Saterdag 02 Mei 2015

Kombuis - Ek maak weer botter

Man Kos ... soos ek al baie gesê het, Man Kos is iets waarvan die manne hou maar baie vrouens hou ook daarvan. In sy fynste essensie is Man Kos vir my, vleis en brood. Maar en dis 'n groot maar, daardie brood word opgeskuif na nuwe hoogtes toe as dit saam met regte lekker vars tuisgemaakte botter op jou bord beland.

Vars Botter
Dadelik kom die vraag dan op ... waar kry ek egte tuisgemaakte botter, ek noem dit spesifiek nie plaasbotter nie want baie min van ons het nog toegang na plase toe, wat nog plaasbotter.

Nou hoe gemaak ... wel, dis eintlik maklik, makliker as wat die meeste mense dink. Maak jou eie. Omskep jou werksbank en so paar eenvoudige stukkies toerusting in 'n botter produksie eenheid.




Al wat jy benodig is ...

Min is nodig
1. 250 ml Room ... Ek koop vir die doel altyd 'n plaaslike produsent se room en nie die Nasionale verpakkers s'n nie. Eerste rede vir die is omdat dit gewoonlik omtrent die helfte van die prys is. Tweedens is dit gewoonlik rou room, aards en word efens suur binne a paar dae in jou yskas. Ek verkies dit dat die room so bietjie "af" is voor ek die botter maak maar dis my persoonlike smaak. Jy kan verseker kraakvars room gebruik.

2. 'n Lekker groot mengbak, ek verkies 'n glasbak maar 'n metaalbak is reg. As jy nou ernstig op die wiskunde wil fokus kan jy die bak ook so 30 minute in jou vrieskas sit voor jy begin want dan sal die koue bak help om die uitgeklopte bottervet gouer te laat klonte maak.

3. Elektriese klitser. Voorheen het ek beskryf hoe ek dit in 'n voedsel verwerker maak en toe laat weet my een kind my ... "Ek het nie so ding nie." So, toe besluit ek maar ek gaan die keer 'n elektriese handmenger gebruik. Die meeste van ons het so iets. Moenie my verkeerd verstaan nie, as jy energiek en fiks is kan jy die botter afskei met 'n draad handklitser ... whisk, vir die van ons wat gewoonweg praat.

4. My vierde stukkie gereedskap is 'n houtlepel met gleufies in. Die is ook maar net my persoonlike keuse hoofsaaklik omdat ek een het. Enige groot lepel kan werk.

Ok kom ons maak nou die botter ...

Gooi jou room in die mengbak en begin klits. Jy sal sien hoe gaan die room deur die stadiums waarvan ons baie lees. Hou maar net aan klits, verby die sagte punte stadium, dis die room wat op nageregte bedien word en die wat nie skrik vir cholesterol nie, dryf so lepeltjie vol op hulle koffie. Dan word dit stywer en dis wat jy op koeke en terte smeer.

Op die regte pad
En dan skielik sien jy dit begin nou regtig styf raak en word droog ... wel dis die stadium waar menige kompetiesie deelnemers die trekpas kry ... nou is dit nie meer room nie en begin erg vetterig proe.

Nou is jy sterk oppad na botter toe ... skielik sien jy die bak is vol krummels en die menger begin kreun onder die vrag. As jy nou 'n klompie vriende oorgenooi het vir skemerkelkies en jy het a klompie bordjies met versnapperings, dan kan jy nou net hier stop ... gooi bietjie sout en rooipeper in en bedien die saak met lekker sout beskuitjies. Sien Man Kos kan stylvol wees. Dis ook hier waar menige Masterchef deelnemer al die pot mis gesit het en die as botter aangebied het ... dis nog nie botter nie.

Amper daar
Maar ons soek botter, so hou aan klits. Hou die bodem van die bak mooi dop, skielik asof in 'n towerslag begin daar so melkerige afskeiding in die bak vorm ... nou is jy amper daar ... dit wat jy sien in die bak is nou wat karringmelk is ... dit was my oups s'n ... ons kinders kon so lepeltjie vol kry maar die bekertjie vol was oupa s'n.

Dis ook nou waar dit morsig kan raak om die mengbak want die karringmelk gaan in sulke misreën druppeltjies rondspat as jou bak nie diep genoeg is nie ... myne is gewoonlik nie diep genoeg nie en dit spat maar lekker.

En daar is dit
Sodra jy dink die meeste bottervet het geskei moet jou ophou klits. Nou kom daar so bietjie spierkrag tersprake. Maak die botter bymekaar met die lepel en pers sovceel vog uit as wat jy kan. Ek druk die botter stewig teen die rand van die bak uit.

Gooi nou die karringmelk af ... moenie weggooi nie ... dis heerlik as dit yskoud is.

As jy wil kan jy nou so twee of drie eetlepels yswater in die bak gooi en deur die botter werk om nog karringmelk uit te spoel ... gooi die spoelwater maar weg.

Volgende maal ek growwe sout oor en meng deur en plaas in die yskas. Jy kan enige ding inwerk om die botter te geur na gelang van wat jy daarmee wil doen.

Heerlike vars Botter
En daar het jy dit ... een botteltjie 250 ml vars room is sowat 125 gram heerlike botter en om en by 80 ml karringmelk.

Al wat nou kort kom is 'n sny lekker vars brood.

Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.


Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.



Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Thank you for your comment. The comments on this blog are moderated and yours should appear soon.

Greetings
Colyn.