Saterdag, 26 April 2014

Kaptein - jou karnallie ...

Jis die ding vreet mos nou al lank aan my maar ek kon nog net nooit die karnallie vaskeer nie ...

"Waarvan praat jy ?" mompel Poppie geirriteerd ... my Poppie is nie een wat van sulke halfvoltooide nikseggende stellings hou nie.

"Man ... hier is iets of iemand wat my dophou as ek kook."

Kyk ... nou het ek die verkeerde ding gesê. As daar een ding is wat my Poppie se moer kan koer dan is dit nou die soort ding. Nee my maat, sy duld nie sulke stories nie.

Moenie my verkeerd verstaan nie, ek is gladnie liggelowig, bygelowig, of bang vir tokkelossies nie maar in my lewe het ek al heeltemal teveel dinge gehoor of gesien wat gladnie verklaar kan word nie. So in my kop los ek maar ruimte vir "moontlikhede" want so redeneer ek ... net omdat ek dit nie kan verklaar, sien of voel nie, beteken gladnie dat dit nie bestaan nie.

Daai klein seuntjie in my my wil so graag aan feetjies en kabouters glo en elke keer as ek in my tuin stap dan loer ek so bietjie onder die blomme en agter die blare in ... wie weet, dalk sien ek een van hulle. Pure twak sou my ma gesê het en ek sou nie kon stry nie. Maar nouja, maak nou nie saak nie, volgende keer as ek tuin toe gaan sal ek verseker weer bietjie rondloer.

Maar ek dwaal af ... laat ek by die hoofstorie bly.

Dis nou al 'n lang tyd wat ek die gevoel kry iemand kyk vir my daar waar ek kook. Ek kook baie aande diep in die nag ... dan is ek alleen wakker hier in my huis en rondom my is die bos donker en stil. Wel nie altyd so stil nie ... soms skreeu die nagape of hoor ek die uile mekaar roep. Partymaal hoor jy 'n geritsel, geskarrel en benoude twiet ... en iets het sy aandete in die hande gekry. Dis mos maar die lewe en dis mos maar die weg van die bos.

Nou stap ek van my studeerkamer af kombuis toe om koffie te gaan kry en sommer te sien of die oond al op temperatuur is. Vannaand bak ek weer brood ... die ding met die korsies is mos een van my passies en ek wil die proses presies bemeester ... ek wil presies weet hoe om daai lekker dik "artisan" kors te kry en ek wil ook weet hoe om 'n dun taai krakerige korsie te kry vir die meer gesofistikeerde geleenthede.

Halfpad draai ek om ... ek wil my ernstige kamera vat ... ek soek bietjie meer tegniese versorging van my fotos vir hierdie een. Dis al sterk skemer en toe ek terug in die kombuis kom vang iets my oog ...

Wat is dit ?
"Wat de F.... "

Daar op die stoof lê die pan reg met die brooddeeg ... maar dis nie wat my oog vang nie ... nee, daar is iets op die rand van die pan.

"Het jou Katvis ... " dink ek terwyl die kamera amper outomaties aan die skiet gaan.

'n Vinnige kyk na die kamera se skerm en ek besef die lig is laag. My linkerhand skiet uit en die elektriese lig stroom deur die vertrek.

En so wrintiewaar ... daar staan hy ... rooi jas en swart hoed, stewels en so windmaker snor. Die outjie het nou probleme ... hy is in die hoek vasgekeer, voor hom lê 'n vlakte van uitgepofde deeg en aan twee kante, kombuisteels. Op die oopkant staan ek ... formidabel vir hom.

Kaptein Karnallie
Wat my dadelik opval is dat hy beslis nie paniekerig lyk nie ... alles behalwe. Inteendeel ... hy lyk heel opgeruk oor iets.

"En wie is jy ?"

Ek moes mos eenvoudig vra ... ek kan nie anders nie ... maar ek kyk tog versigtig rond of hier nou nie iemand anders naby is wat my hoor nie ... ek kyk ook blitsvinnig weer na die kamera skerm, net om seker te maak ek verbeel my nie. Hierdie kan mos lelike dinge vir my afgee ... Valkenburg is verseker nie op my Bucket List nie.

"Kaptein Karnallie tot jou diens."

Hmmmm ... interesante naam en nogal tot my diens.

"Ok ... en wat maak jy hier?"

Ek was regtig nuuskierig ... binne in my spring die klein seuntjie op en af maar ek hou myself baie kalm ... met moerse inspanning maar ek hou my kalm.

Hy like spices
En toe begin hy my vertel van sy wedervaringe. Stories van sy reise oor die wilde see en hoe hy op die mees fantastiese eilande en plekke al was. Hy praat oor kos ... baie stories oor kos want soos hy verduidelik ...

"Die lewe is te kort om smaaklose kos te eet ..."

Te kort wonder ek ... jis hy klink vir my honderde jare oud.

"Staan so bietjie opsy asseblief." fluister ek "... die brood moet oond toe."







Baie te sê oor die sop
Hy spring rats van die pan se rand af en staan my en dophou terwyl ek die pan in die oond sit. Die deur klap toe en ek sien hy staan op die sop pot se rand.

En toe raak hy bekkig.

"Wel ek sien jy is darem nie heeltemal onhandig nie ... die deeg het goed gerys en die oond is lekker warm ... 210 C ..."

Ek is nou die ene ore, die mannetjie weet skynbaar waarvan hy praat.

"Dis vir my fantasties om te sien jy sproei die deeg goed nat met water voor jy dit in die oond sit en dis veral goed dat jy daardie laaste paar spuite sommer so in die oond in sproei.

