Dinsdag 09 Augustus 2016

Kombuis - Meet jou meel reg af

Hierdie kwessie ... die kwessie van afmeet van bestandele ... dis 'n ding wat al menige aspirant bakker op sy knieë gekry het. Jy het alles perfek gedoen soos die resep aandui en dan op die einde is dit 'n katastrofe. Brood is te dig of die koek is swaar en amper kluitjierig. Ek is seker baie het dit al ondervind en dan summier aanvaar die resep is verkeerd of hulle kannie bak nie.

So leer ek meet
Wel, die groot waarheid is dat meer as 90% van bakkers maak 'n fout met die afmeet van die meel. Baie van julle frons seker nou en dink by jouself ... "Dis onmoontlik ... 'n KOPPIE is 'n KOPPIE en dis al."

Wat ek nou met julle gaan deel het my baie geld gekos om uit te vind en baie flops laat maak wat my laat swets het soos 'n dronk matroos wat vergeet om te koets vir die lae kosyn op die boot ... drie letter woorde, vier letterwoorde, die hele alfabet en dan nog sommer 'n paar paragrawe by vir die effek.

So vind ek myself toe op 'n wintersoggend in Annelien Pienaar se Kook ateljee aan die voet van die Magaliesberge. Vol verwagting en baie opgewonde vir al die groot dinge wat gebak gaan word. Ek staan en kyk hoe sy die werksbank gereed kry en toe draai sy om en kyk my reg in die oë ...

"Meet asseblief vir my een koppie meel af."

Vir 'n oomblik frons ek en dink, is sy lam, sy kan dit mos sommer self doen. Wel omdat ek 'n gentleman is en dit gaan vyf dae wees met my en haar alleen in die kombuis, besluit ek maar om die minste te wees en skep die meel in die maatkoppie. So uit die sak uit en vee dit plat met die sak se kant soos ek ek dit al duisende male gedoen het ... net soos dosyne kokke dit op TV doen, soos my ma dit gedoen het ... my ouma het dit sommer so met die oog geskat of so bakhand uit die sak geskep.

Lekker styf vol koppie
Ek sien Annelien sit a bakkie op die skaal en sy dui met so kopbeweging aan dat ek die meel in die bakkie moet uitgooi. Ewe gedweë doen ek dit en voel baie trots op die 175gr hopie meel ... eerste stappie het ek duidelik reg gedoen. Ek kyk na haar en sy het so effe van skewe glimlag en haar oë vonkel ondeund.

"Hmmm ... en is dit soos jy dit altyd doen ?"
170gr meel

Heel verbaas kyk ek na haar, toe na die hopie meel en toe na die koppie en probeer uitwerk presies waar het ek nou die eenvoudige proses opgedonner.

"Ja ... " Dit was verseker met baie minder selfversekering as wat dit hier op papier lyk en ek staan en wag vir haar reaksie ... jissim, dis mos geen kuns om een koppie meel af te meet nie.

Skep die meel in die koppie
"Ok, wel dan is ek seker jy het al 'n paar lelike flops gemaak met koeke en korse."

Nou was ek nie instaat om windgat te antwoord nie want dis waar, en in my geesteoog sien ek menige flops wat uiteindelik vir die honde of die erdwurms gegaan het.

"Nou wil ek hê jy moet mooi kyk wat ek doen en doen jy dit en weeg die meel weer."

Skraap gelyk af
Sy vat die maatkoppie en 'n eetlepel en begin meel in die koppie in skep. So omtrent vyf eetlepels vol. Toe vat sy 'n palet mes en skraap die die hopie versigtig gelyk.

"Dit is hoe mens 'n koppie meel afmeet." en haar oë vonkel. "Probeer jy nou."

Een vol koppie
Wel om by die punt te kom ... ek het dit drie keer namekaar gedoen en die gewig van die meel was elke keer so tussen 130 en 135gram. Verskoon die matroos in my maar eenvoudige wiskunde het my onmiddelik laat besef dat daar 'n moerse verskil is ... 40gr gemiddeld ... dis 25% ... en dit is BAIE.

132 gram
Sedert daardie oggend in Annelien se ateljee het ek al baie gaan lees oor die ding en op een van die groot kosgroepe waar ek admin is, kom daar voortdurend die vraag op ... hoeveel koppies is een kilogram of iets dergeliks. En die antwoorde verstom my. In 'n onlangse gesprek is daar konsensus bereik dat daar sewe koppies in 'n kilogram meel is. Wel ek is ook ingelig dat dit met die skep en vryf metode afgemeet is. Die persoon kla toe dat die brood baie dig uitgekom het ... nouja ... wat verwag jy ... met die skep en vryf metery het sy heelwaarskynlik so om en by 280gr teveel meel in daai mengsel gesit.

Dit word internasionaal aanvaar dat goeie resepte wat na koppies meel verwys, aanvaar dat jy dit met lepel en skraap proses moet doen. As jy skep en vryf dan gaan jy teveel meel in die mengsel sit. Moenie sleg voel oor SKEP EN VRYF nie want ek sien baie Celebrity Chefs op die TV wat so doen ... weet net dat jy soek vir moeilikheid as jy so afmeet. Enige goeie resep wat werklik betroubaar is, sal altyd gewigte gebruik. Ek het 'n paar goeie boeke oor brood bak en die Chefs weeg selfs die water.

So as jy ernstig is oor jou bakery maak seker jy kry 'n goeie stel maatkoppies, goeie stel maatlepels en 'n elektroniese skaal. Dis 'n klein belegging as jy dit meet teen die moeite en geduld en bestandele wat in koeke, terte en brode in gaan.

Ek som op ...

1 koppie meel SKEP EN VRYF = 175gr Plus minus.
1 koppie meel LEPEL EN SKRAAP = 130gr Plus minus. 5gr heen en weer.


Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Thank you for your comment. The comments on this blog are moderated and yours should appear soon.

Greetings
Colyn.