Woensdag 27 Julie 2016

Wors - Rolletjies is maklik

Hierdie is verseker Man Kos wat mans laat glimlag en dis ook iets wat menige man self kan maak. Ek is baie lief vir worsrolletjies maar o genade, die sooibrand vreet my gewoonlik daarna op. So ses jaar terug het ek net eenvoudig besluit ek koop dit gladnie, al lyk dit hoe aanloklik. Vir so kort rukkie laat dit my breed glimlag en dan skop die verwyte in en ek sweer nooit weer nie ... tot ek by die volgende oond verbyloop en die goed lê daar en wink vir my ... dan gee ek maar in en koop en die proses herhaal homself.

Heerlike Worsrolletjies
Onlangs ry ek af Kaap toe en vroegoggend stop ek by 'n Garage ... die worsrolletjies kom net uit die oond uit en dit lyk verruklik ... en ek swig ... jis dis mos nou al jare wat ek dit nie koop en miskien het my sisteem intussen verhard. Wel, dis wat ek gedink het ... en dit was verkeerd ... skuins voor sononder ry ek by my slaapplek in op Colesberg en die worsrol gool my steeds. Ek weet nie wat is dit met die goed nie, is dit die pasta wat hule as vleis aanbied of is die geurmiddels, miskien die bindmiddels maar ek gee eintlik nie om nie ... ek bak al vir omtrent 40 jaar my eie worsrolletjies en ek het nooit probleme met dit nie.

Plaas die wors op die deeg
Nouja, wat is my geheim wonder jy ... wel, daar is nie eintlik geheime nie. Eerstens maak ek seker ek gebruik 'n goeie wors ... wors is a persoonlike ding en elke man en elke slagter het sy gunsteling. Maak nou saak hoe jy dit bewerk nie, maak net seker dis 'n lekker wors waarvan jy hou.

Rol mooi styf.
Volgende het jy 'n pakkie gekoopte skilferkors deeg nodig en een eier.

Hou die wors in die yskas en laat die deeg sag word vir gebruik. Sodra jou deeg reg is, rol dit versigtig oop. As daar krake is, knyp dit toe met jou vingerpunte. Sprinkel nou met koekmeel. Vryf die meel mooi egalig oor die deeg en rol dit nou met jou koekroller. Die rol is belangrik en dit sal die krake nou regmaak.

Klaar gerol
Vat nou die wors en met skerppunt messie sny jy die dermpie oop en trek dit af van die wors af. Kyk nou op die fotos hoe jy die wors op die deeg sit.

Knyp die naat vas
Ek gebruik die plastiek waarin die deeg toegerol is om te help om die rolletjies te maak.. Sny nou die rolletjie af en rol om. Knyp die naat mooi vas en rol terug sodat die naat nou onder is. Nou kan jy die rolletjies in porsies sny. Deesdae deel ek die rol in drie stukkies. Dis lekker hanteerbare grootte. Twee vir mans oor die algemeen en een vir vrouens en kinders.

Plaas nou die rolletjies op jou bakplaat. Ek smeer die plaat met Cook and Spray. Spasieer mooi sodat daar genoeg plek is vir die rolletjies sodat hulle kan uitpof en nie aanmekaar raak nie. Sodra die pan vol is, sit in die vrieskas vir 30 minute.

Gereed vir die vrieskas
Kry jou oond nou ordentlik warm. 210C is waar ek bak en dis 'n waaier oond, so as jy nie 'n waaier het nie gaan op na 220C. Hierdie is baie belangrik, meeste mense bak hulle skilferkors by te lae temperatuur en dan pof die deeg nie en jy kry so taai laag deeg onder die rolletjie.

Reg vir die oond
Sodra jou oond reg is, haal die pan uit die vrieskas en verf nou die rolletjies mooi met 'n geklitsde eier. Ek sprinkel nou Robertson's se Chicken Spice bo-oor die eier ... jy kan enige braaispesery gebruik ... dis nie nodig nie maar ek hou van die ekstra bietjie smaak in die kors.

Goudbruin en lekker
Sit nou die pan in die oond op die rak in die middel en stel jou timer vir 20 minute. Omdat oonde geweldig verskil is die net 'n aanduiding. Jy wil hê die rolletjies moet mooi goudbruin wees. Sodra hulle die regte kleur het draai die oond af na 160C toe vir nog 10 minute. As jy nie 'n waaier oond het nie, draai af na 170C toe.

Hou dit nou dop dat dit nie brand nie. Die aanvanklike baie warm oond is geweldig belangrik vir 'n suksesvolle kors ... die botter in die deeg moet so vinnig moontlik baie warm word dat die stoom die lagies in die deeg kan los druk ... as jou oond te koud is (180C) ... gaan die botter smelt en die deeg pap maak en nie laat skilfer nie.

Ek weet daar is stories oor rou of gaar vulsel maar vir my is rou die regte pad want ek weet daar is niks vog wat my sausage roll se onderkant kan laat taai word nie en 30 minute in die oond is meer as genoeg tyd om gewone wors gaar te maak.

As jy baie dik wors gebruik kan jy een rolletjie middeldeur sny en kyk ... as hy nie heel gaar is nie, sit die oond af en los die rolletjies in die oond vir nog so 10 minute. Baie onwaarskynlik maar doen dit maar as jy onseker voel.

PS: ... Pasop vir goedkoop wors met 'n baie hoë vetinhoud. Dit gaan nie regtig werk nie. Ek gebruik gewoonlik een of ander SPESIALITY wors.


Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Thank you for your comment. The comments on this blog are moderated and yours should appear soon.

Greetings
Colyn.