeltjies deeg verwys as skons waar dit in werklikehid eintlik maar net 'n muffin is. As jy dan weer na die regte skons goeters gaan kyk dan kom jy ook gou agter dat die meeste mense maak 'n ding wat die Amerikaners 'n biscuit noem en dan noem hulle dit 'n skon.

Dit nou daar gelaat ... Man Kos is daarop gefokus om kos te maak wat mans voor lief is en waarvan vrouens ook hou. My grootste doelwit is om kos te maak wat mans ook redelik maklik kan maak ... ek maak die goed waarvoor ek lief is en dan vertel ek my storie op so manier dat 'n man dit ook dalk interresant gaan vind en self die taak aanpak.

So rukkie gelede het Annelien Pienaar 'n resep op haar blog gesit vir wat sy noem Lepel Skons ... dis ook bekend as Skep Skons en dit word in muffin panne gebak.

Laat ek dit duidelik stel ... ek kan egte regte skons bak, my ma het my geleer en Ambeleen Fandamaly het my onlangs weer so bietjie leiding gegee maar dis 'n proses wat nie baie mans sal aanpak nie want jy het geduld nodig en as dit by die botter in die meel vrywery kom dan skud baie manne hulle koppe. Jy kan jou food processor gebruik maar dis gevaarlik want binne sekondes is die botter klonte te fyn en dan is dit nie meer skons nie.

Annelien se basiese resep is die regte resep vir mans om aan te pak. En onthou ek praat nou van mans wat nie bak nie. Hier volg my variasie op haar resep. Die regte Lepel Skons is hier op die skakel.

Die bestandele is eenvoudig en ek gaan dit so vereenvoudig as moontlik.

1 Pakkie Snowflake EasyMix Savoury Muffin Mix. (500gr) Dit is bruismeel ... 4 koppies.
2 Teelepels bakpoeier.
2 Eiers
1/4 koppie olie ... ek gebruik SPAR se Olive Cooking Oil
1/4 teelepel sout ... ek glo alles moet sout inkry.
(2 teelepels suiker as jy dit soet wil maak. )
3 koppies melk.
1 teelepel suurlemoensap of asyn.

Reg vir die oond
Kry nou vir jou twee mengbakke ... een lekker groot vir die meel en so middelslag kleintjie vir die melk en olie en eiers.

Sit jou oond aan op 200C en die oondrak op die onderste derde.




Gooi die meel, bakpoeier en sout in die groot bak en klits dit goed deurmekaar met 'n whisk. As jy nie 'n whisk het nie moet jy maar sif.

Lekker goudbruin
Gooi al die melk in die kleiner bak en gooi die suurlemoensap of asyn nou in die melk.
Wag so 5 minute en jy sal sien die melk begin klonte maak.
Breek nou die twee eiers in die melk in en gooi die olie ook by.
Nou moet jy hierdie mengsel regtig goed klits. Handmenger, staanmenger, whisk of outydse eierklitser ... net wat jy voor lus het of beskikbaar het .... ek gebruik 'n outydse eierklitser want dis makliker om skoon te maak.

Dis regtig belangrik dat jy nie die meel en melk bymekaar bring voordat jy nie reg is vir die oond nie. Die bakpoeier is die ding wat jou skepskons moet laat reis en die goed werk amper soos Enos. As dit vog kry begin dit aktiveer en jy wil dit vinnig in die oond kry om die beste rys uit dit uit te kry.

Man Kos Lepel Skons
Smeer nou die muffin panne ... die mengsel maak 18 normale grootte muffins.

Sodra jou oond gereed is kan jy die melk by die meel voeg en meng vinnig met 'n metaal lepel. Ek gebruik so groot desert lepel, hy is ook reg om die skons mee te skep. Dit is 'n baie slap deeg.

Skep nou in die panne in en kry dit in die oond. My oond is effe hitsig so ek bak vir 12 minute teen 200C en dan draai ek af na 180C toe vir nog so 6 minute. Hierdie tye word baie beiinvloed deur die weer en humiditeit. So hou maar 'n ogie op die oond.

En dit is so maklik as wat dit is.

Hierdie resep wat ek gegee het is wat jy kan noem 'n basiese resep en kan die basis vorm vir 'n swetterjoel variasies.

Ek het sulke klein mozarella balletjies by My spar gekoop, omtrent so groot soos duif eiers. Ek het en bo-op elke muffin gesit en die deeg ingedruk ... moenie deurdruk tot op die bodem van die pan nie want dan gaan die kaas smelt en onder in die pan sit.

Ek het ook a 3/4 koppie vark kaiings in die meel ingemeng en so bietjie kaiings bo-oor gestrooi voor dit oond toe is.

Jy kan enige snipperde varkvleis gebruik, fyn gekapte biltong, neute of droeë vrugte.

Jy kan enige kaas in blokies sny en gebruik in plaas van mozarella.

Gebruik die Blueberry Muffin Mix en maak dit a soet dingetjie ... gooi bessies in jou deeg en sit s skeppie konfyt in a holte bo-op die muffin.

Gooi speserye in die mengsel ... kaneel, gemmer, koriander ... net waarvoor jy lus is. Eksperimenteer en leer wat werk.

Raak romanties ... gebruik skoon bruismeel en sit suiker in, vervan die melk met Appelkoos Yoghurt en los die suurlemoen uit.
Gooi chocolate chips in jou deeg en druk so paar chips bo in nadat dit in die pan geskep is. Klits vars room en vou 'n lekker likeur in die room in. Bedien dit saam.

Raak gevaarlik ... maak die soet deeg met die yoghurt maar snipper vars rissies fyn en meng in die deeg in ... druk repies groenvy in die deeg in in die pan. Hierdie een gaan jou verlei met soetigheid en so nou en dan gaan hy sê ... HOESIT !