O ja terloops, die olyfolie wat jy in die pan smeer en oor die deeg verf, werk baie goed. Nie net kry jy 'n lekker kors nie maar jou brood bly langer vars ... dis nogal belangrik as jy op die oop see is."

"Alles dinge wat gaan verseker dat jy 'n lekker sagte brood gaan kry met mooi korsies."

Hy gooi maar net sy hande in die lug
"Dankie Kaptein." sê ek en die frons verslap so effens op my voorkop. Die outjie het nou my volle aandag.

"Man moenie my bedank nie ... ek doen maar net my werk ... dis jy wat bereid was om te luister as ek praat."

"As jy PRAAT !" ... nou is ek nie so mooi by hom nie. Waarvan praat hy ... as hy PRAAT.

"Kom nou Colyn ... hoe lank is ek nou al hier in jou kombuis ... dis nou al maande. Ek hou jou dop en ek het al baie vir jou tips gegee."

Aggenee ... nou laat die klein wetter my regtig twyfel aan my geestesgesondheid. Hoe de hel kan hy met my praat. En toe begin ek dink ... hoeveel keer het ek al so in my stilligheid voor 'n mengbak, pot, pan of bakplaat gestaan en gewonder ... en dan is dit asof daar 'n stemmetjie fluister ... maak so of so..

Baie happy oor die sop
"Vat nou hierdie einste pot sop wat hier voor my is. Die aand toe jy gewonder het hoe kan jy maksimum geur in die hoenderborsies inkry wat jy die pastei mee wou maak."

"Wie het jou vertel om dit in die sous te laat prut in die oond. En toe jy die hoender uithaal ... wat terloops bevange lekker gelyk het ... wie het jou aangemoedig om nie die sous weg te gooi nie ?"

Nou onthou ek die spesifieke aand ... Poppie wou hoenderpastei hê en ek het gewonder hoe kan ek die borsies sagter en meer geurig kry.

Op die einde het ek toe so stock poaching ding probeer en dit het baie goed gewekr. Die pastei was heerlik.

Later die aand het ek sous in a bak gegooi en gevries. Ek was vannaand hoeka nie seker waar die sop vandaan gekom het nie en het dit maar ontdooi en 'n kans gevat. Ek het 'n sous, soppie gesoek vir saam met die brood vannaand.

Die alarm op die oond gaan af ... 20 minute ... nou tyd om die temperatuur af te draai na 170 C toe.

Inspekteur die brood
"Mooi so ... nou gaan jy die korsie lekker maak ... so 20 minute teen die temperatuur en dinge behoort regtig lekker te weees."

Ek begin nou gemaklik raak met die Kaptein in die omgewing en ons gesels land aan sand. Hy vertel my van spesery en kruie wat hy al teëgekom het en my oë blink. Hierdie is mos nou 'n regte feëverhaal en die seuntjie in my is op sy stukke.

Baie tevrede met die brood
Hierdie is my eie Kaptein ... 'n ou kalant wat die wêreld al gesien het ... en hy is net myne.

Tyd om die brood uit te haal en weereens is die Kaptein vol stories.

" Dis mos nou hoe brood moet lyk ... pragtige goue kleur en dit ruik sommer soos brood. Ek hou van die korsie en dis die regte ding om die brood op 'n rakkie te laat afkoel."

Hy spring van die brood af en loop na die punt toe. Met sy klein vingertjies trek hy aan die sagte wit waar die brode uitmekaar gebreek is. Hy knik sy kop, so amper asof hy heelhartig saamstem.

Poppie kom in die kombuis in terwyl ek opskep en ek merk dat die Kaptein nêrens te sien is nie. Beter so dink ek. Ek is nie nou lus vir 'n klomp verduidelikings nie. Sy dink mos hoeka dat my kop soms raas. Terwyl ek eet dink ek aan wat hy gesê het oor die brood en heimlik wens ek hy kon a stukkie van die brood proe.

Nie tevrede met hoe die een lyk nie
Ek breek die punt van een broodjie af en breek hom oop. Nou is ek sommer lus vir slordig wees ... slordig maar smaaklik dink ek terwyl ek die botter goed opplak en dan 'n ordentlike skep van my koejawel konfyt. Ek is regtig nie meer honger nie en die een is uit en uit net agter die lekkerte aan.

Poppie staan op en gaan gee die honde kos en so wrintie waar ... toe ek mik om my broodjie op te tel toe staan hy daar.

"Hokaai ou grote ... dis mos nou regtig nie mooi gedoen nie ... ja ek stem dit lyk lekker maar ek dink dis beter dat jy nou begin fokus en konsentreer daarop om jou kos mooi te laat lyk ook."

Ek kyk na hom en toe na die broodjie wat hy so ooptrek ... en ek moet saamstem, dit lyk bietjie oes.

"Met wie gesels jy ?" Poppie staan by die agterdeur en kyk vir my. Ek kyk oor my skouer en en staan op. Nou voel ek sommer simpel. Ek dog ek moet haar maar wys en draai om, om die bord op te tel.

NIKS ... hy is weg.

"Ag man ek sit sommer so met myself en praat. Jy weet mos soms raak ek diep in gesprek met myself." sê ek terwyl ek 'n lekker groot hap van die oes broodjie vat.

Hierdie Kaptein gaan my nog soos 'n kluit laak lyk dink ek terwyl ek die tafel skoonmaak. Hy is skoonveld en ek wonder waar is hy heen. Een ding is verseker ... ek het my nie verbeel nie ... nee beslis nie, want ek het die fotos om dit te bewys.

Lag en kook en wees vrolik tot ek weer 'n storie skryf.

PS ... Hier was geen drank of eksotiese kruie betrokke by hierdie storie nie.

Hier is my Facebook bladsy ... share hom wild en wakker asseblief en LIKE hom stukkend.