Dinsdag 13 Oktober 2015

Kombuis - Houtbakke en houtborde

Ou houtbak
Man Kos en houtborde is eintlik sinoniem. Vir my is hout baie spesiaal en ek raak bedonnerd as ek sien mense verniel hout produkte. Ek raak veral erg befoeterd as ek sien dat hardehout vermors word ... hoekom ... feit is dat daai mens wat daardie hardehout boom afkap kan in sy lewe nooit weer daardie boom vervang nie. Hierdie geit van my kom al van baie jonk af en dit was 'n sterk motiverende ding vir my in die jare toe ek houthuise en houtdekke gebou het. Ryk mense probeer hulle "power" bewys en dan lê hulle skaars inheemse hardehout planke op 'n dek ... sotheid in Suid Afrika ... daardie hout het nie 'n kans in ons klimaat nie en ek gaan nou nie oor die tegniese aspekte praat nie. Feit is, aangeplante dennehout wat reg behandel is sal enige hardehout dek in Suid Afrika met baie jare oorleef.

Onderkant van houtbak
Maar kom ek kom by die punt ... baie van die wat hier lees sal sekerlik 'n hardehout snyplank hê en baie sal ook die eienaars wees van hardehout bakke. Die bakke word langs die paaie verkoop deur smouse en jy kan van dit in snuistery winkels kry. Ek het nie 'n probleem met die aankoop van die goed nie ... die skade is reeds gedoen toe die boom afgekap is ... koop die bord en versorg dit ... dan het die boom nie verniet gesterf nie.

Klaar olie gesmeer
Die waarheid is dat as jy jou houtborde en bakke goed versorg sal dit vir langer as jy bestaan en waarskynlik jou kinders en kleinkinders ook oorleef.

Ek verkies om my bakke by die smouse te koop want hulle smeer nie allerhande selers of vernisse op nie. Die meeste van hulle gebruik gewone vloer politoer. Dis om die ding te laat blink en mooi te laat lyk ... dis die wat ek koop maar verkies eintlik die wat nog rou en vaal is.
Eindresultaat.

Eerste stap as ek by die huis kom is om die bak ordentlik te skroop met warm water en seep en 'n potskuur spons. Raak ontslae van die politoer ... dit gaan jou kos in elkgeval sleg laat proe.

Nou moet jy die bak los dat hy kan droog word ... nie in die son nie ... dis ongesond om so nat bak in die son te sit. Hy kan kraak.

Nadat hy mooi droog geword het, so dag of wat later, kan jy hom begin behandel. Ek doen gewoonlik die onderkant eerste. Gebruik lekker silwerskoon vars Canola olie ... of sonneblom olie ... ek verkies Canola want dis redelik smaakloos en is baie lig in kleur.

Jy het so omtrent een eetlepel vol nodig, afhangende van die grootte van die bak. Gooi die olie op die bak en nou moet jy nie vol fiemies wees nie. Vryf die olie mooi egalig oor die hele bak met jou kaal hand ... nie 'n lap of 'n kwas nie ... jou hand. Maak seker jy smeer dit lekker dik aan en as die hout wit vlekke in het, smeer dit daar meer aan want die wit is gewoonlik sagter.

Nou sit ek die bak so onderstebo in die son vir so 30 minute. Na 30 minute gebruik ek papierhandoek en maak die bak mooi skoon. Vee die olie goed af ... niks natkolle moet oorbly nie.

Nou doen ek die binnekant net soos die buitekant en terug son toe. Dan na 30 minute vee ek die binnekant ook mooi droog met papierhandoek.

Nou is jou houtbak weer fiks en mooi vir die volgend jaar of wat. Doen dit gereeld met jou houtbakke en borde en hulle sal vir jare en jare mooi bly. Jy kan dieselfde doen met jou houtlepels en slaai vurke.

Ek sal gladnie voorstel dat jy olyfolie gebruik nie want olyfolie het 'n kenmerkende smaak en geur en dit wil jy nie in jou houtbakke hê nie. Hierdie spesifieke bak as is meer as 10 jaar in my kombuis en hy gaan nog baie jare diens gee ... net so bietjie liefde en respek.

O ja ...moenie jou houtborde en bakke in die skottelgoedwasser sit nie. Was met warmwater en seep en spoel goed af, maak dadelik mooi droog.

Ek hou altyd 'n halwe suurlemoen handig op die wasbak ... sodra ek klaar is met 'n snyplank, spons dadelik skoon met skottelgoed seep, spoel af met warm water ... vryf met die suurlemoen en spoel af met koue water. Nou is die kans vir slegte reuk baie skraal. Hou jou borde dop, as jy sien hulle begin droog lyk, olie maar weer.

Deesdae kry mens bamboes snyplanke ... hulle moenie geolie word nie en jy kan hulle na die was proses net laat staan en droog word, nie nodig om af te droog met vadoek nie ... jou houtborde moet jy droog maak.

Nog 'n onding ... moenie jou snyplanke in die water laat lê nie. As jy dit doen het jy 'n baie goeie kans om jou bord of bak te laat bars ... of hy bars tydens die lê in die water of as jy hom laat droog word. Hardehout suig nie sommer water nie en as jy hom in water laat lê dan trek slegs die buitenste lagie vog. Dit veroorsaak groot spanning op die opervlak en dis wat jou houtbord of bak sal laat kraak.

Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Thank you for your comment. The comments on this blog are moderated and yours should appear soon.

Greetings
Colyn.