Donderdag 31 Julie 2014

Afval - Skaap harte laat my glimlag van lekkerte

Gedurende my reise na Kuweit toe het ek kennis gemaak met skaap harte. Dit was vir my baie lekker en as ek daarheen gaan dan is dit een van die eerste goed wat ek opsoek. Deesdae ervaar die eet van sogenaamde afval 'n oplewing in Suid Afrika en ek is bly daaroor want vir my is afval baie lekker.

Skaap harte
Daar is verskillende manier om die harte voor te berei maar ek verkies die eenvoudigste manier ... net lekker Steak en Chops spices van Robertsons en 'n warm pan. Sout gooi ek oor as ek eet. Dis hoe ek van dit hou want dis hoe jy die smaak van die harte die beste ervaar. Soos met meeste afval, gaan jy daarvan hou of jy gaan nie ... dis jou besluit maar jy moenie besluit voordat jy dit nie eers een keer geproe het nie.
Skywe gesny en speserye op

Jy sal heel waarskynlik jou slagter moet vra om vir jou harte te kry want dis nie iets wat gewoonlik aangehou word nie. Ek het redelik lank gesukkel om 'n goeie verskaffer te kry.

In die pan
Begin by die bokant van die hart en sny sulke 10 mm dik skywe. In die boonste skywe gaan jy baie bloedvate kry en ook die kleppe. Sny dit uit of af ... jy wil nie dit eet nie want dis sening taai. As daar oormatige dik stukke vet aan die hart sit moet jy dit liefs afsny want die goed kan kwaai geil wees.

Nadat jy die skywe nou mooi skoon gemaak het gooi dit lekker dik van die speserye oor die vleis se bokant op die plank.

Draai nou om
Ek maak so twee teelepels uitgebraaide skaapvet warm in my ysterpan. As jy nie vet het nie kan jy bietjie kookolie en 'n eetlepel botter gebruik. Bring die pan op so medium warm hitte.

Plaas nou die skywe met die spesery kant onder in die pan ... dit moet goed sis en spat as jy dit insit anders is die olie te koud. Gooi nou spesery op die bokant. Los die vleis uit want jy wil dit laat braai en nie kook nie.

Reg vir die tafel
Ek los dit vir 3 minute op die eerste kant en dop hulle dan om. Nog 3 minute en haal dit uit die pan uit. Dis baie belangrik dat jy die vleis nie over cook nie ... as jy dit doen gaan dit baie taai wees.

Laat die vleis nou so 3 tot 4 minute rus voordat jy begin eet. Die rusperiode is belangrik sodat die vleis deurgaar word en ook ontspan.

Heerlik saam met vars brood
Ek eet dit net so saam met lekker vars brood met botter en konfyt.

Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.










Hier is my Facebook bladsy ... Man Kos ... Like hom as jy wil.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Thank you for your comment. The comments on this blog are moderated and yours should appear soon.

Greetings
Colyn.