Maandag 21 April 2014

Wors - 'n Boerie moet mos lyf hê

Sit ek so en kyk na die Kokkedoor 2014 program en hulle maak kos by die landbouskou. Nou kyk, moenie my verkeerd verstaan nie, ek besef dat hulle ou gunstelinge nuwe baadjies aantrek en so bietjie meer kultiveer. Maar nouja, vir my is 'n boerewors rolletjie (Boerie in die volksmond) baie meer as 'n pikante happie.

Soos ek al baie gesê het, ek maak Man Kos ... Man Kos wat vrouens ook like.

Alles wat nodig is
As dit by die Boerie kom dan kan ek liries raak. Die Yankees het hulle Hot Dogs en hulle maak TV shows daaroor ... ons het die Boerie en vir my is dit ook iets om 'n Show van te maak.

Lekker uie sousie
Heel eerste ... ek soek nie die poefter rolletjies nie, nee man, geen boerewors wat sy sout werd is gaan met oorgawe in die verpiepte rolletjies in nie. Daar is altyd een of ander probleem. Of die rolletjie staan so skewe bek en met die eerste byt val daar dinge op die grond of die rolletjie verkrummel en los jou met sop en sous teen jou wange af en oor jou vingers. Of hy lyk so mooi opgehoop en "dressed to kill" op die bordjie maar as jy aan hom vat dan gaan dinge "sideways."

Reg vir die Boerie
Nee ... gee vir my 'n rolletjie wat sy man kan staan teen die boerewors. Vir my is die Ciabatta rolletjies die beste. Ek koop hulle by My SPAR of ek maak hulle self.

Eerstens het die Ciabatta 'n ordentlike kors wat die Boerie kan bymekaar hou.
Tweedens kan jy die sagte binnekant uithaal en dan eindig jy met 'n lekker houer vir die sousies en ander aangenaamhede.

Riffelpan met water
Hoekom raak ek nou so langdradig ... wel vir my is 'n Boerie meer as net 'n Hap en Stap storie ... vir my is 'n Boerie 'n ete op sy eie.

Volgende kom ons by die wors. Nou hier is ek ook sommer vol stront as dit by die Boerie se vernaamste komponent kom. Jis man hoe de hel wil jy so krom wors in 'n reguit broodjie sit. Maak mos nie sin nie ... veral nie as jy ernstig is oor jou boerie nie.

Mooi porsies
Die proses begin by die braai van die wors. Die oorgrote meerderheid braaiers gooi mos daai hele rol so op die vuur of in die pan en dan flip hulle hom soos en wanneer nodig. Pure luiheid in my boekie ... pure luiheid sê ek vir jou. Dis mos maklik om daai hele rol mooi te vat en om te draai. Ja dis maklik en jy kry 'n wors met twee gebraaide kante en as jy dit meer as net die twee kante wil hê dan word die wors droog gebraai. Verder as dit dan by die sny kom dan word die laaste ou bietjie voggies ook uitgetap en hoe nader jy aan die binnekant van die spiraal kom, hoe krommer is die wors.
Reguit en vaal 
Lekker sappig

Ek haal die wors uit die pak uit ... trek hom versigtig reguit en masseer hom so bietjie om die reguitmaak meer ontspanne te maak. Dan sny ek die wors om te pas by my broodjies.

Volgende ... en nou is ek nie by 'n braai vuur nie ... sit ek my vierkantige riffelpan op die stoof en gooi koue water onder in die pan sodat net die riffels uitsteek.

Dan sit ek die wors in ... altyd eerste op die gebuigde kant onder. Dis hoekom ek die riffelpan like want jy kan die wors balanseer tussen die riffels. Moenie worry oor die twee punte wat nou effens op wys nie ... sodra die hitte kom gaan die vel begin krimp en die wors reguit trek.

Hol die broodjie uit
Nou sit ek die pan op medium hitte en ek staan wag by daardie pan. Op my stoof is dit genoeg om te braai maar jy kan dal k meer hitte nodig kry. Spoedig begin die water kook en stoom en jy begin ook vetjies sien. Hou hom mooi dop en sodra die wors mooi reguit getrek het, rol hom om. Spoedig is die water weg en die hele wors is vaal. Nou wil jy net so bietjie braaimerke op die wors kry en dan moet dit uit die pan uit. As jy sien dit vat te lank, gee hom gas. Hoe langer jy die wors op die hitte hou, hoe meer smaak gaan jy verloor.

Gedurende die rusproses sal die wors deur gaar word maar steeds lekker sappig wees.

Gooi die sousie in
Nou sit ek van my vulsel/sous in die holte in die Ciabatta. Volgende plaas ek so bietjie ander goedjies by soos gekapte tamatie, avo, kaas ... net waarvan jy hou. Chutney, rissiesous, tamatiesous, mosterd ... almal gewilde keuses.

Vou die Ciabatta toe en siedaar ... lekker ou Boerie toegevou in die perfekte jassie. Nou kan jy maar eet en vrolik wees. Na so een gaan jy verseker nie meer honger wees nie en dis nou regte Man Kos vir my.

En daar is hy ... Man Kos
Nouja ek hoop jy gaan my Boerie met Muscle probeer.

Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Blad.




Man Kos wat vrouens ook like












Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Thank you for your comment. The comments on this blog are moderated and yours should appear soon.

Greetings
Colyn.