Hierdie goedjies is so aanpasbaar dat jy omtrent enige ding met dit kan maak ... jy kan dit vir a voorgereg maak of a nagereg ... teetyd of sommer peuseltyd. Jy kan dit saam met 'n lekker stew of kerrie bedien en die koekies vervang die gewone rys of aartappels.

Die belangrikste ding is dat dit maklik is om te maak.

Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.


Saterdag 02 Mei 2015

Kombuis - Ek maak weer botter

Man Kos ... soos ek al baie gesê het, Man Kos is iets waarvan die manne hou maar baie vrouens hou ook daarvan. In sy fynste essensie is Man Kos vir my, vleis en brood. Maar en dis 'n groot maar, daardie brood word opgeskuif na nuwe hoogtes toe as dit saam met regte lekker vars tuisgemaakte botter op jou bord beland.

Vars Botter
Dadelik kom die vraag dan op ... waar kry ek egte tuisgemaakte botter, ek noem dit spesifiek nie plaasbotter nie want baie min van ons het nog toegang na plase toe, wat nog plaasbotter.

Nou hoe gemaak ... wel, dis eintlik maklik, makliker as wat die meeste mense dink. Maak jou eie. Omskep jou werksbank en so paar eenvoudige stukkies toerusting in 'n botter produksie eenheid.




Al wat jy benodig is ...

Min is nodig
1. 250 ml Room ... Ek koop vir die doel altyd 'n plaaslike produsent se room en nie die Nasionale verpakkers s'n nie. Eerste rede vir die is omdat dit gewoonlik omtrent die helfte van die prys is. Tweedens is dit gewoonlik rou room, aards en word efens suur binne a paar dae in jou yskas. Ek verkies dit dat die room so bietjie "af" is voor ek die botter maak maar dis my persoonlike smaak. Jy kan verseker kraakvars room gebruik.

2. 'n Lekker groot mengbak, ek verkies 'n glasbak maar 'n metaalbak is reg. As jy nou ernstig op die wiskunde wil fokus kan jy die bak ook so 30 minute in jou vrieskas sit voor jy begin want dan sal die koue bak help om die uitgeklopte bottervet gouer te laat klonte maak.

3. Elektriese klitser. Voorheen het ek beskryf hoe ek dit in 'n voedsel verwerker maak en toe laat weet my een kind my ... "Ek het nie so ding nie." So, toe besluit ek maar ek gaan die keer 'n elektriese handmenger gebruik. Die meeste van ons het so iets. Moenie my verkeerd verstaan nie, as jy energiek en fiks is kan jy die botter afskei met 'n draad handklitser ... whisk, vir die van ons wat gewoonweg praat.

4. My vierde stukkie gereedskap is 'n houtlepel met gleufies in. Die is ook maar net my persoonlike keuse hoofsaaklik omdat ek een het. Enige groot lepel kan werk.

Ok kom ons maak nou die botter ...

Gooi jou room in die mengbak en begin klits. Jy sal sien hoe gaan die room deur die stadiums waarvan ons baie lees. Hou maar net aan klits, verby die sagte punte stadium, dis die room wat op nageregte bedien word en die wat nie skrik vir cholesterol nie, dryf so lepeltjie vol op hulle koffie. Dan word dit stywer en dis wat jy op koeke en terte smeer.

Op die regte pad
En dan skielik sien jy dit begin nou regtig styf raak en word droog ... wel dis die stadium waar menige kompetiesie deelnemers die trekpas kry ... nou is dit nie meer room nie en begin erg vetterig proe.

Nou is jy sterk oppad na botter toe ... skielik sien jy die bak is vol krummels en die menger begin kreun onder die vrag. As jy nou 'n klompie vriende oorgenooi het vir skemerkelkies en jy het a klompie bordjies met versnapperings, dan kan jy nou net hier stop ... gooi bietjie sout en rooipeper in en bedien die saak met lekker sout beskuitjies. Sien Man Kos kan stylvol wees. Dis ook hier waar menige Masterchef deelnemer al die pot mis gesit het en die as botter aangebied het ... dis nog nie botter nie.

Amper daar
Maar ons soek botter, so hou aan klits. Hou die bodem van die bak mooi dop, skielik asof in 'n towerslag begin daar so melkerige afskeiding in die bak vorm ... nou is jy amper daar ... dit wat jy sien in die bak is nou wat karringmelk is ... dit was my oups s'n ... ons kinders kon so lepeltjie vol kry maar die bekertjie vol was oupa s'n.

Dis ook nou waar dit morsig kan raak om die mengbak want die karringmelk gaan in sulke misreën druppeltjies rondspat as jou bak nie diep genoeg is nie ... myne is gewoonlik nie diep genoeg nie en dit spat maar lekker.

En daar is dit
Sodra jy dink die meeste bottervet het geskei moet jou ophou klits. Nou kom daar so bietjie spierkrag tersprake. Maak die botter bymekaar met die lepel en pers sovceel vog uit as wat jy kan. Ek druk die botter stewig teen die rand van die bak uit.

Gooi nou die karringmelk af ... moenie weggooi nie ... dis heerlik as dit yskoud is.

As jy wil kan jy nou so twee of drie eetlepels yswater in die bak gooi en deur die botter werk om nog karringmelk uit te spoel ... gooi die spoelwater maar weg.

Volgende maal ek growwe sout oor en meng deur en plaas in die yskas. Jy kan enige ding inwerk om die botter te geur na gelang van wat jy daarmee wil doen.

Heerlike vars Botter
En daar het jy dit ... een botteltjie 250 ml vars room is sowat 125 gram heerlike botter en om en by 80 ml karringmelk.

Al wat nou kort kom is 'n sny lekker vars brood.

Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.


Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.